blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Uit die galmende stilte van wind 2007-06-14
Heilna du Plooy

*Professor in Afrikaans en Nederlands, Potchefstroom-kampus, Noordwes-universiteit en digter van In die landskap ingelyf (Pretoria: Protea, 2003).

 

Breyten Breytenbach, Die Windvanger, Kaapstad: Human & Rousseau, 2007.

 

Daar word soms verwys na die literatuurstudie en ook die werk van resensente en kritici as die aktiwiteit van ’n sekondêre verbeelding wat as’ t ware teer op die primêre verbeelding van die skrywer. Daar is dan die risiko dat die werk van die skrywer in die proses makgemaak en hokgeslaan kan word, omdat die leser nie kan bybly by die verreikende vlugte van die skrywer se gees nie.

Wanneer ’n mens skryf oor die poësie, wat per definisie die grense van betekenis uitstoot en waarvan die eintlike betekenis juis anderkant die grens van die logika en die verstand lê, is samevattende en algemene opmerkings in besonder riskant, des te meer as dit gaan om die werk van ’n groot digter soos Breyten Breytenbach. Trouens, die digter waarsku self “nou sê jy vriend / jy wil my pennevrugte bestudéér / nee asseblief néé ...” en verduidelik dan dat al wat hy wou doen, was om sy hand op “jou bors te lê / en te luister / wat jou hart in die blik / onderpols vir my sê”.

Wat hier volg, is dus ’n inleiding en voorlopige beskrywing van ’n bundel wat die leser self verder moet ontdek.

Bykans nege jaar na Papierblom (1998) deur Jan Afrika (waarvoor Breytenbach die Hertzogprys ontvang) en sewe jaar na Lady One (2000 met 99 liefdesgedigte waarvan nege nuwes is), verskyn Die windvanger in 2007. Die publikasie van die bundel is, soos trouens altyd die geval was en is met Breytenbach se werk, ’n belangrike literêre gebeurtenis, des te meer vanweë die komplekse en veranderende verhouding van die digter met Suid-Afrika en Afrikaans. Die belangrikste is egter dat die bundel wonderlike verbeeldingryke en aktuele verse bevat, verse waarin belewenis en poëtiese segging naatloos inmekaarvloei en die leser se aanvoeling en invoeling opskerp en meesleep.

In Die windvanger kom tipiese temas en poëtiese werkwyses van Breytenbach voor. Lesers weet al om op grond van die onderliggende Zen-denke teenoorgesteldes as deel van mekaar te lees en om raak te sien hoe opposisies mekaar bepaal, in mekaar oplos of mekaar uitwis. Daar is ook weer die vindingryke, verrykende en verreikende wyse waarop metaforiese kettings en reekse gevorm word wat ’n gedig sowel vorentoe neem as op sigself laat ingroei en verdiep, die vele gestaltes van die digter in die verse en die oormekaarskuif van belewenis en poëtika, sodat die verse inspanningloos veelduidig word.

Maar hierdie bundel dra gewis sy eie stempel, sowel in die tematiek as stilisties.

Die bundel is in nege afdelings verdeel en die verse in elke afdeling vertoon ’n bepaalde samehang, hetsy tematies of as verse wat in ’n bepaalde tyd of omstandighede ontstaan het. So is daar “lappesait” wat die gedigte van die lappesait-uitstalling bevat en “najaarsverse” wat, afgesien van die gedigte oor die rampspoedige gebeure van 11 September 2001 in New York, ’n reeks verse geskryf by geleentheid van die digter se verjaarsdae insluit. ’n Mens sou kon vermoed dat “fluit-fluit” ontstaan het nadat Breytenbach besluit het om Suid-Afrika te verlaat die verband met “fluit-fluit, my storie is uit” kan immers nie misgelees word nie.

’n Tema wat deurlopend opvallend is en wat byna as ’n soort binding figureer, is tyd. In die eerste gedig in die bundel word die frase “daar is geen tyd” ’n refrein na aanleiding van die verbygaande aard van dinge. Terwyl die gedig dit stel dat tyd “die verskietende komeet van geheue” is, dat die lewe, geheue en stories en liefdes, vervlietend is, is die gedig self op ironiese wyse die verweer teen die ongrypbare en die verganklike omdat die hart se “klop-klop-dinge / soos pyn onder die ooglede” daar opgeteken word.

Die duursaamheid van die optekening word dadelik gerelativeer, want die digter praat van die “vertel-vel” en “kankerwoorde van vergeet”; hy verwys na die versaking van wat vertel word, na die “ewigdurende galmende momentum van stilte”. Die gedig is terselfdertyd woord en klank en stilte, maar van die ononderskeibare saamgaan van die moontlike en onmoontlike, van wees en nie-wees, van klank en stilte, van die selfondermyning as sodanig is die konkrete gedig, die materialiteit van die opgetekende, nogtans dit wat oorbly, wat ís.

Daar is in die bundel ’n volgehoue relativering van sowel die temas in die verse as die vers self. So is die sterre “soos maaiers in ’n lyk”, die verlore dagboek “’n klont koue kots”. Wat die digter uit homself uitskryf, wat hy nalaat, word vergelyk met “akkediskak”, met die uitskeidings van diere en die gedig skiet “dooie woordsaad”. Aan die ander kant is die gedig ’n reis, ’n ontdekking, ’n verkenning van “’n verre land van vreugde en verdriet/ agter die hemel waar die nag verskiet”. Die vraag na die gedig se vermoë om reg te laat geskied aan verskriklike werklikhede word op aangrypende wyse verwoord in ’n gedig geskryf op ‘die volgende dag’: “New York, 12 September 2001” wat afsluit met die reëls:

 

sal enige gedig eendag iewers ooit genoeg gewig mag hê

om ’n handskrif te laat wat praat van val en vergeet

sal die dood aanhou ritsel in die papier

 

Terwyl die digter se woorde vol wind is, wind self is, is die vers ook die windvanger vir die “Werklike” wat die enigste “Ewigheid” is. Hierin lê ’n belangrike aspek van Breytenbach se poësie: die poësie vang inderdaad die oomblik vas, want al kom die dag waarop hy tien geelperskes koop en eet “nooit weer terug/ nie so met kromming/ en verskuiwing en beligting” nie en al vee die hand met honger vingers die dag se tyd en verbygaan uit, al is dit nooit weer dieselfde nie, is dit wat was, wel aangemerk in die woorde van die vers (vgl. ook “kleinoggend Parys”).

By die lees van die bundel staan die onmiddellikheid van ervaring, die konkreetheid van die oomblik tog uit as kenmerkend en al word die belewenis dan weer gerelativeer, “uitgevee” en na die herinnering “weggevee” was dit tog vir die oomblik wat dit geduur het, daar. En die gedig is daarvan getuie of testament of merk of spoor.

Op dié manier lewe die plekke wat die digter-reisiger besoek, die plek self sowel as die belewenis van die plek en die wegraak van die ervaring as die reis voortgaan (vgl. die verse in afdeling 5 “reispapier” en in afdeling 6 die verse geskryf in New York, Porto Alegre, Addis Abeba, Vancouver). In die afdeling “akkediskak” word daar by herhaling oor die gedig se ontstaan en aard en waarde bespiegel, maar op so ’n vloeiende poëtiese wyse dat die verse self die efemere, onttrekkende, ontwykende aard van die poësie illustreer (vgl. “die woorde in die vers”, “gedigte maak”, “winterwerk” en veral “belydenis” en “die digter as filosot”). ’n Vers wat ’n mens bybly, is “donkermaan/donkerhand” waar die gedig “beweeg tussen riete van die nag”:

 

ek wil haar lêmaak, lyfskrywe:

‘kom praat met my

my kooi-ooitjie,

ek sal jou rym en ritme gee

...

sodat jy vry kan sing en sonspring’

 

Die besinning oor die poësie kry ook verdere dimensie in die gedigte wat handel oor ander digters en kunstenaars soos Ingrid Jonker, Rimbaud, Neruda en Sheila Cussons.

Die bundel reflekteer en stempel onteenseglik ’n fase van Breytenbach se lewe en belewenis, vandaar ook die aktuele verse van hierdie tydvak, die ramp van 9/11 en die ironiese “heildronk” op die kontemporêre Suid-Afrika, asook verse wat besin oor die lewensfase waarin die digter hom bevind, ’n fase waarvan hy sê “dit gaan moeilik wees/ om hierdie aarde te versaak”.

Gedigte soos “EvV Okt 2002” (vir die Vlaamse digter Eddy van Vliet), “dis nie so erg om oneervol uit die stryd te tree nie”, “laatvers”, “’n groetgedig vir Ampie” en “die laaste gedagte” brei hierdie problematiek verder uit. Die laaste afdeling van die bundel sluit dus aan by die tydsproblematiek wat in die aanvangsvers voorkom en dwarsdeur die bundel loop.

Hoe ookal na Die windvanger gekyk word en daaroor geskryf word, is dit die verse self wat gelees en herlees moet word. Die dinamiek van hierdie kaleidoskopiese soort poësie kan nie misgelees word of selfs platgeskryf word deur kommentaar nie. Die bundel as geheel laat ’n mens met die indruk van helderheid en gestrooptheid, van direkte segging en eenvoud, maar elke gedig en die bundel as geheel hersirkuleer en permuteer en kombineer inhoude so vindingryk en verbeeldingryk dat dit die leser bly verstom. Of Breytenbach skryf oor die gloeiende onmiddellikheid van wat hy sien en beleef, of hy sy eie woorde tegelyk beminnend liefkoos en verwerp, uittrap en afskryf, of hy visueel reageer of eroties verwoord, is daar in sy poësie altyd vernuwing in die byeenbring van diskrepante en verrassende dinge en woorde. Sulke poësie bly boeiend omdat dit die grense van die denke afbreek, omdat die verse nooit afsluit nie, maar altyd oopmaak.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=885
Artikel nagegaan:
    -