| Misdaad: Oorsake en wat om daaraan te doen | 2007-10-17 | Deur die FAK * – Waar vriendskap heers, kan geweld nie gedy nie
“Ons het hierdie toneelstuk geskryf, want ons het genoeg gehad van misdaad.” Aan die woord is nie ’n wit dramaturg nie en hy is ook nie Afrikaans nie: sy naam is Themba Mngadi, en by die pas afgelope Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom is dít hoe hy hom in uitstekende Afrikaans verwoord het. Dit was in antwoord op Iris Bester, aanbieder van radiosondergrense (RSG) se middagaktualiteitsprogram, Spektrum, se vraag waarom hy en sy span swart akteurs besluit het om vanjaar hulle stuk Agter tralies na Aardklop te bring. In hierdie klein staaltjie word sentrale kwessies rondom misdaad in Suid-Afrika vandag saamgevat: in weerwil van die amptelike planne teen misdaad, die voortdurende betwisting van die jongste misdaad- statistieke en die voortgaande pogings om misdaad in Suid-Afrika met vaardige regeringskommunikasie te probeer hanteer, het misdaad vandag een van die grootste kwessies – indien nie dié grootste nie – vir gewone landsburgers geword, en dit oor kultuur, taal- en klasgrense heen. Dit is veral sogenaamde geweldsmisdaad wat hier ter sprake is, en dìt is dan veral die kwessie waarop ons in hierdie ontleding sal konsentreer. Dat die moontlike oorsake en oplossings van geweldsmisdaad nog vir lank aktueel in Suid-Afrika gaan bly, is baie waarskynlik. Gegewe die verreikende ekonomiese, politieke, maatskaplike en psigiese implikasies van geweldsmisdaad is dit dan ook noodsaaklik dat die gesprek oor oorsake en oplossings met alle beskikbare bronne gevoer word. Ons sal in hierdie ontleding egter voorkeur gee aan ’n benadering wat die moontlike oorsake en oplossings van gewelds- misdaad in Suid-Afrika vanuit ’n vertolkende hoek benader waarin sekere aannames oor die stand van gemeenskappe in Suid-Afrika leidinggewend sal wees. Na ons oordeel is die stand van Suid-Afrika se gemeenskapslewe te midde van sekere staatkundige, ekonomiese, maatskaplike en simboliese faktore in die hart van die probleem van geweldsmisdaad. Daarom bied ons hier ’n vertolking van die oorsake daarvan, gevolg deur ’n aantal voorstelle oor wat gemeenskappe spesifiek binne die bestaande wetlike raamwerk kan doen om hulleself te beveilig. Volgens ons word daar enersyds baie gedoen om misdaadpatrone statisties na te vors, en andersyds ook heelwat verwys na maatskaplike en ekonomiese faktore in die voorkoms van misdaad. Maar volgens ons insig word hierdie twee aspekte nie genoegsaam gesitueer binne ’n breë oorkoepelende raamwerk nie. En dit is wat ons inderdaad hier vanuit die perspektief van Suid-Afrika se gemeenskapslewe wil doen.
1. Waarom gemeenskap? Ons vertrek vanuit die eenvoudige, dog rigtinggewende feit dat dit vir die ontwikkeling van ’n mens tot selfstandige individu en volwaardige landsburger nodig is om gevorm te word binne ’n gesonde gemeenskap met sterk instellings. Gesinne, families, kerke, sinagoges, moskees, klubs, verenigings, universiteite: al hierdie instellings stel gemeenskappe in staat om ’n deugsame lewenswyse aan hulle jongmense oor te dra. Hierdie instellings skep die veilige konteks waarin brose, afhanklike mense sorgsaam tot volwassenheid begelei kan word en ook betekenisvolle volwasse lewens kan lei. Hoe belangrik waardes ook al is – en dit ís – word die grondslag van waardes en ’n waardevolle lewe in die eerste plek gelê binne ons gemeenskapsverband, waar ons van moedersknie af en in ons moedertaal die oudste wyshede leer wat van ons mense maak. Dit is ’n goeie voorbeeld van die spreuk dat ’n mens deur ander mense ’n mens is. Die voortspruitende aanname waarmee ons in hierdie ontleding werk, is dat juis daar waar gemeenskappe en hulle instellings onder druk kom, word gesonde, verantwoordelike individue en landsburgers nie meer gevorm nie. Thomas Hobbes, die sewentiende-eeuse filosoof wat in die destydse maatskaplik onstuimige en gewelddadige Engeland sy bekende uitspraak, naamlik dat “die mens vir die mens ’n wolf is” geformuleer het, het hierdie donker beeld op die mens geprojekteer presies te midde van ’n samelewing waarin die kleiner, plaaslike gemeenskappe onder groot druk verkeer het. ’n Samelewing waarin geweld gevolglik toegeneem het en waarin die klassieke moderne argument ten gunste van die (outoritêre) nasiestaat, wat die orde moet herstel en die geweld moet minimaliseer, ontwikkel is. Dit is ons oordeel dat die hedendaagse Suid- Afrika vandag in ’n soortgelyke situasie verkeer, ofskoon die oplossing van ’n sterker staat nie noodwendig die oplossing vir die krisis bied nie. So ’n taksering van Suid-Afrika vra egter van ons ’n kort historiese oorsig alvorens ons kan vertoef by van die staatkundige, maatskaplike, ekonomiese en simboliese faktore wat deel van die oorsake van hedendaagse Suid-Afrikaanse geweldsmisdaad vorm.
2. Suid-Afrika: ’n kort historiese oorsig Die moderne Suid-Afrikaanse geskiedenis is ’n ingewikkelde en betwiste verhaal, daarom is dit geensins ons bedoeling om hier uitvoerig by dié debatte betrokke te raak nie. Veralgemenings oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis is ook riskant, maar dit wil nie sê sodanige veralgemenings noodwendig niksseggend is nie, inteendeel. Ons wil inderdaad aanvoer dat die grootste politieke uitdaging van moderne Suid-Afrika steeds is om blywende harmonie en vriendskap tussen die gemeenskappe van die land te vestig, en dat die grootste enkele rede waarom sodanige harmonie en vriendskap nie na volle potensiaal ontplooi nie, te vinde is in die aard van aspekte van die Suid-Afrikaanse staatkundige en ekonomiese bestel. Wat bedoel ons hiermee? In die Engeland van Thomas Hobbes, soos ook in ander Europese lande van daardie era, is die nasiestaat telkens te midde van groot bloedvergieting vanuit ’n verskeurde samelewing gestig en kon dit uiteindelik daarin slaag om die geweld in die samelewing te minimaliseer – enersyds deur die monopolie op geweldpleging te verkry, andersyds deur die verskillende sub-nasionale gemeenskapsidentiteite dan deur ’n nasionale identiteit te vervang. Kortom, die vestiging van die Europese nasiestaat as inheemse struktuur het telkens met enorme geweld gepaardgegaan, maar uiteindelik ook nuwe identiteite en nuwe ekonomiese welvaart te midde van binnelandse vreedsaamheid gebring. Veral die Wes-Europese nasiestaat was egter elders eerder die bron as die besweerder van geweld, en wel deur sigself uit te voer in die kolonisering van onder meer Afrika. Sonder om enigsins te beweer dat pre-koloniale Afrika ’n idille van harmonieuse gemeenskappe in goeie buurmanskap met mekaar was, is daar meer as genoeg getuienis dat die ingevoerde moderne nasiestate, soos in Afrika gevestig tydens die koloniale era, belangrike agente van geweldpleging was en dit soms steeds is. Waarskynlik die grootste enkele rede hiervoor is dat hierdie state hulle gesag oor die inheemse gemeenskappe met groot vyandigheid en gedryf deur koloniale ekonomiese winsmotiewe gevestig het. In die proses is groot skade aan Afrika se inheemse gemeenskappe aangerig, en dit verklaar waarskynlik ten dele waarom die post-koloniale oorname van hierdie state deur mense afkomstig uit geskende, vernederde gemeenskappe verseker het dat hierdie state nie wesenlik omvorm is nie en steeds in vyandskap met die inheemse gemeenskappe staan. Hierdie veralgemening oor Afrika se koloniale geskiedenis kan ongetwyfeld op talle maniere verlê, betwis en gekorrigeer word, ook na gelang van die spesifieke geskiedenis van watter Afrikaland ter sprake is. Die voorbeeld van Suid-Afrika sedert die Britse kolonisasie van 1803 en die ontdekking van Suid- Afrika se minerale rykdomme vanaf die 1860’s demonstreer die punt. Daar kan min twyfel bestaan dat die Suid- Afrikaanse staatkundige bestel soos dit vanaf 1803 tot en met Uniewording in 1910 onder veral Britse leiding beslag gekry het, nie soseer daarop gerig was om ’n bestel van onderlinge harmonie en vriendskap tussen Suid-Afrika se inheemse gemeenskappe, en tussen hierdie gemeenskappe en die staat, te bevorder nie. Nee, die klem het veral vanaf die tweede helfte van die negentiende eeu geval op die uitvoer van strategiese Suid-Afrikaanse minerale wat noodsaaklik was vir die industriële wedloop waarin die toonaangewende Westerse moondhede destyds gewikkel was. Tot en met vandag bly sekere Suid-Afrikaanse minerale van die grootste strategiese belang vir die leidende Westerse en nou ook opkomende Oosterse moondhede. Soos alombekend is, het die insameling en uitvoer van hierdie minerale vanaf die laat negentiende eeu die Suid-Afrikaanse ekonomie binne enkele dekades onherroeplik van ’n hoofsaaklik landelike, landbougebaseerde ekonomie na ’n industriële, stedelike ekonomie verander. Dit is hierdie verandering wat die materiële basis van die gesonde gemeenskapslewe van Suid-Afrikaners enorme skade berokken het. Verskynsels soos trekarbeid, gedwonge verstedeliking, proletarisering en dergelike het die gemeenskapslewe van die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners wat nou die goedkoop arbeid vir die nuwe industriële ekonomie moes bied, ernstige skade aangedoen. Dit het onder meer ’n soort oënskynlik onoorbrugbare kloof tussen, enersyds, ’n “versteende”, tradisionele, landelike bestaan, en, andersyds, ’n verstedelikte, semi-moderne, individualistiese stadsbestaan teweeg gebring. Die ironie van die saak is dat selfs daardie Suid-Afrikaanse gemeenskappe wat nominaal begunstig moes word deur hierdie ekonomiese omwenteling, hierdie patroon herhaal het. Dit word byvoorbeeld geïllustreer deur die mate waarin Afrikaners vanaf die Anglo-Boereoorlog tot vandag die oorgang gemaak het vanaf ’n landelike, gemeenskapsgerigte bestaan na ’n professionele, stedelike verindividualiseerde bestaan. Kortom, die kombinasie van ’n koloniaal ingevoerde staatstruktuur en ’n industriële ekonomie gebou op goedkoop arbeid het tradisionele Suid-Afrikaanse gemeenskapspatrone aan groot ontwrigting onderwerp. Nóg die Afrikaner-nasionalistiese tydperk tussen 1948 en 1994, nóg die Afro-nasionalistiese tydperk vanaf 1994, het tekens getoon van ’n daadwerklike poging om hierdie toedrag van sake om te keer. Die leiersfigure van die eersgenoemde beweging het eerder gekies vir ’n proses van assimilasie by die geërfde staatkundige en ekonomiese bestel, wat ekonomies afgehandel was met feitlik volledige uitskakeling van Afrikaner-werkloosheid teen die middel 1960’s, en kultureel met die aanvaarding van ’n Anglo- Amerikaanse verbruikerskultuur as toonaangewend teen die laat 1970’s. Hierdie assmilasieproses kon slaag, omdat Afrikaners min genoeg was om struktureel en simbolies in die heersende staatkundige en ekonomiese bestel geïntegreer te word. Die gevolg hiervan was die herstel van Afrikaners se selfrespek, sy dit dan nie sonder ironie nie, want hierdie selfrespek is nie herwin op die terme van die voormalig verowerde nie, maar op die terme van die voormalige veroweraar – ’n noodsaaklike en tragiese voorwaarde vir die groot skaal waarop Afrikaners vandag na Anglo-Amerikaanse samelewings emigreer. Dat laasgenoemde dikwels gepaard gaan met stapels anekdotiese getuienis oor hierdie emigrante se gevoelens van hartseer, vreemdelingskap en heimwee na Suid-Afrika, is ’n ironiese bewys van die lewenskragtigheid van ’n eie kultuur in weerwil van ’n eeuelange kolonisasie en industrialisasie in hulle land van herkoms. In die geval van Afro-nasionalisme na 1994 is dieselfde benadering van assimilasie by die heersende staatkundige en ekonomiese bestel gevolg, waarin swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie as instrumente van die Afro-nasionalisties beheerde staat noodsaaklike instrumente was. Die krisis vir Afro- nasionalisme is natuurlik dat sy belangegroep een- voudig veels te groot is om volledig by die ekonomiese bestel te integreer, en hierop het die groeiende klem op “transformasie” gevolg. Met transformasie word in wese bedoel ’n poging om Afro-nasionalistiese beheer oor alle aspekte van die samelewing oor te neem, by uitstek die ekonomiese bestel. Daar is egter twee strukturele redes waarom hierdie poging gedoem is om te faal, en inderdaad ’n belangrike faktor is in die groeiende geweldpleging en -misdaad in die land. Die eerste is dat, selfs al sou die Afro-nasionalistiese beweging volledige beheer oor die ekonomiese bestel oorneem, dit waarskynlik steeds nie genoeg sou wees om sy belangegroep volledig daarin op te neem nie. Die tweede is dat sodanige poging onvermydelik stuit op Westerse en ander buitelandse belange in die Suid-Afrikaanse ekonomiese bestel wat, gegewe die strategiese waarde van sekere Suid- Afrikaanse minerale, eenvoudig nie sonder meer prysgegee sal word nie. Die implikasies van hierdie tragiese toedrag van sake vir die Suid-Afrikaanse gemeenskapslewe is verreikend en grootliks rampspoedig. Die twee vernaamste gevolge daarvan kom albei neer op die wegkalwing van ’n gesonde gemeenskapslewe: eerstens, diegene wat by die heersende ekonomiese bestel geïntegreer word, word ingesluit teen die prys van ’n groter individualisme en ’n afgeswakte gemeenskapsverbondenheid; tweedens, diegene wat uitgesluit word – dit wil sê die meerderheid Suid- Afrikaners – se gemeenskapsinstellings is al wat hulle het om mee te oorleef (ten spyte van die bydrae van maatskaplike toelaes sedert 1994, want dié maak jou nog nie ’n gevormde, volwaardige landsburger nie), wat op sy beurt nog verdere druk op hierdie gemeenskappe plaas. Faktore soos armoede, Vigs, deur arbeid geskeide gesinne en swak skole (waar onderrig nie in moedertale geskied nie en dus grootliks ondoeltreffend is) dra alles daartoe by dat al hoe meer arm Suid-Afrikaners dan uitgelewer word aan ’n uitsiglose, verenkelde bestaan. Nou is dit so dat alhoewel armoede en geweldsmisdaad dikwels in openbare kommentaar oor geweldsmisdaad met mekaar verbind word, die twee nie noodwendig saamval nie. Volgens syfers is geweldsmisdade in Suid-Afrika se armste provinsie, Limpopo, byvoorbeeld die laagste! Hoe moet die verband tussen armoede en geweldsmisdaad, indien dit wel voorkom, dan verstaan word? 3. ’n Simboliese klimaat van geweld As ’n verband tussen armoede en geweldsmisdaad nie sonder meer getrek kan word nie, dan kan dit eweneens ook nie sonder meer ontken word nie. Ons is van oordeel dat die mate waartoe daar wel ’n verband bestaan die regstreekse gevolg is van ’n Suid- Afrikaanse simboliese klimaat wat geweld bevorder, en wat spesifiek Suid-Afrikaners wat sonder ’n behoorlike materiële basis van selfstandigheid – dit wil sê in armoede – en te midde van voortgaande gemeenskapsverbrokkeling leef, makliker tot geweld gekoppel met ’n diep bewussyn van vernedering laat oorgaan. Ons verduidelik. Hier is drie faktore ter sprake: identiteit, begeerte en erkenning. Maar alvorens ons hierdie faktore toelig, moet ons eers stilstaan by ’n kwessie wat tot dusver nog nie verklaar is nie, naamlik: as dit dan so is dat die staatkundige en ekonomiese bestel in Suid-Afrika gemeenskappe eerder erodeer as opbou, en as mense in die eerste plek gemeenskapswesens is en dus nie onbewus van die heersende toedrag van sake nie, waarom is daar nie groter verset daarteen nie? Die antwoord is te vinde in die strategie van “mitemanipulasie” wat gevolg word om die status quo te handhaaf. Wat bedoel ons hiermee? As die mens nie sonder die geloof in sekere waarhede kan bestaan nie – waarhede wat onsigbaar, maar steeds vir die mens werklik is – dan is dit so dat sodanige waarhede of “mites” bepalend vir ’n samelewing is. Byvoorbeeld: die geloof in die “mite” van ’n nie-rassige, demokratiese samelewing het miljoene Suid-Afrikaners oor dekades heen die grootste ontberinge onder apartheid grootliks vreedsaam laat verduur. Dié “mite” het aan mense die hoop gegee om staande te bly en uiteindelik ’n orde te verander. Maar wanneer die mites waarin mense glo nie ’n sekere mate van tasbare neerslag in hulle alledaagse werklikheid vind nie, veral wanneer hulle moeilike omstandighede moet verduur, kan dit tot wanhoop en in uiterste gevalle tot geweldpleging lei. Aan die ander kant, indien ’n mite waarin mense glo ’n sekere minimum van neerslag in hulle werklikheid vind, kan dit hulle genoegsaam inspireer om hulle van weerstand te weerhou. Die gesprek oor die mites van ’n samelewing kan vanaf die twintigste eeu en die opkoms van veral die elektroniese massamedia en advertensiewese nie gevoer word sonder besinning oor hoe hierdie mites in ons alledaagse simboliese omgewing sirkuleer nie: op advertensieborde, op die radio, op TV. As daar een enkele mite is wat vanaf die Britse kolonisasie deur die staatkundige en ekonomiese bestel gebruik is om sy eie aanslag op Suid-Afrika se gemeenskappe te verdoesel, dan is dit die een van die mobiele, verstedelikte individu wat in die laat twintigste eeu met onbeperkte verbruik verbind is. Dit is hierdie model van ’n individuele lewe wat nou al vir meer as ’n eeu en steeds met groter intensiteit aan Suid-Afrikaners voorgehou word Hoe kragtig hierdie mite was en bly, word gedemonstreer deur die geesdrif waarmee sowel Afrikaner-nasionaliste as Afro-nasionaliste hulle belangegroepe by die heersende staatkundige en ekonomiese bestel wou assimileer, eerder as om dit aan te pas om in ’n meer demokratiese verhouding met die land se gemeenskappe te staan. Dit is dan ook spesifiek die leidende Suid-Afrikaanse strategie van mitemanipulasie wat gebruik word om Suid-Afrikaners te laat glo dat dit beter gaan, of dat dit weldra beter sal gaan. Maar wat gebeur wanneer die meeste mense se alledaagse werklikheidsbelewenis nie met hierdie prentjie klop nie? Presies hier word geweld volgens ons ontleding ontketen. Dit bring ons terug by die bovermelde faktore van identiteit, begeerte en erkenning. Ons is van oordeel dat wanneer ’n gemeenskap gesond is, sy lede ’n sterk identiteit geniet, hulle erkenning gee aan mekaar, hulle van buite hul gemeenskap gerespekteer word en hulle begeertes ’n bron is van skepping eerder as ’n herinnering aan gebrek – of hierdie gebrek nou simbolies of materieel is. Wat deur die loop van die twintigste eeu in Suid-Afrika gebeur het, is dat inheemse Suid- Afrikaanse identiteite, en dan veral etniese en kulturele identiteite, teen die agtergrond van die erodering van hulle basisse in gesonde gemeenskappe, óf op karikatuuragtige wyse deur die staatkundige bestel gebruik is om gemeenskappe teen mekaar af te speel, óf deur etnosentriese ondernemers gebruik is om ’n sindroom van gemeenskapslagofferskap eerder as kulturele en ekonomiese selfstandigheid van gemeenskappe te bevorder. So het dit gebeur dat Suid- Afrikaners nie net aan ’n proses van ekonomiese vernedering onderwerp is nie, maar ook een van kulturele en identiteitsvernedering. Hieruit het gevolg dat die sug na erkenning by die meeste Suid-Afrikaners patologiese afmetings aangeneem het, ’n sug wat op sy beurt uitgebuit is/word deur die volgehoue propagering van die mite van mobiele, individuele, verstedelikte verbruikerskap as die basis van erkenning. Teen die agtergrond van die feit dat ’n gesonde identiteit, konstruktiewe begeertes en erkenning nié in die eerste plek uit ’n ongesonde ekonomiese bestel spruit nie, maar wel uit ’n gesonde gemeenskapslewe waarin die ekonomie ’n voorwaarde van die gemeenskap eerder as die ondergang daarvan is, is Suid-Afrika dus struktureel gedoem tot groeiende gewelddadigheid, veral teen diegene wat teen wil en dank met die heersende mite verbind word, naamlik die verstedelikte middelklas, en in mindere mate die plattelandse middelklas. Dit is dan teen die agtergrond van hierdie oorkoepelende historiese en hedendaagse Suid- Afrikaanse situasie dat ons vervolgens aandag kan gee aan ’n aantal sekondêre faktore wat almal deel vorm van die oorsake van geweldsmisdaad in Suid-Afrika, alvorens ons afsluit met wat gemeenskappe kan doen om hulleself teen geweldsmisdaad te beskerm. 4. Sekondêre oorsake van geweldsmisdaad Ons het reeds vroeër daarna verwys dat in daar in openbare kommentare oor geweldsmisdaad dikwels na ’n klomp faktore verwys word, maar dat dié nie altyd in verband gebring word met wat ons nou hopelik oortuigend aangetoon het as die hoofinvalshoek op die probleem nie, naamlik die verswakkende gesondheid van die Suid-Afrikaanse gemeenskapslewe teenoor ’n koloniaal-gebaseerde staatkundige en ekonomiese bestel. Dit is dan teen hierdie agtergrond dat die volgende sekondêre faktore almal bydra tot die voorkoms van geweldsmisdaad: Eerstens is daar die waarskynlik onbedoelde gevolg van die huidige stelsel van kindertoelae, waar die staat se poging om behoeftige ouers te ondersteun met ’n toelaag van R200 per kind per maand daartoe kan lei dat tienerswangerskappe onder brandarm tienermeisies toeneem, waarop weer volg dat kinders in die haglikste maatskaplike omstandighede gebore word, sodat dit iets soos ’n “misdadigerklas” vergroot. Dit is ’n uiters sensitiewe punt in ’n land met ’n geskiedenis van katastrofale demografiese politieke beleidsrigtings, en ofskoon ons in ons navorsing heelwat anekdotiese getuienis van doelbewuste tienerswangerskappe gehoor het, moet dié kwessie nog deeglik nagevors word. Tweedens kom Suid-Afrika uit die rewolusionêre klimaat van die 1980’s toe gemeen- skapsinstellings en die normale gesagsfigure soos ouers en onderwysers aan groot druk onderwerp is. In dieselfde tyd is die wet deur baie Suid-Afrikaners eerder met onderdrukking as met ’n gesonde gemeenskap verbind, wat kan bydra tot ’n voortslepende wetteloosheid. Derdens is daar die kwessie van etniese spanning wat, hoewel daar min getuienis is dat dit mense in misdaadsituasies tot geweld dryf, hulle wel makliker in die hitte van die oomblik tot geweld kan laat neig. Vierdens is daar die swakplekke in die strafregstelsel, wat insluit ’n tekort aan tronke, ’n onbevredigende sukseskoers met vervolgings, swak opleiding en gebrekkige fasiliteite vir die polisie, ens. Vyfdens is tronke self dikwels teen die agtergrond van ’n swak gemeenskapslewe plekke waar jong mans die eerste keer deel van ’n gemeenskap voel, en waar hulle geïnisieer word in ’n geweldskultuur, sodat tronke eerder bronne as oplossings van geweldsmisdaad word. Hierdie lys kan waarskynlik nog aangevul word, maar vir die doeleindes van ons ontleding volstaan ons hiermee, aangesien ons dan hiermee, in aansluiting by ons oorkoepelende beklemtoning van die stand van Suid-Afrika se gemeenskapslewe, hopelik lig op die oorsake van geweldsmisdaad in die land gewerp het. Dit bring ons nou by die vraag oor wat gemeenskappe te doen staan. 5. Gemeenskappe en geweldsmisdaad: eerste tree na ’n oplossing Dit het hopelik teen hierdie tyd duidelik geword dat die geweldsmisdaad in Suid-Afrika diepgaande, historiese oorsake het, waarvan sommige deel uitmaak van die strukturele vesel van die hedendaagse land. Dit spreek vanself dat, om hierdie toedrag van sake te verander, ingrypende veranderinge in die totale Suid-Afrikaanse staatkundige, ekonomiese en maatskaplike bestel sal verg, wat oor dekades eerder as jare vrugte sal afwerp. So iets sal nie kan slaag sonder ’n vennootskap tussen die staat, die sakesektor en die burgerlike samelewing nie, en die FAK is ook daartoe verbind. Maar met dit gesê, bly die feit nog staan dat Suid- Afrikaners steeds daagliks te make het met met ’n vlaag van geweldsmisdaad. Die vraag is wat gemeenskappe, naas die staat en die sakesektor, onmiddellik kan doen om self hulle veiligheid op ’n wettige manier te verseker? Die antwoord is dat daar inderdaad heelwat stappe is wat gemeenskappe kan neem, veral in die verband van die stedelike woonbuurt. Ons verwys spesifiek na die stedelike woonbuurt, omdat die geweldsmisdaad wat aanvanklik op die platteland voorgekom het, natuurlik die afgelope jare toenemend na die stede oorgespoel het. Gegewe die betreklike afsondering van landelike gemeenskappe vergeleke by stedelike gemeenskappe kan stedelike woonbuurte dan ook heelwat leer uit die suksesse wat landelike gemeenskappe reeds in hul beveiliging behaal het. Alvorens ons sekere konkrete voorstelle hieroor maak, vermeld ons eers enkele sukses- voorwaardes. Die eerste voorwaarde is om afgesien van die faktore waarna hierbo verwys is, as feit te besef dat Suid-Afrika ’n samelewing in verreikende maatskaplike oorgang is. Sodanige oorgang impliseer hoë vlakke van onstabiliteit, waarop dit verkiesliker is om eerder met gemeenskapsbetrokkenheid as outoritêre staatsoptrede à la Hobbes te reageer: die bevordering van vriendskap in die samelewing deur gemeenskapsbetrokkenheid bly die beste bolwerk teen geweldsmisdaad. Die tweede voorwaarde is om te verstaan dat die konvensionele opvatting van ’n veilige stedelike omgewing waarin die staat sy burgers se veiligheid kan waarborg, nie sonder meer in die hedendaagse Suid- Afrika geld nie. Hoewel die staat grondwetlik die plig het om sy burgers te beskerm, kan die staat dit nie sonder die burgery se aktiewe deelname doen nie. Die derde voorwaarde is om te verstaan dat indien die woonbuurt nie as eie gebied beskerm en beveilig word nie, dit soveel makliker is vir misdadigers om die gebied vir hulleself op te eis. Die vierde voorwaarde is maksimum deelname aan die buurt se beveiliging deur die inwoners van die buurt self. Indien genoegsame kollektiewe deelname nie in die buurt self bestaan nie, sal geen veiligheidsplan slaag nie. Die vyfde voorwaarde is die volgehoue, doeltreffende sirkulering van inligting rakende veiligheid onder inwoners van die buurt. As inligting oor misdaadinsidente op volgehoue basis deur almal gedeel word, kan daar ook beter kollektief op gereageer word en kan mense saam verdere stappe van misdaadvoorkoming neem. Die sesde voorwaarde is doeltreffende same- werking met die polisie en/of privaat veiligheidson- dernemings. Hier is inskakeling by gemeenskaps- polisiëringsforums van die allergrootste belang. In die lig hiervan kan ’n stedelike woonbuurt die volgende basiese plan binne die konteks van bestaande wetgewing en polisiebeleid implementeer: 1. Stel uit die gemeenskap ’n sektorbestuurder aan. So ’n persoon moet oor genoeg vrye tyd beskik om op te tree as skakel tussen die gemeenskap, die polisie en private veiligheidsmaatskappye in die buurt. 2. Skep in die buurt die vermoë om inligting oor misdaad in die buurt in te samel. Tuiniers en huishulpe is hier net so belangrik as inwoners, die polisie en die private veiligheidsmaatskappye van die buurt. 3. Rig ’n doeltreffende kommunikasiestelsel in die buurt op waarby elke huishouding of besigheid ingeskakel is. In ons navorsing het dit geblyk dat veral sms’e die beste werk, maar daar is ook voorbeelde van buurte waar huishoudings en besighede, soos plaasgemeenskappe, van tweerigtingradio’s gebruik maak. 4. Hou gereelde gemeenskapsvergaderings om saam te besluit oor hoe die hele buurt misdaad bekamp, en skakel hieroor met die polisie. 5. Moenie jou buurt se veiligheid aan ’n private veiligheidsmaatskappy uitkontrakteer nie, want hulle winsgrens bly hulle eerste belang. Indien buurte van veiligheidsmaatskappye gebruik maak, is dit beter om as woonbuurt deur ’n artikel 21-maatskappy sonder winsbejag ’n kontrak met een veiligheidsmaatskappy te sluit. Individuele kontrakte van inwoners met verskillende of selfs dieselfde maatskappy, verminder die woonbuurt se kollektiewe vermoë om sodanige maatskappye vir prestasie aanspreeklik te hou. * Hierdie is ’n amptelike standpunt van die FAK. Die navorsing daarvoor het onder meer gesprekke ingesluit met Kiewiet Ferreira van Agri-SA, dr. Bertie du Plessis van Mindpilot, dr. Johan Burger en mnr. Henri Boshoff van die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria, en kolonel Jan Malan van Streetsafe in Pretoria, maar die menings hierin uitgespreek is dié van die FAK.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=912
Artikel nagegaan:
-
|