|
||||
Alain de Benoist ontbloot in sy artikel die kernverskil tussen wat mens normaalweg verstaan onder ondersteuners van kapitalisme en die wat sosialisme ondersteun. Dit is wanneer hy sê dat meneer Sarkozy diegene wil begunstig wat “vroeg opstaan en harder wil werk om meer te verdien”. De Benoist skryf daarop dat Sarkozy impliseer dat persone wie se doelwit dit nie is “om meer te verdien nie”, van luiheid of bedrog verdink sal word. De Benoist stel dit verder dat wat Sarkozy in gedagte het, is ’n staat “waar voorkeur verleen sal word aan doeltreffendheid en winsgewendheid, sonder oorweging van maatskaplike koste.” Wat De Benoist beskryf, is presies die verskil tussen die welvaartskeppers van die gemeenskap en die welvaartverbruikers van dieselfde gemeenskap. Indien die welvaartverbruikers wat nie primêr ingestel is daarop om “meer te verdien” nie, tevrede bly met hulle lot, sou die situasie dalk aanvaarbaar kon wees, maar dit is nie die geval nie. Die ervaring in die praktyk is oral in die wêreld dat die groep mense wat nie graag vroeg opstaan om meer te verdien nie, knaend aanspraak bly maak op ’n groter snit uit die koek wat net deur die skeppende denke en harde werk van die “vroegopstaners” jaarliks groter gemaak kan word. Jy hoor hulle nêrens sê: “Ons bied aan” nie. Jy hoor hulle net sê: “Ons eis!” Natuurlik sou die ideaal ’n balans tussen die twee groepe mense wees, soos Tony Blair beweer het, hy gepoog het om te doen met sy “New Labour.” Hier is die waarheid egter dat in ’n demokratiese staat die voortbestaan van ’n regering bepaal word deur die aantal kiesers wat hy kan werf. Tydens sy bewind is daar byvoorbeeld honderde duisende addisionele staatsdienswerkers aangestel (vergelyk Suid-Afrika). Die welvaartverbruikers is ongelukkig oral in die wêreld baie meer getalryk as die welvaartskeppers en daarom kan meeste regerings nie waag om “aalmoese” wat eenmaal toegeken is aan die massas te verminder nie, maar eerder ingestel is daarop om meer toe te ken. Totdat, soos in Frankryk, die volk in groot genoeg getalle begin besef dat die orde in die land ernstig begin bedreig word deur knaende toegewings aan die massas wat primêr verbruikers is nie en nie wil bydra tot welvaartskepping nie en die invloei van massas vreemdelinge wat nie wil aanpas by die oorspronklike burgers se leefwyse nie. – Schalk de Beer, Secunda |