blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Bedreigde spesie? 2007-08-13
Linette van der Merwe

*Lektor, Afrikaans en Literêre Teorie, UNISA

 

Wanneer daar ’n gevaar bestaan dat sekere spesies plante of diere kan uitsterf, word daardie spesie as ’n bedreigde spesie geklassifiseer en daadwerklike pogings word aangewend om die bestaan van die spesie te verseker. Die uitwissing van natuurlike habitatte en besoedeling word onder meer as die hoofredes vir die uitsterf van sekere spesies aangegee. Daar kan ’n analoog getrek word met die bestaan van Afrikaanse Taalkundiges.

             Afrikaanse Taalkundiges is op die rand van uitwissing. Die natuurlike habitat waarin taalkundiges funksioneer, het oor die jare aansienlik verander, en as die noodgedwonge aanpassing van vakgebiede in dieselfde lig as besoedeling beskou word, het die toename van toegepaste taalkundeprogramme gelei tot die skaarste aan Afrikaanse Taalkundiges wat tersiêre inrigtings vandag ervaar. Dit is ’n erkende feit dat die situasie binne die afsienbare toekoms ’n krisis in die kleine kan ontketen. Die vrae wat ontstaan, is onder meer watter rede/s hiervoor aangevoer kan word, en hoe die krisis afgeweer kan word.

             Gesprekke met departementshoofde en taalkundiges aan Departemente Afrikaans van die Universiteit van Stellenbosch, Noordwes Universiteit, Universiteit van Pretoria, Universiteit van die Vrystaat en Tshwane University of Technology het lig gewerp op hierdie tendens en ’n paar gemene delers daaromheen uitgelig.

Afrikaanse Taalkundiges aan die bostaande tersiêre instansies is dit eens dat belangstelling in formele taalkundestudies (sintaksis, morfologie, semantiek, fonologie en historiese taalkunde) aansienlik afgeneem het, veral met betrekking tot die nagraadse vlak. Die afname in belangstelling en uitfasering van “harde taalkunde” kan voor die universiteitswese se deur gelê word. Akademici word gedwing om groot getalle studente voorgraads en nagraads te trek en binne ’n redelike kort tyd ‘af te lewer’. Letterkunde en toegepaste taalkunde (leksikografie, vertaling, redigering, taalpraktyk en dokumentontwerp) trek meer belangstelling, omdat daar meer beroepsgeleenthede bestaan, en hierdeur is die sogenaamde “harde” taalkunde mettertyd uitgefaseer.

Eweneens hou dit regstreeks verband met die skaarste aan loopbaangeleenthede wat daar tans vir formele taalkundiges bestaan. Daar is selde, indien ooit, tydens die afgelope dekade ’n taalkundepos op junior vlak geadverteer. Voornemende taalkundige beroepslui het waarskynlik hieroor begin moed verloor en dus eerder rigtings in die toegepaste taalkunde begin kies. Die gevolg hiervan is ’n groot aantal “harde” taalkundiges wat binne die afsienbare toekoms aftree, met geen potensiële kandidate om by hulle oor te neem nie.

’n Verdere rede wat aangevoer kan word, is die druk op Afrikaans as akademiese vak. Dit skep onsekerheid vanweë afskaling by universiteite. Departemente Afrikaans regoor die land is besig om te krimp,  en poste word nie noodwendig gevul as die vorige bekleër dit verlaat nie. Boonop word oorblywende personeellede verplig om op ’n verskeidenheid van gebiede klas te gee. Dit bring mee dat daar nie meer ’n sterk navorsingskultuur in die “harde” taalkunde aan die orde van die dag is nie, omdat daar eenvoudig nie tyd en/of ’n mark daarvoor is nie.

             Dit blyk dus ’n bose kringloop te wees. Hoe dan gemaak om die bedreiging hok te slaan?

             Meer studente, gevolglik groter subsidie, gevolglik meer personeel. Dit is egter makliker gesê as gedaan. Die probleem kan nie net met innoverende programme opgelos word nie, omdat die kern van die vakgebiede dikwels daaronder ly. Dit sou reggestel kon word deur binne die toegepaste kursusse een “harde” taalkundevak te doseer soos sintaksis, semantiek en historiese taalkunde, wat regoor die spektrum tot sy reg kan kom en van toepassing is. Dosente sal dan toegelaat moet word om hulle weer met die teorie besig te hou of die beskrywing van die taalverskynsel wat hulle ondersoek, en om een of twee nagraadse studente op honneurs-, meesters- en doktorale vlak, wat daarin belangstel, te lewer. Die klein omset van nagraadse studente behoort dan ook nie teen hulle gehou te word nie.

             So kan daar op voorgraadse vlak weer belangstelling gewek word in die “harde” taalkunde, wat sou kon lei tot ’n groter aanbod nagraadse studente, en uit die aard van die saak sou daar weer mense wees om dié wat uittree, op te volg.

As ’n mens kyk na die taalberoepswêreld en die taaldebatte en -diskoerse in die hedendaagse Suid-Afrika, is dit duidelik dat dit lank nie meer net opgeleide (universiteitsopgeleide) taalkundiges is wat daaraan deelneem nie.

Volgens die taaloudit vir Afrikaans, wat sedert 2004 deur die Nasionale Forum van Afrikaans (NFA) uitgevoer word, is daar allerlei gebiede van die taalpraktyk of taalbedryf waarop uitstekende werk gedoen word deur persone wat nie noodwendig opgeleide taalkundiges is nie. Hieronder resorteer geletterdheids- en bemagtigingsprojekte; taalbevordering deur verenigings, klubs en gemeenskapsprojekte; leesbevordering; media- (die skepping en versorging van mediatekste) en uitgewersverwante aktiwiteite (deur die gedrukte en elektroniese media) en taalonderwys (formeel en informeel). Selfs terminologieskeppers, vertalers en tolke is nie noodwendig taalkundig opgelei nie.

Verder is daar ’n groot verskeidenheid verteenwoordigers van ander dissiplines of spesialisrigtings buiten taalkundiges wat sterk op die voorgrond is of wil wees met betrekking tot taal, soos byvoorbeeld die talle filosowe, politici, historici, skrywers, en opvoedkundiges wat tans deelneem aan die diskoers rondom taal. Miskien kan daar deur hierdie rolspelers te betrek om erkenning te gee aan die waarde van “harde” taalkunde binne daardie dissiplines, ’n groter mark geskep word vir die opleiding van “harde” taalkundiges.

Of beide voorgestelde oplossings egter prakties uitvoerbaar en volhoubaar is, is ’n ope vraag en sekerlik iets wat taaldepartemente en rolspelers ernstig sal moet oorweeg indien hulle die gewisse uitsterf van “harde” taalkundiges wil voorkom.

 

 

Met erkenning en dank vir gespreksdeelname aan:

Prof. Hein Willemse, Hoof: Departement Afrikaans, UP

Prof. Wannie Carstens, Direkteur: Skool vir Tale, NWU

Prof. Ilse Feinhauer en prof. Rufus Gouws, Dept. Afrikaans en Nederlands, US

Prof. Leon de Stadler, Direkteur: Taalsentrum, US

Prof. Hennie van Coller, Dept. Afrikaans en Nederlands, UV

Mnr. Johan Viljoen, SAVTO-voorsitter en Hoof: Dept. Toegepaste Tale, TUT

Dr. Karel Prinsloo, Projekkoördineerder, NFA

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=899
Artikel nagegaan:
    -