blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekologie en gemeenskap: Die ekologiese krisis … en waar die oplossing daarvan begin 2007-08-13
Ernst Conradie

*Eko-teoloog verbonde aan die Departement Religie en Teologie, Universiteit van Wes-Kaapland en skrywer van onder meer Waar op dees aarde vind mens God? Op soek na ’n aardse spiritualiteit (Wellington: Lux Verbi.Bm, 2006), wat bekroon is met die Andrew Murray prys vir 2007.

 

Wat kan gemeenskappe in Suid-Afrika doen om ekologiese probleme te verlig? Hierdie vraag van Die Vrye Afrikaan aan my het antwoorde wat vir die deursnee middelklas Suid-Afrikaner eintlik heeltemal voor die hand liggend is.

             ’n Lysie van wenke vir gesinne, skole, kerke en gemeenskapsorganisasies is maklik om sommer self op te stel. Die meeste hiervan word in die slagspreuk “Reduce, Re-use and Recycle” saamgevat. Daarby kom ook wenke om elektrisiteit en brandstof te bespaar, om hernieubare bronne soos water, grond en skoon lug volhoubaar te gebruik en om inkopies en groter aankope oordeelkundig te doen.

             Hoewel die vraag dus klaarblyklike antwoorde het, dui die wyse waarop die vraag gestel word op ’n dieperliggende probleem. Een simptoom hiervan is dat die aard en omvang van ekologiese probleme heeltemal goed bekend is aan enigiemand wat gereeld koerant lees, maar dat die ekologiese krisis desondanks steeds verdiep.

             Sedert Rachel Spring se Silent Spring in die 1960’s en die beroemde Limits to growth-verslag aan die Klub van Rome in 1972 word ekologiese probleme in tallose wetenskaplike verslae in detail bespreek. Die media bombardeer ons met materiaal daaroor. Klimaatsverandering is deesdae elke dag in die nuus. Kunstenaars, liriekskrywers en profete speel elkeen ’n rol om ons gereeld daaraan te herinner. Dit is daarom nie moeilik om die tien mees kritieke ekologiese probleme op te noem nie: klimaatsverandering, osoonaftakeling, lugbesoedeling, varswatertekorte, kern- en ander giftige afval, die berging van munisipale afval, die aantasting van rivierstelsels, ontbossing, die uitbreiding van woestyne en, laaste maar nie die minste nie, die inkrimping van biodiversiteit. Elkeen van hierdie probleme raak Suid-Afrikaners ingrypend. En al hierdie probleme is onderling verwant en geneig om mekaar wedersyds te versterk. In weerwil hiervan is ekologie by min Suid-Afrikaners bo aan die agenda van maatskaplike probleme wat aandag behoort te kry.

             Die vraag is dus hoekom die probleem vererger, terwyl ons heeltemal goed ingelig is oor die omvang van die probleem en alreeds weet wat ons daaromtrent kan doen. Een antwoord hierop is dat kennis inderdaad ’n sleutelrol speel, maar nie op sigself genoegsaam is vir morele handeling nie. Byvoorbeeld: al weet Suid-Afrikaners heeltemal goed genoeg hoe ’n mens MIV kan opdoen en wat jy moet doen om dit te vermy, weerhou dit ons oënskynlik nie van gedrag wat tot verdere infeksies lei nie.

             Dit is ’n liberale vergissing dat kennis en opvoeding genoegsaam is vir ’n verandering van gedrag. Ons het hierby ook morele wil nodig, en dit verg ’n aantreklike morele visie én morele leierskap. Dit is juis op hierdie punt, naamlik morele vorming, dat gemeenskappe ’n sleutelrol kan speel.

             Morele vorming is ’n komplekse proses soos enige ouer van kleuters of tieners goed weet. Die doel van morele vorming is die oordra van ’n bepaalde lewensoriëntasie, waardes, deugde, gesindhede en gewoontes. Morele vorming vind tipies plaas binne morele gemeenskappe en verg geloofwaardige rolmodelle, gevestigde praktyke en verbeeldingryke verhale. Die enigste wyse waarop ekologiese gesindheid, gewoontes en gedrag aangeleer kan word, is binne sulke morele gemeenskappe. Uiteraard verg dit ’n moeisame en langtermynproses.

             Die probleem is egter dat morele gemeenskappe self onder druk gekom het as gevolg van veranderende patrone in die samelewing. In sy boek Moral fragments and moral community, beskryf die Amerikaanse etikus Larry Rasmussen die wyse waarop morele vorming ondermyn word. Hy sê: “Ons samelewing (die Verenigde State) leef teenswoordig slegs van morele fragmente en gemeenskapsfragmente, en albei word vinniger vernietig as wat dit aangevul word. Dit voorspel moeilikheid vir basiese morele vorming en die gemeenskap, afgesien van die algemene samelewing. Ons [tyd] is ’n seisoen van morele wydlopigheid en verval, morele dakloosheid en wegdrywing.”

             Die punt is dus dat dit nie veel sal help om ’n lys van wenke deur te gee en om gemeenskappe eindeloos op te roep tot gedragsverandering nie. Sonder ’n aantreklike visie en morele verbeelding sal dit weinig help. Daarenteen is dit belangrik om te verstaan watter faktore bydra tot ekologiese verval. Dit is min of meer dieselfde faktore wat ook gemeenskapstrukture belemmer.

             Waar kom die ekologiese krisis vandaan? Hoewel die mens se vroegste voorsate reeds ’n impak op die omgewing gehad het, is daar veral twee historiese prosesse wat hiertoe bygedra het, naamlik die ontstaan van landbou ongeveer 12 000 jaar gelede, en die Nywerheidsomwenteling van die afgelope 200 jaar. Daar is by geleerdes min twyfel daaroor dat die Nywerheidsomwenteling saamhang met die opkoms van die denkklimaat van “moderniteit”. Maar hoekom het moderniteit juis in Europa posgevat en wat het dit juis toe aangewakker? In ’n beroemde opstel het die Amerikaanse historikus, Lynn White, beweer dat dit ten diepste saamhang met die Joods-Christelike tradisie. Veral het dit te make met die oproep in Genesis 1 aan mense om vrugbaar te wees en te vermeerder, om die aarde te onderwerp en daaroor te heers. Die probleem is dat ons dit alte letterlik gedoen het! Kortom, volgens White geld die volgende: “Die Christendom dra ’n enorme skuldlas vir die ekologiese krisis.” In feministiese diskoers word die blaam weer gelê op patriargale stelsels: die oorheersing van vroue deur mans is in die Westerse geskiedenis geëkstrapoleer op die oorheersing van die nie-menslike natuur deur die dominante groep in die samelewing. Dieselfde logika is aan die werk in vorms van oorheersing in die naam van die verskille van geslag, ras, klas en spesie.

             Hieroor kan ’n mens lank redekawel. Dit is nietemin interessant dat hierdie motiewe ook opgeneem word in ekonomiese ontledings van die oorsake van die ekologiese krisis. In ’n wydgebruikte formule het Paul Ehrlich aangevoer dat ekologiese impak ’n funksie is van veral drie faktore: bevolking, verbruik en die tegnologie wat gebruik word om hulpmiddele te bekom. In Engels lui die formule: Environmental impact = Population X Consumption X Technology (I = PxCxT).

             Die formule is eintlik noodwendig waar omdat ekologiese impak gesien word as ’n funksie van bevolking, per capita verbruik en die impak van verbruik, oftewel: impak = bevolking X verbruik/bevolking X impak/verbruik. Die formule dui ook nie aan wat die relatiewe bydrae is van elkeen van hierdie drie faktore nie. Lê die probleem eintlik by die ongekende bevolkingsgroei na die Tweede Wêreldoorlog – en die blywende onvermoë van “ontwikkelende” lande om hulle katastrofale geboortesyfers te beperk? Of lê die probleem eerder by die vraatsugtige verbruik van grondstowwe deur die welvarende sektore van die wêreld se bevolking? Hiervolgens is dit nie soseer die armste 80 % van die wêreld se bevolking wat bydra tot ekologiese probleme nie, maar die rykste 20 %. Of lê die probleem eerder by die tegnologiese ingrype van nywerhede, mynbou, bosbou, visserye en kommersiële landbou?

             In weerwil van hierdie tekortkominge is die formule baie nuttig om te help verstaan waar die sleutel lê om iets te doen aan ekologiese probleme. Die maklikste voorbeeld om hier te gebruik, is klimaatsverandering. Ek wil nie hier ingaan op vrae soos óf aardverhitting wetenskaplik beduidend is, wat die oorsake daarvan is, wat die omvang van die probleem is, wat die verwagte impak daarvan sal wees en watter politieke maatreëls getref behoort te word nie. Daar bestaan oorgenoeg materiaal in die verband. Trouens, die afgelope jaar het daar talle gesaghebbende verslae hieroor verskyn. Die Nicholas Stern-verslag wat die ekonomiese aspekte van klimaatsverandering ondersoek het, is een uitstekende voorbeeld hiervan.

             Om die saak eenvoudig te hou, kan ons klimaatsverandering verstaan as die gevolg van ’n verhoogde konsentrasie koolsuurgas en ander kweekhuisgasse in die aarde se atmosfeer. Dit hang veral saam met die gebruik van fossielbrandstowwe soos olie, steenkool en aardgas sedert die begin van die Nywerheidsomwenteling, maar ook met ontbossing en die komplekse interaksie tussen hierdie faktore en die biosfeer.

             Elkeen van die drie faktore wat hierbo genoem is (bevolking, verbruik, tegnologie), het ’n deurslaggewende rol gespeel in die historiese prosesse wat tot hierdie hoër konsentrasie kweekhuisgasse aanleiding gegee het:

             Eerstens het die Nywerheidsomwenteling ten nouste saamgehang met nuwe vorms van tegnologie waardeur die wydverspreide gebruik van fossielbrandstowwe moontlik geword het. Die opwekking van elektrisiteit (uit steenkool), die stoomketel en die binnebrandenjin is inderdaad die dinamo wat enige industriële samelewing steeds voortdryf. Die wortel van die probleem is inderdaad hierdie tegnologiese ingrype.

             Tweedens het die per capita gebruik van energie dramaties toegeneem sedert die begin van die Nywerheidsomwenteling. Dit hang ten nouste saam met die ontstaan van ’n verbruikersamelewing, veral sedert die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie kultuur het eers in die VSA posgevat en het spoedig versprei na Europa en Japan. Deur middel van televisie en advertensies is ’n verbruikerskultuur in elke uithoekie van die planeet gevestig. Daar is volgens die Worldwatch Institute se 2004 “State of the World”-verslag tans 1,7 miljard mense wat tot die verbruikersklas behoort – 271,4 miljoen in die VSA en Kanada, 348,9 miljoen in Wes-Europa, 167,8 miljoen in Latyns-Amerika, 239,8 miljoen in China, 121,9 miljoen in Indië, 120,7 miljoen in Japan en 34,2 miljoen in Afrika suid van die Sahara, waarvan waarskynlik minstens 10 miljoen in Suid-Afrika.

             Die verbruikersmentaliteit is egter nie beperk tot die verbruikersklas nie, maar is feitlik universeel. Die ontluikende laer middelklas in lande soos Indië en China (en Suid-Afrika) begeer ook die welvaart waaraan hulle elke dag deur die media herinner word.

             Die verbruikersgewoontes van die verbruikersamelewing het tot ongekende welvaart gelei, minstens vir sekere sektore van die samelewing. Daarmee saam het die gebruik van grondstowwe natuurlik ook die hoogte ingeskiet. Daar bestaan oënskynlik steeds voldoende grondstowwe, en die prys daarvan bly daarom betreklik laag, buiten vir hout, papier en olie. Die probleem van die welvaartskultuur lê, ironies genoeg, nie soseer by nie-herwinbare grondstowwe nie, maar by die volhoubare benutting van herwinbare grondstowwe soos grond, water en lug. Meer bepaald hang die probleem van klimaatsverandering saam met die onvermoë van die aarde se atmosfeer om die afvalstowwe van die verbruikersamelewing (koolsuurgas) vinnig genoeg te absorbeer (byvoorbeeld deur fotosintese). Die punt is dat onbeperkte (ekonomiese) groei op ’n begrensde planeet in beginsel onmoontlik is. Vra vir enige veeboer: Iewers kom daar ’n punt waar ’n mens die drakrag van die land oorskry, en dan is jy in die moeilikheid.

             Daar bestaan weliswaar nie noodwendig ’n regstreekse korrelasie tussen ekonomiese groei, welvaart, die gebruik van energie en die uitlaat van koolsuurgas nie. Talle industriële lande se ekonomie (Bruto Binnelandse Produk [BBP]) groei tans vinniger as hulle gebruik van energie (wat weliswaar ook styg). Daar bestaan uiteraard ook vorms van energie wat nie op koolstof gebaseer is nie (kernkrag, sonkrag, windkrag en waterkrag). Nietemin bestaan daar ’n baie sterk verband tussen die hoogbloei van die verbruikersamelewing (gemeet aan per capita besteding) en die uitlaat van koolsuurgas wat tot klimaatsverandering lei. Eenvoudig gestel: die probleem is nie net dat ons die tegnologie het om olie en steenkool te gebruik nie, maar ook hoeveel ons daarvan gebruik.

             Derdens het die Nywerheidsomwenteling en die opkoms van ’n verbruikersamelewing ook saamgeval met ongekende bevolkingsgroei. Teen 1804 het die menslike bevolking na ongeveer 200 000 jaar die 1 miljard-kerf bereik. Dit het 123 jaar geneem om die volgende miljard in 1927 te bereik, 33 jaar om te kom by 3 miljard in 1960, 14 jaar tot by 4 miljard in 1974, 13 jaar tot by 5 miljard in 1987 en 12 jaar tot by 6 miljard in 1999. Teen Julie 2007 staan die bevolking reeds op 6,66 miljard. Die projeksie van die Wêreldbevolkingsburo in Washington vir 2050 is rondom 9 miljard.

             Die redes vir hierdie bevolkingsgroei is welbekend. Dit hang nie net saam met die aantal geboortes per vrou nie (wat inderwaarheid afgeneem het). Dit hang eerder saam met ’n afname in kindersterftes en ’n verlenging van mense se lewensverwagting as gevolg van beter medikasie en ’n meer gebalanseerde dieet.



             ’n Ander manier om daarna te kyk, is in terme van die aantal mense wat elke jaar bygevoeg word tot die wêreld se menslike bevolking. Tot na die Eerste Wêreldoorlog was die jaarlikse aanwas nooit meer as 10 miljoen nie. Daarna het dit die hoogte ingeskiet en in die 1990’s ’n draaipunt bereik by 93 miljard. Na verwagting sal daar aan die einde van 2007 ongeveer 75 miljoen mense meer wees as aan die begin van die jaar. Dit beteken 205 000 mense per dag (dink daaraan dat daar ongeveer 250 000 mense dood is in die tsoenami van 26 Desember 2004)! Die jaarlikse aanwas behoort steeds verder af te neem totdat die bevolking oor ongeveer 50 jaar sal stabiliseer. Die merkwaardige is daarom dat hierdie geweldige groei van 2 miljard tot by 9 miljard binne die bestek van slegs 130 jaar geraam word.

             ’n Baie verbasende aspek van die huidige bevolkingsgroei is die verhouding tussen mense wat elke jaar gebore word en dié wat jaarliks sterf. Volgens een odometer vir die wêreld se bevolking sal daar 127,5 miljoen mense in 2007 gebore word, terwyl slegs 52,5 miljoen mense na verwagting sal sterf. ’n Mens sou dink dat ’n 5 % groeikoers sou beteken dat daar 95 mense sterf vir elke 100 wat gebore word, maar dit is nie die geval nie. Die verskynsel hang daarmee saam dat mense deesdae ouer word, maar die eintlike rede is die groot aantal geboortes sedert 1960. Mense wat in hierdie tyd gebore is met ’n lewensverwagting van 60 of 70 jaar sal immers eers oor ’n paar dekades in groot getalle begin sterf.

             Op grond van hierdie ontleding van die faktore wat tot klimaatsverandering bydra, kan ’n mens ook die rigting aandui waaruit daar moontlik oplossings gevind kan word.

1) Kom ons begin hierdie keer by bevolkingsgroei. Volgens die meeste scenario’s sal die bevolkingsgroei afplat, maar steeds bly groei totdat dit rondom 9 miljard mense sal stabiliseer oor ongeveer 50 jaar. Hierdie scenario’s neem natuurlik nie moontlike katastrofes (botsings met asteroiëdes, kernoorloë of epidemies soos voëlgriep) in ag nie. Dit sou immers ook onverantwoordelik wees om te hoop vir ’n oplossing vir die probleem uit hierdie oord. Die vraag is wat gedoen kan word om die bevolking te stabiliseer sonder om ons te wend tot drakoniese en totalitêre maatreëls.

             In literatuur hieroor bestaan daar min of meer konsensus dat twee faktore in dié verband deurslaggwend is: eerstens maak opvoeding van tienderjarige dogters ’n groot verskil. Waar vroue keuses kan uitoefen oor hulle eie reproduktiewe gesondheid bestaan daar ’n neiging om minder kinders te hê. Iemand van die Wêreldbank het beweer dat elke dollar wat aan dogters in Afrika se opvoeding bestee word die beste moontlike belegging is met die oog op ontwikkeling én omgewingsorg. Tweedens hou die aantal geboortes per moeder ook ten sterkste verband met sosio-ekonomiese status. Waar huishoudings ’n min of meer vaste inkomste het en toegang het tot behuising met elekrisiteit en tot basiese mediese dienste, het hulle minder kinders.

             Dit spreek vanself dat gemeenskappe (skole, kerke en gemeenskapsorganisasies) hier ’n groot rol kan speel ten opsigte van werkskepping, mediese dienste, behuising en gemeenskapsontwikkeling. Die kritieke punt in hierdie verband is miskien die wyse waarop patriargale gedragspatrone en gesindhede binne (veral religieuse) gemeenskappe in stand gehou word. Die aankweek van wedersydse respek tussen mans en vroue en vroue is hier van die allergrootste belang. Bevolkingsgroei kan alleen beheer word wanneer vroue binne gesinsverband in staat is om hulle eie besluite te neem. In tradisionele gemeenskappe is dit dikwels nie die geval nie.

             Bevolking is ’n kritieke faktor in volhoubare landelike gemeenskappe in die Afrika-konteks. In lande soos Malawi, Rwanda en Burundi is die bevolkingsdigtheid net eenvoudig te hoog. Dit is nietemin te betwyfel of bevolkingsgroei die sleutelfaktor is om klimaatsverandering te stuit. Eerstens is die groter demografiese patrone buite enige plaaslike gemeenskap se beheer. Buiten vir die een of ander katastrofe lyk dit asof die bevolkingspatroon vir die volgende 50 jaar reeds vasgelê is. Tweedens moet ’n mens byreken dat ekonomiese ontwikkeling as middel om bevolkingsaanwas te beperk natuurlik ’n groter verbruik van energie sal meebring. Reg en geregtigheid verg dat die armes hulle regmatige deel van die aarde se grondstowwe moet kry. Dit is ononderhandelbaar. Dit beteken nietemin dat die onus hiermee nog veel sterker geplaas moet word op die ander twee bydraende faktore, naamlik verbruik en tegnologie.

2) In politieke en ekonomiese diskoers rondom klimaatsverandering word die oplossing daarvoor feitlik uitsluitlik gesoek in die rigting van nuwe, meer toepaslike vorms van tegnologie. Indien tegnologie aan die wortel van die probleem lê, moet die oplossing immers ook hier gesoek word. Daar is tegnologiese optimiste wat glo dat ons deur menslike vindingrykheid ’n oplossing sal kan vind vir elke denkbare probleem. Maar daar is ook pessimiste wat reken dat, indien tegnologie die eintlike probleem is, nuwe vorms van tegnologie nie die dieperliggende probleem (die verbruikerskultuur) sal oplos nie. Elke nuwe vorm van tegnologie sal ook maar weer newe-effekte hê – wat dalk veel later eers raakgesien sal word.

             Vir die realiste is daar inderdaad ’n verskeidenheid maniere waarop energie bespaar kan word en waardeur die koolsuurgasvrystellings verminder kan word. Hier kan ’n mens dink aan veral vier aspekte: die sinnelose vermorsing van energie; die ontwikkeling van meer doeltreffende (energie-suinige of koolstofvrye) vorms van tegnologie; koolstofsekwestrering, oftewel die opvang en berging van koolsuurgas by steenkoolkragsentrales; en die beskerming en aanplanting van woude.

             Rondom elkeen van hierdie vier aspekte is daar heelwat wat plaaslike gemeenskappe kan doen. Baie van die huishoudelike wenke om klimaatsverandering teen te werk, het te make met die vermorsing van energie by die huis en by die werk. Dan is dit natuurlik ook belangrik om mense te ondersteun wat ander toepaslike vorms van tegnologie en die gebruik van volhoubare vorms van energie ondersoek, ontwikkel en implementeer. Hier is ’n rol te speel vir ingenieurs, politici, munisipale bestuurders, sakelui en ook vir aktiviste wat beleid probeer beïnvloed. Elke mens kan ’n verskil maak deur koolstofvrye vorms van energie te benut (sonkrag, fietsry, ensovoorts). En elkeen kan help om ontbossing teen te werk en ’n boom vir die nageslag te plant.

             Die vraag is egter of hierdie maatreëls inderdaad genoegsaam sal wees om die impak van klimaatsverandering teen te werk. Die Stern-verslag meen dat klimaatsverandering wel onvermydelik is, maar dat die ergste ekonomiese impak daarvan in toom gehou kan word indien kweekhuisgasse gestabiliseer kan word rondom 450 en 550 partikels CO 2 (of die ekwivalent daarvan) per miljoen deeltjies in die atmosfeer. Die huidige vlak is 430 partikels per miljoen (ppm). Hierby moet ’n mens ’n paar ander faktore inreken: 1) die wyse waarop koolsuurgas wat vroeër vrygelaat is eers dekades later ’n verandering in die atmosfeer meebring, 2) die vrylating van kweekhuisgasse vanuit “turfbanke” juis as gevolg van aardverwarming in die toendras, 3) die wyse waarop die see die klimaat en koolstofkonsentrasies reguleer, 4) die verwagte bevolkingsgroei, 5) die legitieme energie-behoeftes van die armste 20 % van die wêreld se bevolking, 6) die wyse waarop verbruikerspatrone onder welvarendes steeds die hoogte inskiet en 7) die historiese wanbalans in terme van geïndustraliseerde lande wat lank reeds tot klimaatsverandering bygedra het.

             Volgens die meeste berekenings wat ek kon opspoor, beteken dit dat geïndustraliseerde lande hulle vrystellings van kweekhuisgasse teen 2050 met minstens 25 % en uiteindelik met tussen 60 % en 80 % sal moet verminder. Alhoewel daar klaarblyklik heelwat ruimte bestaan vir tegnologiese oplossings, bly dit ’n vraag of die antwoord in dié rigting alleen gesoek kan word. Of sal ons dalk ook moet kyk na die derde van die drie bogenoemde faktore, naamlik die verbruikersamelewing?

3) Die ekologiese krisis is eintlik nie ’n natuurlike krisis nie, maar ’n kulturele krisis. Die probleem lê nie in die natuur nie, maar by die mens, in ons denke en in ons harte. Die ekologiese krisis is ’n patologiese teken van kulturele bankrotskap en morele verval. Dit blyk nou dat kulturele patrone wat oor dekades gevestig geraak het onvolhoubaar is. Daar is geen manier waarop die ekologiese krisis aangepak kan word sonder dat die onderliggende probleem, naamlik die verbruikersamelewing, onder die vergrootglas kom nie. Volgens baie denkers en profete het ons hier te make met die ideologie van ons tyd. Iemand het selfs beweer dat dit die religie is wat in die geskiedenis die vinnigste gegroei het, die meeste aanhangers het en dat dit die eerste werklike wêreldreligie is. Dit is verreweg die moeilikste van die drie faktore om te hanteer, maar ook die een waarin gemeenskappe die grootste rol kan speel.

             In ’n nagraadse kursus oor “Christianity and consumerism” by die Universiteit van Wes-Kaapland het ek onlangs saam met ’n groep studente probeer vasstel hoedat ’n verbruikerskultuur die laer middelklas in Suid-Afrika raak. Hoewel hierdie groep nie self tot die sogenaamde verbruikersklas behoort nie, is hulle baie blootgestel aan ’n verbruikersideologie. Dit is die oortuiging dat die verkryging en verbruik van sekere goedere die sekerste weg tot geluk is. Dit beskryf daarom die belangrikste aspirasies van ’n bepaalde groep mense. Daar is min twyfel dat arm mense wêreldwyd en sekerlik ook in die Wes-Kaap onder die betowering van die “Amerikaanse droom” gekom het. Richard Foster se opmerking oor ’n liefde vir geld is pynlik akkuraat: “Diegene wat dit die minste het, het dit die liefste.” Arm mense plaas hulle hoop ook maar op dit wat geld kan koop – op dit waarvan hulle juis die minste het en dalk ’n skrale kans het om te bekom. Hulle droom is om die lotto te wen. Hulle is diep ongelukkig omdat hulle nie die welvaart waaraan die media hulle daagliks herinner, kan bekom nie. Hulle leef op skuld en met kommer, omdat hulle alte dikwels swig vir advertensies.

             Dit is onmoontlik om hier ’n volledige ontleding van die verbruikerskultuur aan te bied. Dit is ’n onderwerp op sigself. Ek volstaan daarom met die slotsom van die kursus. Ons het naamlik die volgende ses invalshoeke geïdentifiseer vir ’n kritiek teen ’n verbruikersideologie.

·            Dit is ekologies onvolhoubaar.

·            Dit vererger ekonomiese ongelykhede en ongeregtigheid.

·            Die welvarendes word tipies die slagoffers van hulle eie begeertes.

·            Dit ondermyn deugde en bring die slegste in mense na vore (gierigheid).

·            Dit lei tot ’n oppervlakkige kommersialisering van alles, insluitende kultuur, kennis, seks, opvoeding en veral ook religie.

·            Dit kan beskou word as ’n vorm van afgodsdiens, ’n alternatiewe vorm van geloof.

Die eerste van hierdie invalshoeke is uiteraard hier van belang. Die probleem is eenvoudig: As almal in Indië en China soveel motors het, soveel elektrisiteit gebruik en soveel vleis eet as die verbruikersklas in Suid-Afrika, dan sal ons die drakrag van die planeet reeds ver oorskry. ’n Verbruikerskultuur is onvolhoubaar én onregverdig teenoor diegene wat ook graag daarin wil deel.

             Myns insiens vind ons hier die grootste uitdaging vir plaaslike gemeenskappe wat graag iets aan die ekologiese krisis wil doen. Ons moet ’n leefwyse vind wat volhoubaar en regverdig is. Daarvoor het ons die soort morele visie, morele leierskap en morele wil nodig wat slegs in plaaslike gemeenskappe, veral in religieuse gemeenskappe, te vinde is.

             Maar maklik sal dit nie wees nie.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=904
Artikel nagegaan:
    -