|
||||
Allan Boesak
*Teoloog en skrywer Hermann Giliomee, Nog altyd hier gewees, Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap, Kaapstad: Tafelberg, 2007, sagteband, 252pp.
Met die verskyning van Hermann Giliomee se jongste boek was daar onder ons kringe hier in die Kaap rond so ’n mini-debatjie. “Hoe kan ’n wit historikus die verhaal van bruin mense oorvertel?” Die vraag is gesien ons ervaring met wit geskiedskrywing nie so lank gelede nie én die hernude rasse-sensitiwiteit in Suid-Afrika nie heeltemal onsinnig of onvanpas nie. En daar is seker heelwat oor die meriete van hierdie soort onderneming te sê. Maar in hierdie geval is my antwoord duidelik: “Ja, hy kan”. En nie omdat hy die “mag” het om dit te doen nie, maar wel omdat hy die vermoë het, en die kennis, en die sensitiwiteit. Giliomee skryf ’n geskiedenis wat smag om vertel en gehoor te word, en hy laat hom elke keer waar dit nodig is, lei deur die ervaring en standpunte van die mense wie se stemme nog nooit gehoor is nie. In dié sin is die boek ’n noodsaaklike korreksie op wat ons dink ons weet, maar tegelyk ook vars, en een wat opnuut tot nadenke stem. Hierdie is nou wel “die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap”, maar in werklikheid is dit veel meer. “Stellenbosch” staan hier as simbool van talle dorpe in die Wes-Kaap, maar die manier waarop Hermann Giliomee die storie vertel, kontekstualiseer en aktualiseer die groter geskiedenis van Suid-Afrika. En hy doen dit meesterlik. Daarmee doen Giliomee nie net die geskiedskrywing ’n guns nie, hy bewys ook aan ons strewe na gemeenskaplikheid en saamhorigheid ’n geweldige diens. Die geskiedenis van Stellenbosch, uit die pen van Giliomee, werp deurdringend lig op donker kolle in ons geskiedenis én vra skerp vrae oor ons geskiedenis-in-wording. Die titel sê dit al: hierdie is ’n geskiedenis van Stellenbosch en ál sy mense, “al het die geskiedskrywing die illusie geskep dat die dorp eintlik net aan een groep behoort het”. Hier tel die geskiedenis van almal, maar op so ’n manier dat dit steeds die geskiedenis van almal is. “Die dorp is almal se dorp” klink soos ’n refrein dwarsdeur die boek, en oral hoor ons van wat deur “almal saam” beleef en gedoen is. Die boek vertel die geskiedenis só dat ontkenning van die verlede nie meer moontlik is nie, en dat veral die ontkenning van die belewenis en ervarings van die doodgeswygde gemeenskap beskaamd moet terugstaan. So word dit ook kritiek op die hede en al ons toekomsplanne. In die mini-debat van netnou noem iemand dat die boek feitlik net oor die bruin mense praat, en die swart mense omtrent geheel buite die prentjie hou. In die eerste plek is dit nie heeltemal waar nie, en tweedens is dit nou maar eenmaal hoe die sake geskiedkundig in Stellenbosch lê. Daar wás bitter min swart mense, en die verhoudinge en realiteite op die dorp is nou eenmaal destyds deur bruin en wit bepaal. Bowendien enkapsuleer Stellenbosch van sy vroegste dae af die tergende vrae oor Afrikaans en Afrikanerskap, oor oorsprong en gedeelde identiteit, oor gesamentlike waardes en ’n verdeelde of gedeelde toekoms wat toe al en in ons tyd van voor af historiese afmetings aangeneem het. Derdens, dit was eerlik en onbeskaamd die bedoeling van die skrywer om die bruin mense van Stellenbosch hul plek in die geskiedenis terug te gee. En daarmee vind ek niks verkeerd nie, inteendeel. En as dit ons help om ’n bietjie bo ons obsessiewe, rasgebonde grense uit te dink en te verstaan, des te beter. Die boek begin waar dit hoort: die geskiedenis van slawerny en die slawe in Stellenbosch. Ek stel dit aspris so: Giliomee skryf nie net oor die verskynsel slawerny nie, maar oor die slawe as mense. Hy belig die onvermydelike en pynlike teenstellinge wat slawerny gekenmerk het en toon daardeur, en in die konsekwensies vir die mense daarby betrokke, hoe onhoudbaar en gedoem die stelsel was. Soos altyd val die rol van die kerk in slawerny op. Die regverdiging van die sisteem, die gevangenheid tussen die wéét van die Evangelie en die doen daarvan. Die gebondenheid aan die bestaande sondige maatskaplike orde: “Die NG Kerk was nou eenmaal die kerk van die slawebesitters”. Tegelyk word die ander paradoks belig: vir die bruin gemeenskap was die kerk tóe, dwarsdeur die apartheidsjare en vandag nog, die kern van hul gemeenskapsbelewenis. Die bitterheid oor die rol van die kerk in die voortgaande tragedies van ons politieke geskiedenis het nie veroorsaak dat hulle die kerk en die Christelike godsdiens massaal die rug toegekeer het nie. Ons word nie toegelaat om aan slawerny as net iets van die verre verlede te dink nie. Die impak daarvan destyds en die nasleep daarvan vandag is onontkenbaar. Dit vertel ’n politieke geskiedenis deur die menslike geskiedenis: die selfbeskrywing van die Europeër Hendrik Biebouw uit 1707 en die bruin Pieter Daniëls as “Afrikaner” in 1883, die toe-eiening van die naam deur wit mense, en die politieke speelbal wat dit geword het in die vorige eeu. Soiets laat ons die reaksie op die term vandag in bruin geledere baie beter verstaan. Aan die hand van die “Slag van Andringastraat” laat Giliomee alle kante hoor, maar is hy genadeloos in die oopvlek van verskuilde motiewe. “Wat dit in werklikheid was, was ’n amokmakery, en in sommige gevalle boewery, van jong wit mense met die doel om die bruin mense op die dorp te straf, te intimideer en te dwing om onderhorig te wees.” Daar is iets profeties in sy rake aanhaling van Die Burger wat die ontwapening van blankes deur die regering en die gevolglike “astrantheid” van die bruines as een van die hoofoorsake van die slagting beskou: “’n Erkende teken van baasskap is die blanke ontneem.” Dié spook loop vandag nog. Die politieke geskiedenis soos Giliomee dit vertel, is fassinerend. Vir die bruin gemeenskap in die algemeen en vir dié van Stellenbosch in die besonder, ontvou die Suid-Afrikaanse politiek as ’n pynlike dilemma, ’n keuse tussen twee euwels. Omdat bruin mense wel tot in ’n stadium stemreg had, maar nooit politieke mag besit het nie, kon hulle wel die verkiesings beslissend beinvloed, maar nooit beleid bepaal en help uitvoer nie. Gevolglik was hulle altyd uitgelewer aan die beloftes van wit politici, maar nooit bepalers van hul eie politieke lot en toekoms nie. Die suiwerste tradisies in die politiek van bruin mense was nog altyd hul egte strewe na nierassigheid, en dit kom in die boek duidelik na vore. Maar baie keer het hul afhanklikheid van die mag van wit politiek hulle na ’n ander kant gedrywe: die soeke na groepsbelang soos deur blankes gedefinieer en uitgevoer. Hier het bruin mense ernstig gestruikel en meegeloop met kortsigtige rassepolitiek, wat baie van hulle vandag nog pootjie. Tegelyk was hulle vasgevang in die dilemmas en verkeerde keuses van die Afrikaners, wat hulle as lotsgenote gesien het. Oplaas het die Afrikaners bankvas vir wit solidariteit en wit “oorlewing” in plaas van vir “lotsverbondenheid” waaroor hulle so hoog opgegee het gekies. Giliomee waarsku reeds aan die begin van sy boek: “Diegene wat wil weet waarom die verhouding van Afrikaanse mense – wit en bruin – maar net nie wil “normaliseer” nie, moet heel eerste na die geskiedenis van die Groepsgebiedewet en die afskaffing van die bruin stem teruggaan.” Hy het gelyk, maar op hierdie punt sal hy egter dieper moet delf: wat navorsers soos Tariq Patrick Mellet en Robert Shell ons vandag laat sien van die uitwerking van slawerny op die bruin gemeenskappe van die Kaap, en die gesamentlike nalatenskap van apartheid, plus die politieke verraad van die kant van opeenvolgende wit regerings op feitlik alle vlakke, is die bron van wat vandag nog haaks is. En is dit toeval dat die groeiende grimmigheid in bruin geledere teenoor die ANC op hierdie selfde gevoel van verraad vasbrand? Ten diepste is die kwesbaarste punt Suid-Afrikaners se verbintenis tot die ideaal van nierassigheid. Net soos in ’n ander onlangs verskene geskiedenis oor Stellenbosch se bruin mense, maak ook Giliomee geen melding van die 1980’s en die United Democratic Front nie. Stellenbosch se bruin mense was in daardie tyd, toe die bruin gemeenskappe vir altyd hul stempel op die Suid-Afrikaanse versetpolitiek afgedruk het, net nie hartstogtelik genoeg daar om op die geskiedenis ’n merk te laat nie. Waarmee het hulle hulle dan besig gehou? Dis jammer, want op die een of ander manier sal dit altyd oor Stellenbosch se mooi valleie ’n wolkie laat hang. Nog altyd hier gewees is ’n uitstekende boek, meesleurend geskrywe, goed nagevors en ryk. As dit ’n teologiese werk was, sou ek bygevoeg het, “profeties”. |