| ||||
Charles Malan
*Letterkundige en skrywer
Beste Pallo,
Daar was geen antwoord of selfs ontvangserkenning na my eerste versending van hierdie brief nie. Ek stuur dit nietemin weer, nou ook met ’n byvoeging oor NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum. Ek rig hierdie ope brief aan jou, nie om verder oor plekname te rumoer nie, maar om op ’n persoonlike vlak oor ooreenkomste en verskille tussen ons twee te praat. Teen hierdie tyd tuit jou ore en bokspring jou oë van die reaksie wat jy met jou uitlatings oor die Afrikaners en plekname ontketen het. Oor die besware hoef ek bloot sela te sê; ek wil aanvanklik eerder gesels oor die skeidslyne tussen “ons” en “hulle” wat ons vriend, die anti-apartheidsaktivis Ampie Coetzee, by jou aangetoon het. Ek en jy het in 1989 by die Victoria-waterval ontmoet toe ’n groep Afrikaanse skrywers met die verbode ANC gaan beraadslaag het. Ek was beïndruk met jou intellek, kultuursensitiwiteit en veral gematigde politieke standpunte. Jy was verbaas dat ek nie slegs van jou pa, die gevierde skrywer en taalheld A.C. Jordan, geweet het nie, maar inderdaad al in verskeie literatuuroorsigte oor hom geskryf het. Daarin is veral verwys na sy grootse roman, Ingquambo Yeminyanya, vertaal as The Wrath of the Ancestors, die viering van ’n trotse Xhosatradisie. By die beraad het jy verwys na mense wat jou goeie Afrikaans loof en jy het geantwoord dat jy dit elke dag hoor. Jy het ter afsluiting gehoop dat daar nog meer sulke berade sal wees, “not as Afrikaners and ANC, not as freedom fighters and Afrikaner writers, but as South Africans, as Africans, brothers and sisters, in our own country which we all love”. Jy, Pallo, het ons Afrikane genoem. Ons het meer gemeen gehad as wat ons sou kon vermoed. (Ons verjaar selfs albei op 22 Mei!) As hoof van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) by die RGN het ek gesorg dat daar heelwat publisiteit aan die soms sukkelende Afrikataalletterkundes gegee word. Tot vandag is dit die enigste en volledigste gepubliseerde oorsig. Afrikaans het daarin bloot naas die ander landstale plek gekry. Dit is ironies dat die hele grondslag van NALN, en dus ook direkte steun van die staat, deur die RGN prysgegee is om al die letterkundes van die land te akkommodeer. In die oorgang na ’n demokratiese bedeling het ons by die RGN uit eie beweging besluit om die eertydse Sentrum vir Afrikaans uit te faseer. Onder leiding van prof. P.J. Nienaber en dr. P.G. du Plessis was hierdie sentrum as ’n voorbeeld vir die hele land goed gevestig. Die grootste deel van die argief, boekery en navorsing het as gevolg van prof. Nienaber se ywer as NALN na Bloemfontein verskuif. SENSAL was ook daadwerklik betrokke by die uitbou van soortgelyke sentra, bv. die Xhosa-sentrum by die Universiteit van Fort Hare en die Engelse NELM in Grahamstad. Dieselfde soort steun word deur NALN aan ’n Xhosa-museum gegee. Onlangs het die bom oor NALN gebars toe dit bekend geword het dat die hele museum en sentrum deur provinsiale owerhede gerysmier word en dat hulle nie meer met hulle voortreflike werk sal kan aangaan nie. Jy is bewus daarvan dat daar landwyd ’n beweging aan die gang is om jou te laat ingryp om NALN te red en dit soos NELM onder sentrale regeringsbeheer te bring. Die hele aangeleentheid word in ’n seminaar op LitNet bespreek, by www.litnet.co.za. Die vraag is waar jy staan oor so ’n bate van nasionale belang. Dit bring ons terug by die ons/hulle-verdeling. Skaar jy jou by ons, die Afrikaanses (bepaald nie slegs Afrikaners nie), wat nie wil toesien hoe so ’n kultuurskat tot niet gaan nie, of by "hulle", die kultureel totaal onsensitiewe Vrystaatse politici wat NALN doelbewus ondermyn? Die beraad het dit duidelik gemaak dat ek en jy saam met medeskrywers en leiers hart en siel in die struggle was. Veral in die Afrikaanse Skrywersgilde het Afrikanerskrywers saam met kollegas van alle groepe toe al sedert die stigting in 1975, ’n jaar voor die Soweto-opstand, verbete teen apartheid, sensuur en die politieke misbruik van Afrikaans geveg. Ons het ook die wapen opgeneem, maar dit was nie ’n AK 47 nie, wel die magtigste een – die pen. By die beraad het die ANC gegons oor gerugte van die moontlike vrylating van Nelson Mandela, maar niemand wou dit glo nie. ’n Afrikaner het hom maande later vrygelaat. ’n Afrikanerregering het die mag aan “julle” oorgegee en bloot op die beskerming van minderheidsregte aangedring. Hoeveel van “julle” lag vandag daaroor? Lag jy ook oor “ons” goedgelowigheid? Wat voel jy oor die wyse waarop Afrikaans en Afrikanerbelange deur jou regering geminag word? Raak dit jou ministeriële portefeulje hoegenaamd? Moontlik onthou jy dat die Afrikaners destyds onwettig met “julle, die vyand en terroriste” gaan praat het, ook by Dakar. Ons is gewaarsku om geen dokumente van die Zimbabwe-beraad terug te bring nie, dit kon tronkstraf beteken. My huis is tydens my afwesigheid die heeltyd openlik vanuit ’n motor oorkant die straat dopgehou. Ek het nogtans na die beraad ’n positiewe artikel oor “julle, die vyand” in Rapport geskryf. Ek was eerlik verbaas dat julle so gematig en demokraties ingestel was. Die viktimisering het dadelik begin. Ek het kort daarna op die voorblad van dieselfe koerant geland op grond van vals inligting dat ek uit my pos geskop is. Ek is oral met agterdog bejeën. Ek was bly toe ’n denker soos jy in die belangrike en sensitiewe pos van Kuns en Kultuur aangestel is. Maar waar staan ek en jy vandag teenoor mekaar, Pallo? Ek as gewone Boer teenoor ’n vername maghebber wat veronderstel is om vir die hele land se kuns en kultuur te sorg? Laat ek gerus sê waar ek staan. Ek is nie ’n groot apologeet vir “die Afrikaner” nie, om die eenvoudige rede dat die benaming per (blanke) definisie ’n grens tussen my en my bruin en swart taal- en kultuurgenote en vriende in stand hou. Boonop is die konsep van hierdie enkelvoudige wit eenhoring-Afrikaner ’n mite, soos jy bevestig. Dit is nogtans ’n mite wat jou regering as ’n politieke werklikheid erken. My trots op my Boereverwantskap is ’n ander storie. Die Hugenoot-Malans is vanweë hulle stryd om godsdiensvryheid vanuit die Merindol-vallei na hierdie nuwe vaderland uitgedryf. Hulle was Franse en wit. Hulle Boerenasate het daarna soos jou voorvaders hier teen imperialisme om vryheid geveg. Hulle was Afrikane en nie meer suiwer wit nie. Ek is trots op die Khoisan- en slawebloed in my are, volgens die Heese-navorsers minstens 7% by die bekende Afrikanerfamilies. Ons het enorme respek vir julle opoffererings tydens die struggle waarin jy ’n belangrike rol as ANC-inligtingshoof gespeel het, want van alles opoffer, weet ons baie. My oupa het sy vrou en drie kinders binne drie weke in die konsentrasiekamp verloor. Hoewel net sy flenterklere vir hom oorgebly het, het hy tot met die Rebellie van 1914 ’n onwrikbare vryheidsvegter en rebel gebly. Ek was oor die genoemde redes onder die indruk ek en jy deel ’n wedersydse agting vir mekaar se geskiedenis, tradisies, taal, letterkunde en struggle in die naam van vryheid. Onthou jy dat julle vir ons saans by die beraad Boere-volksliedjies gesing het waarvan julle die lirieke in struggleterme verdraai het? “Afrikaners is plesierig en dan martel hulle so,” of so iets. Die Afrikanerskrywers het die hardste gelag. Met pyn. Gaan jy jou hande van die hele NALN-skandaal was omdat dit “’n provinsiale aangeleentheid” is en hulle maar die vuilwerk kan doen? Besef jy dat ’n instansie soos NALN in diens van ’n totale taal is, naas Xhosa en ander, en gewis nie slegs dié van die Boere nie. Die eenogigheid in die aanslag op die Afrikaanse historiese en kultuurerfenis is skreiend. Hoor jy iemand mor oor die mooi, welluidende Afrikataalname wat die hele land vol is? Laat jy ook Engelse plekname met rus bloot omdat daar nie “klagtes en voorstelle” is nie? Wil jy hê Afrikaners moet eers ook daaroor mobiliseer en kla, soos hulle (saam met swartes) oor die name Pretoria en Potchefstroom optogte hou? Wanneer gaan jy besef dat verreweg die meeste Afrikaners die Madiba-ideaal van vreedsame naasbestaan heelhartig aangegryp het en geen stryd met die plekname, tradisies en herdenkingsimbole van enige ander bevolkingsgroep het nie? Waarom voel Afrikaners dat jy ons nogtans nou soos vername burgemeesters vir wraakvergelding uitsonder, asof ons almal apartheidsondaars was en julle tradisies en name geminag het? Waarom voel ons dat juis jy as ’n kultuurgevoelige denker nou in sommige opsigte in ’n magsbehepte ANC-kader verander het en “die Boere op hulle plek sal sit”? Napoleon het gesê die oorwinnaars skryf die geskiedenis. Is dit veral jou rol, in die besonder met plekname wat jy moet herskryf? Ek dink wel diegene wat “julle” van ’n komplot teen die Afrikaner verdink, is polities naïef. Julle het nie komplotte nodig nie. Pallo Jordan gaan sit Sondagmiddag as hy kans kry en dink: Lydenburg het niks met swart lyding te doen nie en dis Afrikaans. Hy trek ’n kruisie oor die naam. Punt. Hy weet wat die meerderheid dink. Ek weet nie wat intussen met jou gebeur het nie, Pallo, maar ek herken baie min van die man wat saam met almal by die beraad so sterk oor versoening en saam bou aan ’n demokrasie gevoel het. Jy prewel nog ’n paar mooi woorde oor die belangrike rol van die Afrikaner, maar jou dade sê baie min van versoening. Almal weet, jy het reeds besluit. Dit sal die stede Tshwane en Tlokwe wees. Jy speel nog net rustig soos ’n groot kat met die klein Boeremuis. Jou baie geldige verskonings dat daar vertragings oor besluite in diens van deursigtigheid en raadpleging is, raak ongelukkig naderhand ’n bietjie belaglik. Hoeveel daarvan was ter sprake met die vinnig ingesmokkelde verandering van die O.R. Tambo-lughawe? Hoeveel optogte of petisies sien jy wat aandring dat Afrikaanse name nou moet verander? Het jy ’n goddelike oor wat die mening van “die meerderheid” kan peil? Ek was die projekleier van die landwye RGN-ondersoek na nasionale simbole wat pas voor 1994 voltooi is. Daar is tot almal se verbasing bevind dat swartes geen sterk negatiewe gevoelens oor die ou volkslied en vlag gehad het nie. Dit was bloot “iets van die wittes” en nie vir hulle relevant nie. Ek wil jou graag uitdaag om ’n blitspeiling onder swartes in geteikende stede te laat doen. Die vraag moet wees of hulle die miljoene rande koste van naamsverandering daarvoor wil gebruik, of vir die verbetering van infrastruktuur en dienste. Die peiling sal ’n fraksie van die naamsverandering kos. Daarna eers kan jy vir ons statisties met gesag bewys wat die meerderheid wil hê. Die swartes wat op Potchefstroom baniere teen verandering saam met wittes geswaai het, het moontlik reeds vir jou ’n aanduiding van die uitslag gegee. Maar ons almal sal jou onafhanklike konsultant glo. Beslis nie jou gedienstige SABC wat ten spyte van bevele teen hulle reeds lank die naam Tshwane pleks van Pretoria prewel om die nasie te kondisioneer nie. Kom die opdrag van jou, soos destyds van P.W. Botha? Jy skuld die stemvee daar buite ’n antwoord of jou eie woorde die uitgangspunt vir jou beleid is en sal wees: die meerderheid sal regeer; die besluit oor name is van ’n politieke aard; die Afrikaners is nie een groep met een stem nie (dus geen stem nie?); hoekom moet daar ’n kompromis wees? Jy het wel in Rapport op sommige punte van kritiek gereageer en juis in Afrikaans; “ons” waardeer dit. Slegs deur gesprekvoering kan die brug na "die ander" gebou word. Ironies genoeg gebruik jy egter die repliek om die wig tussen “ons” en “julle” dieper in te dryf. Natuurlik is jy reg dat daar nie ’n homogene, enersdenkende groep soos die Afrikaners met ’n enkele spreekbuis bestaan nie, ewe min as ’n groep soos die Xhosas. Beteken dit egter dat die groot gros gematigde Xhosas wat geprotesteer het toe hulle regte deur die apartheidsbase vertrap is, eintlik ’n regse/linkse groep was wat nie namens hulle groep kon praat nie en dus na regte moes swyg? Eintlik hoef jy glad nie op hierdie vraag te antwoord nie, want volgens jou uitgangspunte op skrif het die Xhosa-meerderheid in die regering nou in elk geval die volste reg om hulle wil op alle minderhede af te dwing. Lank lewe versoening en demokrasie! Ek het nog altyd geglo kuns en kultuur het die vermoë om nuanses en sensitiwiteit ter sprake te bring waar brutale magspolitiek nie kan nie. Dit kan simbolies help versoen en deur wedersydse begrip na weerskante help toegee. Glo jy dit? Moet die Afrikaners aanvaar jou vermoë om helse onmin en rassespanning te veroorsaak, is so eenvoudig soos die kruisie wat jy Sondagmiddag oor ’n naam trek? Ek hoop nie so nie. Mag die gapings wat daar tussen jou en my sienings van mekaar se posisies na 13 jaar van demokrasie ontstaan het, tog maar net nie ’n weerspieëling wees van dit wat in die land aan die gebeur is nie. Ek het ’n aaklige vermoede dit is.
Groete, Charles |