blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hoekom Sarkozy gewen het 2007-06-14
Alain de Benoist

*Politieke filosoof, Parys. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw.

 

Aan die begin was Sarkozy allereers die kandidaat van die base, die hoë burgerstand, die Franse militêr-industriële kompleks (wat nou die essensiële deel van die Franse mediastelsel beheer) en van die Amerikaanse neo-konserwatiewes. George W. Bush was bowendien die eerste staatshoof om sy gelukwensinge oor te dra aan hom wat, skaars verkies, dit goed gedink het om “ons Amerikaanse vriende op te roep om aan hulle te sê dat hulle op ons vriendskap kan staatmaak”. (Ons het nog nie voorheen gesien dat ’n nuutverkose president ’n ander nasie as die een wat hom verkies het hartlik salueer nie.)

             Sarkozy se borge – die einstes aan wie hy die aand van sy verkiesing rekenskap by die duur Paryse restaurant, Fouquet’s, gaan gee het – verwag nou ’n opbrengs op hulle belegging. Om presies te wees: dat hy ’n einde bring aan die sogenaamde “Franse uitsondering”, sowel op die vlak van die maatskaplike stelsel as op die terrein van ’n buitelandse beleid wat voor hom nog nooit heeltemal afgewyk het van die Gaullistiese tradisie van onafhanklikheid nie.

             Dit is natuurlik nie slegs met hierdie steun wat Sarkozy kon wen nie. Hy het gewen deur ’n deel van die laer klasse om hom te verenig en ’n groot deel van die verregse Le Pen-stem te “ontvoer”. Die voormalige Sosialistiese president, François Mitterrand, het met sy oorwinning in 1981 baie goed verstaan dat om hom met die Kommunisteparty te allieer die beste manier was om die voorwaardes vir dié se geskiedkundige ondergang te skep.

             Sarkozy het op sy beurt baie goed verstaan dat die beste manier om Jean-Marie Le Pen se Nasionale Front (FN) te verswak nie was om hom regstreeks te opponeer nie, maar eerder self die essensie van dié se diskoers oor te neem. Dit is wat hy tydens sy verkiesingsveldtog gedoen het deur nie te skroom om elke woord of gebaar in te span wat hom in staat kon stel om die FN-kiesers te verlei nie.

             ´n Betalende strategie wat nogmaals bewys dat die klassieke regsgesindes altyd beter geplaas is as die linksgesindes of die ver-linksgesindes om die opkoms van die ver-regses te verydel. Histories gesproke is die harde regses nog nooit deur die linkses geklop nie, maar altyd deur meer gematigde regses wat behendiger is met die ondervanging van sy nalatenskap. Die ver-regses is nog nooit geklop deur die sogenaamde linkse kwarantlyn (cordon sanitaire) nie, maar deur die omhelsing wat doodmaak. As die regsgesindes van die vorige Franse president, Jacques Chirac, dit vroeër gesnap het, sou die FN lankal verdwyn het.

             In Frankryk dink 68 % van werkendes vandag dat “meer vryheid aan sakeondernemings gegee moet word”, en 66 % dat “werkloses werk kan kry as hulle regtig wil”: nadat Sarkozy die volle omvang van hierdie nuwe verskynsel van die logika van (en die vrees vir) ’n verswakte klasseposisie gepeil het, het hy vanaf die eerste rondte van die presidentsverkiesing weggestap met twee derdes van Le Pen se kieserskorps.

Dit sluit in vaklui, kleinhandelaars, loonwerkers, onafhanklike werkers en die onderste lae van die gesalarieerde kleinburgery. Dit is ’n groepering met ’n outoritêre profiel, vyandig teenoor liberale sedes maar goedgesind teenoor ekonomiese liberalisme – oftewel diegene wat gewoonlik die smaak vir wins meng met xenofobiese neigings. Dit is die verowering van hierdie outoritêre regsgesindes, wat wag op die herstel van orde, wat Sarkozy in staat gestel het om meer as 30 % van die stemme in die eerste rondte op hom te verenig, en in die tweede rondte die verkiesing te wen.

Sarkozy is verkies omdat hy perfek daarin geslaag het om sowel die stem van die hoë burgerlike stand as dié van die kleinhandelaars en ’n deel van die middelklas te verower. Terwyl hy muntgeslaan het uit die algemene skuif na regs van die samelewing, het hy sy oorwinning behaal deur gebruik te maak van ’n veiligheidsdiskoers wat regstreeks ontleen is aan die Nasionale Front. Hy het nie gehuiwer om die “onderwerpe wat grief” (immigrasie en nasionale identiteit) openlik in die openbare ruimte in te bring nie deur belastingverlagings te beloof en die verwysings na die nasie te vermenigvuldig ten einde te antwoord op die land se identiteitskrisis.



Terwyl hy liries oor Frankryk geraak het asof dit ’n bank is wat aan hom ’n onbeperkte oortrokke fasiliteit gegee het, en terwyl hy danksy sy liriekskrywer, Henri Guaino, die pryssanger van die Franse identiteit geword het nadat hy aan Washington gaan sê het hoeveel hy daarvan hou dat hulle hom “Sarko die Amerikaner” noem, het hy selfs so ver gegaan om die band tussen bloed en bodem te besing:

“Niemand kan die vleeslike gehegtheid van soveel Franse aan die Franse grond verstaan as hulle nie onthou dat in hulle are die bloed vloei van die kleinboer wat al eeue lank gewy is aan die bemesting van die Franse aarde nie” (28 Maart 2007)! Die suiwerende effek wat hieruit gevolg het, het hom in staat gestel om hom te vestig as die eerste kandidaat van “ontkomplekste” regsgesindes wat in dertig jaar verkies is sonder om toegewings aan die linkses te maak of om te bedel vir stemme uit die sentrum.

As kandidaat van die regses wat nou vry is van die super-ego van die linkses wat hulle voorheen geïnhibeer het, en ondersteun deur ’n enorme oorlogs- en bemarkingsmasjien, het Sarkozy ’n veldtog gevoer oor die waarde van werk deur aan “die Frankryk wat vroeg opstaan” te beloof om diegene wat “harder wil werk om meer te verdien” te begunstig. Met die implikasie dat diegene wie se vernaamste doelwit in die lewe nie is om altyd “meer te verdien” nie, met rede van luiheid of bedrog verdink en langs die pad gelaat kan word.

Die middelklas, wat tegelyk slagoffers is van die onsekerheid en die roofsug van geglobaliseerde kapitaal, die geweld in die voorstede en die tirannie van die aandelebeurs, het Sarkozy laat glo dat hy orde sal herstel deur te veg teen “aalmoese” (handouts) en deur “soepelheid” te begunstig. Wat hy in werklikheid aangekondig het, is die instelling van ’n meer mededingende, harder, angswekkender samelewing waar voorkeur verleen sal word aan doeltreffendheid en winsgewendheid sonder oorweging van die maatskaplike kostes. Dit is dieselfde beginsel wat geld in die Amerikaanse “meritokrasie”.

Terwyl die liberale burgery na aan die finansiële kapitalisme hulself instinkmatig in Nicolas Sarkozy se projek herken, het die outoritêre klein- en middelburgery in Sarkozy ’n verkiesbare Le Pen gesien – ’n jonger, meer aansienlike kandidaat as Le Pen wat ook beter as dié in staat is om sy program toe te pas.

Dit is hoe Sarkozy daarin geslaag het om twee uiteenlopende kiesersektore met uiteenlopende materiële belange byeen te bring. Hy het die wonder verrig om gelyktydig die sekuriteitsbehepte regses en die bestuurslui (vetgevoer op aandele-opsies), die handhawers van die morele orde en die nagklubbers van die jet set, diegene wat deur globalisering bevoordeel en diegene wat daardeur benadeel word, diegene wat “vroeg opstaan” en diegene wat laat gaan slaap, die arbeidswêreld en dié van Idols, die base van die aandelebeurs bedrewe in maatskaplike Darwinisme en die laer middelklas met hulle individualisties-egalitêre eise in pas met die kultus van die baas en die hunkering na orde en gesag, mee te voer. ’n Kordaatstuk wat in vele opsigte vergelykbaar is met die Bush-stem in die Verenigde State.

“Na Chirac,” het Mitterrand gesê, “kan enigiemand president van die Franse Republiek wees.” Sarkozy verskil grondig van Chirac, met wie hy soms vergelyk is. Hy is eerder soos Italië se vorige president, Silvio Berlusconi, minstens vir sover dit Latynse sjarme aangaan. Hy word oor die algemeen uitgebeeld as hiperaktief, opgewen: sterk met die swakkes en swak met die sterkes, wat ooglopend slegs die outoritêre karakter uit die Bonapartisme van Napoleon oorgehou het.

Met sy neiging om probleme te skep daar waar hy beweer hy dit opgelos het, is hy duidelik ’n man wat deur niks gestuit word nie, bowenal nie deur skroom nie. “Doeltreffendheid is meer as lojaliteit” het hy vir sy nabye vriende agt dae na sy verkiesing gesê. Hy’s ’n nasionaal-liberaal. Die nasionaal-liberalisme is liberalisme vir die rykes en nasionalisme vir die res.

In sy vyfjaartermyn sal die staat se outoritêre trusteeskap oor die alledaagse lewe, die privatisering van openbare besteding, en die verskraling van maatskaplike regte onder die dekmantel van die beroep op die nasie gesien word. Sarkozy beliggaam ’n regtervleuel wat polities outoritêr en ekonomies liberaal is en nie sal huiwer om ’n strategie van beredeneerde geweld met die goedkeuring van die staatsmasjinerie te aanvaar nie.

Hierdie liberaal-sekuritêre regtervleuel beskou die samelewing slegs as terrein van mededinging, volledig onderworpe aan die logika van ekonomiese prestasie gegrond op die verhandeling van die wêreld. Dit is ’n regtervleuel wat die individualisering van oplossing onbeskaamd bevorder. ’n Regtervleuel gunstig ingestel teenoor die kapitalisme wat nie so ver kom om te snap dat dit die einste kapitalisme is wat die meeste skade aan die regses se waardes aanrig nie.´n Regtervleuel wat nog altyd kortpad wou vat met die besinning oor die voorwaardes daarvan om saam te leef in ’n gemeenskaplike wêreld. ’n Regtervleuel wat die era van ‘elkeen vir homself’ aankondig. Dit is egoïsme as waarde wat op 6 Mei in die presidentsverkiesing gewen het.



Watter alternatief is daar vir Frankryk?

Die verkiesingsveldtog het meer as ooit gelyk na ’n skoonheidskompetisie. Die armoedigheid van sy inhoud is deur heelwat waarnemers gestigmatiseer, vanaf die sosioloog Emmanuel Todd tot die filosoof Régis Debray. Die internasionale politiek is bykans ewe min aangeraak as die makro-ekonomiese beleid. Die probleem van staatskuld is slegs aangeroer ten einde die vermindering van openbare besteding en die privatisering daarvan te regverdig.

Daar is nóg oor Afganistan, nóg oor die Ivoorkus gepraat, waar daar nietemin Franse soldate ontplooi is. Daar is ook nie gepraat oor die oorlog in Irak, die geo-politiek, die perspektief van ’n “multipolêre” wêreld of van noodsaaklike Europese proteksionisme nie. Geen enkele kandidaat het duidelik gemaak wat sy houding sal wees in die geval van ’n Amerikaanse (of Israelse) militêre aanval op Iran nie.

Die probleme wat wel in die veldtog vermeld is, is dié van ’n Frankryk buite konteks en geïsoleer van die buitewêreld waarvan hy afhanklik is. Slegs onderwerpe gedra deur die maksimum mediageraas is gedek, terwyl maatskaplike verwagtinge self verskraal is tot die beeld wat die meningspeilers daarvan voorhou.

Ons het nog nooit tevore soveel selfregissering van die kandidate, “afgerig” deur hulle mediabemarkingspesialiste, gesien as in hierdie veldtog nie. Nog nooit het beelde en gevoelens so opsigtelik swaarder geweeg as beleide of idees nie. Nog nooit het die “ek” die “ons” so ver verbygesteek nie, eweseer by die kandidate as by die kiesers, met as nadraai die ongekende psigologisering van die politieke lewe en die totale verlies aan uitsig op probleme wat op die gemeenskaplike wêreld betrekking het. “Waardes” – ’n term met onbepaalde betekenis en suiwer emosionele en morele inhoud – het idees, wat vra om kritiese besinning, vervang.

Al die groot nasionale en internasionale vraagstukke is afgeskuif na die sekondêre vlak, ten gunste van subjektiewe en kategoriekwessies. In die debatte het die vrae aan die kandidate bykans nooit betrekking gehad op hulle algemene projek nie, maar eerder op wat hulle sal kan doen om spesifieke bestaanskwessies van die vraagstellers op te los.

So het die meeste kiersers gewys dat hulle by die vooruitsig van ’n verkiesing nie die politieke logika van ’n burgery beoefen nie, maar die ekonomiese logika van verbruik (die stem as transaksie tussen ’n verkoper en ’n verbruiker). Dié bestaan daarin om die bevrediging van ’n subjektiewe begeerte te verwag in plaas daarvan om vanuit hulle individuele geval en uit hulle persoonlike probleme te abstraheer ten einde die algemene belang te oorweeg.

Die sorg vir die algemene, die kollektiewe of die gemeenskaplike synde afwesig, was dit nie meer duidelik of dit gegaan het om die verkiesing van ’n president van die Republiek, of om die aanwysing van die hoof van ’n maatskaplikehulp-buro nie. Terwyl die politiek elke simboliese dimensie verloor het, het dit opgehou om die plek van die kollektief te wees en te eindig by ’n konfrontasie van individuele begeertes of onderhandelbare belange in ’n openbare ruimte wat grootliks geprivatiseer is (wat neerkom op ’n feitelike depolitisering).

Vanaf die ver-linkses tot die ver-regses – met die moontlike uitsondering van die boer en alterglobaliseringsaktivis, José Bové – was daar natuurlik nie ’n enkele kandidaat wat voorgestel het om die samelewing te verander nie. In hierdie opsig was die nederlaag van die linkses nog indrukwekkender as die oorwinning van die regses, sodat eersgenoemde laasgenoemde opsigtelik versterk het. Met 36,1 % van die stemme teenoor 42,8 % in 2002 bevind die linkses, wat nou al vir minstens twintig jaar in ’n krisis is, hulle op ’n historiese laagtepunt wat laas in 1969 geëwenaar is.

Na drie opeenvolgende mislukkings in die presidentsverkiesing bevind die Sosialisteparty, wat in sy basis ’n party van bekendes en op sy kruin ’n party van hoë funksionarisse geword het, hom gekonfronteer met ’n argaïese beleid en ’n agterhaalde bondgenootskapstelsel. Reeds gedestruktureerd en verdeeld sedert die interne raadpleging van sy lede in Desember 2004, toe in die referendum oor die Europese Grondwetlike Verdrag op 29 Mei 2005, en met klinkende mislukking in die presidentsverkiesing van 2002, het hy sedertdien niks gedoen om sy verdeeldheid te bowe te kom nie. Hy is dus nou met die rug teen die muur.

Wat die Kommunisteparty betref: terwyl hy nog 20 % van die kiesers aan die begin van die 1970’s verteenwoordig het en nog 15,3 % van die stemme in 1981 se presidentsverkiesing getrek het, het hy nou met minder as 2 % van die stemme in ’n spook verander. Min of meer oral geklop deur die Trotskiïste, is hy in van sy voormalige bastions selfs deur die Nasionale Front verbygesteek. Al wat hy behoort oor te hou is ’n paar duisend munisipale verteenwoordigers danksy ’n strategiese bondgenootskap met die Sosialiste, van wie ’n mens nie kan sien waarom hulle daarmee sal voortgaan nie.

Die Sosialistiese presidentskandidaat, Ségolène Royal, se lompheid het nie net haar eie persoonlike beperkinge vertaal nie, maar ook dié van ’n politieke familie wat niks meer het om voor te stel nie buiten om ’n maatskaplike pleister oor die liberale gewas te plak, en wat slegs in morele terme oor geregtigheid praat omdat dit nie meer in staat is om ’n politieke definisie daarvan te gee nie.


 

 

Die Franse linkses het sedert 1983 nie meer ’n selfstandige politieke projek nie. Vanaf hierdie datum voer hulle dieselfde politiek as die regses, dog skoorvoetend, deur maatskaplike solidariteit voor te hou wat slegs kan voorkom in die organiese strukture wat dit self metodies vernietig het in die tyd wat die liberale kapitalisme die tradisionele waardes vernietig het.

As kampvegter van die “regverdige” samelewing, van die anti-staatsbeslistheid en van geprogrammeerde meegevoel, het die Sosialistiese kandidaat die maatskaplike diskoers van ’n baasvrou tot in die karikatuur gevoer – sonder om ooit die gevaar van die toepassing van die logika van winsgewendheid en doeltreffendheid op die alledaagse lewe sigbaar te maak.

Die onderskeid wat eens deur die voormalige Sosialistiese premier, Lionel Jospin, tussen die “markekonomie” en die “marksamelewing” gemaak is, het des te meer ’n drogbeeld geword in die mate waarin dit die ekonomie is wat vandag die hele samelewing in-formeer. In die aangesig van die planetêre ontplooiing van kapitaal het die hele linkervleuel hervormingsgesind geword: teenoor die wet van wins stel hulle slegs jeremiades, regstellings en verbeterings. Maar dis in elk geval al vir baie lank dat die klassieke linkses die maatskaplike wêreld bloot as “kieserspubliek” beskou, ’n eenvoudige bymekaartelling van geïsoleerde individue waarvan ons stemme vra sonder om ooit te oorweeg om aan hulle ’n werklike kollektiewe politieke projek in ruil te bied.

Hierdie verswakking van die linkses is des te meer treffend aangesien sosio-ekonomiese ontwikkelings soos die hardnekkigheid van werkloosheid, die groei in maatskaplike ongelykheid, onsekerheid en uitsluiting meer bekommernisse as ooit meebring. Een van die redes vir hierdie teenstrydigheid is dat die eis om orde en veiligheid nie meer beskou word as in teenstelling met maatskaplike regte nie, maar as een van die voorwaardes van hulle implementering – ’n deel van die lae klasse het vir Sarkozy gestem, nie omdat hulle sy ekonomiese beleid goedkeur nie, maar, inteendeel, omdat hulle op hom reken om hulle maatskaplike regte te beveilig. Om die waarheid te sê, is die Franse samelewing vandag in plaas van polities konsensusgerig op koers om verder geradikaliseer te word.

Met die uitsondering van die ver-linkse Olivier Besancenot het geen kandidaat van die “linkses van die linkses” in die eerste rondte op 22 April meer as 2 % van die stemme getrek nie. Met slegs 9 % van die stemme in die eerste rondte (teenoor 13,8 % in 2002), oftewel sy laagste telling in ’n kwarteeu, kon die radikale linkses nie munt slaan uit die “nee van die linkses” in die referendum oor die Europese Grondwetlike Verdrag nie.

Die organisasies wat dit vorm, was nie in staat om ooreen te kom oor die basis van ’n konsekwente anti-kapitalistiese program, ’n federerende politieke projek of slegs een kandidaat nie. Die veldtog van Arlette Laguiller, nog meer geroetineerd as gewoonlik; dié van Olivier Besancenot, meer dinamies; en dié van José Bové, traag en geïmproviseerd; en laastens dié van die kommunis Marie-Georges Buffet, wat ondermyn is deur die noodsaak om haar bevoorregte bande met die Sosialisteparty te behou ten einde hulle verkosenes te red, het die ver-linkses nie in staat gestel om deur te dring nie.

Dit moet gesê word dat hierdie ver-linkse kandidate, wat verkies om hulself eerder “anti-liberaal” te noem as anti-kapitalisties, self baie meer protestaal as rewolusionêre taal gebruik het. Terwyl hulle die speel van ’n rol in die klassestryd opgesê het, het hulle ’n polities korrekte diskoers van meegevoel ontwikkel en was hulle tevrede om maatskaplike ontwikkelings met ’n suiwer moralistiese diskoers te vergesel. By gebrek aan ’n geloofwaardige alternatief is hulle diskoers geassimileer tot ’n stelling van onmag.

Wat betref die Groenes, reeds die noodwiel van Sosialistiese produksiebeheptheid en later gestroop van hulle bestaansrede deur al die ander partye se ondertekening van Nicolas Hulot se Ekologiese Verdrag, dié het daarin geslaag om hulself te diskrediteer. Terwyl die ekologievraagstuk nog nooit so belangrik vir die openbare mening was nie, het die Groenes hulleself in die voet geskiet deur, eerder as werklik vir die ekologie op te staan, te kies om die libertynse en “bo-bo”- (Boheemse bourgeoisie) temas te verdedig (gay huwelikke, wettiging van sagte dwelms, hulp aan onwettige immigrante, ens.) waarvoor die meeste mense hulle neuse rojaal optrek indien hulle nie gewoon vasberade vyandig daarteenoor is nie.

Dit is duidelik dat die radikale linkses niks meer het om aan die werkers te bied nie as om hulle te werp in die “stryd” om hulleself beter by die marksamelewing te integreer en groter verbruikersmiddele te “verower”. Dit is ’n veelseggende feit dat die sakeonderneming tydens die veldtog, selfs deur die ver-linkses, nie as ’n terrein van stryd voorgehou is nie, maar as een van werkskepping. Aangesien “lyding” ’n sleutelkategorie van sosiopolitiese persepsies geword het, het die diskoers oor “slagoffers” die een oor maatskaplike klasse vervang.

Hierdie “lappieskombers van moralisme en reddingisme” (Régis Debray), waar Jaurès en Lenin vervang is deur die Emmausgangers en die kinders van Don Quixotte, hierdie filantropiese diskoers ten gunste van die “slagoffers” en lydendes, is niks anders nie as ’n geradikaliseerde afskynsel van die maatskaplike Christendom – beslis nie ’n politieke program nie. Die blote herverspreiding van rykdom en die verbod op afdankings kan nie ’n plaasvervanger wees vir ’n makro-ekonomiese beleid van algemene belang nie. Die radikale linkses het vergeet dat die vraagstuk van maatskaplike geregtigheid voor ’n morele vraagstuk allereers ’n politieke en ekonomiese vraagstuk is.

Hierdie ontwikkeling illustreer die links-regs-blokkiesraaisel soos beskryf deur die politieke filosoof, Marcel Gauchet: “Die linkses, wat materialisties was, word idealisties en beroep hulle op ‘waardes’, terwyl die regses, wat moreel en religieus wou wees, nou slegs by die ekonomie sweer … Die tradisionele verwysingspunte funksioneer nie meer nie.

“Die regses is nie meer die nasie en tradisie nie. Die linkses is nie meer die rewolusie nie. Ten diepste het die linkses kultureel gewen. In terme van waardes het die regses links geword. Maar terselfdertyd het die linkses heeltemal verloor op die vlak van oplossings …

“Die linkses beliggaam die waardes van die gees in die aangesig van die heerskappy van geld. Die swakheid van die regses is dat hulle sinies geword het. Dié van die linkses, dat hulle verskriklik engelagtig geword het.” (Le Nouvel Observateur, 3 Mei 2007).

Om dit anders te stel: die regses het hulle bekeer tot die liberalisme, terwyl die linkses, wat nie meer ’n model het om aan te bied nie, tevrede is om ’n morele houding in te neem wat nie daarin slaag om in ’n samehangende politieke projek vertaal te word nie.

Diegene wat dink dat Sarkozy se oorwinning ’n goeie ding is, is ’n bietjie oorhaastig – omdat diegene wat hom verkies het baie gou ontnugter sal word. Dit is oënskynlik die geval met die Nasionale Front, waarvan sommige leiers reken op magsoorname terwyl hulle hulself gelukwens dat hulle danksy Sarkozy se verkiesing ’n soort monopolie op die regse opposisie geniet. Dit is ’n onbesonne houding, heel naby aan daardie ‘politiek van die ergste’ wat aangehang word deur diegene wat by gebrek aan invloed op die gang van sake, hulleself troos deur te sê dat dit na die ergste net beter kan gaan.

In 1981 het die Kommunisteparty ook gereken op die ontnugtering van die Sosialistekiesers, maar in plaas daarvan het sy eie afgang gevolg. Natuurlik sal daar die ontnugterdes van die Sarkozisme wees – hoofsaaklik onder die lae klasse. Maar Sarkozy sal nie almal teleurstel nie, en sal ook nie op alle terreine teleurstel nie. Sy projek vir die “herstel van orde” is onteenseglik samehangend, al is dit uitgedink in die totale afwesigheid van beginsels, en ’n mens kan nie sien waarom hy ’n politieke strategie wat Chirac geweier het om te aktiveer, maar wat ’n voortreflike wenmasjien geblyk het, sal prysgee nie.

Die grootste fout sal wees om te glo dat ontnugtering noodwendig sal tel in die guns van diegene wat dit sien kom het. ’n Weerstandsbeweging kan slegs munt slaan uit ’n ontnugteringseffek as dit self lyk na ’n geloofwaardige krag met die nodige middele om te vermag wat andere nie kon nie.

Op die oomblik beheer Nicolas Sarkozy bykans al die magsentra. Die periferie is óf in krisis, óf ongeorganiseerd.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=879
Artikel nagegaan:
    -