|
||||
Herman van Niekerk
Ella Fitzgerald (1917-1996) 90 jaar gelede gebore
Die “First Lady of Song”, Ella Fitzgerald, was vir meer as 50 jaar die bekendste jazz-sangeres in die VSA. In haar leeftyd het sy 13 Grammy-toekennings ontvang en meer as 40 miljoen albums verkoop. Haar stem was beweeglik, omvangryk, akkuraat en tydloos, en daarmee kon sy enige styl in haar genre aandurf. Sy het met die grootste name in die jazzwêreld saamgewerk (of húlle saam met háár): Duke Ellington, Count Basie, Nat King Cole, Frank Sinatra, Dizzy Gillespie en Benny Goodman. In die mees vooraanstaande venues het sy opgetree, en voor volgepakte sale aanhangers – so uiteenlopend soos haar stemomvang – vermaak. Ella Jane Fitzgerald is op 25 April 1917 in Newport News, Virginia, gebore. Haar tienerjare was moeilik (ouers geskei, verhuis na Yonkers – ma en stiefpa oorlede…) en so bevind sy haar op 15-jarige ouderdom alleen in die Amerikaanse Depressie, maar ook op die verhoog van die Apollo-teater waar sy beplan om deel te neem aan ’n talentkompetisie as danseres – maar kort voor die gordyn lig, verander sy van besluit, en sing liewers ‘Judy’ van Hoagy Carmichael, en wen. ’n Jaar later (en na vele sporadiese optredes) kry sy ’n kontrak van die Chick Webb-orkes om teen $12.50 ’n week saam met hulle te reis. In 1936 maak sy haar eerste plaatopname vir Decca – getiteld Love and Kisses – die plaat vaar so-so. Die stylverandering daardie jare in jazzmusiek – van swing na bebop – het Ella genoodsaak om ’n vokale aanpassing te maak, en dié aanpassing was ook die “amptelike” geboorte van haar kenmerkende scat-sangstyl. Op 21-jarige ouderdom (1938) neem sy die kleuterrympie, “A-Tisket, A-Tasket”, op. Die album verkoop 1 miljoen kopieë en was vir 17 weke op die treffersparade. En Ella was beroemd. In haar sangloopbaan was haar dekadelange verbintenis met die musiekvervaardiger en bestuurder, Norman Granz, een van haar belangrikste vriendskap- en sakeverhoudings. ’n Ander belangrike vriendskap van Ella was met niemand anders nie as Marilyn Monroe. Ella was twee keer getroud (eers met Benny Kornegay – ’n dokwerker, en toe met Ray Brown – die bekende jazz-basspeler) en het nooit eie kinders gehad nie slegs ’n aangenome seun (Ray Brown Junior) tydens haar huwelik met Ray Brown – wat in 1952 tot ’n einde gekom het, maar met wie sy lewenslank vriende gebly het. Ella was buiten haar sangloopbaan ook agter die skerms finansieel nou betrokke by liefdadigheidsorganisasies wat veral gerig was op kinders. Dit was ook veral in haar later jare die dryfkrag vir haar verdere optredes. Sy het ’n paar belangrike toekennings ontvang, waarvan die belangrikste ’n toekenning was van president Ronald Reagan in 1987 (Die Nasionale Medalje vir die Kuns), ’n Ridder van die Kunste- en ’n Lettere-toekenning van Frankryk, en ook ere-doktorsgrade van onder meer Yale en Dartmouth. Sedert 1986 was Ella nie meer so gesond nie – sy het eers ’n hartomleiding gehad en toe ’n hartklep laat vervang. Daarna is sy as diabeet gediagnoseer – waaraan haar swak sig toegeskryf is. In daardie jare het die media bespiegel dat sy nie weer sal sing nie, maar sy het vasgebyt en deurgedruk en teen 1990 meer as 200 albums opgeneem. In 1991 gee sy haar finale uitvoering (die 26ste keer) in die Carnegie-saal in New York. Haar diabetes het veroorsaak dat sy in 1993 beide haar bene tot by die knie laat amputeer het en sy het nooit van die operasies herstel nie. Sy het haar laaste dae rustig deurgebring saam met Ray junior en haar kleindogter, Alice. “Ek wil net die lug ruik, na die voëls luister en Alice hoor lag,” het sy gesê. Op 15 Junie 1996 sterf Ella in haar Beverly Hills-huis. Sy is begrawe in die Sanctuary of the Bells in die Inglewoodpark-begrafplaas in Kalifornië. Om haar 90ste verjaardag vanjaar te gedenk word onder meer 2 CD’s op 31 Julie uitgereik deur Starbucks in die VSA, met snitte wat nog nie vantevore die lig gesien het nie onder die titel Love Letters from Ella. Op 6 Junie is daar ’n konsert (wat vir TV opgeneem word) ter ere van Ella se 90ste verjaardag in die Galen-sentrum (10 000 sitplekke) in Los Angeles met kunstenaars soos Natalie Cole, k.d. lang, Nancy Wilson, Cyndi Lauper, Quincy Jones, Take 6, Wynona Judd, Ruben Studdard, Patti Austin, Lizz Wright, Monica Mancini, Dave Koz, George Duke, James Moody en die Universiteit van Suid-Kalifornië se Thornton Simfonie- en Jazz Orkes.
Noordsee Jazzfees – Rotterdam: 13-15 Julie 2007.
Vanjaar vind die Noordsee Jazzfees vir die 32ste keer plaas. Vir 30 jaar lank was hulle tuiste die Kongressentrum in Den Haag, en sedert verlede jaar is die feesbasis Rotterdam. Die fees poog om alle genres van jazz te dek: New Orleans Jazz, swing, bop, vrye jazz, avant garde-jazz tot blues, gospel, funk, soul, r&b en hiphop. Die Noordsee Jazzfees is die breinkind van die Nederlandse musiekpromotor, Paul Acket, wat in 1976 sy eerste fees aangebied het in die Nederlandse Kongressentrum. Die afgelope 29 jaar het die fees gegroei tot een van die voorste jazzfeeste in Europa, en vandag het hulle oor die drie dae van die fees in 15 venues 1200 deelnemende musikante en 70 000 besoekers. In 2000 het hulle ook hul vlerke verder gesprei en vind die Kaapse jazzfees ook onder hulle naam plaas. 2007 is dan ook geen uitsondering ten opsigte van kunstenaars nie. Die fees vind oor 3 dae plaas en uitvoerings begin gewoonlik daagliks om 18:00 en duur dan tot ongeveer 02:00 die volgende oggend. Kunstenaars (kom ons noem maar ’n paar van die honderde…) op hul verhoë vanjaar is onder andere: Paul Anka en sy orkes, die Buena Vista Social Club, McCoy Tyner Trio, David Sanborn, Marcus Miller, die Lincoln Sentrum Jazzorkes met Wynton Marsalis, Dee Dee Bridgewater, Steely Dan, Gino Vannelli, Tuck & Patti, Toots Thielemans, Chick Corea, Candy Dulfer en Elvis Costello. Meer inligtingting oor die fees – program, kostes, reis en verblyf – is beskikbaar by www.northseajazz.nl. Vanjaar se fees kan ook op die internet beluister word.
Sibelius 2007 (1865-1957)
Die afsterwe van Jean Sibelius 50 jaar gelede word vanjaar heeljaar herdenk. Tydens vanjaar se Proms in Londen (13 Julie – 8 September) word verskeie van sy komposisies uitgevoer. Op Dinsdag 31 Julie word Tapiola uitgevoer deur die BBC Skotse Simfonieorkes onder leiding van Ilan Volkov. Saterdag 11 Augustus word twee Sibelius-films van Christopher Nupen vertoon: The Early Years (1984) en Maturity and Silence (2006). Dieselfde aand voer die Europese Unie Jeugorkes o.l.v. sir Colin Davis Sibelius se 5de Simfonie uit. Op Woensdag 15 Augustus word Sibelius se volledige The Tempest uitgevoer in Fins, asook sy Songs for Orchestra en Simfonie Nr. 7. En laastens tydens die Proms word sy 2de Simfonie uitgevoer op Woensdag 29 Augustus deur die Beierse Radio Simfonieorkes met Mariss Jansons as dirigent. Nog lees- en luister-inligting is beskikbaar by: http://www.bbc.co.uk/proms/2007/.
Grieg 2007 (1843-1907)
Ons volg steeds die gebeure rondom Grieg tydens die 100ste herdenking van sy dood hierdie jaar. Een van die projekte in Noorweë gedurende April was om op die jeug te fokus: In ’n tweeweeklange projek getiteld “Klankversamelaar” is Graad VI-leerlinge van Stord gevra om vas te stel hoe Grieg van natuurklanke gebruik gemaak het as bron vir sy komposisies. Die kinders het opnames in die natuur gemaak en hul klanke musikaal gestruktureer, wat saam met die Bergen Simfonieorkes en die BIT20 Ensemble uitvoer is op 10 Mei.
Inligting vir hierdie rubriek word voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk – [email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika. Die hoofdoel van die rubriek is om musiekinligting te kommunikeer waaraan mens nie aldag blootgestel word nie. Die doel van die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en partykeer vertolkend. Alle datums en tye was korrek by ter perse gaan. |