|
||||
Auke Compaan
*Leraar, NG-gemeente Sonstraal en Navorser aan die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie.
Kan religieuse gemeenskappe help om die ekologiese probleme wat vandag ons planeet wesenlik bedreig, te verlig? Op ’n eerste vlak is die antwoord oënskynlik positief, want religieuse gemeenskappe beskik oor baie hulpbronne en daaglikse kommunikasiegeleenthede om gelowiges in te lig, op te voed, lewenspatrone te beïnvloed en selfs te skuif. Tensy ons die ekologiekrisis as ’n dieper kulturele krisis verstaan (en nie bloot as ’n krisis in die natuur beskou nie), spreek dit nie vanself dat religieuse gemeenskappe ’n konstruktiewe bydrae kan maak tot die verligting van die ekologiese probleme waarbinne ons leef nie. Daar is wêreldwyd breë konsensus dat die Nywerheidsomwenteling en die opkoms van moderne verbruikersamelewings een van die kernoorsake is van die ekologiekrisis. Religie funksioneer tans op so ’n wyse binne verbruikersamelewings dat dit hoe langer hoe meer eerder dienstig raak aan die verbruikerisme wat moderne samelewings kenmerk as om dit te kritiseer. Dit is nie toevallig dat die VSA, wat verreweg die meeste energie in die wêreld gebruik, ook die mees religieuse van al die ontwikkelde kapitalistesamelewings is nie! Iewers klop iets nie. Die vraag is dus hoekom religieuse gemeenskappe nie ’n impak het op die kultuur van verbuikersamelewings nie? Om die vraag te kan beantwoord, moet ons iets verstaan van die historiese wortels van ons verbruikersamelewings en van hoe die “ideologie van verbruik”, religie omskep het tot een van die gewildste produkte of kommoditeite van ons tyd. Én hoe dit haar terselfdertyd die krag ontneem het om mense se konkrete lewenspraktyke in diepte te beïnvloed.
Die kommodifisering van arbeid en tyd
Karl Marx was die eerste groot denker in die Westerse wêreld wat begryp het dat die kommodifisering van verbruikersgoedere in die 18de en 19de eeu ’n geweldige historiese verskuiwing sou meebring, wat nie alleen daartoe sou lei dat produkte van hul omgewing van produksie geskei is nie, maar dat ook die singewende handeling van arbeid en tyd self kommoditeite sou word. Dit beteken dat arbeid, vervreem van die betekenis om ’n gemeenskap te onderhou, toenemend verskraal sou word tot die produksie van objekte vir verbruik. Die kommodifisering van arbeid is gevolg deur die kommodifisering van tyd, en uiteindelik sou mense se lewens self objekte van verhandeling word. In kapitalistiese samelewings verkoop jy nie alleen jou tyd nie, maar jouself. Marx het dus aangevoel dat vroeë vorme van kapitalisme ’n fundamentele skuif in menslike selfverstaan teweeg sou bring: van “wees” na “besit”. Een van Marx se belangrikste insigte is dat die wyse waarop verbruikersgoedere se waarde bepaal word, met die opkoms van kapitalisme verskuif het. Waar die waarde van produkte vir eeue bepaal is deur die bruikbaarheid daarvan binne ’n bepaalde gemeenskap, sou die waarde van produkte voortaan op die moment van uitruiling bepaal word. ’n Tafel het dus nie meer waarde omdat dit nuttig is om op te eet nie, maar omdat dit ’n bepaalde vorm en kleur het. In die laat moderne tyd het geen objek, van ’n langbroek tot ’n motor, ’n betekenis wat losstaan van die waarde wat die verbruikersamelewing daaraan heg nie.
Van produksie na verbruik
Die proses van kommodifisering het volgens die sosioloog, Zygmunt Bauman, in sy boek Work, Consumerism and the New Poor, in die 20ste eeu sterk stukrag gekry met die opkoms van Ford (Fordisme) wat deur nuwe tegnologiese en bestuurspraktyke ’n verhoging in produktiwiteit kon bewerkstellig, wat weer tot ’n surplus van goedere gelei het. Volgens Bauman het hierdie proses ’n verskuiwing van produksie na verbruik teweeg gebring. Vergenoegdheid het ’n ondeug geword, en verbruik ’n plig. Dié verskuiwing was slegs moontlik deur die kulturele hegemonie van die advertensiewese, industrieë en die skepping van ’n sogenaamde estetiese leefstyl. Die eietydse verbruikerskultuur van die 21ste eeu word gekenmerk deur soepelheid, uitkontraktering, al hoe minder regulasies vir ekonomiese handel, die krimping van vakbonde, die afsterwe van die nasiestaat en veral die opkoms van nismarkte. ’n Groter verskeidenheid van kommoditeite word voortdurend deur inligtingsnetwerke aan gespesialiseerde marksegmente bemark. Die kritiek dat massaverbruik ’n homogene kultuur skep, is ook nie meer waar nie, omdat nismarkte konstant geskep word met gepaardgaande verbreding van die populêre kultuur. Die implikasies daarvan vir religieuse gemeenskappe sal weldra duidelik word.
Die kommodifisering van kultuur en religie
Volgens die Amerikaanse Rooms-Katolieke teoloog, Vincent J. Miller, in sy boek Consuming Religion (2003) het die maatskaplike transformasie van produksie na verbruik daartoe gelei dat kultuur self, en ook religie, gekommodifiseer word. Die kommodifisering van kultuur het veroorsaak dat religie self ’n uiters gewilde bemarkingsproduk geword het. Anders as wat baie geleerdes dus ’n paar dekades terug verwag het, is religie vandag baie populêr en bemarkbaar. So het die bekende album Chant, die Benediktynse monnikke van Santa Domingo meer as $70 miljoen in die eerste jaar van verkope in die sak gebring. Die album Play deur die DJ-kunstenaar Moby is in 1999 vir twee Grammy-toekennings genomineer en het omtrent 10 miljoen kopieë verkoop. Op hierdie album kombineer Moby digitale voorbeelde van negro spirituals, blues, en gospel, met tegno- en elektroniese dansmusiek. Die album se sukses strek baie verder as die musiekmark. Baie van die liedere is op televisieprogramme gespeel. Die meeste liedjies lyk ook baie aantreklik as bron van advertensieklankbane. Trouens, al die liedjies is gelisensieer vir gebruik in advertensies. Die musiek is polities, kultuurtoepaslik en kunstig. Moby het daarin geslaag om emosioneel intense geestelike musiek meganies te reproduseer vir die rituele praktyke van die dansbaan. Wat presies gebeur met die kommodifisering van religie?
Fragmentering van tradisie
Die eerste groot probleem met die kommodifisering van religie is dat elemente van religieuse tradisies op ’n diskrete wyse gefragmenteer word en as vryvloeiende objekte geabstraheer word van die dogmas, simbole en praktyke waarbinne dit ontstaan het. Dié fragmentering skei ook geloof van praktyke. Simbole, geloofsoortuigings en selfs geestelike dissiplines word vryvloeiende kulturele objekte, gereed om gebruik te word vir watter doel ook al. Religie word palette van “kulturele hulpbronne” wat op enige manier gebruik kan word, selfs in stryd met die basiese logika van ’n tradisie. Boeddhistiese meditasie dien as instrument vir stresverligting in ’n kapitalistiese besigheidswêreld, joga word tot ’n liggaamlike fiksheidsprogram gereduseer, en die simbool van die kruis word ’n handelsmerk vir die nismark van Rooms-Katolieke opvoeding! Die abstrahering van elemente uit hul tradisies verswak hulle vermoë om konkreet ’n impak te maak op hoe mense daagliks lewe. Religieuse simbole wat vervreem word uit die koherensie van ’n breër netwerk van oortuigings, simbole en praktyke word blote instrumente vir religieuse sentiment.
Lens vir religieuse
Die probleem met bogenoemde is volgens Vincent Miller nie of gelowiges hulle tradisies reg verstaan nie, maar hoe daar algaande met die inhoud van hul tradisies in verhouding getree word. Die impak van Disney World Corporation is volgens hom ’n goeie voorbeeld van die probleem waarvoor religieuse gemeenskappe in verbruikersamelewings staan: die probleem van Diney-kinderfilms is nie bloot die problematiese ideologieë van geslagstereotipes, individualisme of bloedlose geweld wat gewoonlik in sulke films bevestig word nie. Daar is ander kragtiger maatskaplike prosesse wat in kinders se lewens voltrek word. Kinders ken die Disney-karakters en stories van geboorte af, ongeag of hulle die films gesien het of nie. Deur films en bemarking het hulle die ervaring dat dié karakters alomteenwoordig is. Kitskosrestaurante sluit hierdie karakters by hul maaltye in, hulle verskyn op die agterkant van ontbytpapbokse en in televisieadvertensies gedurende programgleuwe wat op kinders gerig is. Voeg hierby die onderklere, nagklere, handdoeke, toebroodjiehouers, horlosies en plakkers wat kinders se lewens vul. Die gebruik van narratief om sekere produkte te verkoop, beteken dat die kommersiële, populêre kultuur kinders (en natuurlik volwassenes) se gewoontes van interpretasie en toepassing vorm. Kinders leer die narratiewe vinnig ken, hulle geniet die rolle en simbole en simboolsisteme van die stories, hulle word karakters in die verhale. Terwyl hulle dit aanleer, leer hulle terselfdertyd ook die vaardigheid om die narratiewe, rolle, simbole en karakters as uitruilbare kommoditeite te behandel. Dit is alles interressante dinge waarmee jy kan speel, wat jy leer ken, uittoets en uiteindelik kan weggooi. Vir baie kinders lê die mooi houtbeeldjies van Jesus se inkarnasie as baba in ’n krip op dieselfde simboliese vlak as die liewe, lawwe ou beer met die naam Pooh en die onskuldige langbeenpop, Barbie!
Soekers en die geboorte van “spiritualiteit”
Die feit dat mense toenemend met religie in ’n gekommodifiseerde vorm in verhouding tree, dit wil sê: ek kan kies wat ek wil glo, aan watter geloofsgemeenskap ek wil behoort, het verder die praktyk van “religieuse soekers” en die konsep van “spiritualiteit” in die 20 ste eeu geskep. Met “soekers” word verwys na mense wat van gemeenskap tot gemeenskap beweeg, van tradisie tot tradisie en dan kies wat hul wil glo en beoefen. “Spiritualiteit” is ’n vorm van religieuse beoefening wat geloof ontkoppel van religieuse instellings en gemeenskappe, en waardeur gelowiges hulle eie religieuse sinteses konstrueer uit diverse tradisies en bronne. Die probleem hiermee is nie dat dit noodwendig vlak of narcisties is nie, maar dat mense met die religieuse in ’n gekommodifiseerde vorm in ’n ontmoeting tree waarin dogmas, simbole, waardes en praktyke losgeskeur is van hul tradisionele en gemeenskapskontekste. Dit lei nie alleen daartoe dat religieuse simbole hul krag verloor nie, maar tot ’n oppervlakkige omgang met simbole in die algemeen. Die de-institusionalisering van religie het baie sosioloë tot die oortuiging gebring om nie meer van die verdwyning van die religie te praat nie, maar van die “deregulering” van religie, waarmee bedoel word dat religieuse oortuigings en praktyke sterk bly, maar dat tradisionele religieuse outoriteite en instellings hul mag verloor om samelewings in die breë én hul eie volgelinge te beïnvloed. Die verdwyning van religieuse instellings het paradoksaal die gevolg gehad dat die leiers van religieuse bewegings as gevolg van die media baie bekend en gewild geword het. Mense soos Johannes Paulus II, die Dalai Lama en Moeder Theresa geniet geweldige gewildheid en wêreldstatus. Wat hulle aan tradisionele gesag prysgee, wen hulle as mediasterre! Die probleem is dat hulle gewoonlik algemeen en vaag vereer word, maar sonder dat hul oortuigings en standpunte ernstig opgeneem word. So sal miljoene mense die Pous bewonder, maar sonder die vermoë om sy standpunte oor die hantering van vroue en seksualiteit met hierdie bewondering te versoen.
Verlies van die profetiese dimensie
Eie aan die proses van kommodifisering is dat dit ’n oneindige hoeveelheid dinge, objekte, materiaal nodig het om te bemark. Met byvoorbeeld meer as 120 en soms tot soveel as 500 aktiewe kanale het kabeltelevisie, veral in die VSA, ’n oneindige behoefte aan inhoud. Aan die een kant is religie dus baie welkom in die wêreld van bemarking en advertensies, maar aan die ander kant is daar ’n eksplisiete dissiplinering en sensorering van religie in die verbruikerskultuur. Uit navorsing in die VSA blyk dit dat daar ’n voorkeur is vir veralgemenende, niespesifieke religiositeit, soos die Christuslose evangeliese christenheid van gewilde programme soos “Touched by an Angel”. Onnodig om te sê dat dit natuurlik ook in Suid-Afrika gewilde kykstof is. Daar word gepraat van die “kafeteriamentaliteit” onder eietydse religieuse gelowiges. Die groot aptyt vir dinge vra dat religieuse simbole, oortuigings, en praktyke van hulle oorspronklike konteks losgemaak word. Dié leef wel voort, maar binne ’n fundamenteel verskillende logika. En hiermee gaan die profetiese dimensie van religie eintlik heeltemal verlore. Anders gestel: net soos met koerante wat moet verkoop en dus net sekere dinge kan sê, kan religieuse leiers nie netelige kwessies soos rassisme en ekologiese misbruik op die tafel plaas nie, want as dit vir mense nie aangenaam is om aan te hoor nie, kies hulle gewoon vir hulle ’n religie, ’n instelling en ’n gemeenskap wat hulle behoeftes beter pas.
Kan religieuse gemeenskappe ’n verskil maak?
Om die verskil aan te toon wat religieuse gemeenskappe in ’n verbruikerskultuur kan maak, is dus nie eenvoudig nie. Een van die sterkste eienskappe van die verbruikerskultuur is dat dit enige vorm van kritiek onmiddellik kommodifiseer. Verbruikersamelewings het die oneindige vermoë om kritiek in bemarkingsgeleenthede te omskep. As kritiek teen die verbruikersamelewing sou wees dat dit te gejaagd en te besig is, verkoop jy gewoon kerse en T-hemde wat mense die gevoel gee dat hulle alternatiewe waardes en idees nastreef. Hoe kan religieuse gemeenskappe in die totalitêre logika van verbruikerisme hoegenaamd ’n kritiese rol speel? Religieuse gemeenskappe se grootste bydrae nie daarin lê om eerstens op dogmatiese of leerstellige inhoud te konsentreer nie. Iemand soos Vincent Miller help ons om te verstaan dat die probleem van religie in die moderne samelewing nie op die vlak van inhoud lê nie, maar op die vlak van praktyke. Religieuse tradisies moet daarop fokus om hulle belangrike instellings te herstel en die antieke praktyke en simbole, soos dit veral in die liturgie van verskillende religieë gedra word, te herwaardeer. Aan die ander kant kan religieuse tradisies ook die logika van kommodifisering teen sigself draai. Iewers moet die agentskap van gelowiges erken word en moet hulle begelei word om op ’n speelse en genietende wyse die logika van kommodifisering, te ondermyn. `n Goeie voorbeeld hiervan was toe Birkenstock-sandale in die 1980’s die kwasi-amptelike drag van die linkse vleuel van die Roomse kerk geword het. Baie mense het die gebruik van die $85-sandale as ’n teken van solidariteit met die armes beskou. Die vaalbruin leersandale was egter meer as dit: dit het in skrille kontras gestaan met die glansryke Gucci-kultuur van die 1980’s. Die gebruik van Birkenstock-sandale het teruggeval op die antieke praktyke van religieuse gemeenskappe om deur onderskeidende gewoontes hul lewenswaardes en verbintenisse te beteken en groepsolidariteit te vestig. So gesien staan klere, skoene en verbruikersgoedere nie eerstens in diens van die klerebedryf, wat voortdurend op die uitkyk is na nuwe style en markte nie, maar word dit as merker van identiteit gebruik. |