blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Rock-rubriek: Shawn Phillips: Texas-ruimteman 2007-06-14
Shiloh Noone

*Skrywer van die rock-ensiklopedie Seeker’s Guide to the Rhythms of Yesteryear, [email protected]

 

Folk-legendes word dikwels gebaseer op verwysing na treffersparades of boeke. Maar dan kom daardie legendes wat opgeswiep is in misterie, verdwyn onder die mantel van die 1960’s of gestroop van erkenning weens onderduimse bestuur en kontrakte.

             Dit is die geval met die twaalfsnaar- akoestiese genie, Shawn Phillips, eertydse woonstelmaat van Tim Hardin, wat die Indiese sitaar vir Donovan gespeel het op “Sunshine Superman”. Op die ouderdom van twintig het Shawn na Londen getrek en bekend geword as produktiewe skrywer, musikant en sanger.

             Hy het nie net les gegee vir Joni Mitchell op ’n baie jong ouderdom nie, maar hierdie Texas-gebore folk-musikant was ’n gereelde gesig by die Bleecker/ McDougal-folk-klubs van die vroeë 1960’s. Shawn se stem het katedraalvlak bereik en Andrew Lloyd Webber het die minstreel met die hand uitgesoek om sy goddelik begaafde stem te leen aan die omstrede Jesus Christ Superstar, maar Shawn het Italiaanse sabbatsverlof verkies en is vervang deur Ian Gillan van Deep Purple.

             Die poësie van hierdie troebadoer is bewonderenswaardig en sy etlike jare van verkwikking in Italië het van die mees besielende liefdesballades voortgebring om die 1970’s vas te vang. Dit is ’n versteekte, geheime feit dat hy inderwaarheid deelgeneem het aan die Sgt. Pepper’s-album (“Lovely Rita”) as agtergrondsanger vir The Beatles.

             Die eerste liedjie wat Shawn geskryf het, “Death Train”, het die legendes van vervloë folklore weerspieël, ’n scenario wat sy veelsydige toekoms sou verbeter. Die vroeë albums I’m A Loner en Impressions is geïnspireer in die bosagtige wêreld van sy Greenwich-wortels, met oorwoë weergawes van Hamilton Camp se “Pride of Man” en Coltrane se “My Favourite Things”, die eerste gehoor van We Five.

             Shawn het ook die Hans Christian Andersen kleuterrymende “Little Tin Soldier” geskryf, wat met die edele Donovan aan die lig gekom het. Buiten die saamskryf van die jazzerige “Season of the Witch”, is Shawn se sitaar misties gekleur op “Sunny South Kensington” en die volledige weergawe van “Sunshine Superman”. Shawn het as ’n folk-sanger verskyn in die 1965-rolprent Run With the Wind, en tydens sy A&M-kontrak uitvoerig saamgewerk met Steve Winwood, Mick Weaver en Chris Woods. Shawn se twaalfsnaar agter die teer skoonheid van Donovan se spirituele stem het ook voorgekom op die Duitse 1972-rolprent The Pied Piper en Franco Zeffirelli se Brother Sun, Sister Moon.

             Shawn se ateljeesessies was talryk, by name Wynder K Frog se derde album Into the Fire of die kristalagtige twaalfsnaar agter Donovan se eklektiese “Summer Day Reflection Song”. Die Quartermass-pianis, Peter Robinson, het die meeste van die klawerbordwerk op Shawn se komposisies weergaloos uitgevoer. Die waardige introspeksie van Contribution met die besterde “L Ballade” en onderspeelde steun van Mick Weaver en Eric Clapton het die belofte van groter komende dinge getoon.

             Collaboration (1973), Faces (1974) en 1971 se Second Contribution bring ewige vreugde. Shawn se sagte benadering is manjifiek versterk deur die snaarverwerkings van Paul Buckmaster. Shawn se epiese Second Contribution het van die voorste akoestiese en sopraansangwerk van die tyd versinnebeeld. Die album is ’n spirituele manifestasie van harmonie versmelt met Gregoriaanse tone en die lae van die twaalfsnaarkitaar. Die engelagtige “Ballad of Casey Deiss” sal lank onthou word vir die harmoniese sopraan en die verhoogde vlak wat Shawn kon bereik. Dan roep “She as waiting for her mother at the station in Torino, and you know I love you baby but it’s getting too heavy to Laugh” ’n Christus-agtige boetedoening op soos dit deur ’n mens se wese sidder. Dit is werklik asemrowend in sy treffende glans.



             1973 se Faces, ’n gepaste beskrywing van die gevarieerde style wat deur die album gereis het, is in ’n hoë mate ’n ommekeer vir Shawn. Die ateljeespan was sterbelaai, bestaande uit die VSA se skadubasman Leland Sklar, Sneaky Pete op die staalkitaar en Joe Sample op die klavier. Die fluit is normaalweg bespeel deur Johnny Almond, die ster van John Mayall se Turning Point. Shawn pluk die sitaar op die geïsoleerde “Chorale”, wat met die skildering van sterreoomblikke sy aard en geestelike toestand weerspieël. Die laaste oktaaf word gelewer op sy uitstaande “Parisian Plight 11” van 13 minute lank. “The Plight” is aangehelp deur Juici Lucy se staalkitaarspeler, Glen Campbell, Traffic-padloper Steve Winwood en Keef Hartley se blaaskrag, Henry Lowther en Chris Mercer. By terugblik het die album baie gesigte met elk sy eie uitdrukking.

             Shawn se 1974-vrystelling Furthermore het die voormalige baskitaarspeler van Big Three/ Quartermass, John Gustafson wat in die progressiewe inleier “January First” inploeg. Dis hier waar jy besef dat Shawn ver van folk was en nader aan die jazzerige streke van ingewikkelde Progressiewe Rock.

             Asof om die storm te kalmeer verf Shawn met sy kwaste deur die kalm “Starbright”, saam met Robinson wat die skilderdoek omlyn met sy kabbelende klawerbord, en die voormalige Blue Mink, Anne Odell wat die mellotroon buig op hierdie korale sterrekyker. Shawn het my eenkeer tydens ’n tien minute radio-onderhoud vertel dat Furthermore sy absolute aanslag en skepping was. Die album spog ook met die eteriese tjello van Paul Bickmaster, meesterverwerker van naam.

             Die album het ’n omvang anderkant die skuiwende sand van Camel of Caravan, soos die ruime “Cape’ Barras” wat Shawn se jodelstem lugwaarts neem. Shawn het die kitaarinnoveerder Caleb Quaye nadergetrek vir die kitaarinkwisisies wat gespruit het uit “Ninety Two Years” en “Talking in the Garden”. Miskien die mees ontroerende lewering weerklink in die aansteeklike “Breakthrough”, ’n meester in sy eie weerkaatsing.

             Elkeen van Shawn se albums het ’n glinsterende sieraad wat die leser dikwels verblind vir daardie diep weggesteekte kleinode wat tussen die reëls lê. Collaborations het aan ons die roerende “Moonshine” en “Spring Wind” gegee, terwyl “Furthermore” geglinster het deur “Talking in the Garden”. En dan was daar Bright White en die onderskatte Rumpelstiltskin Resolve.

Kry hulle almal voor dit te laat is.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=883
Artikel nagegaan:
    -