blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die VSA se hegemonie-blues 2007-10-18
Philip S. Golub

*Medeprofessor aan die Instituut vir Europese Studies aan die Universiteit van Parys-VIII. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected].

 

Binne die elite van die Amerikaanse magsbedeling het die rampspoedige gevolge van die inval en besetting van Irak ’n krisis veroorsaak wat nog groter is as dié wat dertig jaar gelede op die nederlaag in Viëtnam gevolg het. Die toppunt van ironie is dat hierdie krisis juis die koalisie van ultranasionaliste en neokonserwatiewes raak wat in die 1970’s gevorm is in ’n poging om die “Viëtnam-sindroom” te beëindig, die Amerikaanse mag te herstel en ’n “strewe na vryheid” in die VSA te laat opleef.

Die feit dat daar nog nie massa-opstande vanuit die werkersklas plaasgevind het nie, soos wat die geval was tydens die oorlog in Viëtnam, is sonder twyfel toe te skryf aan die bestaan van ’n leër saamgestel uit vrywilligers uit hoofsaaklik minderbevoorregte gebiede; verder word hierdie oorlog grotendeels gefinansier deur buitelandse kapitaal (hoe lank sal dit nog voortduur?). Maar, op die vlak van die “elite” het die krisis die nasionale veiligheidsgesag wat die land sedert die Tweede Wêreldoorlog lei, verdeel.

Die besware wat in die openbaar deur ’n halfdosyn afgetrede generaals geopper word teen die manier waarop die oorlog bestuur word (1), ’n ongehoorde daad, word nou gevoeg by die herhaaldelike uitdrukking van ontevredenheid vanuit inligtingsdienste sowel as die departement van buitelandse sake sedert 2003. Dit dui op ’n meer ernstige tendens wat belangrike sektore van die elite raak, sowel as die hoofinstellings van die staat.

Nie almal is so uitgesproke soos die afgetrede generaal William Odom nie, wat onvermoeid herhaal dat die inval in Irak die “belangrikste strategiese ramp in die hele geskiedenis van die VSA” (2) verteenwoordig. Kolonel Larry Wilkerson, oud-stafhoof van Colin Powell, veroordeel die “fout met ’n historiese dimensie” en dring aan op die verwydering/ontslag van die staatshoof (3), en dan is daar nog die oud-voorsitter van die nasionale veiligheidsraad, Zbigniew Brzezinski, wat die oorlog in Irak en die besetting van die land bestempel as “historiese, strategiese en morele ellende.” (4)

Gewoonlik gaan die elitistiese kritici wat in die publiek opstaan nie so ver nie; daar word oor die algemeen gefokus op die manier hoe die oorlog en die besetting bestuur word, eerder as die fundamentele vraag oor die inval self. Die onenigheid bly egter diep en algemeen: verskillende ministers wil verantwoordelikheid ontwyk en pak die skuld op mekaar vir die “verlies van Irak”. (5)

In die geheim kan vorige hooggeplaastes skaars hul woede inhou; hulle veroordeel die duister politieke samespannings en het net veragting vir die Withuis. Sonder die minste ironie vergelyk ’n vorige amptenaar van die nasionale veiligheidsraad die huidige ampsdraers as lede van die “Corleone-familie”, laasgenoemde verewig deur die Godfather-films oor die Mafia. “Weens die fout van ’n onbevoegde, arrogante en korrupte kliek, “ sê ’n ander hooggeplaaste, “is ons besig om ons dominante posisie in die Midde-Ooste te verloor”; ’n veteraan van die oorlog in Viëtnam wat vandag as republikeinse senator dien, bevestig dit: “Die Withuis het die weermag gebreek en sy eer geknak.

Nie een van hierdie kritici sou egter hoegenaamd as ’n verraaier beskou word nie: wat hul politieke affiliasie of hul persoonlike opinie ook al is, was of is hulle steeds magsdraers, administrateurs van die staat se nasionale veiligheid en was hulle soms rolspelers in die openlike of geheime imperiale inmenging in die “Derde Wêreld” tydens en na die Koue Oorlog. Hulle was en bly “sleuteladministrateurs” van die burokratiese masjien van nasionale veiligheid wat die sosioloog C. Wright Mills vir die eerste keer ontleed het, en wat dit ten doel het om mag te skep en te reproduseer.

As sosiale groep kan daar vervolgens nie onderskeid getref word tussen hierdie “realiste” en die teiken van hulle kritiek, vir sover dit hul begeerte betref om geweld te gebruik nie, of die onverbiddelikheid wat hulle openlik in die geskiedenis aan die dag gelê het in hul navolging van die oogmerke van die Staat. Ewemin kan hulle ontevredenheid toegeskryf word aan uiteenlopende oortuigings van etiek, norme en waardes (hoewel sulke verskille wel sommige individue kan motiveer). Die onenigheid word veroorsaak deur die koue, rasionele standpunt dat die oorlog in Irak byna “die Amerikaanse weermag gebreek het” (6) en bring (moontlik selfs op onherstelbare wyse) “die wêreldwye wettigheid van Amerika” (7) onder verdenking, met ander woorde sy vermoë om wêreldwye voorkeure te bepaal en die planetêre agenda te definieer. In die mees gesofistikeerde uitdrukkings, soos ’n mens byvoorbeeld by Brzezinski aantref, weerspieël hierdie meningsverskil die feit dat mag nie gereduseer kan word tot dwang nie, en sodra die hegemoniese wettigheid verlore is, is dit moeilik om weer te herstel.

Die tekens dat die Amerikaanse hegemonie beheer verloor het, is oral sigbaar: in Latyns-Amerika, waar die invloed van die VSA op sy laagste in dekades is; in Oos-Asië, waar Washington teësinnig moes onderhandel met Noord-Korea en China ’n onontbeerlike rol in die streek se veiligheid speel; in Europa, waar die Amerikaanse projek om teenmissielbatterye op te rig, beveg is deur Duitsland en ander lande van die Europese Unie; in die Golf, waar ou bondgenote soos Saoedi-Arabië hul eie streeksdoelwitte het wat net gedeeltelik met dié van die VSA ooreenstem; in internasionale instellings, of dit die VN of die Wêreldbank is – waarvan die Amerikaner Paul Wolfowitz, in ’n nepotismeskandaal gewikkel is en op 30 Junie bedank het. Washington is nie meer in staat om die agenda te bepaal nie.

Terselfdertyd, na aanleiding van ondersoeke oor internasinale menings wat gereeld deur die PEW Research Center in Washington (8) gedoen word, kom daar op byna globale vlak ’n houding van sistematiese uitdaging na vore met betrekking tot die buitelandse politiek van die VSA, asook ’n verbrokkeling van die “sagte mag”, die aantrekkingskrag van die VSA in die wêreld: die “Amerikaanse droom” is verswelg deur die beeld van ’n militêre Leviatan wat net veragting het vir die internasionale mening en wat die reëls oortree wat hy (die VSA) self geskryf het (9). Die wêreldmening stop nou wel nie oorloë nie, maar dit tel op ’n subtieler wyse in internasionale verhoudings.

Om hierdie skade te beperk, sou miskien moontlik wees onder leiding van nuwe leiers en onder heeltemal nuwe omstandighede. Dit is moeilik om jou op die kort termyn in te dink hoe ’n nuwe interne konsensus ingestel sou kan word: dit het jare geneem om ’n weermag weer op te bou nadat dit op die proef gestel is tydens die Viëtnam-oorlog, om leerstellings te herdink en ’n nuwe elite-konsensus te definieer – indien nie ’n populêre een nie – oor die gebruik van geweld. Ná Irak sal dit nie maklik wees om ’n nasionalistiese gevoel te mobiliseer om buitelandse avonture te steun nie. ’n Mens kan jou ook nie ’n terugkeer na die status quo vóór wêreldpolitiek indink nie.

Die inval en besetting van Irak is nie die enigste oorsake van die wêreldwye tendense wat hierbo bespreek word nie. Die oorlog het dit net uitgelig op die oomblik toe nog groter middelpuntvlietende kragte aan die werk was: die verbrokkeling en die ineenstorting van die “Washington-konsensus” en die magsverhoging van nuwe sentra van ekonomiese gravitasie, veral in Asië, was reeds goed gevestig toe George W. Bush die rampspoedige besluit geneem het om Irak binne te val. Kortom, die geskiedenis stap aan terwyl die VSA vasgevang is in ’n konflik wat ál die land se energie tap.

Vir die elite van die magsbedeling is hierdie stand van sake uiters kommerwekkend. Sedert die middel van die twintigste eeu meen die Amerikaanse bevelvoerders dat hulle alleen die historiese verantwoordelikheid het om die internasionale sisteem te rig en te lei. Met ’n plek aan die stuur van die wêreld sedert die jare veertig het hulle uitgegaan van die standpunt dat die VSA – soos Groot-Brittanje in die 19de eeu – bestem is om op te tree as hegemon, ’n dominante staat wat die middele het om die internasionale orde in te stel en te handhaaf, sowel as om vrede en ’n oop, liberale wêreldwye ekonomie te verseker wat steeds aan die uitbrei is. In hul selektiewe lees van die geskiedenis is dit die onvermoë van Groot-Brittanje om hierdie rol te handhaaf en terselfdertyd die onwilligheid van die VSA om die verantwoordelikheid (die isolasionisme) daarvan te aanvaar wat gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu die siklus van wêreldoorlog-depressie-wêreldoorlog teweeggebring het.

Hierdie hipotese, wat sterk geanker is by mense, het as uitvloeisel die volgende sirkelargument: aangesien orde ’n dominante sisteem benodig, sal die onderhoud van orde (die vermyding van chaos) die voortbestaan van die hegemonie noodsaak. Hierdie oortuigingsisteem, wat Amerikaanse navorsers in die 1970’s gedoop het as die “teorie van hegemoniese stabiliteit”, is onderliggend aan die buitelandse Amerikaanse politieke beleid sedert hierdie land na die Tweede Wêreldoorlog as Westerse hart van die wêreldsisteem na vore getree het.

Die ekonomiese en politieke elite van die VSA het in 1950 reeds ’n kykie gekry op ’n “reuserevolusie van die magsbalans”: Washington sou “die enigste erfgenaam en die administrateur van die ekonomiese en politieke bates van die Britse Ryk word [...] die septer [sou aangegee word] aan die VSA.” (10) Een jaar later het Henry R. Luce die aankoms van die bekende “Amerikaanse Eeu” aangekondig: “Hierdie eerste eeu waarin Amerika ’n dominante wêreldmag sal wees,” het hy geskryf, het beteken dat die Amerikaanse volk “[sy] werk en [sy] toekomsperspektief as die magtigste en lewenskragtigste nasie sonder voorbehoud [moet aanvaar] en op die wêreld die volle impak van [sy] invloed moet uitoefen met middele wat [vir hom] toepaslik is [...]” (11) In die middel van die 1940’s was die buitelyne van die “Amerikaanse Eeu” reeds duidelik geskets: ekonomiese heerskappy versterk deur ’n strategiese oppermag wat berus op ’n planetêre netwerk van militêre basisse versprei vanaf die Noord-Pool tot aan die Kaap, en van die Atlantiese tot die Stille Oseaan.

As bestuurders van die projek om ’n staat van nasionale veiligheid op te bou, was die leiers van die na-oorlogse tydgleuf vervul met “visioene van almag” (12), om die historikus William Appleman Williams aan te haal. Die VSA het gebaat by enorme ekonomiese voordele en noemenswaardige tegnologiese vooruitgang, en het ’n ruk lank die kernwapenmonopolie gehad. Die Koreaanse dooiepunt (1953) en die wapen- en kernmissielprogramme van die Sowjette het natuurlik die selfvertroue van die Amerikaners geskud, maar dit was die nederlaag in Viëtnam en die maatskaplike probleme wat op binnelandse vlak daarmee gepaardgegaan het, wat die beperkings van mag uitgewys het.

Die “realisme in ’n era van ondergang” wat Henry Kissinger en Richard Nixon bepleit het, was nie net ’n manier om swaarmoedig te erken dat die tipe globale hegemonie van meer as twintig jaar nie vir ewig kon duur nie. Maar Viëtnam en die Nixon-era het ’n meer paradoksale draaipunt afgemerk: Hulle het die weg gebaan vir ’n reaksie in die 1980’s: die “konserwatiewe revolusie en die doelgerigte pogings om ’n staat van nasionale veiligheid en ’n Amerikaanse wêreldwag te skep en te vernuwe.” Toe die Sowjet-Unie ’n paar jaar later inmekaargestort het, het die illusies van almagtigheid weer na vore gekom. Die konserwatiewe “triomfaliste” het opnuut gedroom van ’n internasionale “oppermagtigheid” op die lang termyn. Irak was ’n strategiese eksperiment, bedoel om “die tweede Amerikaanse eeu” in te lei. Die ondervinding het in alle rigtings rondgeskiet, nes die VSA se buitelandse politiek.

Historiese analogieë is nooit perfek nie, maar die voorbeeld van Groot-Brittanje en sy lang aftakeling van die ryk kan nodige lig werp op die huidige historiese geval. By die draai van die twintigste eeu was daar net enkele Britse leiers wat die einde van die ryk kon visualiseer. Toe die diamantjubileum van koningin Victoria in 1897 herdenk is, was Groot-Brittanje in beheer van ’n formele transoseaniese rykdom wat ’n kwart van die wêreld se grondgebied beslaan het met 300 miljoen onderdane – dubbeld dié getal indien China bygetel word, ’n virtuele kolonie van 430 miljoen inwoners. Londen se middestad was die sentrum van ’n selfs wyer kommersiële en finansiële rykdom waarvan die netwerk die hele wêreld omvat het. Ten spyte van die kommer wat die Amerikaanse en Duitse vervaardigingsmaatskappye gewek het, was daar niks verstommends daaraan dat ’n belangrike deel van die Britse elite geglo het dat Groot-Brittanje die ontvanger was van ’n ewigdurende pag oor die heelal “uit die hand van die Almagtige” nie.

Die Jubileum was sekerlik “die laaste sonstraal van ’n foutlose vertroue in die aanleg van die Britte om te regeer.” (13) Die Tweede Anglo-Boere Oorlog (1899-1902) (14), wat in Suid-Afrika afgeskop het om die roete na Indië te behou en “die swakste skakel in die imperiale ketting” te versterk, was ’n enorme menslike en finansiële verspilling. Dit het die wreedaardighede van ’n verskroeide aarde-beleid blootgelê aan ’n Engelse openbare opinie waarvan die geduld begin afneem het. “Die Suid-Afrikaanse Oorlog was, vir die Britse imperiale magte, die belangrikste toets sedert die Indiese muitery en die mees uitgebreide en duurste oorlog waaraan Brittanje deelgeneem het tussen die nederlaag van Napoleon en die Eerste Wêreldoorlog.” (15)

Slegs twaalf jaar later het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en die bankrotskap en uitputting van die Europese protagoniste veroorsaak. Die lang einde van die Britse era het aangebreek. Die Rykdom het egter nie net die onmiddellike krisis oorleef nie, maar vir dekades daarna nog voortbestaan, selfs verby die Tweede Wêreldoorlog, voor ’n glorielose einde by Suez in 1956 aan die hand van ... die Amerikaners. ’n Eeu later is daar egter steeds ’n grootheidsnostalgie, soos te siene was in die ongelukkige avonture van die voormalige Britse premier, Tony Blair, in Mesopotamië. Die laaste flikkering van die ryk is nog nie uitgedoof nie.

Vir die elite van die Amerikaanse magsbedeling word dit beskou as natuurlik om al meer as ’n half-eeu lank die topposisie in die wêreld te beklee. Die hegemonie, soos die lug wat ’n mens inadem, het ’n leefstyl geword, ’n geestestoestand, ’n wesenstyl. Die “realistiese” kritici is sekerlik meer verstandig as dié wat hulle teiken, maar hulle het nie ’n konseptuele raamwerk waarbinne internasionale verhoudings (gebaseer op iets anders as krag, magsewewig of strategiese gesag) ingeskryf kan word nie.

Die huidige krisis en die groeiende impak van wêreldwye probleme wat op nasionale vlak onoplosbaar is, sal miskien nuwe impulse genereer in terme van samewerking en interafhanklikheid. Dit is in elk geval waarop gehoop word, maar dit is ewe waarskynlik dat Amerikaanse politiek onvoorspelbaar is: soos alle postkoloniale ondervindings daarop wys, is die verbrokkeling van rykdom maar ’n lang en traumatiese proses.

_______________________

(1)  Lees “Retired Generals Speak Out to Oppose Rumsfeld”, The Wall Street Journal, 14 April 2006.

(2) Associated Press, 5 Oktober 2005. Generaal Odom was hoof van die Nasionale Veiligheidsagentskap (NSA) onder Ronald Reagan.

(3) Aangehaal uit “Breaking Ranks”, The Washington Post, 19 Januarie 2006.

(4) Verklaring voor die Senaat se Kommissie van Buitelandse Sake, 1 Februarie 2007.

(5) Die vorige hoof van die Central Intelligence Agency (CIA), Gerge Tenet, hou in sy boek At the Center of the Storm, die Withuis verantwoordelik vir strategiese foute wat in Irak gemaak is en bevestig dat daar nooit ’n "ernstige debat" oor die vraag gevoer is of hierdie land ’n dringende bedreiging inhou of die noodsaaklikheid om sanksies te versterk eerder as oorlog te maak nie. Hierdie is die mees onlangse skermutseling tot op hede in die konflik tussen die CIA en die Withuis wat reeds sedert 2003 woed.

(6) Aanhaling van die oud-minister van buitelandse sake, Colin Powell, tydens ’n televisie-uitsending van “Face the Nation”, op CBS, 17 Desember 2006.

(7) Zbigniew Brzezinski, in ’n verklaring voor die Senaat se Kommissie van Buitelandse Sake, 1 Februarie 2007.

(8) http://people-press.org/

(9) Lees die PEW Global Attitudes Project, http://pewresearch.org/.

(10) Toespraak van die president van die raad van die Amerikaanse Nasionale Industriële Konferensie by die jaarlikse kongres van die Amerikaanse Beleggingsbankiersvereniging, 10 Desember 1940. Aangehaal uit James J. Martin, Revisionist Viewpoints, Colorado Springs: Ralph Myles Publisher, 1971.

(11) Henry R. Luce, “The American Century”, Life Magazine, 1941, artikel herdruk in Diplomatic History, Lente 1999, vol. 23, n° 2.

(12) William Appleman Williams, The Tragedy of American Diplomacy, New York: Delta Books, 1962.

(13) Aangehaal uit Elisabeth Monroe, Britain’s Moment in the Middle East, 1914-1956, Londen: Chatto & Windus, 1963.

(14) Die tweede konflik, nes die eerste (1880-1881), het die Boere teen die Britte geplaas.

(15) C. Saunders & I.R. Smith, “ Southern Africa, 1795-1901 ” in The Oxford History of the British Empire, vol. III, The Nineteenth Century. Oxford:Oxford University Press, 1999.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=913
Artikel nagegaan:
    -