|
||||
Die gedagtes wat Johann Rossouw oor die stand van Afrikaans in die digitale era het, is geensins nuut nie: ook Duitsland en Switserland, as voorbeelde, ken die probleem van “onnodige tale in ’n tegniese wêreld”. Die beste voorbeeld daarvan is die lugrederye na die Tweede Wêreldoorlog: Die Amerikaners en die Engelse het as een van die eerste dinge van alle rederye geëis dat daar oor die radio vir veiligheidsredes uitluitlik Engels gepraat mag word. Onlangs het ’n groot ondersoek in Duitsland nuus gemaak: Die besonders goeie universiteite daar, universiteite met naam en geskiedenis, is ondersoek en die dame wat die ondersoek gely het, het met nadruk en natuurlik op Engels vasgestel dat indien daardie Duits sprekende universiteite hulle naam in die wêrled van vandag wil uitdra, hulle onmiddelik van Duits as voertaal moet afsien en en net Engels as unversiteitstaal mag aanvaar. Wat meer bekommer het, was die hoogdrawende toon van haar afhandeling. Sy het beduie dat sy hoegenaamd geen kennis van Duits het of ooit wil hê nie, sy het dit nie nodig nie. En dan kom die arme Johann Rossouw met Afrikaans! Vir my is
Afrikaans na alles – en ek leef darem al baie jare al tussen vier tale, en dit
sonder Afrikaans – nog steeds die taal van my hart. Dit deel ek met talle mense
rondom die wêreld wat nou, deur internet, die moontlikheid het om, soos ek nou,
as’t ware aan die gesprek deel te neem. En hier lê vir my die oplossing: Maak
Afrikaans so tot ’n taal van almal, wat Afrikaans magtig is, van die Noord- tot
die Suidpool. Mense, wat net in terme van Engels dink – en eintlik Amerikaanse
Engels bedoel – kan ons maar uitlaat. Hulle sal nooit verander nie, en vir
hulle is nie net Afrikaans “Kitchen Dutch” nie, nee, selfs Duits en Frans, ja,
Chinees en Japannees, is niks beter daaraan toe nie.
|