blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesweek se Kommentaar: Die Spanning in die Regerende Alliansie 2004-12-02
Johann Rossouw

 Spanning in die regerende alliansie, veral tussen die ANC en Cosatu, is niks nuuts nie, maar die huidige spanning het vlakke bereik wat nog nie voorheen gesien is nie. Die besonder skerp, persoonlike trant waarop die jongste houe uitgedeel is, sowel as die feit dat Cosatu volhou dat hy weer in Januarie op 'n feitesending na Zimbabwe gaan, gee blyke van hoe hoog die spanning loop. Hoewel dit waarskynlik voortydig is om van 'n skeuring te praat - gegewe die feit dat die twee mekaar Dinsdag ná Cosatu se noodvergadering die olyftak aangereik het - is dit sinvol om te let op enkele aspekte van die moeilike verhouding tussen Cosatu en die ANC.

 Op die vooraand van die dramatiese politieke veranderinge wat op 2 Februarie 1990 ontketen is, het sommige waarnemers gereken dat die spanning tussen die nasionaliste en die sosialiste (selfs kommuniste) in die alliansie die belangrikste een is. Hiervolgens sou die nasionaliste die konstruktiewe krag wees waarmee saamgewerk kon word, terwyl die sosialiste die destruktiewe krag was.

 Soos wat die nasionaliste onder leiding van mnr. Thabo Mbeki die afgelope jare hul houvas op die ANC en die staat verstewig het, en die verdraagsaamheid teenoor opposisiestemme verskraal het, het die pendule algaande begin swaai. Betreffende sake soos MIV/Vigs en Zimbabwe was die nasionaliste toenemend die destruktiewe krag, en die sosialiste onder aanvoering van Cosatu die konstruktiewe krag.

 Wat die nasionaliste en die sosialiste gemeen het, is hul aanname dat die staat die belangrikste hefboom ter verwesenliking van hul doelwitte is. Waar hulle verskil, is in die belangegroep wat hulle dien - die volk of die werkers. Op 'n minder teoretiese vlak is daar ook nog die feit dat Mbeki se regering tot betreklik onlangs 'n neo-liberale ekonomiese beleid gevolg het, terwyl Cosatu vir groter ekonomiese sentralisme gestaan het. Toe dit deur die loop van die afgelope jaar duidelik word dat die regering nou meer in die rigting van 'n sogenaamde ontwikkelingstaat beweeg, het hy gevolglik lof van Cosatu ontvang, en het die spanning skerper geword op ander gebiede. Heel onlangs het vrae oor swart ekonomiese bemagtiging ook nog die spanning vererger, veral betreffende die hoogs twyfelagtige wyse waarop mnre. Andile Ngcaba en Smuts Ngonyama by Telkom se bemagtigingstransaksie betrek is.

 Histories gesien is die spanning tussen nasionaliste en sosialiste binne die nasiestaat niks nuuts nie. Maar in die geval van Suid-Afrika, waar die eise van ontwikkeling so akuut is, is dit voorspelbaar dat die verhouding tussen die twee strominge via die ANC en Cosatu nog meer spanning sal moet dra.

 Cosatu bevind hom natuurlik in die moeilike posisie dat hy in die persoon van Pres. Mbeki te make het met 'n meester van koöpterende eliminasie. Voorbeelde hiervan is hoe die Vryheidsfront meer as elf jaar gelede 'n vorm van selfbeskikking beloof is, en nou 'n blote drukgroep is; hoe die IVP 'n vorm van federalisme beloof is, en nou 'n kwynende streeksparty geword het; hoe die NNP 'n vorm van magsdeling beloof is, en nou ingelyf by die ANC.

 Cosatu se probleem is dus dat hy op die lange duur na alle waarskynlikheid volkome ingesluk sal word binne die alliansie met geen noemenswaardige impak nie. Op die koop toe verloor hy ook lede, sodat sy magsbasis geleidelik wegkwyn. Sy statuur is vandag te danke aan sy deelname aan die alliansie, maar presies hierdie deelname bedreig ook sy statuur. Die enigste ander opsie sal wees om weg te breek, en dit sal vroeër eerder as later moet gebeur as Cosatu hoegenaamd nog 'n krag in die samelewing wil wees.

 Hoewel die vrees al uitgespreek is dat Cosatu se wegbreek tot 'n radikalisering na links van die Suid-Afrikaanse politiek sal lei, is dit geen voldonge feit nie. Hoe gouer Cosatu wegbreek, hoe groter is die kans dat die nasionaliste se greep op die staat uitgedaag sal word. Beide die sosialiste en die nasionaliste sal dan ook meer belang daarby hê om na die burgerlike samelewing te luister.

 Die Vrye Afrikaan is oortuig dat, gegewe die koloniale aard van die Suid-Afrikaanse staat, die burgerlike samelewing die belangrikste demokratiese krag in die samelewing is. As die regerende alliansie skeur, sal dit waarskynlik die burgerlike samelewing meer prominent maak, en sal gemeenskappe sterker na vore kan tree. Soos sake tans daar uitsien, word die fiksie van 'n swart meerderheid nog gebruik om Suid-Afrika langs rasselyne te polariseer en die belange van die huidige korporatiewe en staatselite te legitimeer.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=76
Artikel nagegaan:
    -