|
||||
Johann Rossouw
*Redakteur van Die Vrye Afrikaan en uitvoerende beampte, FAK. Hierdie lesing is gelewer tydens die tweede taalberaad van die Nasionale Forum vir Afrikaans op 23 Februarie 2007 in Pretoria.
Vriende, om hierdie voordrag by hierdie beraad te lewer, is moeilik sonder om terug te dink aan wat ons in die afgelope twee jaar vermag het om Afrikaans op ’n stewiger voet te plaas. Om eerlik te wees: ek vrees dat die verwagtinge waarmee ons in Februarie 2005 uitmekaar is, nie juis verwesenlik is nie. Van die uitvoering van ’n omvattende taalplan het ek self nie baie gesien nie. Destyds was ek een van die deelnemers wat gepleit het daarvoor dat ons eerder as om ’n groot plan te ontwikkel, gedagtig aan sowel die historiese verdelingslyne tussen ons as die toenemend benarde openbare situasie van Afrikaans, moet fokus op een of twee gesamentelike aksies. My hoop was dat sodanige aksies, wat ons so kon kies dat ons maksimum konsensus oor die noodsaak daarvan het, ons nie net sou help om verby die ou verdelingslyne te beweeg nie, maar inderdaad ook nuwe praktyke en instellings in Afrikaans te vestig, aangesien geen taal sonder praktyke en instellings kan bestaan nie. Ek sou seker die kosbare spreekbeurt wat u my vandag gegun het, kon gebruik vir ’n uitgerekte variasie op die trant van “ek het julle mos gesê”, maar voor ek nou van irriterende arrogansie of onrealistiese ongeduld beskuldig word, wil ek u onmiddellik gerusstel dat ek besluit het om eerder aan u voor te hou wat ek reken een so ’n aksie vir Afrikaans kan wees wat ons nie net kan help om ’n dringende probleem op te los nie, maar ook om wesenlike nuwe praktyke en instellings vir ons gedeelde toekoms te skep. As ek hierdie dinge aan u voorhou, is ek eweneens deeglik bewus daarvan dat die goeie saak waaroor ek self so sterk voel, onmiddellik sal moet meeding met talle ander verdienstelike sake. Wie dié resies gaan wen, weet ek nie: my taak is bloot om die perd wat ek nou hier opgesaal het tot die limiete te ry en te hoop vir die beste. Met u vergunning spring ek dus dadelik weg. Die hindernisbaan waaroor ons sal voortjaag in die oorblywende agtien minute van die rit, sal die volgende insluit: 1) Enkele baie kort opmerkings oor die verhouding tussen ’n taal, ’n tegniese bestel en die heersende instellings. 2) ’n Bondige toepassing hiervan op die Suid-Afrikaanse situasie om die stand van Afrikaans te bepaal. 3) Konkrete voorstelle vir aksies om iets aan die myns insiens kritieke, dog belowende situasie te doen.
Voor ons egter die eerste van hierdie drie hindernisse tegemoet jaag, wil ek eers aan u die volgende stelling voorhou: die spreektaal van die deursnee Afrikaanssprekende van Mitchell’s Plain tot Menlo Park is besig om so dramaties in duie te stort, dat Afrikaans goed op pad is om ’n familiêre, parogiale, gemoedelike dialek met ’n goeie skeut melancholie oor haar eertydse prestasies in die lettere en die wetenskap te word. As hierdie ineenstorting nie baie spoedig gestuit en omgekeer gaan word nie, sal die enkelinge wat Afrikaans wel nog as ’n taal en nie ’n blote dialek wil gebruik, kort voor lank ’n elitistiese minderheid van die gees word, terwyl daar van nuwe literêre en wetenskaplike prestasies dadels sal kom. Hierdie harde stelling is volgens my verstaan van die komplekse huidige situasie van Afrikaans een van die grootste uitdagings indien nie die grootste nie waarvoor die taal te staan gekom het. Sonder verdere omhaal sal ek dit probeer toelig deur saam met u ons eerste hindernis te bestorm, naamlik die verhouding tussen ’n taal, ’n tegniese bestel en die heersende instellings.
Taal, tegniek en instellings
Voor hierdie deurlugtige gehoor is dit seker nie nodig om toe te lig waarom ’n taal nie bloot ’n kommunikasiemedium is nie, maar die draer van ’n hele wêreld. As ’n taal die draer van ’n hele wêreld is, kan ons ook sê dat dit die skatkamer is van alles wat voorheen in hierdie taalwêreld geskied het. As hierdie skatkamer nie opgepas én telkens vir ’n nuwe geslag ontsluit word nie, word dit in plaas van ’n huis van verbeelding ’n museum van verdriet. Wat is die voorwaardes van hierdie ontsluiting? 1) Dat daar lewenskragtige instellings van oordrag moet bestaan, wat insluit skole, universiteite, kerke en howe. Veral onderwysinstellings is hier van die allergrootste belang, maar dit weet u almal reeds. 2) Dat die taal ter sprake telkens die heersende tegniese bestel, en vernaamlik die kommunikasiemedia, op so ’n wyse moet toeëien dat oordrag versterk word. 3) Dat die taalgemeenskap, haar instellings en die heersende tegniese bestel in harmonie moet wees, want as daar ’n gaping tussen hulle bestaan, kan suksesvolle oordrag nie meer plaasvind nie.
Historiese evaluering
Van u is moontlik al teen hierdie tyd bewus van my pogings om Régis Debray se werk oor die verskillende sfere van oordrag op die geskiedenis van Afrikaans en haar onderlinge gemeenskappe toe te pas. Ek verfris kortliks u geheue oor my pogings om hierdie besondere perd by geleentheid so te ry dat sy rug al digby hol is. Debray onderskei drie sfere van oordrag, naamlik die logosfeer, die grafosfeer en die videosfeer. Die logosfeer is wanneer die gesproke en handgeskrewe woord saam met landvervoer domineer. Die grafosfeer is wanneer die gedrukte woord saam met seevervoer domineer, en die videosfeer wanneer die oudiovisuele saam met lugvervoer domineer. As ons hierdie drie sfere op die geskiedenis van Afrikaans toepas, kan ons die volgende skets gee, wat ons noodwendig bondig moet hou as ons in die oorblywende minute ook nog oor hindernis twee en drie wil kom. Kortom: tussen 1652 en 1875 ontstaan Afrikaans as gesproke woord wat hoofsaaklik op landvervoer staatmaak. Tussen 1875 en 1925, dit wil sê vanaf die GRA se poging om na die eerste Moslemboeke in Afrikaans die taal ’n taal van die gedrukte woord te maak, tot en met die amptelike status van die taal in 1925, betree Afrikaans die grafosfeer. Maar hierdie betreding is nie ondubbelsinnig nie: om redes waarop ons nie hier kan ingaan nie, gebeur dit dat hoofsaaklik die witter gedeelte van die Afrikaanse taalgemeenskap via massaskoling en die rol van die kerk hierdie skuif maak, terwyl die minder wit deel van die taal die grafosfeer óf via Engelse skole betree en gevolglik ’n kombinasie van ongestandaardiseerde Afrikaans in die private sfeer en gestandaardiseerde Engels in die openbare sfeer praat, óf weens veral swakker skole die skuif na die Afrikaanse grafosfeer baie stadiger maak, en uiteindelik eers op groot skaal in die 1960’s en 1970’s rondom die Universiteit van Wes-Kaapland, wat, as ek u mag herinner, feitlik elke huidige bruin Afrikaanse intellektueel van naam ouer as 40 opgelewer het. Dit is hierdie oneweredige betreding van die grafosfeer in Afrikaans wat ’n historiese kloof tussen wit en minder wit in Afrikaans open, en waaroor ons vandag nog ’n brug probeer bou, ’n brug waartoe ek hoop om hieronder ’n bydrae te maak. Voor ek iets oor die Afrikaanse videosfeer sê, wil ek u aandag vestig op ’n absoluut bepalende gebeurtenis waarmee ons almal verskillende assosiasies het, maar waarsonder ons mekaar nie vandag hier sou ontmoet het nie, naamlik die standaardisering van Afrikaans. Ek is deeglik bewus van die omstrede geskiedenis van hierdie standaardisering, maar ek wil u vra om saam met my vandag koers verby hierdie omstredenheid te hou en ons aandag te vestig op ’n kritieke aspek van hierdie standaardisasie, wat myns insiens ’n rigtingwyser vir ons gedeelde toekoms mag wees. Waarna ek hier verwys, is dat die standaardisasie van Afrikaans, waarin veral Nasionale Pers met Die Burger en Die Huisgenoot tussen 1915 en 1935 ’n bepalende rol gespeel het, die volgende elemente saamgetrek het: 1) Dit was ’n massiewe toeëiening van die heersende tegniese bestel deur en in Afrikaans. 2) Hierdie toeëiening was ’n daad van kollektiewe deelname waardeur ’n versameling subgroepe ’n gesamentlike identiteit gevestig en uiteindelik ’n selfbewuste historiese gemeenskap geword het, naamlik die Afrikaners. 3) Dit was ’n daad van kollektiewe selfverheffing, die verwerf van selfstandigheid en die skep van ’n basis vir ’n golf van modernisering waarvan die effekte, positief sowel as negatief, ver buite die grense van Afrikaans of Afrikaners gevoel sou word. 4) Dit het sonder noemenswaardige staatsondersteuning gebeur en was feitelik ’n voorwaarde vir die staatsoorname van 1948.
Wat ons hier mee te make het, is dus ’n sonderlinge voorbeeld van hoe die heersende tegniese bestel deur ’n taal toegeëien is op so ’n wyse dat nuwe instellings en ’n nuwe gemeenskap, ’n nuwe “ons”, gebore is. Vir diegene wat deel van hierdie nuwe “ons” gevorm het, het drie dekades van ongekende politieke, ekonomiese en geestelike vooruitgang gevolg. Ongelukkig sou hierdie vooruitgang nie gehandhaaf word nie, en wel om minstens die volgende twee redes.
Ten eerste het die Afrikaners na 1948 die kritieke fout begaan om hulle lewenskragtige gemeenskapsinstellings by die oorgeneemde staat te integreer. Die rampspoedige gevolge hiervan was dat, in plaas daarvan dat hierdie instellings ’n nuwe fase van lewenskragtigheid betree het, hulle feitlik oornag afgesny is van hul gemeenskapsbasis, en verander het in blote ledemate van die staat. Organisasies wat voor 1948 kultuurproduksie gestimuleer het, het dit na 1948 mettertyd verstik. Die Afrikaanse kerke het hulle profetiese en maatskaplike klere verruil vir die uniform van die staat se geestelike polisieman. Talle voorbeelde kan hierby gevoeg word. Die tweede rede waarom die Afrikaners nie hierdie vooruitgang van die drie goue dekades kon handhaaf, of na hulle landgenote kon uitbrei nie, was omdat hulle toeëiening van die videosfeer uiteindelik nie werklik geslaag was nie. Ofskoon elemente van die videosfeer soos radio, die rolprent, opgeneemde musiek, lugvervoer en massamotorbesit almal teen die vroeë 1970’s aanwesig was, het een kritieke element nog ontbreek, naamlik die polities uitgestelde beskikbaarheid van televisie. Die Nasionale Party, die vernaamste instelling wat deur Afrikaners in die grafosfeer gestig is voor hulle die staat in 1948 oorgeneem het, was deeglik bewus van die feit dat televisie vir die party as instelling van die grafosfeer, ’n waagstuk sou wees. Daarom het die NP sy bes gedoen om TV onder die beheer van die grafosferiese staat te hou. Maar uiteindelik het die NP TV net so min verstaan as die Katolieke Kerk 500 jaar vroeër die boek. Binne 6 jaar het die NP geskeur, ooms met vingers en swart hoedjies het die beeldeoorlog op TV verloor, Johannes Kerkorrel het jong Afrikaners opgeroep om dit af te sit, en die ANC onder leiding van die fotogeniese supersterleier van die videosfeer, Nelson Mandela, kon sy dekadelange regverdige saak suksesvol met die heersende tegniese bestel kombineer om die staat in 1994 oor te neem. Intussen het daar wel twee ander belangrike dinge in Afrikaans met betrekking tot die videosfeer gebeur of nie gebeur nie, afhangende van hoe u daarna kyk. Die eerste is die instelling van betaaltelevisie teen die middel 1980’s onder leiding van dieselfde maatskappy wat so ’n sleutelrol gespeel het om Afrikaans ’n taal van die grafosfeer te maak, naamlik Nasionale Pers. Op gevaar daarvan af om nou my tong vir goed vandag uit te sny, moet ek u egter daarop wys dat Nasionale Pers se betreding van die videosfeer anders as sy betreding van die grafosfeer nie in die eerste plek gemeenskapsgedrewe was nie, maar kommersieel gedrewe, soos die woord betaaltelevisie dan ook heel beskrywend sê. Kortom, ook Nasionale Pers het die kurwe deurloop wat so tekenend is van instellings van die nasionalisme: voor die politieke sukses van nasionalisme is die mark ’n funksie van die gemeenskap, maar na die politieke sukses word gemeenskap ’n funksie van die mark, wat natuurlik op die lange duur onvolhoubaar is, om van die teenstrydigheid in dié formule maar te swyg. Waar die betreding van die grafosfeer in Afrikaans voorheen deur massiewe gemeenskapsdeelname gekenmerk is, is dit nou eerder deur massiewe advertensievolumes gekenmerk, en was die verhouding van betaaltelevisie met sy teikengehoor dié van die eenrigtingstraat van verkoper en verbruiker, eerder as die tweerigtingstraat van joernalis, skrywer en leser. Die tweede belangrike ding vir Afrikaans en die videosfeer, is dat die minder wit deel van die Afrikaanse taalwêreld buiten vir die gewildheid van karaoke en enkele gewilde bruin vermaaklikheidsterre op betaaltelevisie glad nie die videosfeer betree het nie. Vriende, in die lig hiervan wil ek dus beweer dat Afrikaans tot vandag toe in der waarheid glad nie die videosfeer toegeëien het nie. Wat is die gevolge hiervan? Ek noem slegs enkele dinge op lukrake basis. Ons swymel oor die videosfeer se ekwivalente van die skrywershelde van die grafosfeer, oftewel Afrikaanse musikante, maar ten spyte van my sagte plek vir Voëlvry, Piet Botha, Laurinda Hofmeyr, Dawid Kramer en enkele ander, vrees ek dat Afrikaanse musiek bedroë afkom van die vergelyking met, sê, die Dertigers of die Sestigers. Ons raak liries oor Afrikaanse kunstefeeste, maar ek moet u daarop wys dat hulle maatskaplike, politieke, ekonomiese en geestelike effekte werklik nie vergelyk kan word met wat die volkskongresse van die grafosfeer vermag het nie. Ons voer terugvalgevegte om Afrikaans ’n taal van kommersieel verminkte, “geïnternasionaliseerde” universiteite te hou, maar die produksie van idees, wetenskap en letterkunde in Afrikaans kwyn drasties. Ons val mekaar jubelend om die hals oor hoe los en gemaklik die taal nou geword het, maar ons kinders kan nie meer lees en skryf – of, les bes, behoorlik praat nie, ook nie Engels nie – terwyl volwassenes al hoe meer soos kinders klink en dink. Hierdie krisis word vererger deur twee verdere ontwikkelings. Die eerste hiervan is dat ons vandag te make het met ’n staat wat weens ’n kombinasie van enorme maatskaplike krisisse soos armoede, Vigs, behuisingsnood en dergelike, asook ’n katastrofies onkundige of onwillige begrip van moedertaal in die rol van ’n moderne, demokratiese samelewing het, ten beste niks vir Afrikaans doen nie, ten slegste hom smalend verlustig oor nog ’n Afrikaanse skool wat verengels word in die naam van sogenaamde toegang, oftewel die onverbiddelike blootstelling van nog ’n groep tweedetaal Engelssprekendes aan Engels as taal van onderrig. Die tweede ontwikkeling waarmee ons te make het, is die opkoms van die digitale era. Tyd laat my nie toe om in behoorlike detail op die digitale era in te gaan nie, en daarom stip ek slegs die volgende oor die digitale era aan: 1) Vir die eerste maal in die menslike geskiedenis beskik ons nou oor tegnologie wat die potensiaal het om die logosfeer, die grafosfeer en die videosfeer te integreer in een epog. Die internet het byvoorbeeld wondere gedoen vir sowel die gesproke woord en musiek, as die boek en die beeld – om nie eens te praat van hoe dit ons almal in potensiële skrywers verander nie. 2) Die digitale era het die potensiaal om baie meer mense baie gouer as enige van die vorige drie sfere van oordrag deel te maak van ’n nuwe sfeer van oordrag. 3) Die digitale era bied die moontlikheid van groter deelname deur meer mense as ooit aan die skep van ’n gedeelde wêreld en die ontsluiting van ons wêrelde se skatkamers vir die hele gemeenskap. 4) Die digitale era kan in ’n uitgestrekte land soos Suid-Afrika afstand baie beter as die ander drie sfere oorkom, sodat die sogenaamde reeds bemagtigdes en diegene wat nog sogenaamd bemagtig moet word, baie gouer by mekaar kan uitkom. Trouens, die definisie van bemagtiging moet totaal hersien word as die toeëiening van die digitale era die leitmotief is. 5) Ofskoon maatskaplike kohesie beslis nie slegs van die heersende tegniese bestel afhang nie, kan die gesamentlike, doelgerigte toeëiening van die digitale era in Afrikaans ’n fenomenale bydrae tot ’n nuwe vorm van gemeenskap maak.
Vriende, voor ek afsluit met enkele konkrete voorstelle oor hoe die digitale era in Afrikaans toegeëien kan word, wil ek u eers terugverwys na my stelling hierbo dat die spreektaal van die deursnee Afrikaanssprekende van Mitchell’s Plain tot Menlo Park besig is om so dramaties in duie te stort, dat Afrikaans goed op pad is om ’n familiêre, parogiale, gemoedelike dialek met ’n goeie skeut melancholie oor haar eertydse prestasies in die lettere en die wetenskap te word. In die lig van wat ek probeer het om in te min tyd aan u oor die noodsaak van die toeëiening van die heersende tegniese bestel vir die oordrag en vernuwing van ’n taalwêreld en haar gemeenskappe te verduidelik, wil ek aanvoer dat die ineenstorting van die Afrikaans wat ons daagliks praat, in die eerste plek volg uit die feit dat Afrikaans nóg die videosfeer, nóg die digitale era werklik toegeëien het. Diegene wat kla dat die Standaardafrikaans van die grafosfeer nie vandag cool is nie, het afgesien van my eie irritasie daarmee ’n punt beet. Want wat hulle op hul eiesoortige manier aandui, is dat die vlugvoetigheid, die speelsheid, die laterale inslag, die emosionaliteit en die teatrale van die huidige tegniese bestel nog nie werklik in Standaardafrikaans weerspieël word nie. Daarbenewens word Standaardafrikaans inderdaad so swak in die digitale era oorgedra en het dit tans so ’n swak institusionele en tegniese basis, dat dit die magiese aura kortkom wat dit moet hê om in die digitale era dieselfde estetiese en emosionele appèl tot sy kinders te rig wat dit in die grafosfeer tot vorige geslagte kinders gedoen het. ´n Laaste aspek van my stelling: myns insiens het ons te lank in die debat oor Afrikaans die skyn bewaar dat hoewel dit met taal se hoër funksies moeilik gaan, dit met die laer funksies en die alledaagse spreektaal eintlik beter as tevore gaan. Niks kan naïewer of verder van die waarheid wees nie: met verskillende subdialekte los en vas afgelei van Standaardafrikaans het ons nie ’n kat se kans om die gewone sprekers van die taal deel van ’n moderne wêreld te hou nie. Kortom, Afrikaans het niks anders nie as ’n nuwe fase en ander vorm van moderniteit nodig as wat ons laas met die toeëiening van die grafosfeer gesien het. Ek sluit dus nou af met enkele konkrete voorstelle oor die toeëiening van die digitale era.
Konkrete voorstelle
1) Dit is noodsaaklik dat ’n kollektiewe liggaam tot stand kom wat as eerste nuwe instelling van die digitale era hierdie toeëiening op tegniese sowel as institusionele vlak kan maak. Afrikaans benodig dringend ’n liggaam uit die burgerlike samelewing wat namens die taal hierdie proses in oorleg met haar sprekers kan stuur. Ek verwys natuurlik na ’n soort Afrikaanse raad van afgevaardigdes. 2) Hierdie raad sal ’n groot veldtog moet loods om die groot kommunikasie-instellings van Afrikaans te oorreed om mee te doen aan ’n nuwe Standaardafrikaans vir die digitale era. Van kardinale belang is dat dit nie net oor vorm, dit wil sê korrekte taalgebruik, gaan nie, maar nog veel meer oor inhoud. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat Afrikaanse kykers, lesers en luisteraars in die digitale era met sy enorme aanbod van geestelik verheffende inhoud uitgelewer moet wees aan laevlakse vermaak en geestelike besoedeling. Die Afrikaanse wêreld gaan vandag oënskynlik so mank aan selfvertroue dat ons nie net enige klein suksessie tot wêreldhistories verhef nie, maar dat ons die een na die ander sogenaamde suksesresep in die Anglo-Amerikaanse wêreld ’n baie deursigtige Afrikaanse baadjie aantrek en onsself dan op die skouer klop. Om net nog ’n Afrikaanse tydskrif of program te loods wat feitelik ’n swak vertaling van swak inhoud van elders is, is verleentheidswekkende dekadensie, wat op die balansstaat miskien goed lyk, maar nêrens anders nie. 3) Instellings van oordrag soos skole, universiteite en kerke sal herdink moet word ten einde die potensiaal van die vergrote verspreiding van kennis en idees van die digitale era te benut. Lawwe pogings om die ekonomiese model van vraag en aanbod op ons skole, kerke en universiteite toe te pas, is kulturele selfmoord waarvoor ons net onsself kan blameer. Dit kom neer op die toepassing van die 19de-eeuse se nywerheidsmodel op 21ste-eeuse instellings en is die grootste illusie van vooruitgang waarmee ons onsself vandag besig hou. Die gebruik van digitale tegnologie om, sê, kennis meer interaktief in skole en universiteite oor te dra, of om ’n werklik diepsinnige liturgiese drama in ons kerke te skep, is voorbeelde van wat ons eintlik moet doen. Onthou dat as ons dit nie doen nie, skoolkinders die internet of sms bo die skool as kennisbron gaan verkies, en gelowiges die kerk in ’n teatrale sirkus sal verander. 4) Een of ander manier om die ongelooflike finansiële kapitaal in Afrikaans so aan te wend dat ons arm gemeenskappe materieel gered word, en toegang gegee word tot die digitale era, is wesenlik. ’n Afrikaanse raad van afgevaardiges moet ’n digitale opheffingskongres met Afrikaanse sakelui belê om aksies en finansiering te bespreek. 5) Veral die Afrikaanse jeug moet volledig toegang tot en onderrig in die aanwending van digitale tegnologie gegee word, sodat hulle ons kan begin help met nuwe kulturele produksie. Daarmee saam is oordrag van die tradisies wat ons wêreld gevorm het, absoluut noodsaaklik. 6) ´n Ander ekonomie as dié van die verbruikersmodel moet rondom die digitale beslag kry. Eerder as wins, moet volhoubaarheid nagejaag word, en eerder as goedere moet geestelike voeding gesirkuleer word. Daar is geen rede waarom die Afrikaanse publiek die gevangene van ’n dieet van mensvernederende realiteitsprogramme, skindernuus, moord en doodslag gehou hoef te word nie. ’n Ekonomie wat berus op maksimum deelname én produksie deur almal, eerder as maksimum verbruik, is die wagwoord. Vriende, oor Afrikaans en die digitale era sluit ek af met een van die slagspreuke van Die Vrye Afrikaan: ’n ander wêreld is moontlik. Die vraag is, wil ons dit verwesenlik?
|