blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Hulle was ook ons: JMT ‘Lappies’ Labuschagne: humanis en liberale nasionalis 2007-08-13
JMT Labuschagne

*Regspraktisyn en skrywer

 

1

 

Op 18 Julie 1941 word Johan Martin Trotske Labuschagne te King Williamstown gebore as die seun van Johan Martin Trotske Labuschagne (na wie hy vernoem word) en Johanna Philipina Labuschagne (née Terblanche). My Oupa was werksaam as ’n onderwyser en later as skoolhoof, en gevolglik trek hulle na Heidelberg, waar my Pa sy skooljare deurbring en ook matrikuleer.

As kind was hy baie lief vir sport en het aan verskeie sportsoorte deelgeneem. Hy was veral lief vir balsporte, hoofsaaklik tennis en krieket, maar het ook deelgeneem aan atletiek. Op skool leer almal hom ken, nie as Martin soos wat hy gedoop is nie, maar as Lappies – soos maar die gewoonte is as jou van Labuschagne is. Hierdie naam sal sy naam bly vir die res van sy lewe, en dit sou net veraf-verwante familie wees wat hom Martin genoem het. As kind was hy baie diep met homself besig en dit is ook hoe hy later as mens sou ontwikkel: ’n denker wat diep in die psige van die mens sou soek.

Ofskoon hy ’n groot navorser sou word, was hy in sy kinderjare nie ’n groot leser nie. Sy belangstelling was by sport en by natuurwetenskap. Gedurende sy matriekeksamen in 1959 behaal hy drie onderskeidings: vir Natuur- en Skeikunde, Afrikaans en Wiskunde. Ofskoon hy uitgeblink het in die natuurwetenskappe, het hy dit nooit oorweeg om verder in die rigting te studeer nie, want sy belangstelling was altyd by mense gewees en nie in abstrakte of “dooie” dinge nie. Gevolglik, na sy 6 weke diensplig in die weermag, gaan studeer hy Regte aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Potchefstroom het ’n naam gehad as die “Dopper”-universiteit van Suid-Afrika en was dan ook vir hom, wat in die Gereformeerde Kerk gebore en gedoop is, ’n natuurlike keuse.

Sy universiteitsjare onthou hy altyd as ’n sorgelose tyd en ’n wonderlike ervaring. Hy en sy maats kon mekaar vir ure besig hou met stuitighede, en op kampus was hy ook ’n gewilde figuur. Hy het nie net in sport gepresteer nie, maar ook op akademiese gebied. Destyds kon ’n student, wanneer hy ’n uitsonderlike goeie jaar- of semesterpunt behaal het, promoveer: met ander woorde, hy kon na die volgende jaar of semester gaan sonder om die eindeksamens te skryf. Dit het inderdaad ’n paar keer gebeur dat my Pa sy jaar of semester gepromoveer het.

Gelyklopend met sy kursusse in die regte studeer my Pa ook aan ’n graad in Toegepaste Antropologie. Hy behaal benewens sy BLC- en LLB-grade ook ’n BA- en Honneursgraad in Toegepaste Antropologie, of soos dit destyds genoem is, Volkekunde. Na die grade doen hy dan ook sy Meestersgrade in beide Regte en Antropologie, asook doktorsgrade in beide vakgebiede. In sy LLD-graad skryf hy ’n verhandeling oor die Verkragtingsreg, en sy Doktorsgraad in Toegepaste Volkekunde doen hy op die gebied van Naturelle Administrasie, soos die vakgebied destyds bekend was.

Na sy studies aanvaar hy ’n betrekking as staatsaanklaer en later ook as staatsadvokaat. Hy vervolg in die Hooggeregshof te Johannesburg verskeie misdadigers en raak betrokke by opspraakwekkende sake waarin reeksmoordenaars en verkragters betrokke was. Gedurende sy loopbaan van twee jaar vervolg hy verskeie mense suksesvol en slaag daarin om 16 mense die doodstraf te laat oplê. Dit is dan ook ironies dat hy gedurende sy latere jare as akademikus sterk teen die doodstraf gekant was.

Gedurende hierdie tydperk ontmoet hy ook sy lewensmaat, Anna Maria Elizabeth Opperman, te Ararat Jeugsentrum. Hulle ontmoet mekaar by die tafeltennissaal en speel teen mekaar. Sy wen hom ’n paar keer, en ’n romantiese verhouding ontstaan tussen hulle. Hulle is op 2 Mei 1970 getroud, en twee kinders word uit die huwelik gebore, ek self (Johan Martin Trotske) en Johan.

In 1970 aanvaar hy ’n pos as senior lektor aan die Universiteit van die Noorde en later ook aan die Universiteit van Port Elizabeth. Sy akademiese loopbaan begin egter eers in alle êrns toe hy aangestel word as professor en hoof van die Departement van Inheemse Reg aan die Universiteit van Pretoria, waar hy vir 29 jaar werksaam was.

Gedurende dié tydperk lewer hy ’n ernome uitset aan navorsingswerk in die vorm van artikels en vonnisbesprekings wat (byna almal) in geakkrediteerde tydskrifte soos die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg en ook die Stellenbosch Regstydskrif, gepubliseer word. Tot op die dag van sy dood het daar 556 publikasies uit sy pen gevloei. Hy ontvang die gesogte Alexander von Humboldt-beurs in 1981 en gaan vir ongeveer 9 maande na Duitsland om navorsing te doen aan die Max Planck-Institut für Ausländisches Offentliches Recht und Völkerrecht te Heidelberg. Daarna gaan hy nog agt keer oorsee om navorsing by vermelde instelling te doen.

Hy ontvang ook drie navorsingstoekennings van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, ’n beurs vir oorsese studie van die Getrouheidswaarborgfonds vir Prokureurs, Notarisse en Aktevervaardigers en ook nege navorsingstoekennings van die Universiteit van Pretoria. Sy laaste besoek was aan die Ludwig- Maximilians-Universität te München in 2003.

My Pa reis deur verskeie dele van die wêreld soos die VSA, Duitsland en België. Hy maak ook toere mee na lande soos die Oekraïene, Egipte, Frankryk, Switserland, Italië en Spanje. Die ervarings verbreed sy verwysingsraamwerk en dit vind ook neerslag in sy akademiese skryfwerk.

Benewens beurse ontvang my Pa ook jaarliks die gesogte toekenning vir uitnemende akademiese presteerders van die Universiteit van Pretoria sedert die instelling daarvan in 1989. Hy het verder tien doktorale studente gedurende sy leeftyd gehad en was by 37 doktorale proefskrifte ’n eksterne eksaminator. Hy dra by tot die instelling van drie nuwe kursusse aan die universiteit, te wete navorsingsmetodologie vir regstudente, regsantropolgie en sportreg.

Vir ongeveer vyftien jaar was hy redaksielid van die regstydskrif De Jure en het ook by geleentheid opgetree as redakteur en assistant-redakteur. Hy was verder betrokke by die volgende vaktydskrifte: as konsultant-redakteur vir die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Strafregpleging, as adviseur op ’n ad hoc-basis vir die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Etnologie en Obiter, en as medewerkende redakteur vir die Tydskrif van Regswetenskap.

Buiten redaksionele poste was hy ook vir byna drie dekades lank lid van die Komitee vir Inheemse Reg, die Appélraad oor Publikasies, die Raad van die Sentrum vir Kinderreg en die Sentrum vir Inheemse Reg.

Hy was die skrywer van 150 kort radiodramas vir twee radiostasies van ’n program getiteld “Wat sê die Reg?” Die program het in die vorm van verhale regskonsepte aan die breë bevolking verduidelik.

In 2004 word my Pa baie siek en word hy opgeneem in die hospitaal. Kanker word by hom gediagnoseer, en die prognose was baie sleg. Binne die bestek van net meer as twee weke later is hy in die vroeë ure van 8 Mei 2004 oorlede.

 

2

 

Noudat ’n mens kortliks sy biografie beskou het, kan ’n mens sy idees in besonder bekyk.

Wat my Pa ’n interessante studie vir die Afrikaanse geskiedenis en regswetenskap maak, was sy idees as denker. Hy het nie net ’n impak gehad binne regskringe nie, maar was ook ’n filosoof in ’n meer algemene sin.

Eerstens was hy ’n regsewolusionis. Vir hom was die veranderinge in die reg regstreeks verbind met veranderinge in die menslike psige. Anders as die meeste regswetenskaplikes het hy die mens vanuit ’n regsantropologiese perspektief beskou en het die verandering binne die reg gesien as veranderinge binne die gemeenskap wat volgense ewolusionêre beginsels voortgedryf word.

’n Belangrike kenmerk van sy regsfilosofie was sy geloof in die rasionaliteit agter die prosesse van ewolusie. My Pa het groot vertroue gehad in die vermoë van die menslike rede om die reg te verken, maar het nie geglo dat die mens onmiddellik ontwikkel by die implementasie van die rede nie. Dit was ’n proses wat eeue duur, maar waarvan die begin nie gestuit kan word wanneer die proses eers ontlont het nie. Volgens my Pa (in pas met die groot sielkundige en sosiologiese geeste van die twintigste eeu) word die mens beheer deur ’n onderbewuste wat bestaan uit argaïese drange en argetipiese idees. Buiten die Freudiaanse onderbewuste het die mens ook ’n rede, wat reeds in ’n baie primitiewe stadium by die eerste aapmense aanwesig was.

Die ontwikkeling van die rede geskied ooreenkomstig noodgedwonge, universele patrone, en die proses daarvan kan nie deur die mens gekniehalter word nie. Kniehaltering kan natuurlik vir ’n tydlank plaasvind, maar die rede sal op die ou einde deurbreek. Drange en argetipes word ontvorm met verloop van tyd en namate die menslike rede ontplooi. ’n Voorbeeld hiervan vind ’n mens in die verskynsel van die geloof in toorkuns.

Die konsep van toorkuns is aanwesig in alle premoderne gemeenskappe. Vroue word grotendeels geteiken as besitters van hierdie vermoë, omdat premoderne mense aanvanklik nie die verband tussen geslagsomgang en swangerskap geken het nie. Vroue kon op ’n onverklaarbare wyse lewe “skep” en dit het mans bevrees gemaak. Na gelang die mens se rede en kennis ontwikkel het, het die aanvanklike vrees verplaas geraak van die “onverklaarbare” vermoë om lewe voort te bring na die vermoë om ander vorme van towery of heksery te bedryf.

Die beskuldiging van towery het ook te make met die mens se aanvanklike onvermoë om natuurverskynsels te verklaar. ’n Voorbeeld wat my Pa altyd gebruik het is dat wanneer in die premoderne swart gemeenskappe ’n bees deur weerlig doodgeslaan word, die “oorsaak” van die weerlig gesoek word in ’n menslike agent. Iemand het die eienaar van die bees getoor en dit het die skade veroorsaak. Die sangôma sal dan in hierdie geval ontbied word om te kom uitwys wie die skuldige party was. Omdat sodanige gemeenskappe glo dat ’n mens towery in jou slaap kan bedryf, ontkom so ’n persoon nie sommer aan ’n beskuldiging van towery nie.

Hierdie gebruik om mense uit te wys, wat op ’n magiese wyse skade veroorsaak aan ander, ontwikkel gelyktydig met die ontplooing van die rede, maar word stadigaan deur die rede verdring. Kennis verklaar toenemend natuurverskynsels, sodat die geloof in die magiese vervaag.

Wat die rede betref, waarmee menseregtekonsepte vertolk word, word dié met die ontwikkeling daarvan al hoe abstrakter. Hierdie verskynsel het my Pa die proses van dekonkretisering genoem. ’n Voorbeeld ter illustrasie vind ’n mens in die definisie van moord. Indien ’n persoon gedurende die premoderne tydperk ’n ander persoon per ongeluk sou dood, sal daardie persoon skuldig wees aan moord. Eers later het die konsep van opset en nalatigheid bygekom en die konsep van moord meer abstrak gemaak as net blote veroorsaking van die dood van ’n ander.

Uiteraard was my Pa ’n groot voorstander van menseregte en die Rechtstaat. Maar hy was geensins ’n naïewe idealis nie. My Pa het geglo dat ’n gemeenskap se psigologies-emosionele onderbou eers behoorlik ontwikkel moet wees voordat menseregte moontlik is. Dit is dan ook sy groot beswaar teen menseregte in Afrika, omdat die emosionele onderbou nie heeltemal daar is nie en dit tot gevolg het dat Afrika vir van die ergste vergrype in die twintigste eeu verantwoordelik is. Dit is egter nie net in Afrika waar daar menseregtevergrype is nie, maar ook in sommige rasionalistiese Europese lande wat daarop wys dat die mens nog maklik terugval na ’n pre-rasionele vlak. My Pa noem dan ook die geval in die voormalige Joego-Slawië toe seëvierende Serwiese magte vroue van die vyand gevang en verkrag het. Dit is ’n voortlewing van die argetipiese idee dat die vyand se vroue deel is van die oorwinaar se buit.

In baie opsigte was my Pa ’n progressiewe denker wat sy tyd dekades vooruit was. Hy het byvoorbeeld in die 1970’s, toe die maritale mag nog deel was van die Suid-Afrikaanse reg, alreeds bepleit dat die maritale mag afgeskaf word en dat vroue en mans gelyke venote in ’n huwelik moet wees. Dieselfde was die geval met gay-huwelike, toe my Pa reeds in die 1980’s vir die erkenning van sulke verhoudings gevra het. Dit is jammer dat hy nie die voltrekking van die ideaal, met die amptelike erkenning van gay-huwelike, kon sien nie.

Op politieke gebied was my Pa ’n passievolle ondersteuner van die Afrikaanse taal en kultuur. Hy het deurentyd die gebruik van Afrikaans as ’n akademiese taal bepleit en het gedurende sy leeftyd feitelik ekslusief (behoudens ’n handjievol uitsonderings) in Afrikaans geskryf. Hy was ook Duits magtig en het met vrug in die Duitse reg voorbeelde en opinies gesoek vir die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse reg. Maar hy het egter die hoogste agting vir die Nederlandse en Skandinawiese reg gehad en het altyd na hulle regsisteme verwys as die hoogs ontwikkeldes op die planeet. Sy argument ten gunste van Afrikaans het onder meer daarop berus dat hy as regsnavorser enige werk wat in die Anglo-Saksiese wêreld gepubliseer word, kan lees, en met behulp van Afrikaans boonop Nederlands en Duits verstaan het. Afrikaans, volgens hom, vergroot dus Afrikaners se leefwêreld in plaas daarvan om dit te krimp. Engelssprekendes wat net Engels magtig is, se wêreld is juis kleiner en hulle het nie werklik toegang tot die hoogs ontwikkelde regsisteme van die Nederlanders, Duitsers en die ander Germaanse nasies nie. My Pa het nooit opgehou om mense te probeer oorreed om Afrikaans te skryf en te gebruik in die akademie nie. Selfs toe hy op sy sterfbed was, het hy ’n voormalige student, wat sy regsartikels in Engels skryf, aangemaan om in Afrikaans te skryf.

My Pa was ook ’n groot agnostikus gewees. Hy het in seker opsigte die Christelike religie geloof en in ander opsigte gekritiseer. Vir hom was die waarde van die Christelike geloof geleë in die klem wat dit op naasteliefde geplaas het. Uit die beginsel van naasteliefde het die humanisme, waarvan hy ’n groot aanhanger was, ontwikkel. Sy afkeer van die Christendom was gebaseer op die irrasionele idees, soos geloof aan bonatuurlike magte, wat daardeur gepropageer word. Maar sy grootste kritiek teen die Christelike geloof was die swak selfbeeld wat gegenereer word deur die leer van die erfsonde en die algehele sondigheid van die mens. Hy het die Calvinisme verkwalik vir die swak selfbeeld wat dit by Afrikaners gekweek het. Volgens hom was dit die rede waarom so baie Afrikaners hulle agtergrond probeer ontvlug het deur te verengels, want die Engelse kultuur was meer verlig, humanisties en mensevriendelik as die Afrikaanse. (Ofskoon dié self maar baie verkramp is in vergelyking met die Duitse, Nederlandse en Skandinawiese kulture).

 

3

 

Ek pleit dat my Pa en sy werk nie vergeet word nie. Te midde van ’n verkrampte Afrikaner-christelike nasionalisme en ’n kapitulerende, ANC-gesinde liberalisme was hy op ’n derde weg: dié van ’n Afrikaans-nasionalistiese Aufklärung, ’n liberale nasionalisme wat ontwikkel volgens die beginsels van menseregte en die Rechtstaat (regstaat). Hy het ’n kultuur van verdraagsaamheid onder Afrikaners gepropageer en terselfdertyd gepleit vir die beskerming en bewaring van die Afrikaanse kultuurerfenis. Dit was byvoorbeeld sy wens dat van die geld wat hy deur sy navorsing gegenereer het, na behoeftige Afrikaners moes gaan. Ingevolge die regulasies van die Universiteit was dit nie moontlik nie.

Die laaste jare van sy lewe aan die Universiteit van Pretoria was vir hom ’n droewige tydperk, omdat hy die stadige agteruitgang van akademiese standaarde aan die universiteit waargeneem het asook die kruipende verengelsing in die vorm van dubbelmedium-onderrig. Daar was gedurig die gevoel dat die ouer garde Afrikaner-akademici in die pad staan van vooruitgang – ofskoon mense soos hy aan die voorpunt van vooruitgang was! Maar die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria is nou in die hande van die huidige Afrikaansgesinde studente.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=891
Artikel nagegaan:
    -