blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Musiekrubriek 2007-08-13
Herman van Niekerk

Osvaldo Golijov

 

Vraag: Wat kry ’n mens uit die volgende musikale kombinasies: Klassieke kamermusiek, Joodse liturgiese en klezmer-musiek en die nuwe tango van Astor Piazzolla? Antwoord: Die komposisies van Osvaldo Golijov.

Osvaldo Golijov is gebore op 5 Desember 1960 in La Plata, Argentinië. Sy ma was ’n klavieronderwyseres en sy pa ’n mediese dokter. Hy het aanvanklik klavier studeer aan sy plaaslike konserwatorium, en komposisie onder Gerardo Gandini. In 1983 vertrek hy na Israel vir verdere studies onder Mark Kopytman by die Jerusalemse Rubin Akademie. In 1986 verhuis hy na die VSA en verwerf sy doktorsgraad aan die Universiteit van Pennsylvania onder George Crumb. Hy studeer verder in Tanglewood onder Oliver Knussen.

Die St. Lawrence- en die Kronos-kwartette was van die eerste ensembles wat saam met Golijov begin werk het. Maar die afgelope 7 jaar word hy veral geïnspireer deur die stem van die sopraan, Dawn Upshaw – vir wie hy al verskeie werke gekomponeer het, waaronder Three Songs for Soprano and Orchestra, die opera Ainadamar en die siklus Ayre – asook verwerkings van ’n paar gewilde liedere.

Maar Golijov se groot deurbraak het gekom in 2000 met die première van sy St. Mark Passion. Hierdie was ’n opdragwerk van Helmuth Rilling vir die Europese Musiekfees, ter herdenking van die dood van JS Bach 250 jaar gelede. Van die kunstenaars wat aan hierdie uitvoering deelgeneem het, was die Schola Cantorum van Karakas en die Orquesta La Pasión wat spesiaal vir die uitvoering saamgestel is saam met die perkussiespeler, Mikael Ringquist. Die werk is gedirigeer deur Maria Guinand. Die klankopname tydens die uitvoering van die werk is deur Haenssler op CD uitgereik en het in 2002 twee Grammy-nominasies ontvang.

Vir Golijov se première van Ayre het hy ’n ander veelsydige ensemble begin onder die naam The Andalucian Dogs. Ayre het sy eerste uitvoering met Dawn Upshaw in die Zankel-saal gehad, en ’n opname van die werk is deur Deutsche Grammophon in 2005 gemaak, waarna dít ook vir ’n Grammy genomineer is. In 2006 reik Deutsche Grammophon die CD uit van sy opera, Ainadamar, met onder andere Dawn Upshaw, Kelley O’Connor en Jessica Rivera in die hoofrolle saam met die Atlanta Simfonieorkes en -koor gedirigeer deur Robert Spano – ’n kunstenaar en vriend wat baie nou saam met Golijov werk. Ainadamar kry twee Grammy-toekennings: vir die beste opera-opname asook vir die beste eietydse komposisie.

In Januarie en Februarie 2006 het die Lincoln-sentrum ’n (uitverkoopte) fees aangebied onder die titel: The Passion of Osvaldo Golijov, waartydens verskeie van sy komposisies uitgevoer is. Soortgelyke feeste is ook gehou in die Barbican-sentrum in Londen en deur die Atlanta Simfonieorkes.

Onlangs voltooide werke van Osvaldo Golijov is onder meer Azul – ’n tjello-konsert vir Yo-Yo Ma en die Bostonse Simfonieorkes, asook die klankbaan vir ’n Francis Ford Coppola film, Youth Without Youth. Golijov is tans ook besig om te werk aan’n opdragwerk deur die Chicago Simfonieorkes met die titel Rose of the Winds. Hierdie werk sal uitgevoer word saam met die Silk Road Ensemble en sal gedirigeer word deur Migual Harth-Bedoya. Daar is ook ’n nuwe opera op pad vir die Met in New York!

Deutsche Grammophon sal oor die volgende twee jaar ’n verdere drie CD’s uitreik (die album, Oceana, is pas uitgereik). Oceana is die hoofwerk op die CD. Dis ’n komposisie vir orkes, drie ghitare, harp en stem, en is in ’n Latynse jazz-styl gekomponeer. Die kunstenaars is die Los Angeles Ghitaarkwartet, die Atlanta Simfonieorkes onder leiding van Robert Spano, en die Brasiliaanse sangeres, Luciana Souza. Die ander werke op die CD is Tenebrae, wat deur die beroemde Kronos-Kwartet uitgevoer word, en Three Songs For Soprano and Orchestra, uitgevoer deur Dawn Upshaw en die Atlanta Simfonieorkes). Ander opnames van Golijov is beskikbaar onder die etikette van Nonesuch, Sony Klassiek, Hanssler Klassiek, Naxos, Koch en EMI.

 

Mimi Coertse 75 – haar outobiografie

 

Vanjaar vier Mimi Coertse haar 75ste verjaardag. Haar outobiografie, ’n Stem vir Suid-Afrika- my storie soos vertel aan Ian Raper, verskyn vandeesmaand. Karl Löbl – ’n voormalige kunsresensent van Wene skryf soos volg oor Mimi:

“’n Mens onthou veral ’n onverhandelbare timbre, ’n soet, dog nie-sentimentele stem. Hierdie stem kon vroulike lotgevalle, situasies en gevoelens geloofwaardig vertolk: die versteurdheid van Lucia, die vertwyfeling van Norma, die droefheid van Konstanze, die bedrieglike popperigheid van Olympia of die doodsangs van Violetta Valery het mense aangegryp, beangs en ontroer … Voeg daarby nog haar Nedda en Fiakermilli, haar Gilda en Donna Anna en, en, en … ek betrap myself dat ek steeds meer rolle onthou wat Mimi Coertse in die Weense Staatsopera en Volksopera, maar ook in Graz, vertolk het. Dit was oor haar dat ’n mens opera toe gegaan het. Jy wou hierdie besielde, innige, virtuose sang altyd weer hoor.

             Van wie kan ’n mens tans nog so iets sê?” 

             ’n Stem vir Suid-Afrika word deur Litera uitgegee.

            

Edvard Grieg 100

 

4 September 1907 is die dag waarop Edvard Grieg oorlede is. In September vanjaar word sy dood herdenk deur ’n tweeweekse fees (31 Augustus – 16 September) in Bergen – die tuiste van Grieg. Dié fees is die hoogtepunt van die amptelike Grieg-feesvierings in Noorweë. Die fees sluit onder meer in die opening van die uitstalling met die tema, Die klank van Noorweë se lente; ’n simposium, Musiek en Identiteit (die inhoud van die simposium word omskryf as “musiek as werktuig in die ontwikkeling van identiteit vir individue, groepe en nasies”), en verskeie uitvoerings en voorstellings waardeur Grieg gehuldig sal word. Meer inligting is by http://eng.grieg07.no/index?page=66&news=549.

 

 

Inligting vir hierdie rubriek word voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk[email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika. Die hoofdoel van die rubriek is om musiekinligting te kommunikeer waaraan mens nie noodwendig blootgestel word nie. Die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en partykeer vertolkend. Alle datums en tye was korrek by ter perse gaan.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=910
Artikel nagegaan:
    -