blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Israel-Palestina: Gedane sake … 2007-08-13
Régis Debray

*Skrywer en filosoof. Erevoorsitter van die Europese instituut vir godsdienswetenskap, Parys. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

In Oktober 2006 gelas Jacques Chirac, die destydse Franse president, vir Régis Debray om “´n terreinondersoek na die situasie met die onderskeie etnies-religieuse gemeenskappe in die Midde-Ooste te loods”, en beveel aan dat dit “volledig moet wees, met insetsels van al die meningsektors”. Dit is teen hierdie agtergrond, en te midde van ander waarnemings wat hy daar gemaak het, dat die skrywer op 15 Januarie 2007 hierdie memorandum oor Palestina aan die Franse owerheid voorlê, en wys op die gevare van die retoriese voorgeëry wat in ’n sekere politieke huigeltaal op internasionale vlak hoogty vier. Hoewel ’n mens, soos die outeur ook uitwys, in ag moet neem dat dit volgens die streng reëls van ’n “diplomatieke memorandum” (bondigheid en omsigtigheid) saamgestel is, behou hierdie dokument, wat sedertdien deur openbare en amptelike verslae (Wêreldbank, VN, ens.) onderskryf is, vir ons sy volle geldigheid as sleutel tot ’n moontlike begrip van die afwykings, oor ’n lang tydperk, waarvan die tragiese gevolge vandag sigbaar is.

 

“Die diplomatieke proses het nie voldoende aandag gegee aan verwikkelings op die terrein en die gevolge daarvan nie – Watter verwikkelings? – In die eerste plek kolonisering.” – Dennis Ross, voormalige Amerikaanse gesant in die Midde-Ooste, in 2002 in antwoord op ’n vraag na die foute wat tydens die Camp David-ooreenkomste (1978) gemaak is.

 

Van 1994 tot 2000 het die aantal Joodse kolonne in Palestynse gebiede in werklikheid verdubbel. Sedert die Oslo-ooreenkomste (1993) het eweveel Israeli’s hulle op die Wesoewer gevestig as in die twintig voorafgaande jare. Op ’n tydstip wanneer daar opnuut van ’n internasionale konferensie gepraat word, sou dit skadelik wees om weereens die bestekopname van die werklike toedrag van sake op die lange baan te skuif. Om nog ’n kommissie aan te stel, is onnodig. Rekords en verslae het ons reeds, en in tienvoud. Geen konflik ter wêreld is al so deeglik gedokumenteer, gekarteer en geärgiveer nie.

Die BKHA (Buro vir die Koördinering van Humanitêre Aangeleenthede), wat onder die VN val, sorg dat die veranderende kaarte van die betwiste grondgebiede noukeurig op datum bly, met foto’s, sensusopnames, grafiese tabelle, ens. Om hulle te bestudeer, neem ’n uur of wat, maar help om die alewige verklarings van goeie bedoelings kort te knip.

Wat wys hierdie kaarte ons? Dat die fisiese, ekonomiese en menslike grondslae van ’n “lewensvatbare Palestynse staat” aan die verdwyn is. Die “tweestaatoplossing”, die “eerlike, regverdige egskeiding” (Amos Oz), ’n grondgebied verdeel tussen twee nasionale huishoudings, die een kleiner as die ander, gedemilitariseer maar soewerein, lewensvatbaar en standhoudend, begin al meer na hol stellings klink wat maar in die toekomende verlede tyd geskryf kan word. ’n Mens sou kon aanvoer dat dit laat is om om te draai, dat die Israeli’s wel die stryd om grondgebied gewen het (slegs 22 % van die Palestynse gebied ten tyde van die Britse mandaat is nog nie onder hulle beheer nie), maar dat die Palestyne die demografiese stryd sal wen. ’n Mens sou kon praat van die plaaslike bevolkings se verbysterende “weerstandsvermoë” teenoor die onwrikbare stoomroller wat hom langsaam haas in die uitvoering van die Allon-plan van 1968 en die “roete-50-plan” van 1984.

“Verwikkelings op die terrein” toon egter duidelik dat:

1)         die veiligheidsmuur nie, soos geglo word, daar is om ’n grens af te baken wat dalk onwettig mag wees (aangesien dit meer as 10 % van die Wesoewer insluit) maar wat minstens, so word gemeen, waarde het as ’n stippellyn ter internasionale afbakening nie;

2)         dit wel so is (soos Ehoed Olmert op 20 Maart 2006 op die radiostasie van die Israelse weermag gesê het) dat Israel se strategiese grense op die Jordaan lê (met die hele vallei wat tot “verbode gebied” verklaar is). Die tussensone is reeds in so ’n mate weggekalwe dat dit reeds in sommige dele van oewer tot oewer strek;

3)         die nuwe sogenaamde “oos-wes-verbypad”, wat die eertydse noord-suid-as uitwis, duidelik ’n kaart teken van ’n gebied wat stadigaan geannekseer word, met toegewing van drie of vier Arabiese “tuislande” (Jenin, Ramalla en Jericho). Oorvol enklaves, met die beloofde natuurlike hulpbronne haas uitgeput, vanwaar ’n uiteindelike grootskaalse uittog min of meer onvermydelik is (´n beduidende gedeelte van die Palestynse elite, veral Christene, gee reeds pad);

4)         met die bou van die Muur, die verjoodsing wat in Oos-Jerusalem aan die gang is, en veral die hersamestelling van die munisipaliteit, het die VN se herhaalde veroordelings, ter wille van die vorm, hoegenaamd geen uitwerking op die voortgesette beslaglegging op die ganse stad nie (1).

Die gaping tussen wat gesê word, omdat ons dit graag wil hoor (plaaslike onttrekkings, verslapping van permitte, verwydering van een uit twintig versperrings, verandering in stemtoon, ens.) en wat op die terrein gedoen word, en wat ons teësinnig aanskou (´n netwerk van kolonies wat tot stand kom, die bou van brûe en tonnels, omsingeling van Palestynse woongebiede, grondonteiening, afbreek van huise, ens.) neem afmetings aan wat sommiges as huigelary bestempel, en ander as skisofrenie. Die ou “een dunam vir een bok” gebeur weg van die kamera, sonder enige ophef en beter nog, sonder uitdruklike “koloniale voorskriftelikheid”; niemand neem aanstoot nie, indien hulle wel kennis neem (wat maar moeilik is tensy jy daar oud word). “Judea-Samaria” is die naam waarmee die Wesoewer op Israeliese kaarte en in skoolhandboeke aangedui word, waar die uitwissing van die groen lyn van 1967 nou ’n wettige gegewe is, soos die Knesset (Israelse parlement) pas besluit het in weerwil van die voorstel van die Arbeidersgesinde Minister van Onderwys.

Meer as bloot ’n episodiese gaping tussen de facto en de jure, is dit ’n metode en ’n tradisie wat teruggryp na die vroegste tye van die Yishuv (2),  die beginsel van gedane sake, en wat telkens sy tol geëis het (die staat was daar nog voordat hy verklaar en erken is, in 1947, net soos die weermag): ’n teater met twee verhoë – ’n internasionale een, waar vae begrippe gerieflik herhaal word (onttrekking, naasbestaan, staat), maar waar die werklik ernstige sake (nedersettings, paaie, tonnels, grondwatervlakke), eenkant afgehandel word, in ’n operasieteater wat op die lange duur beslissend sal wees (en sonder reklame).

Vertroud met die ratwerk van ’n demokrasie wat op menings berus, wat hoop en verblydende berigte nodig het, soos trouens ’n ieder en ’n elk, sorg die opeenvolgende Israelse regerings (sowel links as regs) dat hulle die kwartaallikse dosisse paaimiddel toedien (eensydige terugtrekkingsplanne, gedeeltelike ontbinding, aankondigings wat “belowend” klink maar telkens aan voorwaardes onderhewig is, en gevolglik op niks uitloop nie). Die media leef van dag tot dag, sonder geheue. Wie onthou nog dat die aanvanklike beplanning of padkaart (3) melding gemaak het van ’n “finale, omvattende oplossing vir die Israelies-Palestynse konflik teen 2005”?

Nie alleen het die eertydse Oslo-proses, laat ons maar erken, ’n dooie letter gebly nie. Met die militêre herbesetting van sones A en B (4) in April 2002, speel hy so te sê sy sinne agterstevoor terug.

Voeg hierby die verbrokkeling van die gebied wat enige moontlike sentrale Palestynse bestuur van die plaaslike owerhede afsny, en laasgenoemdes van mekaar; die fisiese, stelselmatige aftakeling van “nasionale” instellings, infrastruktuur en politieke lui deur die Israeliese weermag, ’n waarborg vir binnelandse anargie, bendes, faksies en weerwraakaksies, kortom, chaos sonder einde of perk – en dit word duidelik dat ons nie op die pad van “nasiebou” beweeg nie, maar eerder die afbreek van enige moontlike bestuur anderkant die Muur. Dit is die logiese keersy van ’n beplande anneksasie oor die middel termyn (30 jaar) wat ter gelegener tyd gewettig sal word “in die lig van nuwe werklikhede op die terrein”.

In hierdie omstandighede lyk die gedurige teruggryp na die padkaart (belowende tekens en geleenthede) – soos ’n soort inkantasie maar met die konsensus van al die partye – meer na positiewe denke ter selfaanmoediging as na ’n rasionele beskouing van ’n konstante, samehangende transformasie van sake. Maar dit sien ’n mens natuurlik nie vanuit Genève, Parys of New York nie. Dit word eers duidelik vir iemand wat na ’n paar jaar se afwesigheid terugkeer en rondbeweeg in ’n land wat van hoek tot kant militêr in blokkies verdeel is, ’n toneel waarop die Israeliese “kolonies” nie meer lyk na vorms op ’n Palestynse doek nie, maar waar dit eerder Palestynse krummels is wat soos vormpies afgeëts staan teen ’n Hebreeuse agtergrond met ’n stewige infrastruktuur. Waarin watervoorraad vooraf verdeel is, en die tydelike beperking van bewegingsvryheid eintlik op ’n klinkklare verbod neerkom.

Dit gesê, kan ’n mens jou troos met die gedagte dat:

1)         as die onttrekking van kolonies in Gasa moontlik was, dit môre ook op die Wesoewer kan gebeur. So vergeet jy egter dat die onttrekking van 8 000 kolonne hier (met een joernalis vir elke drie kolonne) die maand daarna opgevolg is deur die (stil) vestiging van 20 000 kolonne elders. Gasa maak nie deel uit van die heilige erfenis nie, terwyl “Judea-Samaria” die ruggraat daarvan is. En mnr. Sharon het nooit doekies gedraai om die feit dat die prys vir hierdie onttrekking op die kantlyn die versterking van Israel se teenwoordigheid anderkant die groen lyn sou wees nie (438 000 kolonne teenswoordig, insluitend 192 910 in Oos-Jerusalem);

2)         die ontbinding van vier klein kolonies in die noorde (1 000 kolonne) en die hipotese van ’n hergroepering van kolonne (60 000) in die drie mees digbevolkte blokke, Maale Adoemim, Ariel en Goesh Etzion, ruimte beskikbaar gemaak het. So vergeet ’n mens egter weer dat die aaneensnoering van stringe kolonies, beskut deur die veiligheidsmuur, die Wesoewer behoorlik in twee gesny het. Die Muur skei Palestyne van mekaar, netsoveel of meer nog as wat dit hulle van die Israeli’s skei.

Wat dus kortom besig is om gestalte te kry, in plaas van die Palestynse staat wat in die vooruitsig gestel is en waarop almal hoop, is ’n Israeliese grondgebied wat tot hier toe ongesiens plaasgevind het, met drie afgesonderde Palestynse munisipaliteite onder eie bestuur.

Al die partye vind baat by die voortgesette wanvoorstelling en oëverblindery op internasionale vlak (5). Die Israeli’s, omdat die geskiedenis so ongesiens sy loop neem. Die Palestyne, omdat ’n mens nie die waarheid kan vertel aan ’n besette volk wat nog hoop koester, sonder om hom tot selfvernietiging te lei nie; en ook omdat hooggeplaastes, parlementslede, staatsamptenare, almal, voordeel trek uit ’n edele doel wat vir hulle ’n bron van inkomste, legitimiteit, waardigheid en ’n bestaansrede gee. Die Europeërs, omdat hulle besluit het om ’n gesindheid te “koop” met aansienlike finansiële en humanitêre hulp, om te vergoed vir hulle politieke passiwiteit en doelbewuste blindheid. En die Amerikaners, in die gees nader aan die Ou Testament as aan die Nuwe, omdat hulle eksistensiële band met Israel soos ’n bloedband is en dus a-krities. Die selfbeskermende, gedeelde illusie spruit dus uit ’n samevloeiing van teenstrydige belange – dit is wat die geskiedenis so ironies maak.

Tot op hede. Maar kan dit oor die lang termyn volgehou word, sê maar tot die einde van die eeu? Dit sou te verstane wees as ’n mens twyfel, as jy sien in hoe ’n mate Israel se veiligheidsobsessie spruit uit sy onsekerheid, en uit ’n gebrek aan kennis van die heersende neigings in die streek – wat betref demografie, inligtingstegnologie sowel as religie (6). Dalk kan minstens een Europese regering, indien dan nie meer nie, vir ons Israeliese vriende waarsku dat: 1) ons nie almal om die bos gelei is nie; en 2) indien daar wel oëverblindery is, die skeppers daarvan miskien nie tans die eerste slagoffers is nie, maar helaas laaste die spit sal afbyt.

_____________

(1) Lees Dominique Vidal en Philippe Rekacevicz, “Hoe om ’n gemeenskap van die kaart af te skryf: Israel en Oos-Jerusalem”, Die Vrye Afrikaan, 15 Februarie 2007.

(2) ’n Hebreeuse term wat die Sionistiese beweging voor die totstandkoming van die Israeliese staat gebruik het om te verwys na die Joodse inwoners en nuwe Joodse immigrante in Palestina.

(3) Die “padkaart” is op 30 April 2003 deur die Viertal (Verenigde Nasies, VSA, Europese Unie en Russiese Federasie) aanvaar as ’n voorstel om ’n einde aan die konflik tussen Israel en Palestina te maak.

(4)        Die Palestynse gebiede wat die Wesoewer, Oos-Jerusalem en die Gasastrook insluit (45 km lank en 10 km breed). Ingevolge die Oslo-ooreenkomste is die twee streke in drie sones verdeel: - sone A wat sedert 1994 Gasa insluit, asook die stede Jerigo, Jenin, Kalkilja, Ramallah, Toelkarem, Naploes, Bethlehem (’n afsonderlike ooreenkoms is in Januarie 1997 vir die stad Hebron gesluit), waar die Palestynse Owerheid burgerlike jurisdiksie insluitend polisiëring kan uitoefen; - sone B, wat die ander sones van die Wesoewer bevat waar die Palestynse nasionale owerheid burgerlike bevoegdhede het, en binnelandse veiligheid tesame met die Israeliese weermag toegepas word; - en sone C, wat die Israeliese kolonne insluit op die Wesoewer, in Gasa (nou ontbind) en in Oos-Jerusalem, en wat in die Hebreeuse staat se beheer is.

(5) Lees Alain Gresh, “Comment le monde a enterré la Palestine”, Le Monde diplomatique, Julie 2007.

(6) Lees veral die verslag wat aan die Sekretaris-generaal van die VN voorgelê is deur Alvara de Soto, spesiale VN-koördineerder vir die Midde-Oosterse vredesproses. Die volle teks is in Engels beskikbaar op die webwerf:   www.lesoir.be/__documents/DeSotoReport.pdf

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=887
Artikel nagegaan:
    -