blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Nuwe plan met nasiebou; Amnestie vir nie-swartes 2007-08-13
Kleinjan Schietekat

Na onlangse berigte dat die kabinet ’n ondersoek gaan loods om vas te stel waarom veral “wittes” nie deelneem aan feesvieringe op nasionale vakansiedae nie, kan Die Vrypostige Afrikaan vandag onthul dat die kabinet tans aandag skenk aan ’n spesiale plan om nasiebou in Suid-Afrika weer op dreef te kry. Die plan is ook opgestel teen die agtergrond van wydverspreide ongelukkigheid onder veral Afrikaners oor die voorneme om oud-minister Adriaan Vlok en ander voormalige lede van die veiligheidsmagte strafregtelik te vervolg. Die hoop is dat die plan, wat ’n blaadjie uit die boek van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) neem, die gemoedere sal kalmeer.

             Die plan stel naamlik voor dat ’n spesiale amnestie in Suid-Afrika aangekondig word vir almal wat nie histories swart is nie. Volgens een van die opstellers van die plan, wat verkies om anoniem te bly, maar wat groot aansien as korporatiewe kommunikasiekonsultant geniet, is die gedagte om die sukses wat behaal is met die toestaan van amnestie deur die WVK, asook met die amnestie vir eertydse belastingontduikers, nou na die terrein van nasiebou oor te dra.

             Die konsultant sê, “Ons is op die spoor gesit toe ons besef het hoeveel witmense hulleself in aandeleskemas vir voorheen benadeeldes as ‘swart’ aandui. Dit was vir ons duidelik dat daar ’n beduidende aantal witmense is wat heimlik die wens koester om swart te wees.”

             ’n Hoë amptenaar in die Presidensie het aan Die Vrypostige Afrikaan gesê dat die vermoede ook bestaan dat jare se volgehoue teistering van veral Afrikaners met wantoegepaste regstellende aksie, die afskaling van Afrikaans, eensydige pleknaamveranderings en dergelike nou begin vrugte afwerp. “Al wat ons ooit aan hierdie landgenote wou wys, is hoe aangenaam dit is om deel van die meerderheid uit te maak. Die bedoeling was nooit om hulle ontuis te laat voel nie, maar juis om hulle van die historiese las van hulle geboorte te bevry. Ons wil hierdie mense nou ’n kans gee om berou te toon oor hoe hulle gebore is, en getransformeer te word tot een van ons.”

             Die bekende Afrikaanse kommentator en sosioloog, prof. Neels Botha, wat reeds verskeie werke oor die konsep van ubuntu gepubliseer het, sê dat hy hoop nie-swart Suid-Afrikaners sal hierdie unieke gebaar van grootmoedigheid aangryp. “Ons het ons vir te lank apart van die meerderheid gehou. Ek self is reeds enkele jare gelede deur een van my bemagtigingsvennote in ’n seremonie ingewy as ere-swarte, en ek kan nie vir jou sê hoe bevrydend dit vir my was nie. As ons mense net wil besef wat hulle al die jare misgeloop het.”

             Verskeie leidende sogenaamde bruin en Indiër sakelui, wat bekend is vir nie-rassigheid en hulle aandeel in die sukses van swart ekonomiese bemagtiging, het in gesprekke met Die Vrypostige Afrikaan prof. Botha se standpunt beaam. Een van hulle, dr. Henk Somers, het aan ons gesê, “Die tyd vir groepsdenke is verby. Dit is hartseer dat daar nog soveel sogenaamde minderheidsgroepe is wat net nie wil insien nie dat die beste manier om jou belange te bevorder is deur met die meerderheid saam te werk. Dit is juis wat ons nie-rassige demokrasie so wonderlik maak.”

             Ingeligte bronne na aan die kabinet wil dit hê dat die kabinet uiters bemoedig is deur hierdie vroeë positiewe reaksie op die plan. Dit word ook reeds oorweeg om op sowel Erfenisdag as Versoeningsdag ’n aantal gewillige Afrikaners tydens spesiale seremonies as ere-swartes in te huldig. Blykbaar word daar spesifiek gesoek na Afrikaners wat minder as 7 % swart bloed het, want die gevoel is dat hierdie suiwerstes van suiweres die beste transformasiemateriaal kan uitmaak, wat dit dan vir die ander minder suiweres makliker sal maak om ’n nuwe lewe te begin.

             Belangstellende Afrikaners moet die Sondagpers dophou vir advertensies wat hulle gaan uitnooi om vir die spesiale amnestie en seremoniële herklassifikasie aansoek te doen.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=890
Artikel nagegaan:
    -