|
||||
Die Vrye Afrikaan: Om ’n goeie skrynwerker, onderwyser, polisieman of dokter te wees, moet ’n mens oor sekere vaardighede beskik – vroeër het ons daarna verwys as “deugde”. Maar dieselfde is waar van ’n musikant. Om musiek te maak – ten minste musiek met integriteit – moet ook ’n musikant oor deugde, oor “musikale deugde” beskik. Watter vaardighede of deugde sou jy uitsonder? Chris Chameleon: Sommige loopbane verg deeglike opleiding, soos dié van ’n mediese dokter of ’n ingenieur, maar ander weer minder. ’n Musikant hoef nie noodwendig opleiding te ontvang nie, behalwe as hy nou vir ’n filharmoniese orkes wil speel, waarvoor ’n deeglike kennis van note, bladlees, musiekteorie en -harmonie nodig is. ’n Natuurlike musikaliteit is nodig, en dis iets waarvoor jy nie kan vra en wat jy ook nie kan aanleer nie. Dis ’n talent en dit kom van God af, as jy ’n gelowige is; indien nie, van elders. Maar wat die integriteit van musiek betref: die deugde waaroor ’n mens moet beskik om dit te kan beoefen, is soortgelyk aan die deugde wat dit verg om ’n onderwyser of staatsman of tuinier van integriteit te wees. Dis ’n breë, algemeen menslike kwaliteit. Dit gaan daarom dat jy eerstens in diens staan van dít waarmee jy jou besig hou, en eers daarná van die aanhangsels. Wat ek bedoel, is dat jy as musikant byvoorbeeld eerstens in diens van die musiek staan. Jou taak is om eerlik en opreg met jou gawe om te gaan, en wanneer hierdie taak volvoer is, kan jy maar dink aan hoe jy dit kan gebruik om geld of roem of watter ander wêreldse ideale jy ook al koester, te verwesenlik. Deug is dikwels bloot ’n kwessie van prioriteit. In musiek is die musiek die eerste prioriteit. Sodra geld of roem of iets anders eerste gestel word, kan niks meer gedoen word om die integriteit in ere te herstel nie. Baie van die kuns wat ons deesdae sien, is die beroerde gevolg van kuns wat in die eerste plek om die verkeerde rede geskep is.
DVA: Maar goeie musiek is natuurlik nie slegs die gevolg van die musikale deugde van die musici nie. Daar is ook iets soos die magiese of besete oomblik in die uitvoering van musiek. Dit is dié oomblik wat jy as musikant nie kan afdwing nie, maar wat jou as't ware van buite af oorval. Wat is jou ervaring in hierdie verband? CC: Ek stem saam dat daar iets hier intree wat groter as die musikant of sy vermoëns is. Dis baie soos die “skeppings”-proses, en dis moeilik om te verwoord, juis omdat dit nie iets is wat ’n mens doen nie, maar wat deur jou gedoen word. Die aard daarvan is geestelik.
DVA: ’n Kenmerk van jou musiek is jou buitengewone sin vir taal. Jou musiek toor nie net met klanke nie, maar ook met woorde. Maar wat is taal of tale vir jou? Sommige sal ’n blote pragmatiese benadering tot taal volg. Volgens hulle is ’n taal ’n blote instrument van kommunikasie. Andere daarteenoor sal weer ’n sterker poëtiese benadering volg. Vir hulle is taal ten diepste iets soos ’n gedig waarin ons van vroeg af ons intrek neem. En wat ons reeds vroeg in staat stel om as mense eg te kan woon. Waar staan jy in hierdie gesprek? CC: Dankie vir die kompliment! Uit my mond is die aanhaling van Langenhoven nou reeds geyk, maar ja, hy’t gese: “Soveel tale jy kan, soveel male is jy man.” En dis wat my betref waar. In die vier tale wat ek redelik goed kan praat, voel ek telkens anders, byna na ’n ander persoon, afhangende van die taal wat ek besig. Elke taal het ’n persoonlikheid, ’n mentaliteit. Hierdie verskynsel sal onder meer verantwoordelik wees vir sekere nasionale eienskappe wat sprekers soms algemeen vertoon. Hoe dikwels hoor ons nie dat mense sê: “Dit kan in geen ander taal as Afrikaans so gesê word nie!” Of andersins: “Hoe sal ’n mens dit nou in Afrikaans kan sê?” ’n Taal is die produk van ’n omgewing, van ’n geskiedenis van mense. Al die faktore wat ’n mens in die loop van sy lewe kan beïnvloed en vorm, buiten sy genetiese voorafbestemming, kan eweneens op ’n taal ’n invloed uitoefen, maar wel binne die bestek van ’n groter tyd en ruimte. En so verwerf ’n taal dan ’n eie persoonlikheid, met eie deugde en tekortkominge. ’n Taalkunstenaar kan nooit sy kuns werklik vervolmaak in die afwesigheid van hierdie dieper begrip nie. Dit is wel iets wat aangeleer kan word, maar wat gedy in die aanwesigheid van ’n natuurlike aanleg, ’n talent hiervoor. Daarom kan ’n mens ook nie neersien op mense wat nie oor die besondere vermoë beskik nie; hulle het dalk ’n fyner aanvoeling vir die ligaam, of vir plante, of wiskunde. Maar deur die talentvolle tuinier, wetenskaplike, sportman of taalkundige kry die res van ons ’n beter kykie in die wonder van menswees, word ons meer mens. DVA: Die veelheid van tale kan as die kulturele skatkamers van die mens verstaan word. Nogtans word ons vandag gekonfronteer met die feit dat tale (veral die kleiner tale) aan ernstige druk onderwerp word. Wat is jou houding teenoor hierdie gebeure? CC: Biodiversiteit is belangrik vir die gesondheid van enige ekologie. Sodra ’n lewensvorm uit ’n ekologie verwyder word, of uitsterf, kan dit verreikende gevolge hê vir die omgewing en dikwels op meer maniere as wat voorspelbaar of voor die hand liggend sou wees. Net so vorm die verskeidenheid van tale belangrike strata in die ekologie van die mens se kulturele -en geestesomgewing. Deur ’n taal te laat uitsterf, laat jy toe dat ’n deel van die mensdom se persoonlikheid afsterf. Daar is tans ’n rapsie oor die 400 tale wat met uitsterwing bedreig word (hierby word Afrikaans nie eens ingereken nie). Ons staan, grotendeels as gevolg van die kulturele imperialisme wat hoofsaaklik kapitalisties gemotiveer word, op die rand van ’n kulturele kataklisme wat vergelykbaar is met die bedreiging wat aardverwarming as omgewingskataklisme vir ons inhou. Die oplossings in beide gevalle verg moed, drastiese hersiening van bestaande praktyke, en wysheid oor en insig in die kosbaarheid van dinge wat ons al te lank as vanselfsprekend aanvaar. DVA: Die liefde is ’n belangrike tema in jou werk. Maar hoe verstaan jy die liefde? Is dit ’n ding wat net tussen twee mense afspeel? Of verstaan jy, soos wat ’n mens uit jou werk kan aflei, die liefde bykans in “kosmiese” terme, dit wil sê as ’n krag wat die ganse skepping deurtrek? CC: Die grootste kunstenaars in alle velde – skilders, musici, uitvoerend, beeldend ens. – poog al millenia lank om die liefde te vervat, te verwoord, verstaanbaar te omskryf. En waar sommige se pogings heerlik is en dalk gesorg het vir van die grootste kunsskatte van alle tye, het geeneen van hulle al die spyker werklik op die kop geslaan nie. Die liefde kan nie geblik word nie, en daarom vorm dit so ’n buitengewoon onuitputlike bron van kunsuitlewing. Ek kan in my antwoord nou dadelik vierduisend bladsye toewy aan die liefde, en sal na afloop daarvan nog geensins nader aan die begrip daarvan wees as wat die soen van ’n klein dogtertjie op haar hondjie se voorkop my daaraan kan bring nie. DVA: Die liefde vir iemand of iets maak dit onmoontlik om onverskillig daarteenoor te staan. Nogtans kan die era waarin ons lewe, beskou word as die era van die groot onverskilligheid. Miskien gebeur dit omdat alles in dié era koop- en verkoopbaar is. Kan jou klem op die liefde beskou word as jou antwoord op die era van onverskilligheid? CC: Ja, beslis dit ook. Van onverskilligheid gepraat: net soos wat ons geleer is om die naam van God nie ydellik te gebruik nie, net so moet ons die ydellike gebruik van enige woord vermy, veral die liefde. En van taalkundige beperkings gepraat: ek is bly dat Afrikaans haar nie met dieselfde gemak leen tot die yddelike gebruik van die woord liefde as byvoorbeeld Engels nie. “Oh I lu-hu-hu-ve this; oh I lu-hu-hu-ve that...” Dit gebeur te veel, verontheilig die liefde en plaas die liefde waar dit dalk nie inherent tuishoort of opreg is nie. Dieselfde met “Oh my God!”. In Afrikaans klink dit so hard dat ons dit gelukkig tot dusver oor die algemeen goed vermy. Mag dit so bly, want die beste manier om iets te verloor, is om dit met namaaksels te omring. |