blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die DA se kongres 2004-11-26
Johann Rossouw

Die pasafgelope nasionale kongres van die Demokratiese Alliansie (DA) het 'n boeiende spanning in die party blootgelê, naamlik of die DA moet funksioneer as polisieman van die huidige orde (in welke geval die liberalisme sy belangrikste rigsnoer sal bly), of moet die DA meer as polisieman van die huidige orde wees (in welke geval hy die liberalisme sal moet relativeer)?

 Die spanning tussen hierdie twee sieninge blyk uit die resolusies wat aanvaar is, soos berig in Business Day van 22 November 2004. Diegene wat van mening is dat die DA se rol dié van polisieman van die orde moet wees, is tevrede gestel met resolusies aangaande die Parlement as "rubberstempel" van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee; korrupsie; MIV/Vigs; regeringsinmenging in die magte van skool- en universiteitsbeheerliggame; swak dienste in openbare hospitale; werksomstandighede van polisiebeamptes; misdaad; grondhervorming; en ekonomiese groei.

 Diegene wat weer vir die DA 'n rol van meer as polisieman van die huidige orde sien, sal bly wees oor 'n resolusie waarvolgens gemeenskapsgebaseerde organisasies soos stokvels, begrafnisverenigings of koöperatiewe deur swart bemagtigingsinsiatiewe geteiken moet word, eerder as privaat individue, soos dit tans dikwels die geval skyn te wees. Voorts is 'n projek onder persoonlike leiding van mnr. Tony Leon, herkose partyleier, aanvaar waarvolgens meer talentvolle swart leiers by die party betrek moet word, ten einde die party sterker in swart gemeenskappe te vestig. Terselfdertyd het Leon egter klem daarop gelê dat hierdie projek nie ten koste van die DA se tradisionele steunbasis onder minderheidsgemeenskappe moet geskied nie.

 Hoe moet 'n mens die spanning tussen hierdie twee visies verstaan? Die antwoord is te vinde in die groeiplafon wat die DA as polisieman van die huidige orde bereik het. Koos Malan verwoord die dilemma soos volg in sy onlangse artikel in Die Vrye Afrikaan oor die tekortkominge van Suid-Afrikaanse veelpartydemokrasie: "Ondanks die dramatiese opkoms van die DA ten koste van die eens magtige Nasionale Party het die DA egter in die April 2004-verkiesing slegs vyf agstes van die steun gehaal wat die Nasionale Party tien jaar tevore gehad het." Ten spyte van al die aansprake wat u vandag vanuit DA-geledere hoor, is die harde waarheid dat die party se groei allermins toelaat dat hulle nou of in die nabye toekoms as alternatiewe regering gesien kan word.

 Hierdie toedrag van sake spruit veral voort uit drie faktore, naamlik die spesifieke opposisierol wat die DA tot onlangs vir homself toegeëien het; die beperkings van die etniese mobilisasie waarmee hy hom besig hou; en die beperkings van liberalisme binne die Suid-Afrikaanse politiek.

 Wat die DA se opposisierol tot onlangs betref, is dit so dat die DA hom die afgelope jare op klassieke Westminster-wyse daarop toegespits het om die regerende party in sy handel en wandel op sy tone te probeer hou, en wel op heel aggressiewe wyse. Daar is natuurlik niks verkeerd met aggressiewe opposisiepolitiek nie, maar die feit van die saak is dat die DA, deels weens die brose eenheid van Suid-Afrika, deels weens die diep rassepolarisasie van ons land, en deels weens die betreklike gebrek aan selfvertroue van die ANC-leierskap, nie so goed gevaar het met dié aggressiewe styl as wat hulle gehoop het nie. Waar hulle egter wel volgens meningspeilings op dié manier 'n impak maak, is onder die breë swart massa, maar dié regeer nie die land nie. Op die koop toe verskil hulle beleidsgewys in min aspekte veel van die ANC, en word die politiek vir die DA dus hoofsaaklik 'n aangeleentheid van tegnokratiese teregwysings - kwalik die soort visie wat kiesers inspireer.

 Wat die beperkings van etniese mobilisasie betref, is die feit van die saak dat die DA vandag die amptelike opposisie is hoofsaaklik danksy die mate waartoe hy suksesvol onder Afrikaners gemobiliseer het teen die agtergrond van sowel die heengaan van die NNP as die oneffektiewe politiek van die VF+. Op die koop toe verskaf die gebrek aan leierskap onder Afrikaners en die vervreemding wat betreklik wyd onder hulle leef 'n braakveld waarin die DA se kragdadige styl 'n illusie van selfvertroue en geborgenheid onder Afrikaners skep. Op die lange duur kan dié speletjie egter nie werk nie, deels omdat sodanige reaksionêre mobilisering van Afrikaners nie volhoubaar is nie, deels omdat dit natuurlik geensins die DA gaan help om na ander gemeenskappe uit te brei nie. Jy kan nie gelyktydig sag op 'n fluit blaas en hard op 'n tamboer slaan nie.

 Wat die beperkings van liberalisme betref, is die harde waarheid dat die sentrale politieke spanning in Suid-Afrika nie tussen individue is nie, maar tussen gemeenskappe. Misdaad, die ongelyke verdeling van rykdom, taal, gesondheid en vele ander sake hou almal regstreeks met hierdie spanning verband. Dit is 'n spanning wat gewoon nie deur die liberalisme met sy klem op die individu hanteer kan word nie. Op die koop toe verskraal die liberalisme die politiek tot 'n aangeleentheid van die vervulling van regte, terwyl die politiek, by uitstek in 'n samelewing met botsende gemeenskappe, in die eerste plek 'n kwessie van erkenning is, en dít is 'n deurlopende proses wat nie maar tot die handhawing van regte verskraal kan word nie.

 Dit is dus teen hierdie agtergrond dat die DA begin speel met die uitdaging om vir hom 'n rol van meer as polisieman van die huidige orde te vind. Hier word dan gepraat van talentvolle swart leiers en gemeenskappe wat uit swart bemagtiging moet voordeel trek. Dit is goeie en belangrike sake om aan aandag te gee, maar die probleem is dat hierdie sake die DA ondubbelsinnig buite die veilige vaarwaters van die liberalisme of individuele regte voer - presies dit waarvoor hy as party by uitstek tradisioneel die swakste toegerus is. Om die kroon te span, is die partypolitieke belange van, byvoorbeeld, Afrikaners en Afrikane, dikwels so uiteenlopend dat die vermeerdering van die swart steun van die DA kwalik sy steun onder Afrikaners onaangetas sal laat.

 Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word. So byvoorbeeld pas 'n individualistiese benadering beter in 'n gemeenskap wat al die oorgang na die gedrukte woord of die elektroniese beeld gemaak het - soos Afrikaners - maar werk dit nie so goed in 'n gemeenskap wat nog mondeling te werk gaan, of wat die oorgang na die gedrukte woord en die elektroniese beeld nog nie volledig gemaak het nie - soos Afrikane. Dit het met die die tegniese geskiedenis van elke groep te make wat uiteindelik tot verskillende vorme van kulturele en ideologiese gedrag lei.

 Dan is iets soos taal ook nie op dieselfde manier werksaam onder Afrikaners en Afrikane nie. Eersgenoemde het 'n lang geskiedenis van 'n taalbewussyn; laasgenoemde begin nou maar eers, en weer eens het dit veel te make met die groepe se verskille in onderwysgeskiedenis, ekonomiese ontwikkeling, en dies meer.

 As 'n mens dan nou ook kyk na mediaberigte oor 'n moontlike nuwe rigting vir die DA, is dit nie juis baie inspirerend nie. Klaarblyklik wil die Wes-Kaapse leier, mnr. Theuns Botha, hê dat die DA 'n meer sosiaal-demokratiese benadering moet volg. Ongelukkig is dit net 'n sagter vorm van die verstaatliking van gemeenskappe, en gaan dit allermins help om gemeenskappe meer ekonomies selfstandig te maak, veral gegewe die koloniale aard van die Suid-Afrikaanse staat, wat hom allesbehalwe afstem daarop om sy houvas oor produksie en kapitaal te verslap ten gunste van gemeenskappe.

 Die wel en wee van die DA herinner ons daaraan dat die tempering van die huidige Afro-nasionalisme oplaas nie deur partypolitieke weë sal geskied nie, maar wel deur die burgerlike samelewing, en by name in die samewerking van Afrikaner en Afrikaan. Maar hierdie samewerking lê nóg binne die liberale paradigma, nóg op weg van die hedendaagse partypolitiek. 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=74
Artikel nagegaan:
    -