|
||||
*Onderhoud deur Daniel Mermet. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]
Le Monde diplomatique: Kom ons begin met ’n vraag wat betrekking het op die media. In Frankryk, tydens die referendum oor die verdrag van die Europese Grondwet in Mei 2005, was die meeste perspublikasies aanhangers van die “ja”-stem, terwyl 55 % van die Franse burgers uiteindelik “nee” gestem het. Dit kom voor asof die manipuleringsmag van die media nie onoorkomelik is nie. Het die stem van die burgers terselfdertyd ’n “nee” teenoor die media verteenwoordig? Noam Chomsky: Die werk (1) wat ek en Edward Herman oor mediamanipulasie of die vervaardiging van instemming gedoen het, bespreek nie die vraag rondom die effek van die media op die publiek nie. Dit is ’n ingewikkelde saak, maar die bietjie ernstige navorsing wat hieroor gedoen is, wil beweer dat die invloed van die media die sterkste is op die mees opgevoede deel van die bevolking. ’n Meerderheid van die openbare mening sou dus nie juis geraak word deur die mediadiskoers nie. Neem byvoorbeeld die moontlikheid van ’n oorlog teen Iran: 75 % van die Amerikaanse bevolking is van mening dat die VSA ’n einde moet maak aan sy militêre dreigemente en eerder ’n diplomatieke benadering moet volg om die konflik te ontlont. Ondersoeke wat ingestel is deur die Westerse instellings dui daarop dat openbare mening in Iran met dié in die VSA saamloop op sekere punte van die kerndebat: die oorgrote meerderheid van die bevolkings van albei lande wil hê dat alle kernwapens verwyder moet word uit die sone wat strek van Israel tot by Iran, insluitende dié wat deur die Amerikaanse troepe in die area beset word. Dit duur egter ’n hele ruk om sulke inligting in die media op te spoor. Nie een van die belangrike politieke partye in die twee lande onderskryf dié standpunt nie. As Iran en die VSA regtig demokrasieë was waarin die meerderheid ’n daadwerklike invloed het, sou die huidige kerndispuut reeds opgelos gewees het. Daar is ander soortgelyke gevalle. Wat byvoorbeeld die federale begroting van die VSA betref, hoop die meeste Amerikaners op ’n verlaging van militêre uitgawes en daarenteen ’n verhoging van maatskaplike uitgawes, asook geld toegestaan aan die VN, ekonomiese en internasionale humanitêre hulp en die skrapping van die belastingverlagings wat deur president George W. Bush toegestaan is aan die rykste Amerikaners. Op elkeen van hierdie gebiede is die Withuis se politiek heeltemal in stryd met die versoeke van die publiek. Die meningspeilings wat hierdie volgehoue openbare opposisie uitwys, word selde in die media gepubliseer – in so ’n mate dat die landsburgers nie net van die besluitnemingsbasisse weggeskuif word nie, maar in die duister gehou word oor die werklike toestand van die openbare mening. Daar bestaan internasionale kommer oor die bodemlose “dubbele tekort”: die handels- tekort en die begrotingstekort. Hierdie tekorte bestaan in verhouding tot ’n derde tekort: die tekort aan demokrasie wat die heeltyd groter word, nie net in die VSA nie, maar oor die algemeen in die Westerse wêreld.
LMD: Telkemale, wanneer ’n bekende joernalis of die nuusleser van ’n groot televisienuusprogram gevra word of hulle druk ervaar, of hulle ooit aan sensuur onderwerp word, antwoord hulle dat hulle heeltemal vry is en dat hulle hul eie oortuigings uitspreek. Hoe funksioneer die beheer van denke in ’n demokratiese samelewing? Ons weet wat die geval is by diktature. NC: As joernaliste onder die loep kom, antwoord hulle wel: “Niemand het druk op my uitgeoefen nie; ek skryf wat ek wil.” Dit is waar. As hulle egter ’n standpunt sou inneem wat teenstrydig met die norm is, dan sal hulle nie meer hul hoofartikels kan skryf nie. Die reël het natuurlik sy uitsonderings: my artikels word deur die Amerikaanse pers gepubliseer; die VSA is nie ’n totalitêre land nie. Maar wie ook al nie aan sekere minimale vereistes voldoen nie, het geen kans om homself as ’n kommentator te vestig nie. Dit is terloops een van die groot verskille tussen die propagandasisteem van ’n totalitêre staat en die manier waarop demokratiese samelewings funksioneer. Dis ’n effense oordrywing, maar van totalitêre lande kan ons sê dat die staat besluit wat die trant is om te volg, en almal moet hulle daarby aanpas. Demokratiese samelewings handel anders. Die “grens” word nooit eksplisiet gestel nie, dit is altyd implisiet. Dit is as’t ware ’n kwessie van “breinspoeling onder die vaandel van vryheid”. En selfs die “vurige” debatte in die media vind plaas binne die raamwerk van implisiete parameters, wat self ’n aantal teenstrydighede bevat. Demokratiese samelewings se sisteem van kontrole is baie effektief; dit laat die leidende beginsels indrup soos die lug wat jy inadem. ’n Mens is nie eens daarvan bewus nie; soms verbeel jy jou selfs dat jy ’n hewige debat aanskou. Dit is veel doeltreffender as totalitêre sisteme. Neem byvoorbeeld die geval van Duitsland aan die begin van die 1930's. ’n Mens is geneig om te vergeet dat dit in daardie stadium die mees gevorderde land in Europa was – aan die voorpunt van kuns, wetenskap, tegniek, literatuur en filosofie. In ’n baie kort tydjie het ’n algehele ommeswaai plaasgevind en het Duitsland die moorddadigste, mees barbaarse staat in menseheugenis geword. Dit alles was die produk van die aanblasing van vrees: vrees vir die Bolsjewiste, die Jode, die Amerikaners, die Sigeuners – kortom, vrees vir almal wat volgens die Nazi's die hart van die Europese samelewing bedreig het. “Die direkte erfgename van die Griekse samelewing”. In elk geval, dit is wat Martin Heidegger in 1935 geskryf het. Verder het die meeste Duitse perspublikasies die bevolking gebombardeer met hierdie soort boodskappe en bemarkingstegnieke wat tot volmaaktheid gebring is deur … Amerikaanse reklame-agente. Laat ons nie vergeet hoe ’n ideologie dit self altyd vestig nie. Om te kan oorheers, is geweld nie genoegsaam nie; regverdiging van ’n ander aard is nodig. Dus, wanneer een persoon sy mag uitoefen oor ’n ander – of dit ’n diktator, ’n soldaat, ’n burokraat, ’n eggenoot of ’n baas is – het hy altyd dieselfde regverdigende ideologie nodig: hierdie oorheersing is “ter wille van” die een wat oorheers word. Met ander woorde, mag doen hom altyd voor as onbaatsugtig, vrygewig en onpartydig. In die 1930’s het Nazi-propaganda byvoorbeeld bestaan uit die keuse van eenvoudige woorde wat onophoudelik herhaal is en verbind is met emosies, gevoelens en vrese. Toe Hitler [in 1938] Sudetenland binneval, is die edelste en welwillendste oogmerke aangehaal: die noodsaaklikheid van ’n “humanitêre ingryping” om “etniese reiniging” te verhoed en te verseker dat hulle onder die “beskermende vlerk” van Duitsland kan lewe, met die hulp van die mees gevorderde mag op aarde op die gebied van kuns en kultuur. Ten opsigte van propaganda, as niks dan werklik verander het sedert die dae van antieke Griekeland nie, was daar wel vervolmaking. Die instrumente is verfyn en dit – paradoksaal – veral in die vryste lande op aarde: die Verenigde Koninkryk en die VSA. Dis dáár, en nie elders nie, dat die moderne bedryf van openbare betrekkinge, oftewel die vervaardiging van mening of propaganda, in die 1920’s gebou is. Hierdie twee lande het in werklikheid in die veld van demokratiese regte (stemreg vir vroue, vryheid van spraak, ens.) sulke vooruitgang gemaak dat die staat se geweld nie meer die versugting na vryheid kon onderdruk nie. Daar is dus aanspraak gemaak op die tegnologie van die “vervaardiging van instemming”. Die bedryf van openbare betrekkinge produseer instemming, aanvaarding en onderdanigheid. Dit bestuur idees, denke en die gees. Met betrekking tot totalitarisme is dit ’n groot stap vooruit: dit is veel aangenamer om ’n advertensie te verduur as wat dit is om in ’n folterkamer toegesluit te word. In die VSA word vrye meningsuiting beskerm tot ’n perk wat sover ek weet ongekend is in enige ander land op aarde. Dit is taamlik jonk. Sedert die 1960's veral toon die Hooggeregshof groot respek jeens vryheid van spraak – na my mening, ’n fundamentele beginsel wat deur die waardes van die Verligting in die 18de eeu reeds gestel is. Die standpunt van die hof was dat spraak vry is, met die unieke uitsondering van deelname aan ’n kriminele daad. As ek byvoorbeeld ’n winkel betree met die bedoeling om dit te beroof en ek aan een van my medepligtiges wat ’n vuurwapen hou, sê “Skiet!”, word hierdie uiting nie deur die Grondwet beskerm nie. Vir enigiets anders moet die motief baie ernstig wees voordat vryheid van spraak bevraagteken word. Die Hooggeregshof het selfs hierdie beginsel opnuut bevestig ten gunste van lede van die Ku Klux Klan.
In Frankryk, in die Verenigde Koninkryk en in die res van Europa word vrye meningsuiting op baie beperkte wyse gedefinieer. Na my mening is die wesenlike vraag: het die staat die reg om oor historiese werklikheid te besluit en om dít te straf wat daarvan afwyk? Hierdie soort denke kom neer op ’n Stalinistiese praktyk. Franse intellektuele sukkel egter om te erken dat hulle hierheen neig, maar die staat behoort nie eens die mag te hê om iemand te straf wat voorgee dat die son om die aarde wentel nie. Die beginsel van vrye meningsuiting impliseer iets baie eenvoudigs: óf jy veg daarvoor selfs al stem jy nie met die menings saam nie, óf jy verdedig dit glad nie – want selfs Hitler en Stalin het vrye meningsuiting toegelaat vir diegene wat húl standpunte onderskryf het. Daar is iets onrusbarends en selfs skandeliks daaraan dat sulke kwessies nog bespreek word, twee eeue na Voltaire verklaar het: “Ek haat jou mening, maar ek sal sterf sodat jy dit kan lug.” En dit is vreeslik onregverdig teenoor die slagoffers van die Groot Brandoffer (Holocaust) om een van die fundamentele leerstellings van hul laksman aan te neem.
LMD: In een van u boeke lewer u kommentaar op ’n aanhaling van Milton Friedman: “Die essensie van demokrasie lê in sy winsgewendheid …” NC: Om die waarheid te sê, is die twee dinge so verskillend dat daar byna geen kommentaar moontlik is nie… Demokrasie beteken dat mense oor hul eie lewe en oor die politieke keuses wat hulle raak, kan besluit. Die maak van wins is ’n siekte van ons samelewing wat gesteun word deur bepaalde strukture. In ’n ordentlike etiese samelewing sou hierdie min rede tot kommer gewees het. Neem byvoorbeeld my universiteitsdepartement [aan die Massachusetts Institute of Technology], waar enkele wetenskaplikes hard werk om baie geld te maak, maar hulle word as randfigure beskou – versteurde mense, byna patologiese gevalle. Die gees waarin die akademiese gemeenskap aangespoor word, is eerder een van ontdekking – tegelyk die gevolg van intellektuele belangstelling en almal se belang.
LMD: In ’n uitgawe wat aan u opgedra is deur La Herne, skryf Jean Ziegler: “Daar was drie totalitarismes: dié van Stalin, dié van die Nazi's, en nou dié van Tina (2).” Sou u hierdie drie totalitarismes vergelyk? NC: Ek sou hulle nie op dieselfde vlak plaas nie. "Tina" is ’n intellektuele onderneming wat ’n mens nie met konsentrasiekampe of die goelag kan vergelyk nie. Die politiek van die VSA gee aanleiding tot massiewe wêreldwye teenstand. In Suid-Amerika het Argentinië en Venezuela die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) uitgegooi. Die VSA moes iets prysgee wat twintig of dertig jaar gelede nog die norm was: ’n militêre staatsgreep in Suid-Amerika. Die neoliberale ekonomiese program wat gedurende die 1980’s en 90’s met mag op Suid-Amerika afgedwing is, word vandag deur die hele vasteland verwerp. En ’n mens sien hierdie selfde teenkanting teen ekonomiese globalisasie op ’n globale skaal. Die globale beweging vir geregtigheid, wat deur die media geteiken word by elke Maatskaplike Wêreldforum is in werklikheid elke jaar aan die werk. Dit is ’n baie nuwe fenomeen in die geskiedenis. Sy belangrikheid is die soeke na ’n alternatief. Watter beter voorbeeld van ’n andersoortige globalisasie kan jy voor vra as ’n maatskaplike wêreldforum? Die vyandige media noem diegene wat gekant is teen neoliberale globalisasie “anti-globaliste”, terwyl hulle veg vir ’n ander soort globalisasie: die globalisasie van bevolkings. Die verskil tussen die een en die ander raak duidelik wanneer ons kyk na die Ekonomiese Wêreldforum in Davos, waar planetêre ekonomiese integrasie bespreek word, maar dan slegs in die belang van die finansiers, banke en pensioenfondse – magte wat ook die media beheer. Dit is húl opvatting van globale integrasie, in die diens van beleggers. Die massamedia beskou hierdie integrasie as die enigste een wat die amptelike naam van globalisasie werd is. Hier is nou ’n mooi voorbeeld van die manier waarop ideologiese propaganda in demokratiese samelewings werk, en dit is so effektief dat deelnemers aan die Maatskaplike Forum soms die haatlike term “anti-globaliste” aanvaar. In Porto Alegre het ek binne die raamwerk van die Forum gepraat en deelgeneem aan die wêreldwye Landbouerskonferensie. Hulle verteenwoordig immers die meerderheid van die wêreldbevolking …
LMD: U word dikwels geklassifiseer as ’n anargis of ’n libertêre sosialis. In ’n demokrasie soos u dit beskou, wat sou die rol van die staat wees? NC: Ons leef op hierdie aarde en nie in ’n imaginêre wêreld nie. Op hierdie planeet bestaan daar tirannieke instellings, so naby as wat ons aan totalitêre instellings kom: die groot besighede. Hulle het so te sê geen diens om te lewer aan die publiek of die samelewing nie; hulle gedra hulle soos roofdiere wat jag maak op ander besighede. Die bevolking kan hulleself teen sulke ondernemings beskerm met slegs een wapen: die staat. Dit is ongelukkig nie ’n baie doeltreffende skild nie, want oor die algemeen is die staat sterk verbind met die roofdiere. Daar is egter een noemenswaardige verskil: terwyl General Electric byvoorbeeld nie aanspreeklik gehou word nie, moet die staat soms verduidelikings gee. Wanneer demokrasie uitgebrei het tot op die punt waar burgers die produksie- en ruilmiddele beheer, waar hulle deelneem aan die werking en rigting van die algemene kader waarin hulle lewe, dan sal die staat bietjie vir bietjie kan wegkwyn. Dit sal vervang word deur vrywillige organisasies op die arbeidsterrein en waar mense bly.
LMD: Is dit ’n nuwe soort Sowjet? Hoe verskil dit van die Sowjette van die Russiese Revolusie? NC: Hulle wás Sowjette, ja. Maar die eerste ding wat Lenin en Trotski vernietig het na die Oktober-revolusie was die Sowjette, die werkersrade en alle demokratiese instellings. Lenin en Trotski was op hierdie gebied sosialisme se grootste vyande in die twintigste eeu. As ortodokse Marxiste het hulle gedink dat ’n vertraagde samelewing soos Rusland in hul tyd nie direk tot sosialisme kon oorgaan alvorens dit met mag in industrialisasie gedompel is nie. In 1989, terwyl die kommunistiese sisteem in duie gestort het, het ek gedink die ineenstorting vertenwoordig, paradoksaal, ’n sege vir sosialisme. Want sosialisme, soos ek dit verstaan, impliseer minstens die demokratiese beheer oor produksie, handel en ander fasette van menslike bestaan. Die twee hoofsisteme van propaganda het egter saamgesmelt om ’n nuwe “sosialisme" te vorm: ’n tirannieke sisteem geskep deur Lenin en Trotski en verander in Stalin se politieke monstrositeit. Die Westerse leiers is betower deur so ’n absurde, skandalige gebruik van die term wat hulle toegelaat het om die nuwe sosialisme dekades lank sleg te sê. Met gelyke geesdrif, maar in die teenoorgestelde rigting, het die Sowjet-sisteem van propaganda probeer om (tot hul eie voordeel) die simpatie en diensbaarheid uit te buit wat die ware sosialistiese ideale in die massa werkers aangewakker het.
LMD: Is dit nie waar dat alle vorme van selforganisasie volgens anargistiese beginsels uiteindelik ineengestort het nie? NC: Daar is niks soos vaste “anargistiese beginsels” nie – ’n soort libertêre kategismus waaraan trou gesweer moet word. Anargisme, sover as ek dit verstaan, is ’n rigting van denke en menslike aksie wat gesagstrukture wil identifiseer en tot verantwoording roep en hulle dan vervang indien hulle nie kan nie, wat heel dikwels gebeur. Ver van ineenstort, gaan dit heel goed met anargisme (libertêre denke). Dit is die bron van ’n hele aantal werklike voorbeelde van vooruitgang. Vorms van onderdrukking en ongeregtigheid wat skaars erken, en nog minder beveg is, word nie meer toegelaat nie. Dit is ’n sukses en verteenwoordig ’n vooruitgang vir die mensdom as ’n geheel – nie ’n nederlaag nie. _________ (1) Edward Herman en Noam Chomsky, Manufacturing Consent, New York: Pantheon, 2002. Die “vervaardiging van instemming” is ’n uitdrukking gemunt deur die Amerikaanse essayskrywer Walter Lippman wat, vanaf die 1920’s die vermoë van die man op straat om homself met wysheid te stuur, in twyfel trek en voorgestel het dat ’n aantal keurgeleerdes inligting “suiwer” voor dit die publiek bereik. (2) Tina is ’n akroniem vir “There is no alternative” wat deur Margaret Thatcher gemunt is en die onvermydelikheid van neoliberale kapitalisme weerspieël – dis maar een moontlike vorm van “globalisasie”. |