blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die ondergrondse Pretoria-Oos 2007-06-14


Die Vrye Afrikaan: Waarom het jy Maanvrug geskryf?

Annelise: Maanvrug is in ’n sekere sin die onafwendbare gevolg van my drome oor ’n ander manier van dink, voel en wees. Ek het dit nie met ’n doel geskryf nie. As ek na die wêreld kyk, sien ek dikwels inperkende, siellose, leë verhoudings sonder sensualiteit en passie. Ek het my wêreld oorverbeel, met al die erotiek en liefde, weerloosheid en moed waartoe ek glo die mens in staat is. En aangesien ek skryf, het al my idees in Maanvrug bymekaar gekom.

 

DVA: Te oordeel aan die openbare beeld van Afrikanervroue het hulle die afgelope dekade of twee baie meer selfstandig geword. Tog is Selenè, die hoofkarakter van Maanvrug, en haar vriendinne nog tot ’n hoë mate in baie tradisionele huwelike vasgevang. Is Afrikanervroue dus bevry of nie?

Annelise: Daar is nie ’n eenvoudige antwoord op die vraag nie. Meeste vrouens sal seker sê dat hulle doen wat hulle wil doen wanneer hulle dit wil doen. Hulle sal selfs sê dat hulle eintlik die septer by die huis swaai en dat die mans net dínk hulle neem self die besluite. Die Afrikanervrou het die geleenthede om vry te wees, sou sy dit verkies, selfs binne ’n tradisionele huwelik. Ek dink sy is ekonomies en polities redelik vry. Maar is sy geestelik en emosioneel vry? Weet sy wat dit beteken om juis haar vrouwees te bevry en te vier?

Soms dink ek die Afrikanervrou dra nog swaar aan al die voorskrifte wat deur die eeue aan haar voorgelê is. “Moenie jou enkel wys nie, moenie op die eerste afspraak soen nie, bly ’n maagd tot jy trou, dra ’n hoed, jy is moeder van die volk, moenie so koud wees nie, wees ’n madonna, wees warm in die bed, sy het my verlei – verbrand die heks, dit was Eva, sy het na die slang geluister” – vrouens het nie meer ’n benul wat hulle moet doen en wees nie. En ek dink hulle sal eers waarlik vry wees as hulle ál die aspekte van hulleself kan aanvaar as deel van die wonderlike geheel en dit met passie kan uitleef sonder dat dit as minderwaardig of onbelangrik in ons samelewing afgemaak word.

 

DVA: ’n Verrassende aspek van Maanvrug is hoe dit Pretoria-Oos herskryf vanaf korrekte kapsels tot ’n soort ondergrond van begeerte. Is hierdie herskrywing van Pretoria-Oos nie ’n bietjie idealisties nie?

Annelise: Dit ís in ’n mate idealisties – die beskrywing in Maanvrug is my verbeelding, nie my realiteit nie. Die werklikheid soos ek dit beleef, is baie meer onpersoonlik, hard en haastig. Die handhawing van die uiterlike fasade is baie belangriker as die deel van emosies en idees. Die begeerte hier ter sprake is meermale na ’n nuwe BMW of ’n nuwe uitrusting as na ’n hartstogtelike ontmoeting. Maar tog, dit is ook hier waar ’n groot deel van die herlewing van kreatiwiteit, spesifiek in Afrikaans, nou plaasvind. Dit is asof daar ’n aar vol skeppende energie diep onder die duette en Toskaanse gruwels deur loop wat nie meer gekeer kan word nie. Mense soos Jan Blohm, Gustav Kuhn, Dana Snyman, Jan van der Merwe en Ghappi bly hier en help bou aan die ondergrondse Pretoria-Oos.

 

 

DVA: Maanvrug kan gelees word as ’n pleidooi vir ’n soort oper huwelik. Gegewe die absolute aard van monogame liefde soos dit as ideaal met moedersmelk vir Afrikaners ingegee word, is so ’n ideaal werklik kultureel lewensvatbaar?

Annelise: Nee, heel waarskynlik nie. Die basiese voorwaardes vir so ’n verhouding om suksesvol te wees, berus juis op teenoorgestelde beginsels as wat tans deur ons kultuur as aanvaarbaar beskou word. Vir so verhouding sou ’n mens eerstens moet glo dat liefde nie jaloers is nie. Dit begin reeds met God se liefde wat nie jaloers is nie. Die samelewing sou ook moes aanvaar dat jy nie jou lewensmaat se liggaam en siel besit nie. Die idee dat ons tot meer liefde vir meer mense in staat is, sal ook eers moet begin posvat. Dan het ons nog nie eens begin werk aan die absolute premie van sekuriteit wat op die huwelik geplaas word nie. Dit word na my mening op die oomblik hoër geag as enige vryheid, groei of belewenis. Uit gesprekke lei ek af dat mense alles sal prysgee, selfs hulself, om nie hierdie sekuriteit te verloor nie. In ander kulture met ander fokuspunte werk oper huwelike wel, maar ek dink nie dit is Afrikaners beskore nie.

 

DVA: Ons era is een waarin mense se begeertes grensloos geprikkel word, veral om aan te hou koop en te verbruik. Selenè se verhaal kan gelees word as ’n moeisame, versigtige soektog na ’n balans tussen begeerte en verantwoordelikheid (teenoor haar gesin) – allesbehalwe ondeurdagte losbandigheid. Wat is jou kommentaar hierop?

Annelise: Selené is nie losbandig nie. In haar geval is die lyflike haar instrument waarmee sy probeer agterkom wie sy regtig is en wat sy regtig glo. Meeste van die seksuele ondervindinge in die verhaal is net haar fantasieë. Sy kon enige ander instrument gebruik het om by dieselfde punt uit te kom. Sy kon byvoorbeeld die soektog intellektueel aangepak het, maar ek dink dit sou vir minder opwindende leesstof gesorg het! Ek dink tog dat sy dit verantwoordelik probeer doen – dit is waarom sy byvoorbeeld stoei met die hele kwessie van eerlikheid en haar man in alles ken. Sy wil nie uit haar prentjie klim nie, sy wil dit net anders inkleur. En miskien leer sy dat jy net iets kan begeer wat jy nie het nie. As jy die prikkelling bevredig en die drang val weg, moet daar genoeg van jóú oor wees dat jy nie eensaam agterbly nie.

 

*Bestel Maanvrug deur ’n e-pos aan die skryfster te stuur na [email protected]

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=881
Artikel nagegaan:
    -