blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Vandeesmaand se hoofartikel: Hugo Chávez 2007-08-13
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw.

 

Min regeerders ter wêreld moes al soveel haatveldtogte deurloop as mnr. Hugo Chávez, president van Venezuela. Sy vyande het van niks teruggedeins nie: staatsgreep, oliestaking, kapitaalvlug, aanvalspogings … Nie sedert Washington se aanval op mnr. Fidel Castro is sulke onverbiddelikheid in Latyns-Amerika gesien nie.

             Die miserabelste modder – uitgedink deur die nuwe lêplekke van propaganda, soos die National Endowment for Democracy, Freedom House, ensovoorts, én gefinansier deur die administrasie van die Amerikaanse president George W. Bush – word na mnr. Chávez geslinger. Gerugsteun deur onbeperkte finansiële middele manipuleer hierdie lastermasjien die mediageleibuise (waaronder gerespekteerde koerante) en menseregte-organisasies, wat op hulle beurt opgevorder is in diens van sinistere oogmerke. Dit gebeur ook – ruïne van die sosialisme – dat ’n deel van die sosiaal-demokratiese linksgesindes sy stem by hierdie koor van belasteraars voeg.

             Waarom soveel haat? Omdat dit lyk asof geskiedkundige omstandighede, in ’n uur waarin die sosiaal-demokrasie in Europa ’n identiteitskrisis beleef, aan mnr. Chávez die verantwoordelikheid toevertrou het om die leiding te neem om die linkervleuel op internasionale vlak nuut uit te vind. Terwyl die Europese konstruksie op die Ou Vasteland enige alternatief op die neoliberalisme bykans onmoontlik gemaak het, vind daar onder inspirasie van die Venezolaanse voorbeeld eksperimente in Brasilië, Argentinië, Bolivia en Ecuador plaas wat die hoop op die bevryding van die nederigste van die nederiges lewend hou.

             In hierdie opsig is mnr. Chávez se opgaaf skouspelagtig. ’n Mens begryp waarom hy in tientalle arm lande ’n verpligte verwysing geword het. Het hy nie met skromelike respek vir die demokrasie en alle vryhede (1) die Venezolaanse nasie herstig op ’n nuwe basis, gelegitimeer deur ’n nuwe Grondwet wat populêre deelname aan maatskaplike verandering waarborg nie? Het hy nie die burgerlike waardigheid van sowat vyf miljoen gemarginaliseerdes (hoofsaaklik inheemse mense) sonder identiteitsdokumente herstel nie? Het hy nie beheer oorgeneem oor die openbare maatskappy Petroleos de Venezuela nie? Het hy nie die vernaamste telekommunikasiefirma ontprivatiseer en as openbare diens herstel, soos ook die elektrisiteitsfirma Caraca nie? En het hy nie laastens ’n deel van die land se olie-opbrengs aangewend om doeltreffende outonomie ten opsigte van die internasionale finansiële instellings te verwerf, en ’n ander deel daarvan om maatskaplike programme te finansier nie?

             Meer as drie miljoen hektaar grond is onder kleinboere versprei. Miljoene kinders en volwassenes is geletterd gemaak. Duisende apteke is in arm woonbuurte opgerig. Tienduisende armes met oogkwale is gratis geopereer. Basiese voedsel word gesubsidieer en aan die armstes gebied teen 42 % minder as die markprys. Die werksweek is verkort vanaf 44 na 36 uur, terwyl die minimumsalaris verhoog is tot nagenoeg R2 850 per maand (naas Costa Rica die hoogste in Latyns-Amerika).

             Die gevolg van al hierdie stappe: tussen 1999 en 2005 het armoede gedaal vanaf 42,8 % na 33,9 % (2), terwyl die bevolking in die informele ekonomie gedaal het van 53 % na 40 %. Hierdie afnames in armoede het dit moontlik gemaak om ekonomiese groei te ondersteun, wat die afgelope drie jaar gemiddeld 12 % per jaar was, van die hoogste ter wêreld en aangehelp deur ’n verbruikskoers wat teen 18 % per jaar gegroei het (3).

             Moet ’n mens jou verbaas dat president Hugo Chávez in die aangesig van sulke resultate vir die meesters van die wêreld en hulle skoothondjies ’n man geword het om te vernietig?

 

_________

(1) Nadat die leuens oor Radio Caracas Television ontbloot is, het die kanaal op 16 Julie sy uitsendings per kabel en satelliet hervat.

(2) Poverty Rates in Venezuela. Getting the Numbers Right, Center for Economic and Policy Research, Washington DC, Mei 2006.

(3) Business Week, New York, 21 Junie 2007.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=901
Artikel nagegaan:
    -