|
||||
Amanda du Preez
*Senior lektor in beeldende kunste, Universiteit van Pretoria
Beautiful Ugly. African and diaspora aesthetics onder redaksie van Sarah Nuttall, Durham & London: Duke University Press in samewerking met die Prince Claus Fund Library en Kwela Boeke, 2006. ISBN:0-7957-0186-1, 416 bladsye.
Onder redaksie van Sarah Nuttall word die netelige aangeleentheid van skoonheid en Afrika vanuit sewentien verskillende invalshoeke belig. Wie het Afrika se skoonheid gesteel? En hoe kom ons tot ander insigte oor Afrika se skoonheid as die dominante interpretasies van buite Afrika gemaak is? In die sewentien hoofstukke wat wissel vanaf populêre musiek in Kameroen tot Kreoolse kookkuns word die estetiese begrip van skoonheid in eietydse Afrika belig. In haar inleidende hoofstuk getiteld “Rethinking beauty” trek Nuttall die buitelyne van die boek se doelstellings. Die boek poog onder meer om die volgende idees krities te ondersoek: die feit dat skoonheid gewoonlik gevind word aan die perke van die lelike (en dan die feit dat Afrika veral in terme van die lelike verstaan word); asook die intieme band wat daar tussen die lelike en skoonheid bestaan. Nuttall maak dit duidelik dat die konsep van skoonheid tans ’n soort herlewing ondergaan en dat die konsep skynbaar haar ongewildheid in die laaste deel van die twintigste eeu oorleef het. Skoonheid, wat tradisioneel as vroulik beskou word, het in die twintigste eeu ’n onding geword in die aanskyn van die beheptheid met die sublieme. ’n Mens kan daarom saam met vele ander teoretici vra waarom so baie kuns van die twintigste eeu lelik was. Nuttall lê die volgende vier registers neer aan die hand waarvan sy skoonheid en Afrika ondersoek. Die eerste register belig die inskrywing van Afrika in dominante Westerse diskoerse as die figuur van die lelike. Met ander woorde waarom het Afrika as die lelike gefigureer teenoor die Westerse skone? Die tweede register is ’n historiese ondersoek na die wyse waarop die idee van skoonheid deur die antropologie enersyds opgeslurp en andersyds deur die kunsgeskiedenis geannekseer is. Derdens word die verband tussen skoonheid en die globale moderniteit en postmoderniteit ondersoek en laastens die ligsinnige aard wat soms aan die skone in Afrika toegeken word, veral gesien in die konteks van die groter sublieme lyding in Afrika. Die boek ontvou tussen hierdie vier registers van ondersoek. Van besonderse akademiese waarde is die hoofstuk deur Simon Gikandi getiteld “Picasso, Africa and the schemata of difference”. Gikandi handel grondig met die problematiek van die moderniteit en sy afhanklikheid van die primitiewe, en dan Afrika-kuns in besonder. Hoe is die sogenaamde primitiewe toegeëien deur die moderniteit? Het Afrika-kuns net ’n onderbewuste aan die moderniteit verleen of was die invloed nog veel ryker in die vorm van formele oordrag? Dan is daar Achille Mbembe se treffende interpretasie van populêre Kongolese stedelike musiek. Volgens Mbembe word die musiek liggaamlik ervaar en daarom kan dit as ’n vorm van lewe verstaan word. In die mate wat die musiek dan lewend is, is dit ook skoon, voer Mbembe aan. Die verbeelding word deur hierdie musiek bevry: “And perhaps in the end, beauty is this: that by which human beings are brought to the most profound level of their symbolic faculties” (p.92). In die geval van populêre Kongolese musiek kan die skoonheid daarin gevind word omdat dit konstant in gesprek met die sublieme of die lelike is: “Because this society, so accustomed to atrocity, is playing with death, its music is both born out of tragedy and is nurtured by it. So is beauty.” (p.93). Die verhaal van die skone is dus intiem verweef met dié van die sublieme. Dit word ook duidelik uit Dominique Malaquais se hoofstuk oor die Kameroense kunstenaar, Sumegne, wat sy kuns skep uit die afval van die gemeenskap. Sumegne skep skoonheid uit die lelike. Dit wat weggegooi is en nie meer as nuttig beskou kon word nie, verkry in sy kuns weer ’n nuwe lewe. En omdat kuns volgens Sumegne altyd in ’n staat van wording is, is sy kunswerke ook nooit voltooid of afgerond nie. Sy kuns weerspieël die breekbaarheid van die skone en ook die feit dat die grens tussen dit wat mooi is en dit wat lelik is, maklik oorskry word. Dit wat nou mooi is, is môre moontlik lelik, veral in ’n verbruikerskultuur waarin byna alles weggooibaar en vervangbaar geword het.
Die skoonheid wat wegkruip in die “estetika van industria” word in die hoofstuk met die onderhoud tussen die kunstenaar Rodney Place en Sarah Nuttall verlewendig. Die stad wat deur die modernistiese wêreldbeeld opgerig is, ondergaan nou en Rodney Place verwys spesifiek na die middestad van Johannesburg ’n gedaanteverwisseling. Die stad word nou anders beliggaam en sy verkry ’n nuwesoortige skoonheid wanneer sy met ander oë beskou word: “To me it suggests a potent beauty, where the idea of an African aesthetic might lie as much in the power of (re)interpreting these structures, as it would in making things ‘African’” (p.323). Johannesburg as stad wat eens gebou is om die mynbou te onderhou, word nou ’n stad van nuwe komplekse energieë en netwerke. BeautifulUgly wys op vindingryke wyse dat skoonheid in Afrika te vinde is in die mees onwaarskynlike plekke of moontlik is dit eerder die geval dat die skoonheid nou eers gevind en waardeer word. En alhoewel skoonheid nooit té ver van die sublieme te vinde is nie, skyn die twee konsepte mekaar in ’n gesonde dialektiek vas te hou. |