|
||||
F.I.J. van Rensburg Deur F.I.J. van Rensburg, voorheen professor in Afrikaans aan die Randse Afrikaanse Universiteit Die toespraak waarmee prof. Chris Brink, Rektor van die Stellenbosse Universiteit, die onlangse Afrikaanse Taalberaad in Stellenbosch geopen het, was prikkelend - in ’n positiewe sowel as ’n negatiewe sin. Die positiewe was geleë in twee aspekte. Eerstens in die gedagte van “’n koalisie van gewilliges” wat verantwoordelikheid vir Afrikaans aanvaar, sonder egter dat die verantwoordelikheid eksklusief kan wees. Tweedens in die belangrikheid daarvan dat die gesprek oor Afrikaans nie net in Afrikaans gevoer moet word nie, maar ook, ter wille van potensiële goedgesindes in ander taalgemeenskappe, plaaslik én elders, in Engels. Die negatiewe aspek hou veral verband met ’n neiging om na die Suid-Afrikaanse taaltoneel en na Afrikaans in die besonder vanaf ’n hoë, internasionale verkenningspos te kyk. Dit het meegebring dat hy telkens belangrike werklikhede op grondvlak misgekyk het. Terwille van die waarde van die voorgestelde koalisie van gewilliges is dit dan ook noodsaaklik om deeglik na van die oorsigte te kyk. 1. Die eerste afdeling van sy rede staan onder die titel van ’n klinkklare stelling: “Daar is ’n fundamentele asimmetrie tussen Engels en die ander 10 Suid-Afrikaanse tale.” Dié asimmetrie kom (“vertaald”) daarop neer dat daar twee taalligas in die land bestaan: ’n topliga waarin daar slegs een speler is, wat hom die weelde van solitaire-spel kan veroorloof; en ‘n tweedeliga waarin tien spelers sake tussen hulle moet uitspook om oorlewing of om watter ander belang ook al. Hy kyk, soos gesê, vanuit dié gesigshoek ’n paar fundamentele “realiteite” (sy latere woord) in die situasie mis. Feit is dat daar nie ’n asimmetrie tussen Engels en Afrikaans is nie. Daar is wel een tussen Engels en Afrikaans enersyds en die nege plaaslike Afrikatale andersyds. Daar is ook ’n asimmetrie in laasgenoemde kategorie: dié tussen Afrikaans en die Afrikatale, en tussen Engels en dié tale. Wat die nie-asimmetrie tussen Engels en Afrikaans betref: Die twee tale is die enigste van die elf amptelike tale wat oor die volle spektrum van infrastrukture beskik wat hulle laat kwalifiseer vir die behartiging van al die funksies van ’n moderne staat op sy primêre verpligtingsterrein: die binnelandse sektor. Dit gaan in hul geval om dekades van ervaring van die behartiging van amptelike staatlike taalverpligtings in die land as ’n geheel en nie net in bepaalde landsdele nie, soos dit bv. in die vorige bedeling die geval was (die tuislande). Daar is wel ’n verskil tussen hulle, maar dis nie van deurslaggewende aard nie. Die feit dat Engels taallik ook die buitelandse belange van die staat behartig, gee natuurlik daaraan ’n bruikbaarheidsvoordeel en daarmee ’n aansiensvoorsprong op sy makker, Afrikaans. Die periode waarin Afrikaans ’n skakel met die buiteland was (met Nederland) kan hoogstens in ’n mate daarmee vergelyk word. Wat egter ook in gedagte gehou moet word, is dat die keuse van Engels as enigste skakeltaal met die buitewêreld nie met verdienste te doen het nie, maar met toevallighede soos die aanwesigheid van die taal op al die kontinente as gevolg van die moederland se militêre optredes en besettings oor eeue heen. Suid-Afrika is ’n handboekvoorbeeld daarvan. Anders as baie ander onderworpe volke wou die Afrikaners egter nie oor hul taal bes gee nie. Daar is met dié taal gewoeker soos waarskynlik met geen ander taal in die land nie. ’n Omvangryke taal-infrastruktuur is in die proses tot stand gebring. Die resultaat daarvan is dat Afrikaans waarskynlik die mees gekodifiseerde taal in die land is, volledig toegerus met al die middele wat normaalweg van ’n taal ’n volwaardige amptelike taal maak, bv. eersterangse leksikografiese bronne (standaard-woordeboeke en –vakterminologieë) en ’n landwye versorgingsnetwerk in die vorm van ’n diversiteit van taalorganisasies, insluitende ’n deskundige Akademie. Die proses van die ontwikkeling van steeds nuwe instrumente om tred te hou met ontwikkelinge in die groter wêreld gaan onverpoosd voort (onlangs het bv. ‘n kuberwoordeboek verskyn), ten spyte van die besnoeiing en selfs beëindiging van staatsondersteuning. Die argument dat dit nie die voorsprong van Engels op grond van sy buitelandse diens neutraliseer nie, aangesien al die middele wat ’n amptelike taal nodig het, ook in Engels beskikbaar is, gaan nie op nie. ’n Groot deel van daardie materiaal is ingevoer, dus nie die produk van plaaslike geeskrag nie. Wanneer die aspek van geestesgehalte ter sprake is, moet veral sake met ’n kulturele inslag mede in berekening gebring word. ’n Belangrike faktor in dié verband is die letterkunde. Literêre voortreflikheid is vir ’n deel te danke aan wat genoem word “die seggingskrag” van die taal waarin dit tot stand gebring is. In dié verband word meermale aangevoer dat die feit dat die Nobelprys reeds twee keer aan plaaslike Engelse outeurs toegeken is en nog nooit aan ’n Afrikaanse skrywer nie, die duidelikste bewys is van die superieure status van die Engelse letterkunde. Dis nie noodwendig die geval nie. ’n Engelse werk het bv. nie nodig om vir beoordelingsdoeleindes eers deur ’n vertalingsif te gaan soos in die geval van die werk van ’n outeur uit ’n klein en skaars bekende taal nie. ’n Beter norm vir die bepaling van die waarde van ’n Afrikaanse werk sal dus wees evaluering deur nie-Afrikaanssprekendes wat die taal ken en oor literêre oordeelsvermoë beskik. Hiervoor kwalifiseer Nederlanders, asook Engelssprekende Suid-Afrikaners met ‘n openheid teenoor en kennis van die Afrikaanse letterkunde. Twee vooraanstaande Nederlandse literatore, self skrywers, wat ’n intieme kennis van die Afrikaanse letterkunde opgebou het tydens lang verblywe in Suid-Afrika, het by geleentheid, onafhanklik van mekaar, die mening uitgespreek dat die Nobelprys al vir minder as die werk van N.P.van Wyk Louw toegeken is, en dat Nederland gedurende die bloeiperiode van Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en D.J. Opperman geen skrywerstrio gehad het wat met hulle vergelyk kan word nie. Miskien die beste getuie is egter prof. Guy Butler van die Rhodes-universiteit en jarelank die doyen van die Engelse letterkunde in Suid-Afrika, wat hom by geleentheid van sy lewering van die jaarlikse Van Wyk Louw-gedenklesing by die Randse Afrikaanse Universiteit so uitgelaat het: “It is a great honour for an English-speaker to have been asked to deliver a lecture in a series devoted to the memory of a great Afrikaans poet. N. P. van Wyk Louw is, in my opion, the greatest poet our complex society has yet produced; and one of the most sensitive and conscientious thinkers on such key issues as the relationship between language, culture and nationalism. “ (Soldier heroes in corrupt societies: A comparison of N.P.van Wyk Louw’s Germanicus and Shakespeare’s Coriolanus ). Die nié-asimmetrie tussen Engels en Afrikaans is hieruit duidelik genoeg. By implikasie is die asimmetrie van dié twee tale en die plaaslike Afrikatale ook duidelik. Ten spyte daarvan dat die Grondwet hulle gelykwaardigheid erken en hul verdere ontwikkeling waarborg, is daar by baie van hulle onsekerheid of hulle die pad van volle gelykheid moet aandurf. Vrae soos die volgende word gestel: Sal dit moontlik vir ‘n Afrikataal wees om op gelyke vlak met Afrikaans en Engels te kom? Het hulle nie reeds lank gelede die bus verpas in ‘n wêreld wat teen so ‘n verbysterende tempo vooruitbeweeg nie? Kan Engels nie maar vir hulle hoëre funksies instaan nie? Dis alles ontwikkelingsvertragende vrae. Die Engelssprekende gemeenskap se ingesteldheid teenoor swart taalbemagtiging is tradisioneel (reeds oor twee eeue heen) dat dit nuttig is om die taal van jou werknemers te verstaan, maar dat ’n Afrikataal as amptelike taal iets van ’n ondenkbaarheid is. Die Afrikaanssprekendes het in die proses van die ontwikkeling van hul taal vanaf ’n kombuistaal tot amptelike taal die ontsluitings- en bemagtigingswaarde van ’n moedertaal leer ken. Daarom dat hulle die swart taalgemeenskappe op dieselfde pad bystaan. ’n Verskeidenheid gesamentlike projekte is reeds geruime tyd op dreef. 2. ’n Baie belangrike aspek van prof. Brink se rede hou verband met die oorheersende posisie van Engels in die wêreld en sy persoonlike gunstige evaluering daarvan. Dié toedrag is reeds in die heel eerste sin van sy rede aan die orde: “Met Engels is dit moontlik om eentalig te wees in die wêreld van vandag.” Die subteks daarvan is: “want die Engelssprekende kan verwag dat almal in die wêreld hom sal verstaan en met hom in dié taal sal kan kommunikeer.” Die Suid-Afrikaanse situasie wat pas geskets is, het hopelik ’n aanduiding gegee van wat die waarde van hierdie stelligheid is. Alhoewel prof. Brink in die tweede sin daarna na “die taal-arrogansie van die eentalig-Engelssprekende” verwys, gaan hy in werklikheid rustig voort om hierdie arrogansie te rasionaliseer en by implikasie te kondoneer. Die woord “taal-arrogansie” is dan ook die enigste kritiese geluid wat hy in sy hele rede laat hoor oor Engelssprekende selfingenomenheid. Tekenend van die neiging is dat die woord direk daarna gerelativeer word: “al kla ons ook hoe oor die taal-arrogansie van die eentalig-Engelssprekende” - die “ons” synde die Afrikaanssprekendes en die “ook hoe kla” ’n subteksverwysing na erflike klakouse oor taal. Sy argumentslyn van regverdiging van Engelse taalarrogansie loop oor die volgende trapklippe: * Daar is ‘n rasionele verband tussen eentalige Engelssprekendes en almal wat met hulle wil terug-gesels: “Die moedertaal-Engelssprekende het geen fundamentele rede ... om ’n ander taal aan te leer nie, want hy kan oral regkom met Engels. Presies dieselfde feit beteken egter dat alle ander moedertaalsprekers ‘n fundamentele rede het om Engels te kan verstaan en praat.” * Dit gaan om ’n situasie waaraan jy niks kan verander nie. Dit moet volgens hom gesien word as “’n soort natuurkrag ... dit het ’n natuurlike dinamiek soos water wat teen ‘n bult afloop.” * Getalle speel nie werklik ’n rol in Engels se situasie nie. As voorbeeld verwys hy na China met sy meer as ’n miljard Chineessprekers. “By universiteite in China leer nagraadse studente Engels - terwyl in Oxford en Cambridge, Princeton en Stanford leer hulle nie Chinees nie. Verskillende van sy trapklippe lê sienderoë bloot vir kritiek. Vooraan is die siening van Engelse taalglobalisering as ’n soort natuurkrag waaraan ’n mens niks kan verander nie. Dat Engels die amptelike taal van, sê, Namibië is, of Frans dié van Ekwatoriaal-Afrika is nie die gevolg van een of ander meteorologiese werking op een of ander tydstip en wat sonder menslike toedoen ingetree het nie. Taalglobalisering het alles met konkrete menslike besluite te doen. Die feit dat die Engelse taal op al die kontinente van die wêreld aanwesig is, is nie te danke of te wyte aan, sê, ‘n uitbraak van kosmiese rooihond nie, maar, soos vroeër aangedui, primêr aan veroweringsoorloë en anneksasies. Dat Engels in soveel internasionale liggame een van die amptelike tale is, is gewoon die gevolg van die fisieke aanwesigheid van ‘n groot of groterige getal Engelssprekendes in baie lande. Die eer vir baie van hierdie dinge is hulle aan die soldaat, die priester en die koopman van lank gelede te danke. Die verandering van die taalbeleid van die voormalige HAU’s is eweneens die uitkoms van besluite deur mense-in-komitee: ’n kabinet, universiteitsliggame, uiteindelik Rade. Dis in dié hele verband ironies dat kritiek op die taalselfgenoegsaamheid van Engelssprekendes in die wêreld nie bv. van ’n Afrikaanssprekende soos prof. Brink kom nie, maar van ’n Engelssprekende, een van die mees gesiene protagoniste van Engels in die wêreld, Randolph Quirk. Quirk het by geleentheid gewys op die verarmende taalbenepenheid van optredes soos dié van wetenskaplikes by Oxford en Cambridge, Princeton en Stanford. Hy haal navorsingsgegewens aan van die persentasie wetenskaplike artikels wat bv. Franse wetenskaplikes lees: 55% is in Engels, 45% in Frans. Omdat Engelse wetenskaplikes dit nie nodig ag om ’n tweede taal, bv. Frans, aan te leer nie, beteken dit dat die deursnee Franse wetenskaplike wat albei tale kan lees, veel beter ingelig is as sy Engelse kollega van oorkant die Kanaal. Vergeleke met wetenskaplikes in die res van die wêreld sien die Engelse syfer volgens hom nog slegter daar uit: 40% teenoor 60%. Die gebruik van China as voorbeeld van sy opvatting dat getalle nie eintlik ’n deurslaggewende rol speel in internasionale taal-aansien nie, laat prof. Brink twee dinge miskyk. Die een is dat Chinese nagraadse studente klaarblyklik nie net Engels leer nie, maar ook voortgaan om in Chinees te funksioneer. Dat Chinees vir Chinese belangrik is, word bevestig deur ‘n berig in Beeld van 29 Oktober 2004 onder die opskrif Chinees gewild. Daar word by wyse van voorbeeld na die geval van Mauritius verwys. Die regering van dié staat het dit ‘n tyd gelede goedgekeur dat Chinees as vak op laerskool aangebied kan word. ’n Span uit China is na Mauritius gestuur om die eilandbewoners daarmee te help. Volgens China se buro vir die onderrig van Chinees aan buitelanders is daar ál hoe meer skole in ander lande wat dié taal aanbied. Daar is glo al meer as 25 miljoen leerlinge wêreldwyd wat die taal aanleer. En China staan in werklikheid nog maar aan die begin van sy volskaalse toetrede tot die openbare toneel. Dit val op dat prof. Brink alleen metafore gebruik wanneer hy Engels se buitengewone posisie probeer verduidelik, soos “natuurkrag”, of dat hy sê watter faktore nié ’n rol speel of gespeel het in die verwerwing van dié status nie, bv. getalle. Die vraag ontstaan onvermydelik watter faktore hy dan wél as saakmakend beskou. Dit kan nie faktore wees wat regstreeks met taal te doen het nie, soos letterkunde, of geestesaktiwiteite wat hul neerslag in taal gevind het, soos in die geval van wysgerige en wetenskaplike denke. Ook nie om ‘n oorwig op die gebied van ander kunste as die letterkunde nie, bv. die musiek, die skilderkuns of die beeldhoukuns; ook nie in ‘n verskeidenheid ander kundigheidsektore nie, soos die tegnologie. Die rede is dat daar nie veel van hierdie velde is waarin Engelssprekendes ‘n oorheersende posisie beklee nie, terwyl daar heelwat is waarin hulle oortref word. Dink bv. maar, net in Europese konteks, aan Frankryk, Duitsland en Italië. Dis in die aangesig van hierdie feite moontlik dat daar gedink word aan die skepping van sosiale konvensies, soos bv. versinnebeeld in die “gentleman”, die “stiff upper lip” of die houding teenoor die “underdog”. Dié konvensies is egter ‘n baie brose weefsel, wat maklik gerek en geplooi kan word om te verhul wat onverskoonbaar is, sê, soos die grootmoedige houding van die oorwinnaar teenoor die oorwonnene in die wete dat hy die sleutels van mag in sy hande het. Wat die geval ook al mag wees, dit bly ’n leemte in prof. Brink se totaalbeeld van Engels se oorwig en die faktore wat daarmee verband hou. Wat in samehang hiermee opval, is dat hy, in teenstelling met sy positiewe ingesteldheid teenoor Engels en Engelstaligheid, besonder krities ingestel is teenoor mede-Afrikaanssprekendes. Dit blyk veral op twee plekke duidelik. Die een kom voor in die afdeling waarin hy die uitgediendheid van die sogenaamde Modus 1-gemeenskapsmodel vir die huidige tyd aan Afrikaanssprekendes uitspel, byna op die wyse van ‘n les in etiket: “Ek hoor maar nog alte dikwels van ons en hulle, van ruggraat styfmaak, van hakke inslaan, van ‘n streep in die sand trek, van staan op jou regte.” As hy in hierdie parodiëring van Modus 1-ers ook laasgenoemde faktor byhaal (die staan op jou regte, wat dus ook taalregte insluit), wonder ’n mens wat hy op ’n latere plek in sy rede bedoel met die argument wat Afrikaanssprekendes kan gebruik as hulle gevra sou word waarom hulle “’n nasionale strategie vir Afrikaans” op die been wil bring: naamlik “die regverdigheidsargument ... wat te doen het met gelykberegtiging en die grondwet.” Dis in elk geval duidelik dat sy voorkeur ’n Modus 2-gemeenskap is. Dit belig terselfdertyd net so duidelik dat wat hy in sy openingsparagraaf as doel van sy rede aangedui het, naamlik om ’n “dit is die realiteit”-beeld op te roep, verloën word deur telkens kant te kies. Deur die hele rede maak hy van sy geleentheid gebruik om persoonlike voorkeure te laat geld en hulle te rasionaliseer. Dit blyk ook uit die tweede voorbeeld. Hy gebruik ‘n denkbeeldige situasie van ‘n Afrikaanssprekende wat ’n boodskap aan ’n groterige Suid-Afrikaanse groep mense wil oordra terwyl hy nie seker is wat die taalsamestelling van die groep is nie. Prof. Brink, daarteenoor, is seker: “Tipies is die kanse groter dat almal Engels kan verstaan en praat as dat almal enige ander van die 10 tale kan verstaan.” “Tipies” maak hy hom aan ‘n eenvoudige oorsig skuldig. Dis dat die moontlikheid groot is dat die groep Engels én Afrikaans sal verstaan. Albei groepe het immers aan hul tweede taal op presies dieselfde manier gekom: hulle het dit as vak op skool gehad. Prof. Brink sal waarskynlik verweer: “Tipies” is dit dat die Engelssprekendes se Afrikaans meer verroes sal wees as die Engels van die Afrikaanssprekendes, bv. vanweë verskillende beroepsomstandighede. Indien wel, sal hy iets belangriks miskyk. Tussen daardie Engelssprekendes sit daar meer mense as wat ‘n mens sou dink wat die geleentheid verwelkom om hul Afrikaans op te knap, al sou hul rede dalk net wees om weer ’n slag na goeie Afrikaans te luister. Dis nie fiksie nie. Na ’n gradeplegtigheid by ‘n Afrikaanse Universiteit het mnr. Harry Oppenheimer in ‘n private gesprek opgemerk dat dit vir hom voorkom of Afrikaanssprekendes nie hul Engelssprekende burgers die geleentheid wil gun om die Afrikaans waaroor hulle beskik, te oefen nie en wel omrede hul erflike gewoonte om na Engels oor te slaan die oomblik as ‘n Engelssprekende by ’n Afrikaanse gespreksgroep aansluit. Dit lyk kompleet of hulle hul taal vir hulleself wil hou. As parlementslid vir Kimberley-Noord het hy soms van sy finansiële toesprake in Afrikaans gelewer as hy regtig die oor - en ‘n mens neem aan ook die hart - van die Afrikaanse regeringlede wou bereik. As dit die ervaring en reaksie van ’n Harry Oppenheimer is, kan ’n mens maar net vermoed hoeveel meer mense daar is wie se situasie met syne ooreenkom, en watter verrassing daar op Afrikaanssprekendes mag wag wat op ’n diskrete manier wil vasstel hoeveel Afrikaans daar in die land rondlê en wat as ’t ware vra om ontgin te word. 3. Twee dinge is uit prof. Brink se voorbeelde duidelik. Hy slaag nie daarin om deurgaans die objektiwiteit waartoe hy hom by implikasie aan die begin verbind het, te handhaaf nie. Sy voorkeure bring egter mee dat die beeld wat hy oproep, meer as een keer skeefgetrek word. Dit is ook verantwoordelik vir heelwat van die oorsigte in sy rede. Die tweede saak is ernstiger. Daardie fiktiewe Afrikaanssprekende wat ‘n boodskap aan ‘n gemengde Suid-Afrikaanse gehoor wil oordra, bevind hom in ‘n onbenydenswaardige posisie as gevolg van kondisionering, onder meer van die soort wat in prof.Brink se rede aan die orde is. As hy Afrikaans gaan praat, kan die rede natuurlik alleen wees dat hy “Afrikaans wil bevorder”, nie omdat dit sy taal van maksimale beheersing is en deur middel waarvan hy ook noodsaaklike nuanses kan oordra nie. Hy worstel met die onaangename gedagte dat hy Engelssprekendes dalk sal irriteer as hy Afrikaans sou praat. Ook dat hy as dom beskou sal word omdat dit sal lyk asof hy nie Engels kan praat nie. Die beeld wat ‘n mens dan ook van prof. Brink se rede oorhou, is dat Afrikaans wesenlik ‘n klein enklawe is omring deur ’n illustere koninkryk. Afrikaners moet daarom altyd uiters versigtig wees voordat hulle hul monde in Afrikaans oopmaak. Vir Engelssprekendes moet so ’n soort situasie ’n absolute onvoorstelbaarheid wees. 4. So gesien, is die vier “argumentspunte” wat hy aan die einde as aanmoediging aan Afrikaanssprekendes voorhou, in werklikheid gering. Vrae wat daaroor by ’n mens opkom, sluit onder meer die volgende in: Wat die regverdigheidsargument en die beroep op die grondwet betref: Wat het die Grondwet met sy fundamentele Artikel 6 (die taalartikel) Afrikaanssprekendes as Afrikaanssprekendes in die dekade sedert 1994 gebaat? Afrikaans bestaan prakties nie meer op die openbare verhoog nie. Die bemagtigingsargument: die opvoedkundige waarde van moedertaal-onderrig: Wat het met moedertaalskole en tersiêre inrigtings in dié dekade gebeur? Die eweknie-argument: Afrikaans hoort saam met, en het soortgelyke probleme as 9 ander van ons nasionale tale. Wat ons doen of regkry vir Afrikaans kan ook ten bate van die ander 9 eweknie-tale wees, en dus ten bate van meertaligheid. Waar bevind die Afrikatale hulle na tien jaa? Op die openbare verhoog? Watter kans het Afrikataalsprekers om tot die hoogste funksievlakke te vorder, daar waar idealistiese Afrikaanssprekendes hulle graag wil sien? En dan die argument van sosio-diversiteit: Daar kan ‘n argument uitgemaak word vir die beskerming van klein tale op dieselfde manier as wat daar op grond van die waarde van biodiversiteit geargumenteer word vir die beskerming van die reënwoude, van walvisse, of van voëlspesies. Is dit nie maar die in vooruitsig stel van Afrikaans as ‘n kuriositeit agter glas in ‘n museum nie? Daarom dat die vier “dinge wat ons as Afrikaanses vir onsself moet sê” wat daarop volg, dan ook die vier as opbeuring-bedoelde “argumente” tot hul ware proporsies terugsnoei: “Taal kos geld.” Die waarskynlike subteks is: “Dit sal op die duur, dalk selfs binnekort, moeilik wees om enkelmedium- of parallelmedium onderwysinrigtings te bekostig. Dubbelmedium is goedkoper.” “(Die huidige taalsituasie) is nie ’n probleem wat jy oplos nie, dis ’n saak wat jy bestuur.” Deur net met “netwerke” te opereer, sonder dat jy sorg dat jy ook “bastionne” tot jou beskikking het vir gebruik wanneer dit nodig is? “As daar wel ’n vyand is, dan is die vyand onsself.” Ons moet dus glo dat daar niemand anders, ook geen amptelike instansie in die land is wat daarvoor verantwoordelik was dat Afrikaans so sistematies afgeskaal geraak het nie. Dis alleen die vierde “ding wat ons vir die wêreld kan sê” wat realistiese optimisme regverdig: dat ’n verbeeldingryke koalisie van gewilliges tot stand gebring moet word, “’n breë spektrum van samewerkende organisasies landwyd, met gesamentlike verantwoordelikheid” vir Afrikaans, asook vir al die gemarginaliseerde tale van die land. As daar hierin geslaag sou word, sal prof. Brink se Visekanselierkollegas in die buiteland nie meer “in disbelief” vir hom hoef te vra : “Do you still teach in Afrikaans at Stellenbosch?” Sy antwoord sal kan wees: “Dink maar aan wat vir die kleine Grieks moontlik was binne die enorme Latynse see van die Romeinse Ryk.” |