blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Siniese “black business” tussen die VSA en Afrika 2007-06-14
Jean-Christophe Servant

*Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Dit was ’n mooi afskeidseremonie. Op 19 Desember 2006 woon Olusegun Obasanjo, uittredende president van Nigerië, as eregas ’n dinee by in die groot saal van die Waldorf Astoria in New York. Na twee termyne aan die hoof van die Wes-Afrikaanse reus, loop die oud-generaal wat tot “democrazy” (1) bekeer is, etlike boesemvriende daar raak. Onder hulle, die drie grootste beleggers in die land se oliebronne – Chevron, Exxon en Shell Nigeria – borge van hierdie aand van “viering en eerbetoon” waar 850 persoonlikhede teenwoordig is. Obasanjo maak gereed om die tuig neer te lê na die presidentsverkiesing op 21 April 2007 (2).

             Tussen die gebraaide hoender en sjokoladekoek deur, uiter Hope Masters, dogter van wyle Leon H. Sullivan, die beroemde swart Amerikaanse stryder van die 1960's, haar begeerte om die Nigeriese president die Nobelprys vir vrede te sien wen. Die Sullivan-stigting is die dryfveer agter die meeste groot spitsberade wat tussen Afro-Amerikaanse en Afrika-entrepreneurs gereël word. Hoewel afwesig van die geleentheid, stuur die Amerikaanse oud-minister van buitelandse sake, Colin Powell, nietemin ’n vriendskapsboodskap aan Obasanjo.

             Die blyke van erkenning is welverdiend: die Nigeriese president het dit reggekry om beleggers na sy land te lok, in ruil vir talle nuwe privaatbanke, ’n golf van privatisering en grootskaalse afdankings in die openbare sektor. Sy verkiesing in 1999 is voorafgegaan deur ’n verkiesingsveldtog waartydens hy deur die VSA gereis het aan boord van ’n straler wat goedgunstiglik deur Chevron-Texaco voorsien is.

             Tot groot tevredenheid van sy luisteraars huiwer Obasanjo nie om sake en godsdiens in een asem te noem nie. In sy bedankingstoespraak by die Waldorf Astoria herinner hy hulle dat dit “God is wat olie in sekere gebiede gesit het sodat die ontginning daarvan tot hulle ontwikkeling kan bydra”. Hierdie aand is ook ’n soort apoteose vir die organiseerder, Andrew Young, ’n emblematiese figuur in die burgerregtebeweging en mede-stigter van die vereniging Goodworks International (GWI) met sy hoofkantoor in Atlanta. GWI is ’n firma van konsultante en stemwerwers wat, volgens Laolu Akande, korrespondent in die VSA vir die Nigeriese dagblad The Guardian, “sy fortuin gemaak het uit sy betrekkings met Obasanja”. 40 % van GWI se omset kom glo uit Nigerië. “Miljoene dollars,” skat die New York Times, sonder verdere besonderhede.

             Dit is so dat Goodworks se transnasionale netwerk die ondeursigtigheid van sy inkomstebronne in die hand werk. GWI verrig “beeldpoets-sendings" vir Nigerië, Angola, die Ivoorkus, Benin, en meer onlangs Rwanda en Tanzanië, wat vir hom minstens 220 000 euro per jaar per kliënt inbring. Die firma werk ook vir verskeie groot Amerikaanse maatskappye soos Chevron, maar ook General Electric, Motorola, Monsanto en Coca-Cola, wat graag die Afrikamarkte wil binnedring (of hulle teenwoordigheid daar wil versterk). 1,5 % van sy totale opbrengste kom uit kontrakte met maatskappye. Hierdie magtige kontaknetwerk van Afrika-staatshoofde en Amerikaanse sakelui is opgebou in die loop van Young se lang en gekontrasteerde loopbaan.

             Lid van die bestuursraad van verskeie van die VSA se vyfhonderd voorste maatskappye, “apostel van die kapitalisme” aldus die tydskrif Forbes, het dié oud-burgemeester van Atlanta tot die politiek toegetree aan die sy van Martin Luther King tydens die stryd om burgerregte. Vervolgens raak hy lid van die Demokratiese Party en word verkies tot die Kongres voordat hy onder die bewind van Jimmy Carter die VSA se eerste Afro-Amerikaanse ambassadeur word. Nietemin is dit sy verkiesing – en herverkiesing – tot burgemeester van Atlanta (van 1982 tot 1989), toe dié meegeding het om die 1996 Olimpiese Spele te organiseer, wat ’n keerpunt in sy lewe sou word. Hy omvorm die stad in een van die pronkstukke van Amerikaanse entrepreneurskap. Young sê graag dat hierdie ontwikkeling Atlanta “´n model vir die Afrika van môre” maak.

             In die 1980's skroom die Demokratiese Young nie om verwyte te slinger na “die hartelose swart miljoenêrs, wat waarskynlik Hel toe sal gaan, en wat eerder maar Republikeins moet stem” (4) nie. Sedertdien het ook hy die Rubikon oorgesteek: vanuit Demokratiese kringe beweeg hy tot in die Republikeinse “dinktenks”, waar hy een van die “swart toordokters” van die Bush-administrasie se invloedsdiplomasie word: “Hoe meer ek gelees het oor Paul Wolfowitz [voormalige voorsitter van die Wêreldbank], hoe meer het ek begryp hoeveel ons gemeen het,” verklaar hy byvoorbeeld verlede Desember. “Ons het dieselfde mentor, George Schultz (5), gehad. Ons het langs totaal teenoorgestelde paaie hier uitgekom, maar ons doelwit is dieselfde, naamlik om vrede te versprei.” (6).

   Kritiek reën toenemend op mnr. Young en sy Afrika-sake neer. Hoewel die agterdog en (besonder venynige) beskuldigings Nigerië as basiese tema het, reik hulle heelwat verder as die “vriendskapsbande” wat sedert die 1970's met Obasanjo geweef is. Amptelik is Goodworks inderdaad veronderstel om in “Mama Afrika” ’n entrepreneursfilosofie toe te pas wat opgesom word in sy slagspreuk, “Doing well by doing good” (7). Dit lyk egter eerder of laasgenoemde verwys na die dubbele aanskyn van swart Amerikaanse ekonomiese kringe wat sedert die einde van die 1990's in Afrika suid van die Sahara werksaam is: besigheid wat ontwikkel te danke aan ekonomiese vryhandelsooreenkomste tussen Washington en die “voorbeeldige leerlinge” op die vasteland. Soos Antoine Glaser, hoof van die redaksie by La Lettre du Continent, dit stel, is Goodworks inderwaarheid die voorloper in ’n generasie van Afro-Amerikaanse tussengangers wat besig is om “hulle merk te maak as die VSA se nuwe magshefbome in Afrika”. “Hoewel hulle die eerstes is om in die openbaar etiese beginsels soos deursigtigheid in die bedryf van sake met Afrika te verkondig,” som hy op, “is hulle ook kop in een mus met dié wat die felste gekritiseer word, soos die Angolese president Eduardo Dos Santos (8). En dit is ’n tendens wat gaan verskerp namate die ekonomiese mededinging met China, wat geredelik gebruik maak van sy status as moondheid wat losstaan van die kolonialisme, op die kontinent voortwoed.”

Hierdie mense, wat nie skroom om voor die media en ter wille van opinies suid van die Sahara van beide hulle status as oud-stryders om burgerregte en hul Afrika-wortels gewag te maak nie, is besig om as 't ware “Trojaanse perde” vir Washington te word in dié se verowering van finansiële bystandsdividende. “Om die waarheid te sê, ná Frankafrika,” reken Antoine Glaser, “sal daar eenvoudig ’n nuwe neologisme gemaak moet word om te praat van hierdie Afro-Amerikaanse konsultante se beslaglegging op die vasteland se sake, as sowel subkontrakteurs van groot Amerikaanse maatskappye én van buitelandse sake.” ’n Mens hoef maar net te kyk waar Goodworks sy kantore oopmaak: uitsluitlik in lande aan wie die VSA doeanevoordele gegun het. “´n Mens sou voortaan byna van ‘Afro-Amerikafrika’ kon praat...”

Nog voordat die onthulling van die aard van Goodworks se betrekkinge met Nigerië die toorn van talle Amerikaanse koerantskrywers laat ontvlam het, was die firma reeds in die spervuur van altermondialiste en Amerikaanse kampvegters vir maatskaplike regte. In 1999 aanvaar Young om namens Nike ’n sending in dié se fabrieke in Suidoos-Asië te onderneem. Uit sy “studie” kom hy tot die gevolgtrekking dat “daar geen bewyse bestaan van slegte behandeling van werknemers nie”. Enkele weke later veroordeel ’n onafhanklike verslag die “gevaarlike, onmenslike en haglike” werktoestande wat deur die sporttoerustingvervaardiger in hierdie lande toegepas word.

In Februarie 2006 bars daar opnuut ’n skandaal los, hierdie keer rondom Wal-Mart (9). Young word deur die voorste supermarkketting aangestel om ’n drukgroep wat aan die firma verbonde is, die Working families for Wal-Mart, te bestuur. Die oogmerk is dieselfde: om die reus se maatskaplik verslete beeld nuwe glans te gee, veral onder die swart gemeenskap en “hongerlydendes”, “aan wie Wal-Mart goeie vars produkte besorg”. Young word gedwing om uit dié pos te bedank nadat hy van rassisme beskuldig is vanweë sy opmerkings oor kleinhandelaars uit etniese minderhede: “Dit is hierdie mense wat ons verkul deur aan ons ou brood, slegte vleis en verlepte groente te verkoop. Ek dink hulle het lank genoeg ons gemeenskappe so bedrieg. Eers was daar die Jode, toe die Koreane en nou die Arabiere. Min swartes hou sulke winkeltjies aan.” Kommentaar van Wal-Mart se woordvoerder: “Ons is des te meer uit die veld geslaan oor hierdie opmerkings komende van iemand wat hom baie, en vir baie lank, vir gelyke regte in hierdie land beywer het.”

In 2007, teen die agtergrond van verkiesing in Nigerië toe Goodworks pas sy tiende bestaansjaar gevier het, verskerp talle Afro-Amerikaanse bronne hulle aanvalle. Die Chicagose denker Prexy Nesbitt, self ’n voormalige vegter vir burgerregte en een van die argitekte van die veldtog wat in die 1970's in die VSA teen die Suid-Afrikaanse apartheid gevoer is, merk op: “´n Sekere kategorie swart Amerikaners het geen sin vir hulle verantwoordelikhede teenoor die Afrikavasteland nie. Hulle voel geen skaamte nie, het geen bande nie en is geensins in staat om op te tree nie. ’n Mens sien al meer swart Amerikaners na vore kom wat in diens van die stelsel is. Hulle is in ’n sekere sin die polisiemanne van hierdie stelsel wat Afrika wil herkoloniseer, militêr sowel as kommersieel. Condoleezza Rice [minister van buitelandse sake] is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dieselfde geld die nuwe buitelandse minister vir Afrika-aangeleenthede.” (10)



 

             Die wyse waarop Goodworks hom in besluitnemerkringe in Afrika ingewerk het deur middel van Obasanjo – ’n man, jubel Young, “wat sedert die 1960's ’n aandeel gehad het aan elke goeie ding wat met Afrika gebeur het” – is nog ’n bron van polemiek. Met Goodworks se verjaardagviering het Ken Silverstein, joernalis en rubriekskrywer, en een van die grootste kenners van sakebetrekkinge tussen die VSA en Afrika, dit gehad oor Goodworks se etiese pretensies: “Die burgemeester van Atlanta, Shirley Franklin, het onlangs verduidelik hoe Goodworks bewys het dat kapitalisme wat op die gemeenskap gerig is, moontlik is. As die gemeenskap waarna sy verwys, dié is van korrupte Afrikaleiers, hulle Amerikaanse vriende en sakekringe, dan is sy reg. Maar as sy ons probeer wysmaak dat Goodworks sy naam gestand doen wanneer dit gaan om die stryd teen armoede, dan kan sy die bal nie verder misslaan nie.”

             Goodworks se hoofde sluit onder andere twee voormalige Afro-Amerikaanse ambassadeurs in Nigerië in: mnre Howard Jeter en Walter Carrington. Die hoof van die Abujakantoor, Sharon Ikeazor, was voorheen regsadviseur by Royal Dutch Shell se Nigeriese kantoor. Net so ambivalent is die agtergrond van Carlton A. Masters, tans aan die stuur by Goodworks en medestigter van die maatskappy. Dié Jamaikaan wat Amerikaanse burgerskap verkry het, is in Junie 2005 getroud met die dogter van Leon H. Sullivan, en die bruilof in Abuja is deur die Nigeriese president bygewoon. ’n Buitengewone eer, word ter plaatse opgemerk. Young stig selfs ’n maatskappy in Florida, Sunscope Investments, met lede van die Nigeriese president se binnekringe.

             Nog ’n brug word in die herfs van 2006 oorgesteek toe Masters deur hierdie organisasie aangestel is as spesiale verteenwoordiger van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (EGWAS, met sy hoofkantoor in Abuja), ter wille van betrekkinge met die Afrika-diaspora. Nigeriërs in Amerika was reeds verbaas dat hulle land, wat oor hoogs bekwame diplomate in die VSA beskik, ’n werwingsmaatskappy soos Goodworks in diens neem – teen jaarlikse vergoeding van 500 000 dollar. Hulle was die eerstes om op hierdie aanstelling te reageer. “As ’n Amerikaner in hierdie pos aangestel is, beteken dit dat daar geen Afrikaan is wat die werk kon doen nie?” vra Steve Nwabuzor, voorsitter van die Nigerian Leadership Foundation (11). Die betrokke party verdedig hom soos volg: “Ek is vas van plan om hierdie aanstelling te gebruik nie net om die wêreld se aandag op Afrika se behoeftes te vestig nie, maar ook om betrekkinge tussen die VSA en die vyftien lidlande van EGWAS te versterk.”

             Goodworks skryf die kritiek wat van beide kante van die Atlantiese oseaan kom, toe aan die Nigeriese visepresident – en kandidaat wat in die presidentsverkiesing van April 2007 verslaan is – Atiku Abubakar, wat hierdie lasterlikhede vir eie gewin in die diaspora gebruik en versprei. Mnr. Abubakar se fortuin is glo ook nie sonder skadukolle nie. Maande lank, sogenaamd om korrupsie te beveg, is ’n ware oorlog van persverklarings en onthullings gevoer tussen die media wat Obasanjo se “protégé” in die presidentsverkiesing, Umaru Yar’Adua, steun, en dié wat staan agter sy visepresident, aangekla van finansiële wanbesteding.

             Die direksie van Goodworks, wat nie ons vrae wou beantwoord nie, lyk gesteurd oor die beskuldigings wat teen sy pan-Afrika-sake gemaak word. Die aantygings word inderwaarheid al meer regstreeks. Femi Falana, ’n Nigeriese advokaat en voorsitter van die Wes-Afrikaanse balieraad, reken byvoorbeeld botweg dat “Andrew Young nie in Nigerië se probleme belangstel nie. Hy is hier net om wins te maak” (11).

             Die oudburgemeester van Atlanta is vennoot in ’n Nigeriese oliemaatskappy, Sun Trust Oil, wat sedert 2002 een van die belowendste posisies in die land het. Nog ’n Goodworks-hoof, Howard Jeter, is weer lid van die bestuursraad van die firma ERHC, wat fel gekritiseer is vir die wyse waarop dit verskeie prospekteer-permitte bekom het in die ontwikkelingsone wat gesamentlik tussen Nigerië en die Republik van Sao Tome en Principe gestig is (12).

             Natuurlik is daar niks onwettigs daaraan dat Amerikaanse stemwerwers terselfdertyd ’n land en die maatskappye wat hulle daar wil oprig, verteenwoordig nie. Ook mag hulle self sake doen in ’n land waarmee hulle kontrakte gesluit het. Maar sulke bande, wat dikwels ondeursigtig en ’n teelaarde vir ongerymdhede is, dra by tot die plundering van bronne wat die Afrika-volke so broodnodig het.

             In Jamaika bring ’n onlangse skandaal die aard van Goodworks se aktiwiteite aan die lig. Die Jamaikaanse advokaat en Arbeiderparlementslid Clive Mullings (opposisie), belas met energiesake en telekommunikasie, het besluit om “die sluier te lig” oor wat hy beskryf as ’n internasionale aangeleentheid van “terugwerkende kommissie tussen die maatskappy Trafigura, Goodworks, en die Nigeriese en Jamaikaanse leiers”. “Internasionale bedrog,” verduidelik Mullings aan ons, teen die agtergrond van bilaterale ooreenkomste wat in die 1990's tussen die twee openbare oliemaatskappye van Nigerië en Jamaika gesluit is. Goodworks se betrokkenheid by hierdie verwikkelde aangeleentheid reik terug na 2000, oftewel ’n jaar nadat Obasanjo aan bewind gekom het. “Destyds is Carl Masters, hoof van Goodworks, deur die konserwatiewe Jamaikaanse regering wat toe aan bewind was, gevra of hy die Petroleum Company of Jamaica (PJC) sou help om olie van die Nigeria National Petroleum Corporation (NNPC) te bekom. Dit is vreemd as ’n mens in ag neem dat PJC sedert 1978 nog nooit sodanige hulp nodig gehad het nie.” Dit is op hierdie tydstip dat die oliehandelaar en skeepsvragmaatskappy Trafigura tussenbeide tree, en die taak opgelê word om die olie teen ’n afslagprys te koop en te vervoer. Trafigura, betrokke by ’n soortgelyke aangeleentheid in Suid-Afrika, ontvang terugwerkend kommissies vir sy deelname in die vorm van ’n persentasie op vate wat vervoer word, terwyl Goodworks ook fooie in: 15 % van die netto winste van die Petroleum Company of Jamaica (13).

             Wat vandag bekend staan as die “Trafigura-saak” het losgebars toe daar ontdek is dat 460 000 euro vanuit Amsterdam na die bankrekening van ’n Jamaikaanse minister, Colin Campbell, oorgeplaas is. Verteenwoordigers van Trafigura (onder meer die voorsitter) het ’n privaat ontmoeting met die eerste minister Portia Simpson Miller gehad ’n maand voordat die oorplasing gedoen is. “Die regering verwys na dié oordrag van fondse as ’n “skenking”, terwyl Trafigura dit beskryf as ’n “kommersiële transaksie” as deel van die herbedinging van sy verstreke kontrak.” Die Nederlandse owerhede gelas ’n ondersoek. Die saak lei tot die bedanking van mnr. Campbell as minister van inligting. Die voormalige eerste minister, Percival James Patterson (1992-2006) wat agter die ooreenkoms gesit het, sluit aan by ... die direksie van Goodworks.

             Tydens die laaste spitsberaad wat deur die Sullivan-stigting gereël is en wat op 20 Julie 2006 vir die tweede agtereenvolgende keer in Abuja gehou is, nooi Young die Amerikaanse president George W. Bush om deel te neem aan die volgende byeenkoms wat in 2008 in Tanzanië moet plaasvind. Goodworks word trouens deur die regering in Dar es Salaam in diens geneem teen 375 000 dollar. Die maatskappy moet byeenkomste in die VSA reël ten einde “negatiewe inligting oor Tanzanië wat in die Amerikaanse pers gepubliseer word, te besweer”. Die toeval wil dit hê dat Goodworks ook werk vir die uiters kontroversiële Kanadese mynmaatskappy Barrick Golds (14), wat uiters betrokke is in die land.

             Die algemene verkiesings in Nigerië in April 2007, ontsier deur geweld en ongerymdhede, loop uit op dit wat waarnemers gevrees het: die kortgeknipte verkiesing van Umaru Yar’ Adua, wat meer as ooit beskou word as ’n “marionet” van die uittredende president Obasanjo, en ’n nuwe kliënt vir Goodworks. Die galadinee by die Waldorf Astoria, herinner die joernalis Laolu Akande ons, was trouens vir Obasanjo en Goodworks ’n geleentheid om “aan mnr. Yar Adua se kandidatuur en beeld te begin werk. Hulle verduidelik byvoorbeeld dat, hoewel hy die uittredende goewerneur is van Katsina, een van die Nigeriese state wat die Sharia ingestel het, Yar Adua menseregte gerespekteer en die ergste verhoed het, naamlik die opkoms van radikale Islamisme”...

             Intussen in Jamaika, met sy oë gevestig op die twee kontinente, Amerika en Afrika, sit Clive Mullings sy ondersoek na Goodworks voort. Sy mikpunt: “Om die kolletjies te verbind en hierdie internasionale bedrogspul op die lappe te bring”.

_________

 

(1) Die bynaam wat aan die Nigeriese weergawe van demokrasie gegee is: ’n sameflansing van “democracy” en “crazy”.

(2) As PDP kandidaat word die oud-goewerneur van die Moslemstaat van Katsina (Noord) met 24 638 063 stemme verkies bo generaal Muhammadu Buhari, kandidaat van die All Nigeria People Party (ANPP, opposisie), met sy 6 605 299 stemme. Die uittredende visepresident Atiku Abubakar neem die derde plek in met 2 637 848 stemme.

(3) Lees Barry Meier, “For US-Nigeria Go-Between, ties yield profit”, 18 April 2007, www.nytimes.com.

(4) “Young Assails Blacks Who Favor President ”, The New York Times, 27 Oktober 1984.

(5) Voormalige minister van buitelandse sake, voorstander van die oorlog in Irak en administrateur van Bechtel, die openbare werke-groep wat gekies is vir die heropbou in Irak.

(6) The Washington note, “What’s up with Andrew Young’s Groveling for Wolfowitz?”, 30 April 2007. http://www.thewashingtonnote.com/archives/002100.php.

(7) www.goodworksintl.com/.

(8) Die president van Angola, José Eduardo dos Santos, word dikwels geassosieer met korrupsie en die verduistering van olieopbrengste in sy land.

(9) Lees “petites mains du sud pour firme du nord ” en Serge Halimi, “ Walmart à l’assaut du monde ”, Le Monde diplomatique, Januarie 2006.

(10) Lees “Carl Masters named Ecowas Envoy”, 31/10/2006, www.nigeriavillagesquare.com/.

(11) New York Times, ibidem.

(12) Lees Jean-Christophe Servant, “Fiévre pétrolière à Sao Tomé et Principe”, Le Monde Diplomatique, Oktober 2006.

(13) Trafigura Beheer BV, wat sy hoofkantoor in Nederland het, is ’n oliehandel- en skeepsvragmaatskappy wat spesialiseer in die vervoer van grondstowwe. Die naam het reeds in verskeie skandale opgeduik, onder andere die verskeping van Probo Koala, wat in die somer van 2006 afval na die Ivoorkus vervoer het wat in verskeie stortingsterreine rondom Abidjan gestort is. Die gasse wat daardeur afgeskei word, vergiftig 23 000 mense, met 7 sterftes en 35 ernstig beseerdes.

(14) Nommer een wêreldwyd in die ontginning van goud, is Barrick Gold die teiken van talle beskuldigings rakende sy aktiwiteite, veral op die Afrikavasteland (Kongo, Tanzanië...).

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=873
Artikel nagegaan:
    -