| ||||
Christo van der Rheede
*Uitvoerende hoof, Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
“History, as well as life itself, is complicated; neither life nor history is an enterprise for those who seek simplicity and consistency.” – Jared Diamond
Maatskaplike kategorisering (1) in gemeenskappe en tussen gemeenskappe is so oud soos die mensdom self. Dit is dus niks vreemd nie om in enige gemeenskap te vind dat daar altyd verwys word na “ons” en “hulle” op grond van bepaalde ooreenkomste, verskille en vooroordele. Dikwels word die dapperes wat dit waag om die grense tussen die “hulle” en “ons” oor te steek, onmiddellik met agterdog bejeën en geëtiketteer. Die konflik wat hieruit voortspruit, lei altyd tot interne tweespalt tussen dié wat integrasie ondersteun en versoening nastreef, en dié wat dit teenstaan. Die Afrikaanse gemeenskap is in dié opsig geen uitsondering nie. Die verskil lê egter opgesluit in meer as 300 jaar se geskiedenis wat ’n vermoënde en kapitaalmagtige “ons” en ’n kwesbare “hulle” in die Afrikaanse gemeenskap tot gevolg gehad het. En hierin lê die kern van die probleem opgesluit. Vir die doel van hierdie opstel wil ek dus ’n eerlike ontleding doen van die norme wat maatskaplike kategorisering in die Afrikaanse gemeenskap dryf. Hiermee saam hoop ek om die leser bewus te maak van die kosbare energie, tyd en geleenthede wat daagliks soos sand deur ons vingers loop (2) as ons by elke geleentheid eerder onderling kibbel of filosofeer oor die “inhoud” van die nuwe “ons”, in plaas daarvan om deur konkrete aksies stelselmatig struktuur aan die nuwe “ons” te gee. Makliker gesê as gedaan, want maatskaplike kategorisering, veral in die Afrikaanse gemeenskap, was in die verlede geskoei op rasseskeiding en soos Adam Small dit in die volgende gedig stel bedoel om die kwesbares tot die “gatkant” van die samelewing te begrens:
“Aan die gatkant” Ou bryn pêllie ou swart pêllie ek sê wat is daa in die wêreld vir djou sê vir my? ek sal vir djou sê: fôkol man, fôkol! - die gatkant van die railwaytreine die gatkant van die erouplyne (3)
Die opgekropte emosies, bitterheid en uitsigloosheid soos uitgebeeld in die gedig skets ’n duidelike prentjie van die situasie waarin ’n groot deel van die Afrikaanse gemeenskap hulleself bevind. Hierdie gedig illustreer ook die regstreekse verband tussen maatskaplike kategorisering binne die Afrikaanse gemeenskap en eerstens soos Michel Foucault, die Franse filosoof, dit beskryf ’n rassestryd om te oorheers, tweedens volgens Karl Marx (4) ’n klassestryd om uit te buit. Oor dekades heen is maatskaplike kategorisering dus gedryf deur norme soos rasbewustheid, rasse-antagonisme, meerderwaardigheid, oorheersing en ekonomiese uitbuiting. Met die aanbreek van ons nuwe demokratiese bestel het ons gehoop dat hierdie besoedelde norme vervang sou word deur waardegebaseerde norme soos wedersydse respek, empatie, verantwoordbaarheid, medemenslikheid en mededeelsaamheid, soos vervat in ons Grondwet. Ongelukkig dui die huidige maatskaplike stand in ons land daarop dat ons ’n baie ver pad het om te loop wat dít betref. Die voortdurende worsteling tussen die Afrikaanse “ons” en “hulle” oor hierdie kwessies en die tientalle pogings uit verskeie oorde om gestalte te gee aan ’n inklusiewe “ons”, getuig daarvan. Teen hierdie agtergrond kán daar dus nie lukraak of kosmeties omgegaan word met die ideaal van ’n nuwe en inklusiewe Afrikaanse “ons” nie. Ook kan ons nie onsensitief staan teenoor die geskiedenis nie, want die verlede en die hede dra ’n morele dilemma met hulle saam wat deurweek is van bloedige konflikte, gewelddadigheid, vernedering, wantroue en verbittering. Die toekoms lyk ook nie veel beter nie, want daagliks ontvou ’n ontstellende prent wat daarop dui dat die “ons” en “hulle” net nie kan ontsnap uit die afwaartse spiraal van verdeeldheid nie. Vele geleenthede om ons unieke Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskaplikheid te ontdek, gaan in die proses verlore. Een van die groot redes hiervoor is natuurlik die gebrek aan wedersydse empatie of begrip vir die onderskeie aspirasies en worstelinge van die “ons” en “hulle”, en die toenemende fokus op seksionele belange en groepsidentiteit. Die Afrikaanse skrywer, Breyten Breytenbach, is van mening dat hierdie gekibbel met historiese groepsidentiteite van die verskillende Afrikaanstalige gemeenskappe, die vasklou aan hierdie identiteite en voortdurende soeke na wie ons nou eintlik is, dit baie moeilik maak om gestalte te gee aan ’n groter Afrikaanse gemeenskaplikheid. Volgens hom loop dit uit “op ’n eindelose posisionering vir mag en/of morele afpersing ter wille van regstelling en/of versoening” en is dit “maar net ’n nuwe weergawe van die verstarde groepsdenke en groepsindeling wat ons siele so versondig het” (5). As voorvereiste stel hy dit onomwonde dat ons “verby die skisofreniese politieke en historiese gemeenskapsafbakenings” moet kom en dit wat ons doen om aan die ideaal van ’n inklusiewe “ons” gestalte te gee, te stroop van “magspolitiek, koöptering en tokenisme”. Hoe vorder ons vorentoe? Dink nuut oor en van mekaar: Die “ons” en “hulle” moet verby die stereotipe denke wat oor eeue heen geïnternaliseer is en die bevooroordeeldheid gegrond op die laagste gemene delers wat daaruit voortspruit, beweeg. Ons leefwêreld en denke word te dikwels oorheers deur beklemmende opvattinge oor ras, taal, geloof, status, fisieke gebrek, geslag en fisieke voorkoms – die eksterne identiteitsmerkers wat verband hou met die laagste vlakke van ons menswees. Ook ons doen nie eens moeite om verder as die eerste oogopslag te gaan en veel eerder te fokus op die geestelike, kulturele en maatskaplike waardes wat ons gemeen het nie. Sosiale sielkundiges beskryf hierdie beperkte beeld wat “ons” van “hulle” het, as ’n “oop wond wat ’n gemeenskap of nasie se vitaliteit en maatskaplike gewete dreineer” (6). Dit versterk stereotipe denke, voed ons psige met wantroue en stook aggressiewe en vyandige optrede. Beklemtoon die ooreenkomste: Die huidige konteks en uitdagings van die toekoms vereis dat ons moet wegbeweeg van hierdie beperkte vooropstellings en dat ons eerder moet fokus op die waardes wat ons gemeen het. Dit impliseer nie ’n ontworteling van die historiese verbintenis met ’n bepaalde gemeenskap of, soos NP Van Wyk Louw dit stel, die kondonering van die “neiging om alle verskeidenheid in die wêreld te negeer en sy rykdom tot ’n enkele soort te probeer herlei” nie. Nee glad nie, dit is veel eerder ’n aanvaarding en erkenning dat die “trek of proses van volkswording langs meer as een pad gaan ... en ’n ewige trek is” (7). Of Van Wyk Louw vandag sou saamstem met hierdie selektiewe gebruik van sy teks en my kontekstualisering van die begrip volkswording, is ek nie seker nie. Máár ek is oortuig dat hy as denker ons baie beslis in die huidige konteks sou aanmoedig om verby die verskille tussen die “ons” en “hulle” in die Afrikaanse gemeenskap te beweeg en doelgerig te werk om ’n groter gemeenskaplikheid teweeg te bring. ’n Voortdurende soeke na dít wat ons nader na mekaar trek en nié die beklemtoning van of fokus op verskille nie, is myns insiens presies wat volkswording breedweg beteken. As vertrekpunt moet Afrikaanssprekendes ten doel hê om groter gemeenskaplikheid tussen die “ons” en “hulle” in die Afrikaanse gemeenskap te bewerkstellig. Terselfdertyd moet ons planmatig te werk gaan om saam met anderstalige gemeenskappe ’n nierassige Suid-Afrikaanse gemeenskaplikheid te bewerkstellig. Lê die ekonomiese boustene: In die praktyk moet ons deur middel van konkrete aksies struktuur aan die nuwe “ons” gee. Een van die grootste struikelblokke op weg na hierdie ideaal is natuurlik die ongebalanseerde ekonomiese aandeelhouding tussen die “ons” en “hulle” die nalatenskap van kolonialisme, apartheid en die hedendaagse neoliberalisme. Dit het op ’n eiesoortige karakter en ’n uiters komplekse netwerk van vorme en instellings van ekonomiese produksie (8) uitgeloop, wat die winste oor dekades na ’n uitverkore groep gekanaliseer het. Met die nodige ekonomiese en politieke wil en skeppendheid kan verhoed word dat die geskiedenis haarself herhaal sodat net ’n sekere groep, soos dit reeds die geval is, by ekonomiese bemagtiging baat. Private eienaars van grond, fabrieke en alle ander industriële praktyke wat op die Afrikaanssprekende mark gerig is, moet die leiding neem om geleenthede te skep vir groter ekonomiese inskakeling en aandeelhouding vir hul werkers en die gemeenskappe aan wie daar produkte gelewer word. ’n Fyn balans moet egter gehandhaaf word tussen die uitbreiding van eienaarskap en die skep van welvaart en ekonomiese groei. Opleiding en nogmaals opleiding moet die proses voorafgaan, en gesonde sakebeginsels moet die onderbou van elke transaksie wees. Lê die kulturele en maatskaplike boustene: Afrikaanse kultuurorganisasies, akademiese instellings en nie-regeringsorganisasies moet planmatig te werk gaan om projekte en programme te vestig om die kunsmatige segregasie tussen die “ons” en “hulle” wat net nie wil taan nie, te normaliseer. Netwerkvorming tussen Afrikaanse organisasies moet geoptimaliseer word, en geleenthede moet geskep word vir interaksie en ontwikkeling wat verband hou met die vergestalting van ’n inklusiewe Afrikaanse “ons”. Die verwesenliking van die ideaal om ’n inklusiewe Afrikaanse “ons” tot stand te bring, is in die hande van beide die Afrikaanse “kopkant” en “gatkant”. Dit hoef dus nie ’n onbereikbare ideaal te bly nie, as ons maar almal bereid is om maatskaplike kategorisering in die Afrikaanse gemeenskap met behulp van waardegedrewe norme te beoefen en ’n stewige fondament te lê waarop ’n gemeenskaplike toekoms gebou kan word. __________ (1) R. en D. Baron, Social Psychology: Understanding Human Interaction, VSA: Alan and Bacon, Inc., 1987, 5de uitgawe. (2) NP Van Wyk Louw, Germanicus, Kaapstad: Tafelberg, 1975, 15de uitgawe. (3) H. Willemse et al, Die Reis na Paternoster. Bellville: Departement Afrikaans en Nederlands, UWK, 1997. (4) http://en.wikipedia.org/wiki/class_struggle (5) B. Breytenbach, persoonlike skrywe aan Christo van der Rheede, 2007. (6) Baron, Ibid. (7) NP Van Wyk Louw, Lojale Verset. Kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging, Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1939, 2de druk. (8) F. Wheen, Karl Marx, Londen: Fourth Estate, 1999. |