|
||||
Dale T. McKinley
*Dale T. McKinley is ’n onafhanklike skrywer/navorser, lektor en aktivis in die Anti-Privatiseringsforum en Sosialistebeweging Indaba. In die middel tot laat 1990’s was hy ’n voltydse SAKP-kader en verkose leier op distriks- en provinsiale vlak voordat hy in 2000 deur hulle Sentrale Komitee geskors is.
Die SAKP en COSATU speel nou al meer as 15 jaar met dieselfde strategiese en politieke keuses. Eerste keuse: om juniorvennote te bly in ’n alliansie met die ANC wat hulle nooit gaan beheer nie, maar waarin hulle sleutelposisies sou kon hê. Sodoende kan hulle ’n politiek beoefen van kritiek op bestaande beleidstoepassing en redekawel oor beleide wat groter pro-arme-en -staatsbetrokkenheid kan behels, sporadiese veldtogte voer en aktiwiteite bedryf wat ontwerp is om te “wys” dat die werkersklas steeds ’n mag is waarmee rekening gehou moet word. En kan hulle terselfdertyd lede bly van ’n ANC-verkiesingsmasjien en deelneem aan ’n ANC-gedrewe staat deur sy onderskeie institusionele meganismes. Tweede keuse: om terug te keer na die basiese take van organisering en mobilisering van die armes en werkersklas (insluitend egte, praktiese alliansies met gemeenskapsorganisasies en maatskaplike bewegings) gebaseer op ’n radikale program van eise om die herverdeling van eienaarskap en rykdom, wat as organisatoriese en politieke basis sal dien om ANC- en regeringsbeleid uit te skouer – nie deur interne onderhandeling en politiekery nie, maar deur massamobilisering en klassestryd om ’n egte linkse politieke en organisatoriese magsbasis te herbou om magsverhoudings binne die SA samelewing te betwis . Dit is iets wat nie sonder meer tot verkiesings gereduseer en as ’n verkiesingsmag buite die ANC bedryf kan word nie. Die probleem is egter dat die gepeuter presies net dit was: die tweede keuse was nooit werklik op die agenda nie. Dus het hulle voortgegaan om die Alliansie se politieke “spel” te speel. Hoewel dit bygedra het tot mindere beleidsverskuiwings en sporadiese kniebuigings deur die ANC en die regering ter versagting van toenemende ongelykhede en armoede, was dit nie in isolasie van die magdom van proteste en mobiliserings wat buite die SAKP-COSATU-verband plaasgevind het, en argumentsonthalwe ewe verantwoordelik was vir beleidsveranderings en die meer onlangse toename in politieke konflik binne die Alliansie nie. Die ANC is inderdaad waarskynlik lugtiger vir opstande in arm gemeenskappe en ontgogeling met ANC-dienslewering en sosio-ekonomiese vooruitgang as vir die gereelde kleilatgooiery en kritiek van die SAKP/COSATU. Die ongelukkige maar voorspelbare gevolg was dat die politiekery en praktiese werk van die SAKP en COSATU die afgelope paar jaar regstreeks verbind is met wat binne die ANC-Alliansie aan die gang is, in direkte proporsionele eweredigheid tot die verhewigende stryd om persoonlike mag en posisie. Dit is die logiese uitkoms van hierdie soort benadering en politiek, en het effektief verlammend ingewerk op die SAKP/COSATU se vermoë om op ’n eg praktiese, armes- en werkersgesentreerde pool te organiseer en mobiliseer, waar hul programme, getwis en kritiek getoets kan word aan egte gevegte op die grond en in die arena van demokratiese mededinging om maatskaplike mag. Die onlangse ANC-Beleidskonferensie en die 12de SAKP-Kongres weerspieël hierdie toedrag van sake in die vorm van die diktate van die persoonlik/politieke geveg tussen die Mbeki- en Zuma-“kampe” – met voorafgaande mobiliseringsveldtogte en praktiese werk wat neig om hierdie tweegeveg na te boots, dit wil sê of dit die persoonlike posisies en gepaardgaande politiek van hierdie of daardie “kamp” verder gaan voer. Die feit dat die SAKP en COSATU in die openbaar verklaar het dat die uitkoms van die ANC se Beleidskonferensie ’n oorwinning vir “linkse” magte verteenwoordig, is ’n duidelike aanduiding hiervan in weerwil van die feit dat daar in die uitkoms van die ANC se Beleidskonferensie niks was wat gedui het op ’n radikale verskuiwing van wat voorheen die geval was nie, oftewel ’n uitgesproke verbintenis tot ’n “ontwikkelingstaat” en vir beter funksionering van die Alliansie, ensovoorts nie. Netso is die 12de SAKP-Kongres hoofsaaklik oorheers deur die politiek van persoonlikheid en posisie, wie wel of nie verkies gaan word nie tot leierskapsposisies op grond van die “kamp” waaraan hulle behoort, asook die debat oor elektorale posisionering na gelang van wat op die ANC-Kongres in Desember gaan gebeur. (Lees: wag en kyk of Jacob Zuma die leierskapstryd wen, en indien wel, sal dit die strategie en taktiek van die SAKP bepaal). Dis ’n droewige toedrag van sake – ’n situasie waarin die grootste en oudste “linkse” party in Suid-Afrika doeltreffend gyselaar gehou word vir die uitkomste van persoonlike en intraorganisie- en ondersteuningsgevegte binne ’n ander party, en waarin sy eie program en politiek ook effektief gevorm word deur dieselfde gevegte. Te oordeel aan die uitkoms van die leierskapsverkiesings op die SAKP-Kongres, is dit duidelik dat dié wat “gewen” en dié wat “verloor” het grotendeels gedefinieer is deur die “kamp” wat hulle veronderstel is om te bewoon – in hierdie geval, ’n klinkende “sege” vir diegene in die Zuma/Nzimande-“kamp”, en ’n klinkende “neerlaag” vir die vermeende ondersteuners van die Mbeki/Nqakula-“kamp”. Daar was helaas bittermin blyke van enige duidelike ideologiese en/of organisasiemaatstawwe wat as deurslaggewend vir leiersposisies beskou kan word. Soos een Kongresafgevaardigde dit bondig gestel het, kan een van die belangrikste redes waarom Mbeki nie by die Kongres opgedaag het nie, dalk wees “dat hy nie by Zuma se nes wou inloop nie”. Wat dinge nog erger maak, is die feit dat die persoon op wie se skouers soveel van die welsyn, politieke energie en organisatoriese besluite van die SAKP nou geplaas word, nie eens ’n aktiewe lid van die party self is nie, en keer op keer getoon het dat sy eie politieke en ideologiese geneigdheid nóg kommunisties, nóg sosialisties is, maar sentreer om wat sy eie posisie en mag sal bevorder. Met ander woorde, om te sê wat “gewild” is, al is daar geen aanduiding van enige betekenisvolle vermoë of verbintenis om die werklike implementering van wat gesê of gepredik word, deur te voer nie. Dit hou ook steek met wat die Zumafisering van die SAKP/COSATU se politiek voorafgegaan het – die Mbekifisering daarvan. Voor die dominansie van die nou tierende Zuma-Mbeki-stryd, kon die SAKP (en in ’n geringer mate COSATU) se partypolitiek en organisatoriese koers hoofsaaklik omskryf word deur wat Mbeki verteenwoordig het of aan die doen was in die regering. Dit het beteken om die pro-kapitalistiese beleide van sy regering en sy politieke beheer van die ANC te beveg (of minstens rede daarvoor te soek) deur homself as teen-Mbeki mag binne die Alliansie en as die ware erfgenaam en navolger van die erflating van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) te posisioneer. Die alternatief – optrede as ’n onafhanklike linkse mag met sowel ’n omvattende kritiek teen die beleidstellings en politiek van die ANC onder Mbeki se leierskap, as ’n programmatiese koers om kapitalistiese verhoudings in produksie en die inherente uitbuiting en onderdrukking wat daarmee gepaard gaan as aktiewe magsmassa van die armes te oorkom, en wel as politieke party wat in staat en bereid is om aan die armes en werkersklas sowel ’n organisatoriese tuiste as ’n politieke identiteit te bied wat gedefinieer word deur wat dit is – nie deur teen wie of wat dit is nie – het nog nooit werklik die lig gesien nie. Al hierdie dinge dwing die vraag af: Waar is die konkrete bewys wat kan bevestig dat die ANC inderdaad “na links geskuif het”, soos Nzimande op die SAKP-Kongres beweer het? Is dit vervat in die ANC-Beleidskonferensie se resolusies oor ’n “ontwikkelingstaat”, of in verwysings na uitbreiding van sekere maatskaplike dienste en beloftes van infrastruktuurverskaffing met die oog op basiese dienslewering? Kan dit wees in die konsep- Strategie en Taktiek-dokument wat, volgens die erkenning van die ANC se Sekretaris-Generaal, Kgalema Montlanthe, “nie ´˜grondige vertrek van die visie, aard en take van die ANC verteenwoordig nie … maar streef daarna om dié op ’n meer presiese wyse te artikuleer”. Ek glo nie. Die ware puntetoekenning of beoordeling behoort betrekking te hê op wat werklik aan die gebeur is daar waar dit die belangrikste is – op die grond, in die daaglikse lewens van die meerderheid. En dan kom twee verdere vrae na vore: Wat is die praktiese “linkse” koers voorwaarts wat by óf die ANC-Beleidskonferensie, óf die SAKP-Kongres aangedui word oor die afsny van water, voorafbetaalde watermeters en die verskaffing van genoeg water vir die armes, die behuisingskrisis en uitsettings, die vervalle toestand van die openbare gesondheidsorgstelsel, die krisis van openbare onderwys, die totale gebrek aan enige beduidende stedelike en plattelandse openbare vervoerstelsel, die sistemiese aard van die werkloosheidskrisis? En: Namens wie presies praat die onderskeie afgevaardigdes, en met wie praat hulle? Ironies genoeg is dit die voormalige DA-politikus en tans openbare liberale intellektueel, Raenette Taljaard, wat die essensie uitgelig het van wat uit die ANC-Beleidskonferensie voortgevloei het. Sy noem dit heel raak “die skaduwee van die variëteit van kapitalisme onder die vaandel van ’n ‘ontwikkelingstaat’”. Die werklikheid is dat al wat die ANC (en by verstek, die regering waaroor dit toesig hou) gedoen het, is om vollediger erkenning daaraan te gee dat die werklikheid van toenemende sosio-ekonomiese ongelykheid en politieke (lees elektorale) ontevredenheid onder die armes ’n werklike bedreiging inhou vir sowel hulle langtermyn houvas op politieke en staatsmag as vir die organisatoriese voortsetting van die Alliansie (wat die ANC nog steeds uiters nuttig vind as agterdoek vir die werklike moontlikheid van ’n onafhanklike linkse of werkersmag buite die Alliansie – en derhalwe nie organisatories en polities beheerbaar of hanteerbaar nie). Hierdie erkenning het gelei tot kniebuigings in die rigting van ruimer infrastruktuurbesteding, hoewel die meeste hiervan niks met arm of werkersklasgemeenskappe te make het nie, maar veel eerder met die belange en eise van korporatiewe kapitaal en die oënskynlik onversadigbare honger van die politieke en ekonomiese elite na spoggerige projekte en bevestiging aan wêreld-elites dat hulle nou ware rolspelers op die wêreldverhoog is en dinge kan “lewer” soos die 2010 Wêreldbeker), geringe verhogings in maatskaplike toelaes, betreklik klein inkrementverhogings in die openbare sektor se salarisse, en veel meer retoriek oor die nodigheid om die “vrye mark” hok te slaan en met groter aandag na die stemme of krete van die armes te luister. Sekerlik verteenwoordig dit nie ’n betekenisvolle en ernstige “skuif na links” nie, maar eerder slinkse politiekery van die ANC – oor beide die ANC se eie verkose ideologiese koers (’n ont-raste kapitalisme, uitgedos in die taal van die Nasionale Demokratiese Rewolusie [NDR]) asook in verhouding tot die voortgesette persoonlike en patronaatskonflikte binne die ANC self. Dit wil inderdaad voorkom of die SAKP (en COSATU) vasgevang is in die politieke spel van die ANC se maaksel en wat homself oor die afgelope aantal jaar (en veral verlede jaar) uitgespeel het. Kan hul onderskeie leiers dan die ongelooflik twyfelagtige aanspraak maak dat die ANC-Beleidskonferensie ’n “linkse” oorwinning was, dat die politiekery wat hulle oor die afgelope tyd bedryf het, inderwaarheid die bepalende faktor was in hierdie “skuif”, en nog terselfdertyd, soos Jeremy Cronin van die SAKP, daarop aanspraak maak dat hierdie politiekery “sober en intelligent” was? Dis werklik net ’n ander manier om te sê dat daar regtig geen ander opsie was nie, dat óf verlating van die ANC, óf die vorming van ’n program van aksie vir die armes en werkersklas afsonderlik van die NDR-ANC-Alliansiespil belaglik is om te oorweeg of, erger nog, ten uitvoer te wil bring, wat nog te sê die gewildheid en demokratiese toepaslikheid daarvan te wil toets aan diegene wat hulle beweer om te verteenwoordig. By gebrek aan ’n ander keuse om te oorweeg, is dit wat ons steeds voor ons sien (en weer tydens die onlangse ANC-Beleidskonferensie en SAKP-Kongres aanskou het), die herhaling van dieselfde inkantasie – naamlik dat die linkses in die Alliansie die verhouding met die ANC moet “bestuur en hanteer” en nou, in die lig van die klaarblyklike skuif na links, die implementering van die “ontwikkelingsagenda” selfs noulettender moet “bestuur”. COSATU se Algemene Sekretaris, Zwelenzima Vavi, het dit weereens bevestig met sy kommentaar by die SAKP-Kongres, waarin hy (vir die hoeveelste keer) gekla het dat die eintlike probleem is dat “die Alliansie nie transformasie gesamentlik dryf nie, waardeur verdeelde lojaliteit geskep word”. As gevolg hiervan, sê Vavi, het COSATU ’n oproep gemaak om herstrukturering van die Alliansie, sodat geen enkele komponent of individu in die Alliansie strategie en ontplooiing bepaal nie. Dis asof mense (in hierdie geval diegene wat die SAKP-Kongres bywoon) ’n ding naderhand gaan glo as dit dikwels genoeg herhaal word. Glo Vavi, Nzimande of enige ander lid in hulle “kamp” werklik dat ’n “herstrukturering” van die Alliansie (hoeveel keer kan dit in elk geval gedoen word?) daarop gaan uitloop dat die SAKP en COSATU gelyke lede en besluitnemers van en binne die ANC gaan word? Natuurlik gaan hulle nie, en sal hulle ook nie, juis omdat dit die ANC is wat homself aan die Suid-Afrikaanse nasie voorhou as keurregering (en ook as die historiese en nimmereindigende bevryder van die mense) en wat die leidende politieke organisasie van die sogenaamde NDR uitmaak (die ongelooflike swak teoretiese en strategiese gom wat die drie in elk geval saambind). Die resultaat hiervan is dat die einste kieserskorps wat die SAKP/COSATU voorgee om te verteenwoordig – die arm werkersklas nie die keuse/opsie het om die SAKP/COSATU regstreeks, demokraties, organisatories en ideologies aanspreeklik te hou nie, maar dit slegs deur die ANC kan doen. Ongeag al die onlangse gepraat oor die “linkse oorwinning”, moet daar nog steed gevra word wat “links” eintlik behels. Die SAKP/COSATU kan nie regtig omskryf wat dit beteken nie, omdat die geringste verandering in ANC- of regeringsbeleid wat plaasgevind het – en wat ’n mate van verligting aan die arm en werkersklas kan meebring – vertolk word as ’n “oorwinning” vir die linkervleuel van die Alliansie, juis omdat enige ander vertolking die groter aanspraak en posisie wat die SAKP/COSATU noodwendig moet hê om in alliansie met die ANC te bly, sal ondermyn. En ook, omdat enige dieper en meer realistiese vertolkings die ganse teoretiese konstruk van die NDR waarop die alliansie berus, en so ook die huidige en gedurige organisatoriese en ideologiese posisionering van beide die SAKP en COSATU sal ondermyn.
So gebeur dit dus dat die SAKP tydens sy Kongres besluit dat die staat, in plaas van die mark, makro-ekonomiese groei moet lei, sonder enige sinvolle bespreking van wat die konkrete betekenis hiervan is in die lig van die ANC se ideologiese verbintenis (oor en oor bevestig) tot ’n kapitalistiese makro-ekonomie wat die ANC-bestuurde staat feitlik gelei en in werking gestel het. Wat het die SAKP ten tye van die ANC-Beleidskonferensie waargeneem wat dui op ’n afwyking van hierdie praktyk, dit wil sê van die gebruik van die staat om die aanvaarde makro-ekonomiese beleidsraamwerk te dryf? ’n Verdere opvallende kwessie wat uit hierdie byeenkomste voortgespruit het, is die graad van teenkanting teen die “akkumulasiepad”, wat teenswoordig in die makro-grondbeginsels van Suid-Afrika se politieke ekonomie verskans is. Enige ernstige kommunis sou noodwendig sy “koers” moes identifiseer as inherent aan kapitalistiese produksieverhoudings (met al die meegaande uitbuitende generering van surpluswaarde, onteiening van die maatskaplike toelae en die geïnstusionaliseerde marginalisering van die randeiers van die kapitalistiese mark – oftewel die werkloses, haweloses, ensovoorts. Maar waarna die SAKP- en COSATU-leiers eintlik verwys, is die besondere aard van hierdie oorkoepelende inpalmingstrategie (in hulle koppe, SEB-verryking vir die enkeles, konsolidasie van die na-1996se “klasseprojek” in die ANC met behulp van die oorgeërfde staatsinstansies en bestaande kapitalistiese produksiekanale en -vermoë, prysgawe of afwyking van beloofde herverdeling van grond en die verskaffing van basiese dienste vir almal, ensovoorts) in die konteks van na-apartheids-Suid-Afrika – nie die koers self nie. Hulle het dus geen ander keuse as om die siening te propageer dat die uitskuiwing van die individue en klassemagte (binne die ANC-Alliansie) wat hierdie “koers” nastreef, dan klaarblyklik tot die inslaan van ’n anders “koers” sal lei nie. Vavi het dit op die SAKP-Kongres bevestig toe hy trompop verklaar het (en dit sonder ’n sweem van ironie of weerspreking) dat dit die taak van die SAKP en COSATU is om die “agente van nuwe kapitaal” te verslaan. Met ander woorde, die stryd van die SAKP en COSATU het ’n stryd geword om die ANC polities en organisatories van sy historiese en meer eietydse nasate te “suiwer”. Anders gestel, die politieke en organisatoriese neerlaag van diegene wat hul “regverdige aandeel” van die kapitalistiese stelsel verlang, soos dit so lank gelede as in 1949 deur die ANC se Sekretaris-Generaal, Dr Xuma, uitgespel is. Dit beteken niks minder nie as ’n totale politieke en ideologiese rewolusie binne en deur die ANC – iets wat klaarblyklik nie gaan gebeur bloot omdat sommige SAKP- en COSATU-leiers wil hê dit moet gebeur en dit as die fundamentele basis van hul eie organisasie se strategie verklaar nie. As daar ooit ’n klassieke geval was van verskanste “toegangisme” (1), dan is dit hierdie een (met apologie aan dié Trotskyiste wat nog steeds hierdie taktiek vir hulleself toe-eien). Op sowel die ANC se Beleidskonferensie as die SAKP-Kongres is daar ook hoog opgegee oor die afhandeling van die “take van die NDR”. Maar wat moet ons onder die NDR verstaan? Vir Nzimande is die basiese mikpunt van die nasionale demokratiese rewolusie die aanpak van armoede, werkloosheid, siekte, en om die waardigheid van die oorweldigende meerderheid van ons mense in ere te herstel deur ’n massagedrewe bedeling te skep, elke vorm van diskriminasie te verwyder en ’n samelewing van egalitarisme tot stand te bring. Verder beteken dit die “… verskaffing van die minimum basiese noodsaaklikhede, dienste en menswaardigheid aan alle Suid-Afrikaners”. Dit is so ’n wydlopige “definisie” dat dit feitlik elke roering om die oorgeërfde ongelykhede van apartheidskapitalisme “aan te vat”, enige verbetering (maak nie saak hoe gering of volhoubaar nie) met betrekking tot basiese dienste vir die arm meerderheid kan omvat en toejuig. Dit is weens hierdie vaagheid dat Nzimande kan konstateer dat “´n sleuteluitdaging dus is dat ons ’n ANC (en Alliansie) moet bou wat bewustelik daarna streef om ’n massabeweging te bou en te lei wat daagliks besig is met die kwessies en uitdagings wat die massa van ons mense in die gesig staar …” dat dit ook gesien moet word as deel van die uiters belangrike uitdaging, naamlik die uitbouing van die vermoë van die ANC (en die Alliansie) “om doeltreffende toesighouding te kan uitoefen oor die regering en al ons kaders wat sodanig ontplooi is, en om faksievorming, begunstiging en korrupsie binne ons geledere te verslaan.” Dis nie verbasend dat die bostaande die belangrikste organisatoriese en politieke “uitdaging” was wat (weereens) tydens die SAKP-Kongres geïdentifiseer is nie, en dit is hierdie “uitdaging” wat gemaklik inskakel by die aanvaarde siening van die NDR onder die “linkses”. Die NDR eis naamlik dat diegene wat hulleself as sosialiste, kommuniste, ensovoorts beskou geen ander keuse het nie as om die strategiese koers te volg wat deur die SAKP en COSATU (as die twee belangrikste “linkse” magte in die land) uiteengesit is – enige ander strategiese koers of uitdaging is gewoon teenproduktief, of op sy beste, naïef. Weereens is hierdie “benadering” bevestig deur Montlanthe in sy toespraak by geleentheid van die SAKP-Kongres, toe hy verklaar het “die aanbevelings wat ons tydens die ANC-Beleidskonferensie verlede maand gemaak het bevestig nogmaals dat daar geen grondliggende verskil tussen die Alliansievennote oor die aard van die Nasionale Demokratiese Revolusie en die belangrikste take wat ons in die gesig staar, is nie.” Maar die afhandeling van die voorgenoemde revolusionêre transformasie van die ANC (soos ook ten opsigte van die NDR en breër maatskaplike magsbasisse) is ’n praktiese, wat nog te sê politieke, onmoontlikheid solank as wat die SAKP en COSATU hul eie programmatiese en dus polities-ideologiese “koers” met dié van die ANC-alliansie saamsnoer. Hulle het reeds talle kere erken dat die ANC nie ’n sosialistiese organisasie is nie, (net ietwat lakoniek dat dit ’n organisasie van die armes en die linkses is). Nogtans bestaan die ganse strategiese stukrag daarin om die ANC te probeer “transformeer” (deur oorreding, die gebruik van “werkersklasmag” en posisionering in die Alliansie/ANC/staat en deur die sporadiese najaging van klassestryde op grondvlak) van binne, om sodoende ’n ander insamelingskoers in te slaan, met die einste organisasie en historiese politiekery waarvan die ganse bestaansgrond die ont-rassing is van die insamelingskoers, en nie om dit fundamenteel te verander of omver te werp nie. Van belang vir die Suid-Afrikaanse linkses in die geheel is dat die voortgesette gemeenskapsproteste en strydvoering rondom basiese dienslewering en so meer weer by geleentheid van die SAKP-Kongres geopper is, naas sy voorneme om hierdie strydvoering te mobiliseer en lei. Hierdie voorneme is egter nie nuut nie. In 2004 het die SAKP sy “Basiese Dienste vir Almal”-veldtog geloods waarin die onderneming gegee is dat takke van die party, in samewerking met hul bondgenote (en) gemeenskapsgebaseerde organisasies, gemeenskappe sal mobiliseer met behulp van plaaslike veldtogte en strydvoering gebaseer op die inligting en probleme wat ontvang word, plaaslike organe van die populêre werkersmag wat gebou gaan word, die betrokkenheid van munisipaliteite en staatsdepartemente wat verkry gaan word, en deur talle ander plaaslike intervensies op tou te sit …: “Hierdie veldtog sal fokus op uitsettings, afsnydings en probleme wat ons mense in die gesig staar by die verkryging van toegang tot dienste.” Sedertdien, en anders as Khutsong (waar stryd hoofsaaklik gevoer is rondom kwessies van provinsiale afbakening en frustrasie oor ANC-arrogansie), het die veldtog nooit van die grond af gekom nie. Die etlike honderde gemeenskapsproteste (met gepaardgaande staatsonderdrukking van maatskaplike bewegings en gemeenskapsaktiviste) is hoofsaaklik met ’n dawerende stilte vanaf die leierskap en grondstrukture van die SAKP (en COSATU) begroet. Daar het inteendeel ’n eindelose stortvloed van verklarings en media-onderhoude wat op die Mbeki-Zuma-gevegte gefokus het, aanvalle op individue van ander “kampe” en uitsprake oor allerlei soorte ander kwessies – insluitend eise rondom die nasionale sportspanne uit die kantore van die SAKP, die Kommunistiese Jeugliga (en in ’n mindere mate COSATU) gestroom. Selfs tydens die onlangse staking van staatsdienswerkers was daar min pogings en/of praktiese werk rondom aaneenskakeling van werkersbewegings om beter lone/werkstoestande, lewensomstandighede van arm gemeenskappe rondom basiese dienste en vryheid van uitdrukking as middel om ’n verenigde front van die werkersklas op die been te bring teen die kapitalisvriendelike beleide en politieke mag (lees: gebruik van die dwang- en ekonomiese spierkrag van die staat), arrogansie van die ANC en die regering wat dit onderskryf, en ten bate van die moontlikheid om ’n sinvolle koalisie van arm en werkersklasmagte te skep. Wat die SAKP-Kongres op hierdie front onbedoeld laat blyk het, is dat daar min gedoen is om die daad by die woord te voeg. Daar kan tereg gevra word: Waar wás die SAKP en COSATU terwyl die honderde gemeenskapsprotesaksies rondom basiese dienste, onderdrukking deur die staat van hierdie aktiviste en gemeenskappe en pogings om plaaslike regerings se diensleweringsmeganismes en politiekery te oorreed tot groter inklusiwiteit en deelname plaasgevind het? Die ongelukkige antwoord is, eintlik nêrens nie. Die klem by die Kongres op skakeling met, mobilisering en ondersteuning van die strydvoering van die gemeenskaps- of maatskaplike bewegings (met die Nasionale Organiseerder van die SAKP, Solly Maphaila, se verklaring dat die SAKP nou sy verhoudings met maatskaplike bewegings gaan formaliseer) is blote grootpratery in die lig van die voortsetting van die gyselaarspolitiekery van die linkse Alliansie (om die redes wat hierbo uiteengesit is). Dit is dié soort politiekery, wat nou meer as ooit tevore deur die aanvaarding van individue en faksies uitgespel word, wat altyd sal verseker dat dit nié gebeur nie, juis omdat die konsekwente posisionering van die SAKP en COSATU vereis dat hulle polities en organisatories die maatskaplike bewegings moet beheer sodat hulle nie “anti-ANC” raak nie, en ook sodat hierdie maatskaplike drukgroepe geen verdere of voortgesette bedreiging vir die “linkse” dominansie van die SAKP/COSATU en die selfgesalfde “linkse” magte in die ANC/die staat inhou nie. Dit is die belangrikste rede waarom die SAKP/COSATU die maatskaplike bewegings as “’n probleem” ervaar eerder as linkse bondgenote om ’n lewensvatbare en begronde politieke beweging in direkte teenstelling met die shosholoza-kapitalisme van die ANC/regering te bou. Dis vir hulle geen “probleem” om allerhande skelwoorde na sekere ANC-leiers en “klasmagsgroepe” te slinger nie (waarvan die skrilheid en venyn nooit naastenby deur die maatskaplike bewegings geëwenaar is nie), maar dit raak ’n “probleem” wanneer maatskaplike bewegings regstreeks na die werklike politieke, ideologiese en organisatoriese redes gaan agter die stygende ergernis en praktiese teenkanting teen die ANC en die beleide wat dit deur die staat implementeer. Dit is presies of juis omdat die SAKP en COSATU weier om die naelstring met die ANC deur te knip dat hulle hierdie volkome teenstrydige posisie en politiekery moet bedryf, in so ’n mate dat hulle meer bevoeg kan wees om nouer bande met kapitaliste en liberales te smee as met die meeste arm gemeenskappe en dié se worsteling. Wat oplaas vir die linkses uit beide die ANC se Beleidskonferensie en die SAKP-Kongres voortgekom het, wentel om die SAKP (en in mindere mate COSATU – synde ’n vakverbond) se omskrywing van wie of wat is op sy eie voorwaardes, en nie dié wat bepaal word deur die karakter en inhoud van opgeboude konflikte tussen of onder individuele leiers en “kampe” van die ANC (en, per uitbreiding, die Alliansie) nie. Want nou het die linkse Alliansie toegelaat dat ‘Zumafisering’ ’n houvas kry op sy politiek. Eerder as ’n “sege vir die linkses” verteenwoordig die onderskeie byeenkomste ’n vertrouenskrisis op sy skerpste: ’n vertrouenskrisis in die vermoë en bereidheid van sy kieserskorps (dit wil sê die arm en werkersklas) om hom te vereenselwig met ’n politieke en organisatoriese alternatief vir die ANC se ont-raste en elitistiese kapitalisme, en om te identifiseer met die klasseskeiding wat nou die Suid-Afrikaanse samelewing so duidelik verdeel. _________ (1) Die Trotskiïstiese taktiek waarvolgens ’n kleiner groepering beheer oor ’n groter groepering oorneem deur beheer van laasgenoemde se besluitnemingsposisies oor te neem.
|