|
||||
Die afgelope maande het daar onder Afrikaners ’n boeiende proses van besinning oor ons toestand as gemeenskap en ons posisie in die Suid-Afrikaanse samelewing op gang gekom. Harde en minder harde kritiek deur Afrikanerleiers van die vorige bedeling op die huidige bedeling; boeke wat oor die wel en wee van die NP besin; en natuurlik die welbekende voortslepende ongelukkigheid onder Afrikaners oor sake soos misdaad, regstellende aksie, die posisie van Afrikaans, erfenis en plekname, die chaos oor die nuwe Wapenwet, die afskaffing van kommando’s en selfs Afrikaners wat regeringsprojekte finansier, is alles simptomaties hiervan. Maar vir die eerste keer sedert 1994 word daar nou op ’n meer saaklike wyse gevra na wat in 1994 vir Afrikaners onderhandel is, en waar Afrikaners hulself vandag bevind. Die groeiende selfvertroue onder Afrikaners wat onder meer deur iets soos die “De la Rey”-verskynsel aangedui is, begin nou oorgaan in nuwe burgerlike, politieke energie. Toe prof. Pierre du Toit van die Universiteit van Stellenbosch reeds in sy professorale intreerede in 2002 gewys het op die sinrykheid van ’n opvolgskikking in Suid-Afrika te midde van die gewaarwording van gebreke in 1994 se skikking, het min Afrikaanse kommentators of briefskrywers en inbellers daarvan kennis geneem. Vandag is daar al hoe meer stemme wat pleit dat Afrikaners hulleself moet herkonstitueer en selfs ’n nuwe verhouding met die regering moet onderhandel. Waarom is daar onder Afrikaners ongelukkigheid oor hulle posisie in die Suid-Afrikaanse samelewing? Afgesien van die griewe waarna reeds hierbo verwys is, hou dit ongetwyfeld ook verband met twee ander sake. In die eerste plek word dit al hoe duideliker dat Suid-Afrika se liberale “model-Grondwet” nie die enigste instrument is waarmee verhoudinge in Suid-Afrika gereël kan word te midde van die oorheersing van die staatkundige toneel deur ’n Afro-nasionalistiese party nie. Die keuse om oudminister Adriaan Vlok en ander voormalige lede van die veiligheidsmagte strafregtelik te vervolg, kan byvoorbeeld verstaan word as die losbrand op ’n maklike teiken om politieke druk van die regering vir sy gebrek aan lewering af te lei. Hoewel veral Vlok oënskynlik nie besonder groot simpatie onder Afrikaners geniet nie, is dit duidelik dat baie, indien nie die meeste Afrikaners nie, hierdie besluit as uiters negatief ervaar. In die tweede plek is daar by Afrikaners vandag ’n duideliker behoefte om hulleself weer kollektief, demokraties en op universeel legitieme basis te identifiseer en te mobiliseer. Hiermee is niks verkeerd nie: inteendeel, dit kan ’n belangrike bydrae lewer om Afrikaners van hulle kollektiewe verlamming en onvergenoegdheid oor hul lot te bevry, én die demokrasie in Suid-Afrika versterk. Sodanige groter politieke betrokkenheid deur Afrikaners hang af van die nakoming van enkele voorwaardes. In die eerste plek kan Afrikaners nie hulle lot volledig in die hande van die partypolitiek oorlaat nie, ofskoon hulle ook nie daarom geheel en al van die partypolitiek kan wegtree nie. Sedert 1994 het Afrikaners binne verskillende politieke partye ’n belangrike rol gespeel om die gesag van die parlement in weerwil van die sentralisme van die regering te handhaaf. In die tweede plek sal Afrikaners onderling moet ooreenkom oor wat dit is waarvan ons vir onsself droom. Hierdie droom sal sonder twyfel ’n balans tussen selfstandigheid en interafhanklikheid met ander gemeenskappe en rolspelers in die samelewing moet vind. Die besinning oor die uitkomste van 1994 is ’n belangrike historiese onderdeel van hierdie besinning, maar nog belangriker is die droom oor hoe ons onsself wil herkonstitueer vir ’n nuwe toekoms as ’n voortreflike, demokratiese gemeenskap. Sonder ’n kollektiewe droom wat aan ons ons selfrespek kan teruggee en ons kan begelei in die soeke na Suid-Afrikaanse harmonie, sal ons nie vorder nie. In die derde plek sal Afrikaners uiteindelik ’n burgerlike liggaam moet hê wat nie net as forum vir die interne demokratiese gesprek onder ons kan dien nie, maar ook ons belange na buite in beskerming kan neem. Afrikaners hoef nie weens onderlinge politieke verskille van so ’n liggaam weg te skram nie. Om die waarheid te sê, kan dit ’n noodsaaklike rol speel om sodanige verskille onderling te besleg ter wille van groter strategiese samewerking. Enigiemand in Suid-Afrika wat vandag met Afrikaners in gesprek wil tree of wil saamwerk – en daar is baie sulke mense en instellings – moet ’n kollektiewe adres hê waar hulle ons kan ontmoet. Die Vrye Afrikaan het deurlopend in die drie jaar wat ons bestaan, gepoog om die gesprek oor ’n nuwe droom vir ons mense te stimuleer. Ons uitgewer, die FAK, is ook reeds geruime tyd in gesprekvoering met uiteenlopende organisasies en individue oor die stigting van ’n burgerlike liggaam. In die komende maande beplan die FAK om hierdie proses met nog groter energie vorentoe te neem, en sal ’n openbare inisiatief hieroor ook hopelik weldra aangekondig word. Intussen nooi ons alle Afrikaners wat idees en voorstelle vir ’n nuwe droom, en vir niks minder nie as die herkonstituering van Afrikaners het om ons uit die huidige malaise te lei, om deel te neem aan die gesprek. |