130 afgevaardigdes van ongeveer 70 organisasies, waaronder belanghebbendes uit die burgerlike samelewing en die owerheidsektor, het byeengekom om die kwessie van kulturele verskeidenheid in die konteks van die Konsep UNESCO Konvensie oor die Beskerming van die Verskeidenheid van Kulturele Inhoude en Kunsuitinge te bespreek.
In sy openingstoespraak by die Konferensie het die Minister van Kuns en Kultuur, dr. Z. Pallo Jordan, gesê dat:
"As Suid-Afrikaners het ons 'n baie sterk sin vir identiteit, gewortel in ons verlede. Wat ons Suid-Afrikaans noem, is egter die uitkoms van die dinamiese interaksie ... van ten minste drie strome van menslike kultuur - dié van Afrika, Europa en Asië. Wedersydse kruisbestuiwing tussen kulturele gemeenskappe was en is steeds die suurdeeg van vooruitgang in die menslike familie. Dit is iets wat ons verwelkom en nie sal verwerp nie".
Prof. Barney Pityana, Rektor van UNISA, het klem gelê op die rol van Suid-Afrikaanse akademici in die bevordering van die internasionale diskoers oor rassisme en gestel dat Suid-Afrika die aangewese middelpunt vir hierdie diskussie is.
Verskeie referate is aan die Konferensie voorgehou en het temas bestryk soos maatskaplike kohesie, konflikvoorkoming en menslike veiligheid, inheemse kennisstelsels en erfenis, onderwys, media, plaaslike kulturele beleid en die rol van kulturele verskeidenheid in NEPAD.
Die Konferensie het bevind:
- Dat die voorgestelde Konvensie 'n broodnodige meganisme is om die beskerming en bevordering van kulturele verskeidenheid wêreldwyd te verseker. Dit is egter noodsaaklik dat die perspektiewe van ontwikkelende lande toereikend in die teks van die Konvensie weerspieël word.
- Dat die debat oor kulturele verskeidenheid binne die globale geopolitieke omgewing geplaas moet word met inagneming van nasionale, streeks- en kontinentale geskiedenisse en ontwikkelings.
- Dat die grondwetlike raamwerk in Suid-Afrika, met sy klem op menseregte, kulturele verskeidenheid beskerm, maar aandag moet daaraan gegee word om dit uitdrukking, gestalte en betekenis te gee.
- Kulturele verskeidenheid in ‘n Suid-Afrikaanse konteks impliseer eenheid in verskeidenheid asook toepaslike erkenning van gemarginaliseerde kulture en tale, waaronder landelike gemeenskappe, vroue, jeug en gestremdes.
- Dat kulturele goedere en dienste ekonomiese waarde het, maar ook ‘n rol speel in nasiebou; owerheids- en privaatsektorondersteuning is onmisbaar vir die versterking van die kulturelenywerheidsektor. Die Konferensie besef dat dit ‘n groot uitdaging is om Intellektuele Eiendomsreg met betrekking tot kulturele goedere en dienste te vestig. Die Konferensie pleit vir die harmoniëring van beleidstukke wat verband hou met handel en ontwikkeling van kulturele nywerhede.
- Dat kulturele verskeidenheid van sentrale belang is vir maatskaplike kohesie, konflikvoorkoming en menslike veiligheid; interkulturele kommunikasie in ‘n demokratiese en menseregtekonteks bevorder versoening en bestry xenofobie. Hierdie diskoers moet onmiskenbaar aan die kant van die stryd teen kulturele chauvinisme gesitueer wees.
- Dat Inheemse Kennisstelsels (IKS) sowel nasionaal as internasionaal onderwaardeer word; die Konferensie stel voor dat strategieë gevind en ondersteuningsmeganismes geskep word om die verwesenliking van die maatskaplike en ekonomiese waarde van IKS moontlik te maak. Die Konferensie versoek die regering om voor te stel dat IKS asook tasbare en ontasbare erfenis prominensie in die Konvensie verkry.
- Dat kulturele verskeidenheid onderwyskurrikula van voorskoolse tot tersiêre vlak moet deursuur om te verseker dat sosialisering nie plaasvind op ‘n wyse wat bots met die bevordering en waardering van Afrikatradisies nie.
- Dat die gebruik van inheemse tale asook taalregte ten spyte van grondwetlike beskerming geërodeer is; die Konferensie pleit vir beter afdwinging van meganismes om veeltaligheid te verseker, waaronder die wetlike inwerkingstelling van die Nasionale Taalbeleidsraamwerk. Kommer is uitgespreek oor die algemene afname in belangstelling in die Afrikatale.
- Dat die openbare en privaat sektore moet saamwerk en venootskappe ontwikkel om volhoubare ontwikkeling in die kulturelenywerheidsektor te verseker.
- Dat die wetlike raamwerk met betrekking tot kwessies soos kulturele verskeidenheid en die regte van kulturele werkers en organisasies omvattend hersien en nuwe wetgewing oorweeg moet word.
- Dat, sover dit Artikel 19 van die Konsep Konvensie betref, nóg Opsie A nóg Opsie B toereikend vir Suid-Afrika se doeleindes is. Dit word voorgestel dat verdere opsies ontwikkel word.
- Dat pogings aangewend word om die media, veral die openbare uitsaaier, te bearbei om forums vir konstruktiewe debat en kennisuitruiling oor Suid-Afrika se ryk kulturele verskeidenheid te verskaf.
- Dat klem gelê word op die ontwikkeling van plaaslike kulturele beleid om te verseker dat beleid en kulturele beplanning op nasionale, streeks-, kontinentale en internasionale vlak daardeur gestuur word.
- Dat, indien NEPAD sy mandaat ten volle wil uitvoer, die rol van kultuur daarin geartikuleer en strategieë en programme vir implementering ontwikkel moet word.
- Die Konferensie het die Konsep Konvensie oor die Beskerming van die Verskeidenheid van Kulturele Inhoude en Kunsuitinge soos volg vertolk:
- ‘n Belangrike internasionale instrument waardeur, indien toereikend vir die prioriteite van ontwikkelende lande voorsiening gemaak word, die blootstelling van kulturele goedere en dienste uit Suid-Afrika wêreldwyd vermeerder en wyer toegang tot globale markte geskep kan word.
- ‘n Instrument wat die harmoniëring van beleidstukke wat verband hou met kulturele verskeidenheid binne nasionale grense sal noodsaak.
- Die Konsep Konvensie skep die moontlikheid dat die profiel van kwessies rondom kulturele verskeidenheid sowel nasionaal as internasionaal verhoog kan word. In Suid-Afrika in die besonder sal die inisiatiewe wat in die vooruitsig gestel word om die kwessie van kulturele verskeidenheid te hanteer, help om die rol van kultuur in die hoofstroom van die regering se ekonomiese en maatskaplike ontwikkelingsprogramme te bring.
- Die Konferensie het gemeen dat die volgende bykomende temas in toekomstige forums hanteer moet word: veeltaligheid, kinders en jeug, gender, die rol van oudstes en tradisionele leiers, kulturele identiteit asook die landelik/stedelik verdeling.
Die Konferensie het aanbeveel:
- Dat navorsing gemik op spesifieke sfere van kulturele verskeidenheid onderneem en befonds moet word.
- Dat opnames en inventarisse in die erfenis- en kulturele nywerhede en verwante sektore afgehandel moet word om doeltreffende beleidmaking te fasiliteer.
- Dat die Departement van Kuns en Kultuur (DKK) met die openbare uitsaaier in gesprek moet tree oor hoe die verskeidenheid kulturele inhoude en kunsuitinge beskerm word.
- Dat daar ‘n Forum moet wees in die vorm van ‘n Nasionale Koalisie vir Kulturele Verskeidenheid met die oog op debat en diskoers oor die ontwikkeling en integrasie van kultuur in die openbare lewe.
- Dat ‘n nasionale moniteringsmeganisme vir kulturele verskeidenheid tot stand gebring moet word.
- Dat die DKK met ander relevante regeringsdepartemente in gesprek moet tree om die harmoniëring van beleidstukke en programme wat verband hou met kulturele verskeidenheid te verseker.
- Dat befondsingsinstansies genader moet word om burgerlike organisasies wat op die terrein van kulturele verskeidenheid werksaam is te ondersteun en te versterk.
- Dat ‘n konferensie met ‘n spesifieke fokus op die rol van kultuur in NEPAD byeengeroep moet word om verder gesprek te voer oor die bydrae van kultuur tot die kontinent se ontwikkeling.
- Dat dokumente voortkomend uit hierdie Konferensie gepubliseer word om ‘n fondament te verskaf vir verdere gesprekke deur die burgerlike samelewing en die regering.
- Die verspreiding van die Tshwane-verklaring moet gebruik word as ‘n strategiese geleentheid om die rol van kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling te profileer. Die dokument moet wyd versprei word in die burgerlike samelewing, die regering en internasionale kulturele beleidsnetwerke. Die Verklaring moet in alle amptelike tale beskikbaar gestel word.
|