blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Wat is transformasie? Naamgewing as stellingname 2007-08-13
F.I.J. van Rensburg

*Redakteur van Afrikaans, lewende taal van miljoene, (Van Schaik: Pretoria, 2004).

 

In die normale loop van sake kry ’n mens vroeg in jou lewe ’n naam. Die doel daarvan is om jou as individu tussen ander individue te identifiseer. Jy het geen aandeel aan die benoeming gehad nie.

Dis egter nie ’n wet van Mede en Perse dat jy vir die res van jou lewe met dié naam opgesaal sal wees nie. Jy kan dit wetlik laat verander, byvoorbeeld omdat jy onaangename ervarings aan die hand daarvan beleef, soos spot daarmee. Die nuwe naam verteenwoordig ’n stellingname: ek wil nie meer met dié naam geassosieer wees nie.

Dis al ’n geruime tyd dat daar ’n lewendige, soms heftige debat oor naamgewing en naamsverandering in die land aan die gang is, met as inset die vasstelling van ’n gepaste naam vir ’n gevestigde inwoner van die RSA, een wat terselfdertyd ook toepaslik sal wees vir die groter ruimte: die vasteland Afrika. Dit gaan om ’n keuse tussen twee name: Afrikaan en Afrikaner – ander name wat dalk vroeër was, vir die doel van dié gesprek buite rekening gelaat.

Dis twee name wat van vroeg in die vestiging van ’n Nederlandse nedersetting aan die Suidpunt van Afrika in omloop was.

In korrespondensie tussen die Here Sewentien en die Kaapse bestuur is daar na die plaaslike inwoners, eers die Khoi-Khoin, later ook ander stamme, verwys as Africanen. Later, na die invoering van slawe en die vrystelling van sommiges wat aan die Kaap gebore is, is daar na sekere slawe en vryswartes verwys as Africaanders.

Na gelang burgers dieper die land ingetrek het, weg van die gesag van die Kompanjie, het hulle die naam Africaander ook vir hulle toegeëien. Dit was ’n bewuste stellingname: nié meer Nederlanders nie, nie meer aan Kompanjiesgesag onderworpe nie.

’n Episode ’n halfeeu na 1652 bevestig dit. Op Sondag 6 Maart 1707 maak vier jongmanne, onder andere die sewentienjarige Hendrik Bibault, amok in die strate en die meule van Stellenbosch. Die landdros, die Duitser Johannes Starrenburg, kom daarop af. Die groep spat uitmekaar, maar Bibault word met ’n rottang bygekom. Hy gaan soek skuiling in die meule, waar baie skade aangerig was.  Hy (Starrenburg) probeer die seun oorreed om stil huis toe te gaan, maar word toegeskreeu: “Ik wil niet loopen, ik ben een Africaander, al slaat den Landdrost myn dood, of al setten hy myn in den tronk ik sal, nog wil niet swygen.” Hy en sy trawante is in die tronk gestop en ’n maand later in die openbaar lyfstraf toegedien. Hy is waarskynlik na Batavia gestuur, waar hy in die newel van die geskiedenis verdwyn het.

Latere taalkundiges was veral geïnteresseerd in die taal wat Bibault gebruik het, omdat dit moontlik lig kon werp op die vraag in verband met die ouderdom van Afrikaans as taal.

Daar is egter ’n ander faktor wat nie die nodige aandag ontvang het nie, naamlik waarna Bibault met die woord “Africaander” verwys het: na die Kaap of na die vasteland Afrika?

Die sterkste moontlikheid is laasgenoemde, naamlik dat hy (die seun van ’n arm Duitser) wat in Afrika gebore is, op ’n rowwererige manier aan die Duitser Starrenburg oorgedra het: “Dis nie meer Europa hier nie, maar Afrika. ’n Ander toedrag geld hier.” Dis sterk waarskynlik dat sy robuuste reaksie op Starrenburg se optrede aangevuur is deur die tyding wat kort vantevore die Kaap bereik het dat die Bewindhebbers in Amsterdam die Kaapse burgers gelyk gegee het in hul klagtes teen Goewerneur Willem Adriaan van der Stel en dat hy ontslaan is.

Met die aanvaarding van die naam Afrikaner deur al meer koloniste het dit nie beteken dat die naam Afrikaan in die doofpot beland het nie. Saamlopend met veranderinge in die politieke en sosiale situasies in die land het die twee vir jare rustig naas mekaar bestaan, met die klem beurtelings op die een of die ander, maar met ’n toenemende deurslag na die kant van Afrikaner.

Net enkele voorbeelde van ’n paar mylpale. Vier jaar na die vestiging van die Britse setlaars in 1820 verskyn die eerste Kaapse koerant: The South African Commercial Advertiser. Ses jaar later (1830) maak De Zuid-Afrikaan sy opwagting. Dit was ’n kragtige mondstuk vir Afrikanerbelange, maar tegelykertyd ook ingestel op goeie bevolkingsverhoudings. Moontlik wou die woordlid “–Afrikaan” daarop dui: die een wat nader aan die Engelse “African” staan as aan “-Afrikaner”.

Byna negentig jaar na 1830, in 1924, kom die Nasionale Party onder leiding van Generaal Hertzog aan die bewind. Met die naam Afrikaner het hy konsekwent verwys na Afrikaners én nasionaalvoelende Engelssprekendes.

Sewentig jaar later, in 1994, het die politieke situasie opnuut verander. Dié keer grondiger as ooit vantevore - “grondiger” gesien die faktor waarna Thabo Mbeki in sy rede by die aanvaarding van die nuwe Grondwet verwys het: “the great masses who are our mother and father”. Die stellingname is hierdie keer gesein deur die naam “African”, die ekwivalent van “Afrikaan”, pertinent nié van die naam “Afrikaner” nie, ’n term wat die Engelssprekende gemeenskap en hul kommunikasiekanale reeds vir jare gebruik het in hul verwysing na hul mede-Suid-Afrikaners (“the Afrikaners”, “an Afrikaner”).

Twee uitsprake van Mbeki, ’n paar jaar uitmekaar en voor hy President geword het, het die gees gesimboliseer waarin die nuwe era gehanteer sou word. Die eerste was die woorde waarmee hy hom in 1987 aan die oorwegend Afrikaanssprekende groep Dakargangers voorgestel het: “I am Thabo Mbeki. I am an Afrikaner.” Sewe jaar later, by geleentheid van sy rede as Vise-President by die aanvaarding van die nuwe Grondwet waarna reeds verwys is, stel hy hom in sy kapasiteit as vise-President só voor: “I am an African.”

Toe hy President geword het, het hy dit spoedig duidelik gemaak dat hy twee doelwitte in sy visier het: Apartheid-Suid-Afrika en ’n verskeurde Afrika. Apartheid moet met wortel en tak uitgeroei word, en Afrika moet tot ’n eenheid saamgesnoer word.

Wat eersgenoemde betref, het taal ’n belangrike rol gespeel. Omdat taal ’n saambindende funksie kan vervul, maar ook ’n ontwrigtende rol kan speel, is dit nodig gevind om Afrikaans tot sy “verdiende proporsie” terug te snoei. Dit was immers die medium waardeur die apartheidsbeleid geadministreer is.

In naam van dié doel sou dit geregverdig wees om met die Grondwet se taalbepalings rekkelik om te gaan - Afrikaners sal vanweë ’n skuldgevoel nie maklik tot litigasie oorgaan nie.

Dis vanuit dié denkraamwerk dat, wanneer dit nodig geag word, Afrikaans as ’n Europese taal voorgehou kan word; ander kere, as die taalpolitieke situasie dit benodig, bloot as een van tien inheemse tale, en wat dus nie kan saampraat met ’n internasionale taal soos Engels nie.

Dit alles terwyl Afrikaans iets unieks tussen die elf amptelike tale verteenwoordig. Dis ’n taal wat, gespruit uit die Europese taal Nederlands, sy beslag op die vasteland van Afrika gekry het. Afrikaans word in kundige internasionale linguistiese gemeenskappe beskou as een van slegs vier tale wat in die twintigste eeu tot volwaardige kultuurtaal uitgegroei het, onder meer op grond van die gehalte van sy letterkunde. Van al die plaaslike tale, plaaslike Engels ingesluit, is dit die een waarmee daar oor die jare die intensiefste gewoeker is. Dit beskik oor al die infrastrukture waaroor ’n amptelike taal behoort te beskik, opgebou in die meer as sewentig jaar van funksionering saam met Engels as amptelike taal van die land toe daar net twee amptelike tale was.

Dié feite hou belangrike implikasies in vir die RSA se amptelike buitelandse en binnelandse taalbehoeftes. Die twee sfere verskil aanmerklik. Binnelands beklee Engels as ’n moedertaal slegs die vyfde plek op die lys van amptelike tale. Dit word oortref deur Zulu, Xhosa, Afrikaans en Noord-Sotho, in dié orde.

Ten spyte hiervan word die buitelandse toedrag deur die Regering op die binnelandse situasie afgeforseer, in flagrante konflik met sommige van die Grondwet se taalgebruiksklousules, pertinent met subklousule 6(3)(a) met sy bepaling dat op nasionale en provinsiale vlakke die owerhede minstens twee van die elf amptelike tale móét gebruik. Afrikaans en die nege inheemse Afrikatale is op die oomblik prakties uit die openbare oog verwyder.

Dit maak natuurlik sin om Engels as brugtaal tussen die RSA en die buitewêreld te benut en dat dit daarom ook op binnelandse vlak ’n brugtaalfunksie kan vervul, maar hoegenaamd nie as primus inter pares (voorste onder die gelykes) nie. Dit het egter net soveel sin om Afrikaans as binnelandse brugtaal te benut -  “brugtaal” in die betekenis van ’n taal wat op groot skaal deur ander taalgemeenskappe verstaan word. Saam met Engels as plaaslike brugtaal word meer as 80 % van die bevolking bereik.

Soos reeds aangedui, is Afrikaans ’n besonder goed toegeruste taal om op topvlak te funksioneer. Dit het meer as sewentig jaar se slyping as amptelike taal agter die rug. Deur dit af te skaal, sal beteken dat dit as gevolg van die gebrek aan voortgaande blootstelling aan ’n wye reeks van slypende situasies dié geleentheid moet ontbeer. Dit kom neer op die toelating van taaldegenerasie, iets waarteen die gees van die Grondwet sterk gekant is. Op dieselfde manier moet na die grootste van die inheemse Afrikatale gekyk word.

Met dit as die konkrete situasie, ontstaan die vraag: Waarom die vinnige afname in die Afrikaanse gemeenskap van die gebruik van die naam Afrikaner vir ’n gevestigde inwoner van Afrika en die byna volledige oorname daarvan deur Afrikaan?

Dis ’n proses wat reeds voor 1994 begin het. ’n Kragtige impuls was globalisering. Globalisering het spoedig uitgekristalliseer as ’n klub van en vir grotes, “groot” gesien as ’n waardekategorie. Daar was nie meer plek vir kleiner tale nie. Ook nie vir klein dink nie. Daar moet nie net regionaal gedink en gehandel word nie, maar by voorkeur kontinentaal. Dus: nie “Afrikaner” met sy koppeling aan slegs een deel van Afrika, Suid-Afrika, nie, maar “Afrikaan”, met sy koppeling aan Afrika as ’n geheel.

Onder invloed hiervan het baie Afrikaners, getrou aan ’n erflike slapknie-sindroom, van die naam “Afrikaner” begin wegstaan. Dit was ’n stapsgewyse proses: eers “Afrikaanssprekendes”, gaandeweg “Afrikaanstaliges” en uiteindelik die linguisties-vreemde “Afrikaanses” (’n individu sal immers “’n Afrikaanse” moet wees), met as voorfinale stap die omhelsing van “Afrikaan”, dus sonder kwalifikasie (soos in Die vrye Afrikaan) en uiteindelik die finale omarming: “ons gedeelde Africanness”, soos ’n Wes-Kaapse jeugkommisaris hom en sy swart kollegas se taalsiening getipeer het op die onlangse Stellenbosse Woordfees. (Rapport, 25 Maart)

Globalisasie alleen kon egter nie dié radikale verandering teweeggebring het nie. Die apartheidsbeleid wel.

Onder die leiding van ideoloë sonder inlewingsensitiwiteit is ’n stelsel ontwerp wat namelose ellende vir miljoene mense meegebring het. Daar is net vasgekyk teen die riskante situasie van ’n klein volk binne ’n massiewe getalsoorwig van mense van ander kleur en kultuur. Deur bloed en kleur as etiese norme aan te wend, is selfs bloedbroers en kultuurgenote opsygestoot. Dit het ’n klad op die naam Afrikaner, en daarmee saam op Afrikaans as taal agtergelaat.

Sonder egter om iets daaraan af te doen, is dit nodig om die twee aspekte te kontekstualiseer; ook om te onderskei tussen geregverdigde en ongeregverdigde aanklagte wat in die loop van die tyd teen die beleid ingebring is.

·            Afrikaners was nie “die argitekte van apartheid” nie, veral nie van administratiewe apartheid nie. Dit staan op die rekening van Engelse administrasies in gebiede van die land waaroor hulle vroeër jurisdiksie gehad het. Wat wel tot bestaande apartheidspraktyke toegevoeg is, was optredes wat tot in die mees intieme fasette van menslike lewe ingegryp het. Mense is tot in hul fundamenteelste menslikheid verneder. Terselfdertyd is hul geleenthede vir intellektuele vordering en materiële verdienste geknot.

·            Die apartheidsbeleid is nie net deur blanke Afrikaners geadministreer nie, maar ook deur swart, bruin en wit amptenare.

·            Nie alle Afrikaners het die beleid ondersteun of goedgekeur nie. Meer as een Afrikaner-intellektueel, maar veral kunstenaars, en in die besonder skrywers, het hulle openlik daarteen uitgespreek, ten spyte van verwerping en selfs teistering. ’n Besondere baken in dié proses was die stellingname van Van Wyk Louw, lynreg in teen die Regeringsbeleid, in sy Voorwoord tot eerwaarde D.P. Botha, Moderator van die bruin Sendingkerk, se epogmakende boek Die opkoms van ons derde stand (1960): “Die bruinmense is óns mense, hóórt by ons ... (Ek het) ’n innige begeerte - nee, ’n hartstogtelike wil - dat my volk, blank en bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan ... Ek weier om die bruinmense te sien as net handearbeiders, ‘arbeidsbron’. Ek wil hom ook sien as winkelier, geleerde, amptenaar, staatsman, klerk, dokter ... bowenal as gewone mens tussen sy medemense.”

·            Die beleid is nie net deur medium van Afrikaans geadministreer nie, maar ook deur medium van Engels. Engelse ministers het in die kabinet gedien. Kabinetsvergaderings in Engels was nie ’n uitsondering nie.

 

Was dit nie vir die apartheidsbeleid nie, was die naam Afrikaner ’n besonder gepaste naam vir ’n gevestigde inwoner van die vasteland Afrika. Dis ’n naam wat linguisties korreleer met dié van die ander vastelande: Amerikaner, Europeër, Asiër en Australiër. Die plaaslike Engelssprekendes gebruik dit al jare vir hul Afrikaanse medelandgenote (“the Afrikaners”, “an Afrikaner”). Hulle is gemaklik daarmee.

Maar: “het mocht niet zijn”. Die voorkeur van Afrikaleiers gaan uit na ’n naam van die voormalige koloniale moondheid, dus “African”. Na dié leiers verwys Ali Mazrui, hoogaangeskrewe Keniaanse taalkundige en denker, as “Afro-Saxons”. “Hierdie elite, soos verpersoonlik deur president Thabo Mbeki”, sê Hermann Giliomee, “is amper ’n eie etniese groep. Hulle het hulleself gestroop van etniese andersheid of besondersheid. Hulle het die Brits-Amerikaanse kultuur aanvaar, praat ’n Engels deurspek met progressiewe sosiologiese terme en bevorder die belange van die swart middelklas onder die sambreel van bevryding, bemagtiging en transformasie” (Die Afrikaners).

Hoewel dit nie spesifiek oor taal alleen handel nie, sluit die boek van die Nederlandse joernalis en skrywer Geert Mak, In Europa, by Giliomee aan. Om ’n beeld te vorm van wat Europa in die twintigste eeu was, het hy vir ’n belangrike deel sy informasie van grondvlakmense gekry, eenvoudige mense wat van die historiese gebeurtenisse meegemaak het. Die opsomming van sy leeswerk en informasie op grondvlak lui soos volg:  “Die swakheid van Europa, diversiteit, is tegelyk haar groot krag. Europa as vredesproses was ’n klinkende sukses. Europa as ekonomiese eenheid is ook ’n stasie op die weg. Maar uiteindelik is die Europese projek tot mislukking gedoem as daarnaas nie vinnig ’n gemeenskaplike kulturele, politieke en bowenal demokratiese ruimte ontstaan nie.” Die bedoeling met laasgenoemde faktor is: ’n demokrasie van nie net een party, en dié as heersende, nie, maar een van ’n verskeidenheid partye wat so veel moontlik in besluitneming betrek word.

Sleutelbegrippe in Mak se gevolgtrekking is eenheid en verskeidenheid. Die slagspreuk van Mbeki en ander Afrika-ideoloë vir Afrika is: eenheid in verskeidenheid, met die klem op eenheid. Die begrip verskeidenheid in eenheid, met die klem op verskeidenheid, word byna as verraad teenoor die land en die vasteland beskou. Tog lê die positiewe toekoms van ’n land en op die duur die vasteland waarskynlik in die afstemming van die twee op mekaar. Saam kan hulle ’n slaafse, gehoorsame enersheid enersyds, en die gevaar van skadelike verbrokkeldheid andersyds, vermy deur die twee in ’n dinamiese eenheid te betrek. Afrika is egter te groot vir so ’n konsep, minstens op die oomblik, en dit sal waarskynlik meer realisties wees om op regionale vlak te konsentreer. In die geval van die RSA sou die naam vir ’n gevestigde inwoner dié kan wees wat Van Zyl Slabbert in sy gelyknamige boek aan die hand gedoen het: ’n “Afrikaner Afrikaan”. Dit is ’n sintese van die twee oudste Afrikaanse name vir Suid-Afrika. Ander regio’s in Afrika wat basies op ’n gemeenskaplike kulturele basis rus, sou dié resep kon volg, byvoorbeeld ’n Arabiese of ’n Ekwatoriale of watter ander subgroep daar ook al mag wees.

In die lig van dit alles hoef President Thabo Mbeki hom nie te skaam vir sy vroeëre stellingname “I am an Afrikaner” nie. Dit was ’n skep uit ’n outogtone bron.

Afsluitend, met die oog op die huidige probleme met die samesnoering van die twee grootste Afrikaanstalige gemeenskappe: ’n Klein krygsmag wat oor goeie verdedigingstellings beskik, kan ’n groot oormag tot die vredestafel dwing deur van ’n gemeenskaplike strategie gebruik te maak. Deur afsonderlike strooptogte op die oormag uit te voer kan albei sistematies uitgewis word. Guerillataktiek is nie meer die aangewese strategie vir die huidige tyd nie. Die klein antieke Griekeland het dit in sy stryd teen die massale oorwig van die Persië bewys en dit as voorbeeld vir lateres nagelaat. Dié volk en sy taal bestaan vandag nog, terwyl ’n groot deel van die wêreld leef vanuit die groot konsepte wat hulle uitgedroom het. Dit sou vandag nog steeds gedoen kan word.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=892
Artikel nagegaan:
    -