blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Afrikaanse ons? Die letterkunde en die “ons” 2007-06-14
Ampie Coetzee

*Emeritusprofessor in Afrikaans, Universiteit van Wes-Kaapland

 

Een moontlike manier om oor die eenwording van Afrikaanssprekendes te dink, is om te kyk na die verlede en hede van Afrikaans. Spesifiek in druk – en of daar één “ons” gevind kan word.

Wanneer ’n verskeidenheid mense in ’n land met ’n verskeidenheid tale een taalgemeenskap vorm, is hulle een. As die verskeidenheid van uitdrukkingswyses in Setlaar- Hollands, Duits, San, Khoi – uiteindelik deur assimilasie met en verandering van die taal van die besetter (toe nog Nederland) ’n taamlik eenvormige spreektaal kon bereik, dan het daar tog al ’n soort eenheid ontstaan. Maar verder: wanneer die afstammelinge van die koloniseerder, soos die wit gemeenskapsleiers van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA, gestig 1875), van hierdie ontwikkelende taal bewustelik ’n skryftaal begin maak, dan het die “ons” en die “hulle” (die besetter en die indigeen) op die vlak van taal mekaar bereik.

Dit sal ons miskien baat om wéér na Afrikaans te kyk: aanvanklik as die instrument van skeiding, maar dan as die taal wat ’n groot aandeel gehad het aan die beëindiging van onderdrukking in die moderne tyd.

Die akademici wat die verhouding tussen taal en ideologie, spesifiek tussen ideologie en letterkunde, bestudeer het, het oortuigend gewys op die konstrukte wat in die vroeë gekanoniseerde Afrikaanse letterkunde gemaak is as bevestiging van die heer/kneg-verhouding tussen koloniste en die indigeen.

Daar is talle voorbeelde daarvan uit vroeë tekste en uit die pogings tot letterkunde. Soos Jakob Platjie van G. von Wielligh, wat vanaf 1896 verskyn het: die “jollie Hottentot”-stereotipering. Later kom ander voorbeelde: die plaasvolkies wat geskryf word as deel van die idilliese landskap in Die Meulenaar van DF Malherbe; die vrees vir “verhotnotting” in Hans die Skipper (Malherbe); en byvoorbeeld veral ook die Baas/Klaas-verhoudings in Op die plaas van CM van den Heever.

Vandag sou ’n mens die “rassisme” in hierdie werke – en ook in vele ander in die vroeër letterkunde – sonder moeite kon raaklees en noukeurig kon ontleed, omdat dit so deursigtig, direk en onverbloemd is.

Die gebroke 17de eeuse Hottentot-Nederlands van ’n Khoi-spreker in dié kort sinnetjie is ’n eerste vroeë voorbeeld: “Duytsman altyd kallom: icke Hottentots doot makom” (Duusman sê altyd: ek maak die Hottentot dood).

In die kwasi-letterkunde in die 1880’s is daar die bevestiging van die werklikheid van die bestaan van die baas teenoor die kneg:

“Die ‘swartgoed’ is vir ‘ou baas’ bang

Net so’s ’n apie ver ’n slang:

Sij ‘achter-os-sambok’ is lang;

Pas op! als hij hul ledig vang.

Ons flukse vrind,

Hij is ’n Patriot, mij kind.”

 

Maar vir die base van die tyd was dit klaarblyklik nie erg nie. Dit was deel van die wêreld waarin hulle geleef het: en dié verhouding tot die ander sou as die normale gesien wees. Die verhouding tussen Baas en Klaas het gekom uit die koloniale bewussyn van die heerser. Uit die bewussyn van “icke Hottentots doot makom” – ’n subteks wat vir ’n eeu lank sal bestaan.

Dit was ’n werklikheid wat toe bestaan het en met die taal saamgeloop het tot die bevestiging daarvan in die ideologie van apartheid. Die mense wat dit geformuleer het, het dit in hierdie taal gedoen. Dis duidelik, en solank as dit nog in die onderbewuste van die voorheen onderdruktes bestaan, sal Afrikaans die las dra as die taal van daardie onderdrukking – en dan ook nie die regte geniet wat ’n taal volgens die Grondwet behoort te hê nie. Dekades moet verbygaan voor die pyn van die verlede vergeet word. Baie Afrikaners roep dikwels nog die Boere-oorlog van meer as ’n honderd jaar gelede op.

Die kritici en die verdagmakers van hierdie taal het daarin geslaag om vir altyd omdat dié waarteen wandade gepleeg is, nie sal vergeet nie – Afrikaans te laat sien as sonder “morele basis”. Na Soweto se opstand teen Afrikaans was die koeël deur die kerk: die taal was die onderdrukker. Dat taal boos kan wees, is ’n persepsie wat vandag nog bestaan, bewustelik óf onbewustelik. Die onsensitiewe agiteerders vir Afrikaans en die aggressie van die sogenaamde taalstryders sal hierdie persepsie bevestig.

Om terug te kom na die vroeë tekste. ’n Mens moet miskien effens anders na hierdie hierdie gewraakte tekste kyk. Is daar geen greintjie deernis daarin nie? Ons moet ook in gedagte hou dat Afrikaans ontstaan het uit die assimilasie van die tale van die indigeen en dié van die kolonis: hierdie “dialektiek” was nodig vir die ontstaan van Afrikaans. Kan ons nie hierdie feit ernstig opneem nie? En die taal nie net sien as slegs die taal van die witmens nie? En sou dié historiese feit nie tot vereniging van “ons” en “hulle” werk nie?

’n Voorbeeld vanuit die ou letterkunde is weer Jakob Platjie. In sy Voorwoord sê Von Wielligh dat sy boek ’n poging was “om sterke karakters saam te vat, wat die lewe van drie Afrikaanse inboorlingstamme weerspieël. Naamlik die volke wat amper aan die uitsterwe is, en wat onder die goeie of slegte invloede van beskawing, in karakter verander ... Mog hierdie werkie wat aan die nageslag oorhandig word ’n idee gee van hoe die inboorlinge gedink en wat hulle gedoen en gelaat het”

En later sê Platjie, as ’n kind van twaalf: “Ek kan darem die ding nie klein kry nie, dat ons ou Hotnots so swakkies was om somar te sê dé! aan die witmense, hier is ons land, vat dit maar! Nou is hulle baas en ons klaas.”

Dis hierdie bewuswording van baas teenoor klaas wat ’n patroon van verset word in die Afrikaanse prosa wat ons in gedagte moet hou wanneer daar gepraat word van die taal se immorele basis.

Die verset teen apartheid se wandade begin in erns by Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, in 1962. Dit was, ironies, in die tyd van die gewaande sukses van apartheid, en die bloeiende Afrikanerkapitalisme. In hierdie roman word die opstand van die werkers skertsend, of satiries, oorgedra; maar ’n sentrale karakter, Jock, vra tog: Wie se skuld is dit? Wat skort? Die “naturelledorpie” staan in rook, slegs ’n derde van die werkers is by die stookketels en wassery. Die orde is broos: ’n kind is dood, twee polisiemanne, drie vrouens en sestien “naturellemans”. Die Katolieke Vader is in sy kerk vermoor, vermink en geëet. Word dit in die naam van die duiwel gedoen? Die spookbeeld van ’n apokalips vergesel dikwels die verset.

Hierdie verloop van die bewustheid van ongeregtigheid loop nou deur die Afrikaanse prosa: van Karel Schoeman, Elsa Joubert, Etienne van Heerden (waar in sy Die stoetmeester ’n finale apokalips egter uitbly, omdat daar oor versoening gepraat gaan word; en aan die einde van die roman, miskien nog bietjie sentimenteel, neem twee vrouens – wit en swart – mekaar se hande: “Ons moet vorentoe ... Daar is vir ons niks anders nie”). Dan verder tot by Marlene van Niekerk se Agaat, en Horrelpoot van Eben Venter (2006). Tot dusver; en die tekens van ’n “erfsonde” lê oral in die prosa: vanaf die abnormale meulenaar in Malherbe se Die meulenaar tot by die groteske familie in Marlene van Niekerk se Triomf.

Met die oormaak van die besitreg op die plaas (die land) aan die kneg Agaat in Van Niekerk se Agaat sê die afstammeling van die baas: “... die plaas oorgemaak aan Gaat. Sy kan dit bemaak eendag aan wie sy wil ... Sy is deel van die plek, van die begin af. Geëelt, gesout, gebrei, die meesters se lees in haar ingegroef soos die wet op kliptafels ... Sy ken die grond. Sy ken die taal ... Die beloofde land is reeds hare, maar haar maker hou remote control. Six feet under” (Selfs dié wat nou besit neem, moet onthou van die “remote control”: deur God of die Geskiedenis)

Hierdie inventaris van wandade, verset en skuld soos weerspieël in die Afrikaanse prosa is waarskynlik van betekenis vir die leser, die akademikus, die intellektueel – en miskien selfs die geskiedskrywer. Wat het dit met versoening tussen “ons” te doen? Die “nasie” lees nie letterkunde nie. Maar die volk het in die 18de eeu ook nie tekste gelees nie. Dis die persepsies wat vanuit die tekste gekom het, binne die milieu waarin hulle geleef het, wat die konstrukte en die stereotiperings gevorm het.

’n Laaste voorbeeld uit die prosa. Eben Venter se Horrelpoot - die Afrikaanse Heart of Darkness, die oerteks van witmens-korrupsie in Afrika – waar Koert op die familieplaas verdwyn het, en Marlouw wat van Australië af kom om hom te soek. Koert is hier die groot wit meester, die Koning van Vleis, wat al die vleis in die omgewing besit en almal eintlik gyselaar hou deur die beheer van hulle voedsel (wat aan die opraak is). Marlouw vind hom uiteindelik. Hy is waglik, ’n kwab, met gangreen.

Marlouw pleit by Koert om hom weg te neem om gesond te word. So antwoord Koert. In die Afrikaans van die toekoms miskien: “Lack of understandin’, bradder. Wat het ek in ruil virrie aid, virrie operation? Vlys is klaar, ekke wis mos. Ekke hoef nie buite op hierie Platz te cruise om te weet dis poegaai met als ... Los my nou in peace an’ quiet. Waar's my kombers, pass hiersoe en let me be. Jy praat jou bek verby, gestuff met ’n taal enne attitude wat nie meer hier belong nie. Lack of understandin’. My se kombers?” (260).

Die roman eindig dan met ’n beskrywing van die landskap: “Maar g’n mensespoor of mensestem ooit weer op daardie stuk aarde nie. Die naam van die plaas ook al lank vergete. Bid jou aan: wind dwarsdeur die murasie van die opstal asof daar nooit ’n mens gewoon het nie” (323).

’n Ontstellende einde vir hierdie kroniek van verval. Alhoewel dit hier waarskynlik allegories-simbolies is, raak die skrif van die hedendaagse Afrikaanse skrywer meer en meer apokalipties.

Kan ons nog by mekaar uitkom? Kan taal versoening en eenheid bring?

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=876
Artikel nagegaan:
    -