blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Afrikaanse ons? Dink weer. 2007-08-13
Danie Goosen

*FAK-voorsitter en skrywer van Die Nihilisme (PRAAG: Johannesburg, 2007)

 

Verreweg die meeste Afrikaanssprekendes is waarskynlik ten gunste van een of ander vorm van onderlinge samewerking. Alhoewel daar kwalik gepraat kan word van ’n reeds bestaande Afrikaanse “ons” is die gevoel dat samewerking veral noodsaaklik is om Afrikaans sinvol uit te bou.

             Oor die vraag wát die aard van die samewerking tussen Afrikaanssprekendes moet wees, loop die menings egter uiteen. Hierdie feit word nogmaals onderstreep deur die artikel van Christo van der Rheede in die Junie-uitgawe van Die Vrye Afrikaan. Alhoewel Van der Rheede ’n hartroerende betoog vir ’n Afrikaanse “ons” lewer en hy ook daarin ondersteun moet word, is sy verstaan daarvan nie sonder probleme nie. Vanweë die belangrikheid daarvan word by enkele kwessies uit sy artikel stilgestaan.

 

1. Die eerste punt is ’n bloot formele kwessie. Dit hou verband met die aard van die gesprek self, en die verpligting op Afrikaanssprekendes om dit (‘n Afrikaanse “ons”) te beskerm. Ter sprake is sowel die onderskeid wat dikwels in dié gesprekke tussen “teorie” en “praktyk” getref word, en die voorkeur wat bykans sonder uitsondering aan die praktyk ten koste van die teorie uitgespreek word. Ook Van der Rheede maak van dié onderskeid en voorkeur gebruik. Hy skryf dat ons moet ophou om oor die Afrikaanse “ons” te “filosofeer” (en te “kibbel”) en dat ons eerder deur konkrete aksies inhoud daaraan moet gee.

             Minstens twee dinge hieromtrent is problematies. Eerstens, goeie praktyke word deur goeie denke moontlik gemaak. Om dus die denke in naam van konkrete praktyke op te skort, is juis om die voorwaardes vir laasgenoemde te ondermyn.

Tweedens, alhoewel Van der Rheede dit teen filosofering het, huiwer hy nogtans self nie om gewigtige filosofiese temas ter sprake te bring en homself in die proses op filosowe soos Marx en Foucault te beroep nie. Waarom is dit ’n probleem? Dit hou verband met die oophou van die gesprek onder Afrikaanssprekendes. Ons almal vertrek altyd weer bewus of onbewus vanuit bepaalde filosofiese standpunte. Om andere egter die reg te ontsê om hul filosofiese vertrekpunte te verwoord onder die dekmantel dat dit blote gekibbel is, beteken dat jy jou eie filosofiese vertrekpunte as normatief voorhou sonder dat dit hoegenaamd aan die oordeel van die gesprek onderwerp hoef te word. Maar so kan geen egte gesprek plaasvind nie.

 

2. Die Afrikaanse “ons” waaroor Van der Rheede skryf, behoort tot die hart van die gesprek. Maar hoe moet dit verstaan word? Hieroor sal nog heelwat gedink (ja, gedink) en onderlinge gesprekke gevoer moet word alvorens algemeen aanvaarde praktyke daaromheen sal ontstaan.

Wanneer ons van ’n Afrikaanse “ons” praat, is dit noodsaaklik om dit as ’n gedifferensieerde eenheid te verstaan, dit wil sê as ’n eenheid wat die veelheid van onder meer kulturele verskille tussen Afrikaanssprekendes nie as ’n bedreiging nie, maar as ’n verryking van die ons ervaar. As daar dan ook aan enigeen van die kulturele gemeenskappe in die Afrikaanstalige wêreld (die Afrikaners, Griekwas, Namas, ensovoorts) die verwagting gestel word dat hulle hulself ten gunste van ’n soort enkelvoudige “ons” moet ophef, kan ons nie meer van ’n gedifferensieerde eenheid en by implikasie van ’n Afrikaanse “ons” praat nie. So ’n eenheid sal ons ook nie in staat stel om by die praktyke uit te kom waarvoor Van der Rheede pleit nie.

Van der Rheede se standpunt word deurgaans deur ’n grondliggende spanning oor hierdie saak gekenmerk. Enersyds het hy ’n sin vir die gedifferensieerde aard van die Afrikaanstalige ons wat tot stand gebring moet word. Daarom pleit hy ook op roerende wyse vir “wedersydse empatie” tussen verskillende segmente van die Afrikaanssprekendes.

             Andersyds en in spanning hiermee kan ’n mens eenvoudig nie die gevoel afskud dat sy begrip van die “ons” na die kant van ’n enkelvoudige eenheid oorhel nie, en dat die veelheid van veral kulturele verskille volgens hom eintlik agtergelaat moet word indien ons vorentoe van ’n ons wil praat.

Die kern van die probleem lê in Van der Rheede se gebrek aan erkenning van die begrip “kultuur-gemeenskap” as ’n onontbeerlike deel van die ons wat tot stand gebring moet word. Terwyl hy telkens (en natuurlik nie sonder meriete nie) gebruik maak van die kategorieë “klas” en “ras” om die ons mee te verstaan en ook in te klee, word die begrip “kultuurgemeenskap” tegelyk sterk onderspeel. So dreig die gedifferensieerde eenheid om in ’n enkelvoudige eenheid vas te val.

Bykans niemand sal vandag die punt betwis dat die Afrikaanse wêreld ook deur ras en klas gestempel is en steeds daardeur gekenmerk word nie. Maar die Afrikaanse geskiedenis kan nie daartoe gereduseer word nie. Inteendeel, die rol wat ’n kulturele bewussyn byvoorbeeld onder Afrikaners gespeel het, neem waarskynlik ’n ewe belangrike, indien nie belangriker plek nie, in dié geskiedenis in. Om dit met die oog op ’n toekomstige “ons” uit die vergelyking weg te sny, is om dié ons by voorbaat in enkelvoudige terme te verstaan.

             Dit is waarom dit ook so belangrik is om ’n oop gesprek oor ons teoretiese of filosofiese vertrekpunte te voer. Van der Rheede beroep hom vanuit sy voorkeur vir ras en klas onder meer op Marx en Foucault. As ons die volle verwikkeldheid van die talige wêreld wil verstaan, sal ons ook ander stemme uit die wêreld van die denke moet hoor, en dit is stemme wat ’n sterker gevoel vir die rol van kultuur-gemeenskappe in die vestiging van ’n ons het.

Pogings om die rol van kultuur in die vorming van ’n taalbewuste beweging (of anders gestel: ’n dinamiese ons) uit te sny, sal so ’n beweging strategies ernstig benadeel. Waarom? Omdat geen taalbeweging in die moderne geskiedenis suksesvol was sonder dat dit deur kulturele motiewe ondersteun of gemotiveer was nie. Die vestiging van Afrikaans as openbare taal (skole, universiteite, openbare en private instellings, ensovoorts) was grotendeels ’n gevolg van die kulturele energie wat onder veral Afrikaners vaardig was. Dit is ’n waarheid wat die Afrikaanse wêreld nog nie behoorlik verreken het nie.

Kulturele of etniese motiewe behoort nie toevallig tot ’n taalbewuste beweging nie, maar tot die kern daarvan. As ons in die naam van klasse- en rasse-vooroordele nie ’n sin daarvoor het nie (is ons intellektuele nog te vasgevang in hulle Marxistiese en liberale kategorieë om dit raak te sien?), gaan ons voorsprake vir ’n Afrikaanse “ons” op dowe ore val en sal daar niks tereg kom van ons voorsprake vir sinvolle praktyke en handeling nie.

Kulturele of etniese kragte kan uiteraard ontspoor wanneer hulle hulself byvoorbeeld aan xenofobiese motiewe skuldig maak. Maar dit beteken nog lank nie dat ons daarom van etnisiteit in ons droom van ’n Afrikaanse ons ontslae moet raak nie, soos wat ’n mens uit Van der Rheede se werk kan aflei. (Hy assosieer etniese voorkeure by implikasie met negatiewe dinge soos die “vasklou aan identiteite”, “verstarde groepsdenke”, ensovoorts). Die korrekte antwoord op ’n xenofobiese etnisiteit is nie iets soos non- of post-etnisiteit nie, maar eerder demokratiese etnisiteit. Laasgenoemde word wêreldwyd erken en ervaar as ’n belangrike voorwaarde vir ’n suksesvolle taalpolitiek. Die Afrikaanse wêreld kan dit net ten koste van homself ignoreer.

Anders geformuleer, Van der Rheede doen ’n oproep tot ’n sogenaamde “waardegebaseerde” benadering ten opsigte van Afrikaans. Daarmee is niks fout nie. Inteendeel, in die politiek rondom Afrikaans is dit noodsaaklik. Maar ’n blote beroep om waardes is grondloos as dit nie deur historiese kragte soos kulturele gemeenskappe beliggaam en deur hulle instellings waargemaak word nie. Ook dìt is ’n saak wat die Afrikaanse gesprek nog moet deurdink.

 

3. Van der Rheede het reg as hy sou sê dat ons nie net moet teoretiseer oor ’n Afrikaanse “ons” nie, maar dat ons ook in die praktyk gestalte daaraan moet gee. Die vraag is natuurlik hoe. Ons sluit met ’n voorstel: ’n Afrikaanse “ons” sal nie kunsmatig afgedwing kan word nie. Dit sal eerder gestalte kry deur “verstandhoudings” tussen die verskillende groeperinge en organisasies met die oog op gesamentlike optrede. So sal wedersydse vertroue uitgebou en onderlinge begrip versterk word, juis die voorwaarde vir ’n “ons.”

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=900
Artikel nagegaan:
    -