blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gedig: brokkelgrond 2007-08-13
Carina Stander

wie sal water put

uit die kinderlose land?

het ’n vrou gevra

en gegrawe in grond

geskep deur vulkane en wind


heuwels had die vorm

van verbeelde kind -

stofgeel en rond

die vergete skedel

en boggelrug wat bedel


onder kokerboom

wat ru vervel

het sy aalwynsap getap

vir ’n wond soos knalrooi winterblom

vir verbrandes en verkragtes

het sy bitter blaar gekerf


soms kon sy spore van verwering

in sagter rots gewaar:

’n kraalmuur of ’n teepotskerf

’n traliehek wat skif

twintigduisend grafskrifte

van laasjaar se moordenaar

 

op ’n dag kom donderreën

en die ganse berg juig bont

as fynverf uit die hemel sif

is elke bars ’n toevuisblom


die vrou onthou

magma word graniet

word huis, versteende droom;

onbewoonde wonings

word die ene lag

en diep in die werf

wieg ’n kraanvoëlblom

se blou skede donsigsag


toe die langbeenson

oor die horison strek

het die vrou ’n put gegrou


’n wolk het vlietend en wit

soos ’n stam deur Afrika getrek


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=895
Artikel nagegaan:
    -