|
||||
Kleinjan Schietekat
Die bekende Stellenbosse akademikus, professor Toon van Leventer, het pas die verrassende stap geneem om sy lewer in te lewer vir gebruik deur die volgende regeringsminister wat ’n lewer benodig. By nadere ondersoek deur Die Vrypostige Afrikaan het dit geblyk dat Van Leventer dié stap beskou as die logiese opvolg van sy magnum opus, Kompleksiteit en die lewer: ’n studie in toegepaste etiek. Van Leventer, wat reeds vroeë belofte getoon het toe hy in die jare wat oud-president PW Botha kanselier van die Universiteit Stellenbosch was die kanseliersmedalje vir die beste student van die jaar gewen het, het wêreldwyd bekendheid verwerf met sy baanbrekende filosofie van die lewer. Tydens ’n eksklusiewe onderhoud met Die Vrypostige Afrikaan het Van Leventer in sy imposante kantoor, geborg deur ’n bekende farmaseutiese groep, aan ons vertel hoe sy belangstelling in die lewer reeds vroeg in sy studentejare geprikkel is toe hy vir die eerste keer van die alternatiewe betekenis van die woord ‘lewerkoekie’ gehoor het. “Dit was ’n term wat deur chauvinistiese manstudente gebruik is vir ’n aanvallige vrouestudent van wie jy die impak as’t ware tot in jou binneste sou voel,” het Van Leventer ietwat droogweg aan ons verduidelik. “Dit was hierdie semantiese toespeling wat my op die spoor gesit het. Later sou ek hoor dat die lewer deur sekere Arabiese kultuurgroepe as die orgaan van die liefde beskou word. Maar ek sou ook ontdek dat die meeste mense selde aan hulle lewer dink, ofskoon dit ’n belangrike orgaan vir die purgasie, die meditasie en die koerasie is, om van die orasie maar te swyg.” Van Leventer se navorsing het hom dwarsoor die wêreld gevoer, en hy het in die vroeë jare van die nuwe millennium Europese gehore stormenderhand verower tydens ’n uitgebreide lesingtoer waarin hy sy filosofie van die lewer die eerste keer op die publiek getoets het, indien nie toegepas het nie. Waarskynlik sy beroemdste beeld van die lewer, naamlik om dit met taal te vergelyk – “Ek dink nie daaroor nie, behalwe as ek dit verloor” – het hy in hierdie fase van sy loopbaan ontwikkel. Kenners is dit eens dat hy net met hierdie beeld reeds vir hom ’n plek in die filosofiese kanon verseker het. Maar wat het Van Leventer beweeg om sy lewer in te lewer? Ietwat verrassend vertel hy dat hy eers onlangs die beroemde toneel in Monty Python se The Meaning of Life gesien het, waar twee mans in wit jasse ’n orgaanskenker se lewer voor sy dood kom haal deur die nodige sonder verdowing op die skenker se ma se kombuistafel te doen. “Dit is ’n uitstekende voorbeeld van hoe die filmwese die mediese wetenskap plunder om ’n totale wanindruk by die publiek te skep,” het Van Leventer gesteurd aan ons gesê. “Wêreldleiers op die gebied van die toegepaste etiek werk reeds etlike dekades aan die implikasies van voordoodse orgaanskenking vir ’n nuwe filosofie van die demokrasie.” Van Leventer sê dat hy as trotse Suid-Afrikaner aan die wêreld wou wys wat ons in hierdie land kan doen. Dit blyk dat hy erg gesteurd was oor die wyse waarop die minister van gesondheid onlangs na haar leweroorplanting moes deurloop in die media, om maar te swyg van die moeite wat sy had om ’n geskikte lewer gou genoeg te bekom. “Ons het so lank gestry vir ’n beter lewe vir almal onder apartheid, en hierdie is my beskeie bydrae daartoe. Die eerste regeringsminister wat ’n lewer kort, sal myne in ’n koelkamer van die Kaapse Akademiese Hospitaal vind.” Op ’n vraag oor of hy nie sy lewer gaan mis nie, was Van Leventer se lakoniese kommentaar: “Ek dink nie daaroor nie.” |