|
||||
Christian Christensen
*Assistentprofessor in Media- en Kommunikasiestudies aan die Karlstad-Universiteit, Swede.
Die algemene oplewing van die dokumentêrefilm-tradisie – en veral die politieke, aktivistiese dokumentêre film – word hoofsaaklik toegeskryf aan die fenomenale sukses van meer as $120 miljoen in die Verenigde State, en $200 miljoen wêreldwyd wat Michael Moore se Fahrenheit 9/11 (2004) aan teaterloketverkope behaal het. Hoewel baie van die grondwerk vir hierdie deurbraak deur Moore se vroeëre films, Roger & Me (1989) en Bowling for Columbine (2002) gelê is, moet daar ook onthou word dat Fahrenheit 9/11 chronologies omgeef is deur die goeie ontvangs van ’n aantal ander dokumentêre films soos The Fog of War (Errol Morris, 2003), The Corporation (Mark Achbar & Jennifer Abbot, 2003), Control Room (Jehane Noujaim, 2004), Super Size Me (Morgan Spurlock, 2004), en An Inconvenient Truth (Davis Guggenheim, 2006). Die sukses van hierdie besondere dokumentêre films – soos die geval is met die meeste films wat as “suksesvol” geklassifiseer word – is aan die loketopbrengs gemeet. Morgan Spurlock se aanval op kitskos, Super Size Me, is hiervan ’n besonder goeie voorbeeld, aangesien sy film se wins van $11,5 miljoen aan kaartjieverkope in die Verenigde State die oorspronklike produksiebegroting van $65,000 verdwerg het. Hoewel die fokus op films met ’n bepaalde graad van finansiële sukses (veral betreffende die verhouding van produksiebegroting tot die opbrengs uit kaartjieverkope) ’n maatstaf is van die onlangse opgang wat die politieke/aktivistiese dokumentêre film gemaak het, sal so ’n eng ontleding de facto een van die interessanter ontwikkelings in die produksie, verspreiding en vertoning daarvan buite rekening laat: die werk van Brave New Films en Brave New Theaters, in 2004 gestig deur die dokumentêre filmvervaardiger en politieke aktivis, Robert Greenwald. Greenwald is die vervaardiger en/of regisseur van ’n string politieke dokumentêre films: Iraq for Sale: The War Profiteers (2006), The Big Buy: Tom Delay's Stolen Congress (2006), Wal-Mart: The High Cost of Low Price (2005), Outfoxed: Rupert Murdoch's War on Journalism (2004), Unconstitutional: The War on Our Civil Liberties (2004), Uncovered: The War on Iraq (2004), en Unprecedented: the 2000 Presidential Election (2002). Volgens konvensionele filmbedryfstandaarde sou Robert Greenwald se film, Outfoxed: Rupert Murdoch’s War On Journalism (2004), met slegs 18 vertonings en ’n karige $460,000 aan loketopbrengs, maar wat deur kritici die allerhoogste lof toegeswaai is, op sy beste as ’n louwarm sukses beskou kan word. Hierbenewens registreer die drie films wat na Outfoxed deur Greenwald gemaak is – Wal-Mart: The High Cost of Low Price (2005), The Big Buy: Tom Delay's Stolen Congress (2006) en Iraq for Sale: The War Profiteers (2006) – kwalik op die V.S. se filmstatistiek. Die rede vir die gebrek aan tradisionele teaterloketsukses van Greenwald se films was egter nie gebrekkige kykersbelangstelling nie, maar eerder die feit dat Greenwald Brave New Films (’n produksiemaatskappy) en Brave New Theaters (’n webwerf vir die koördinering van plaaslike voetsool-filmvertonings) in die lewe geroep het met die doel om ’n polities betrokke filmproduksiemaatskappy met ’n verwante verspreidings/organisasie-arm te skep om ’n verbypad om die hoogs gesentraliseerde hoofstroom filmverspreiding- en vertoningstelsel te verkry. Greenwald se toewyding tot voetsool- politieke dokumentering is miskien verbasend, in die lig van sy verlede as die vervaardiger/regisseur van ’n aansienlike aantal hoofstroom film- en televisieproduksies van Hollywood. Twee gebeurtenisse het blykbaar ’n rol gespeel in die filmmaker se besluit om hom in die wêreld van laekoste-aktivistemedia te begewe: die nadraai van die aanvalle van 11 September 2001 en die herverkiesing van George W. Bush in 2004. Aangaande die eerste hiervan het Greenwald my meegedeel dat die spoed waarmee die nasionale smart en pyn wat op 11 September gevolg het, woede en wraaksug geword het, hom ontstel het, en het bygevoeg: “Ek het vier kinders en hulle het ’n groot invloed op my besluit. Ek het gevoel ek kon nie myself in die spieël in die gesig kyk as ek nie iets probeer doen het nie.” Greenwald het afgesluit met die woorde, “Ek het geen idee gehad dat dit hiertoe sou lei nie.” Waartoe dit feitelik gelei het, was die stigting in 2004 (die jaar van die Bush- versus-Gore-verkiesing) van Brave New Films, ’n maatskappy wat gewy is aan die produksie van wat Greenwald kits- dokumentêre films noem en wat die belangrikste politieke kwessies in die Verenigde State aanvat. Eerder as om op duurder produksies te konsentreer wat oor etlike jare strek, het Greenwald gevoel dat daar ’n behoefte is aan dokumentêre films oor “warm” politieke temas, goedkoop verfilm (maar van ’n hoë kwaliteit), wat gouer vrygestel kan word en aan breër voetsool- politieke aktivisme gekoppel is. Sedert 2002 het Greenwald se films sulke uiteenlopende kwessies getakel as oorlogwinsneming, onetiese en onwettige arbeidspraktyke, korrupte V.S.- politieke finansiering en Rupert Murdoch se ultrakonserwatiewe Fox News. Daar is ’n aantal kerngedagtes grondliggend aan die Brave New Films/Brave New Theaters- onderneming: (1) dat gedeeltelike befondsing vir kleinerskaalse dokumentêre films via die internet uit bydraes van gewone landsburgers verkry kan word; (2) dat ’n hoë gehalte politieke dokumentêre film vinnig en met ’n beperkte begroting vervaardig kan word om kritieke maatskaplike en politieke kwessies tydig aan te pak; (3) dat die internet vir regstreekse verkope en verspreiding van DVD’s gebruik kan word (en dus met ’n verbypad om oligopolistiese DVD-verhurings en groothandelsafsetpunte); (4) dat die internet verder gebruik kan word om grootskaalse grondvlakvertonings van films te koördineer (en sodoende die hekwagte van oligopolistiese filmverspreiding en –vertoning te systap); en (5) dat grondvlakse filmvertonings gekombineer behoort te word met alternatiewe inligtingsbronne – soos lesings deur vakbondorganiseerders of vredesaktiviste, terwyl navertoningsdebatte asook gekoördineerde pogings om aktivistebedrywighede in stand te hou lank na die vertonings verby is. Hierdie konsepte sou Greenwald in werking stel met sy jongste films: Iraq for Sale: The War Profiteers (2006), The Big Buy: Tom Delay's Stolen Congress (2006) en Wal-Mart: The High Cost of Low Price (2005). Eenvoudig gestel, is Brave New Films ’n sambreel- filmvervaardigingsmaatskappy waaronder Brave New Theaters funksioneer. Wat Brave New Films van ander alternatiewe, aktiviste- of politieke produksie-organisasies onderskei, is die aanwesigheid van die verspreidingsarm, Brave New Theaters. Die Brave New Theaters konsep is eenvoudig: enige filmmaatskappy, groep of individu wat wil, kan ’n film of DVD op die Brave New Theaters webblad registreer (sedert Februarie 2007 is 101 films gelys), en ’n skakel word dan op die webblad geplaas. As ’n persoon of groep dan wil, kan hy/sy/hulle aanbied om ’n vertoning van die film te reël. Die datum en plek van die vertoning word ook op die webwerf geplaas. Vertonings kan op vergaderplekke so groot soos universiteitslesingsale en so klein soos iemand se woonkamer aangebied word. Boonop is vertonings nie tot die Verenigde State beperk nie, en kan dit in ’n aantal lande oor die wêreld aangebied word. Voornemende kykersgehore kan dan op die webwerf aanteken, ’n vertoning in hulle omgewing opspoor en dan deur middel van ’n aanlyn-“RSVP” hul voorneme te kenne gee om ’n vertoning by te woon. Hiervolgens kan die filmvervaardiger, Brave New Theaters en die groepe wat by die vertonings betrokke is, die vlakke van belangstelling in die film bepaal. Die filosofie onderliggend aan die kombinasie Brave New Films/Brave New Theaters was dus om die mag van filmverspreidings- en –vertoningsmaatskappye te breek deur op die webwerf ’n stelsel te verskaf vir die koördinering van die vertonings van films wat op die werf aangetref kan word. Soos Jim Miller, Ontwikkelingsbestuurder van die Brave New Foundation en die Opvoedkundige Uitreikingsorganiseerder van die Brave New Films- projek Iraq For Sale dit gestel het, is die primêre funksie van die Brave New Theaters-webwerf eerder om potensiële vertoners van die betrokke films te trek as bloot om DVD’s te verkoop, en die webwerf moet gesien word as ’n brug tussen filmvervaardigers, -vertoners en aktiviste. Films op die Brave New Theaters-stelsel wat wel deur Brave New Films vervaardig is (soos Iraq for Sale: The War Profiteers, The Big Buy: Tom Delay's Stolen Congress, en Wal-Mart: The High Cost of Low Price) word nie bloot vertoon nie, maar word ook gehanteer as deel van ’n breër opvoedkundige en politieke strategie. Op die vraag of Brave New Films belang sou stel om hul films in groot hoofstroom filmteaters te vertoon, was Jim Miller se antwoord: “Nee. Dit sou nie vir ons sin maak om wyer te vertoon nie. Dis nie iets wat ons nastreef nie. Ek bedoel, baie mense, baie filmmakers, en daar is verskillende keuses wat mense maak, gaan graag na die feesvertonings en probeer toekennings losslaan. Hulle bied dit graag teatraal aan. Dis nie waarom ons die films maak nie. Ons maak die films sodat mense ’n afspringplek kan kry om die onderwerp te bespreek, om meer inligting daaroor te bekom, om ’n verandering te bewerkstellig.” Met ander woorde, die films moet nie beskou word as die eindresultaat van die Brave New-projek nie, maar eerder as die wegspringplek vir verdere politieke debatvoering en optrede. Benewens die bevordering van grondvlakvertonings van films via die Brave New Theaters-webwerf, koördineer en propageer Brave New Films en Brave New Theaters gefokuste navertonings-aksieplanne. Dit behels die versending van inligting aan vertoners oor hoe gehore betrokke kan raak na afloop van die film, gassprekers kan nooi om gehore direk na vertonings toe te spreek (soos byvoorbeeld Irakkese oorlogsveterane na afloop van vertonings van Iraq for Sale), spesiale vertoningsweke te inisieer wanneer gehore landwyd (gelyktydig) via video- en telefoonverbindings na die Filmvervaardiger Greenwald en ander woordvoerders se bespreking van die inhoud van die film kan luister. Wie is dus die mense wat hierdie vertonings aanbied? Op die Brave New Theaters-webwerf is meer as 3 200 groepe en 4 500 individue gelys wat by die aanbieding van minstens een vertoning betrokke was. Volgens syfers van Brave New Films het Wal-Mart: The High Cost of Low Price (2005) ongeveer 8 000 vertonings oor Noord-Amerika gehad, en op grond van “RSVP’s” van die Brave New Theaters-webstelsel het sowat 700 000 mense in die Verenigde State die film gesien: almal sonder grootskaalse vrystellings in rolprentteaters. Om te illustreer hoe uiteenlopend en basies die vertonings is, het van die meer as 3 200 groepe wat films vertoon het wat van die Brave New Theaters se webwerf verkry is, slegs 18 soveel as 10 vertonings of meer aangebied. Verreweg die meeste van die groepe wat aangebied het om ’n film te vertoon, het dit dus drie-, twee- of slegs eenmaal aangebied. Vertonersgroepe (die “gashere” van die vertonings) steur hulle nie aan rigiede maatskaplike kategorisering nie, maar die volgende groepe is duidelik bogemiddeld verteenwoordig op die Brave New Theaters se lyste: voetsool- politieke organisasies, anti-oorlogsgroepe, menseregtegroepe, georganiseerde arbeid en vakverbonde, groepe van gelyke geloofsoortuiging asook universiteitsgebaseerde organisasies. Interessant, en in weerwil van die algemene opvatting dat religieuse groepe in die Verenigde State altyd polities regs neig, het Brave New Films en Brave New Theaters welslae gehad met die mobilisering van grondvlakvertonings en politieke aktiwiteit deur samewerking met kerke en religieuse groepe. Dit was veral die geval met die film Wal-Mart: The High Cost of Low Price, aangesien talle van die onderbetaalde werknemers van die Wal-Mart-ketting kerkgaande lede is van die V.S. se Latyns-Amerikaanse gemeenskap. Vir die kerke was die onbillike (en soms kriminele) behandeling van die Wal-Mart-werkerskorps eweseer ’n kwessie van moraliteit en etiek as van politiek. In weerwil van hulle sukses is Greenwald en sy kollegas nie daarmee tevrede om hulle tot die vervaardiging en verspreiding van dokumentêre films te beperk nie. ’n Bykomende arm van die Brave New familie, Brave New Foundation, is nou geskep om gewone burgers die geleentheid te gee om by verskillende aspekte van die filmmaakproses betrokke te raak. Dit is net nóg ’n voorbeeld van Greenwald se vasberadenheid om mediaproduksie te demokratiseer. ’n Groot projek wat deur Brave New Foundation van stapel gestuur is, was die Iraq Veterans Memorial (www.iraqmemorial.com), ’n webwerf wat op 19 Maart op die internet “ontsluier” is: die vierde herdenking van die aanvang van die konflik. Die webwerf bevat kort video-huldeblyke van familie, vriende, medewerkers en militêre kollegas aan soldate wat hul lewens tydens die Irakkese Oorlog verloor het. Terwyl die uitset van hoofstroommedia in die Verenigde State (en wêreldwyd) aanhou om goedkoop “realiteits”materiaal soos Big Brother, Pop Idol, en Survivor te propageer, bewys Greenwald en sy kollegas in Brave New Films dat laekoste- realiteitsgebaseerde mediaprodukte meer kan vermag as bloot om ons tussen reklamelopies te vermaak. Greenwald stel dit self so: “Ek glo dat om stories oor die algemeen te vertel, ongeag die vorm of verspreidingsmeganisme daarvan, ’n baie belangrike werktuig vir progressiewes is. Ek dink nie ons sal ons ideologie ooit in die eenvoudige of simplisties-klinkende klankgrepe van die regses kry nie, maar ek dink ons het wonderlike menslike stories wat mense affekteer, beweeg en verbind, en ek sien my rol en taak by Brave New Films om dit aan te hou doen.” |