blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde diplomatique: Franse populisme 2007-06-14
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw.

 

Daar is iets fassinerend omtrent hierdie tieragtige opmars wat mnr. Nicolas Sarkozy in Frankryk tot president van die Republiek gevoer het. Die onmiskenbare politieke genialiteit waarvan hy deur die loop van sy veldtog blyke gegee het: die mengsel van wilsmatigheid, gesag, verpersoonliking, aanvegbaarheid, nasionalisme en liberalisme, geknoop aan briljante redevoering en ’n vreesaanjaende massakommunikasie- intelligensie het hom in staat gestel om hom met ooglopende deeglikheid te vestig – danksy die massiewe steun van die media- en ekonomiese magte.

             Wat hierna verstom het, was daardie intellektuele argeloosheid wat hom daartoe gevoer het om die debat te bepaal langs die lyne wat links en regs van mekaar skei. Politieke ontleders het hulleself afgevra of dié lyne, ontwrig deur liberale globalisering, geskuif het. Mnr. Sarkozy het bepaal. En met die samestelling van sy eerste kabinet bewys dat die buiterand van die regterkant voortaan effektief ’n goeie deel van die Sosialiste Party insluit, in elk geval sy “sosiaal-liberale” vleuel. In hierdie opsig weerspieël die nuwe kabinet, waarvan nie minder nie as vier lede van die linkerkant kom (mnre. Bernard Kouchner, Eric Besson, Jean-Pierre Jouyet en Martin Hirsch), die regse skuif van die Franse samelewing.

             ’n Teenstrydige skuif na regs terwyl maatskaplike lyding steeds toeneem. En terwyl, sedert 1995, maatskaplike onmin lewend bly in die arbeidswêreld, wat hard getref is deur die verskraling van regte, subkontraktering, delokalisering en werkloosheid.

             Die Gaullistiese era loop ten einde en word vervang deur die Sarkozisme, oftewel ’n Franse populisme wat voorhou om al die regse strominge aan sy bors te druk, vanaf die ondersteuners van die verregse Le Pen tot die sosiaal-liberale, sonder om van die sentriste te vergeet – deur hulle te vang met die illusie van beweging en opening wat as “modern” en “progressief” beskryf word. En waarvan die hoofbronne van inspirasie is: die Amerikaanse neokonserwatiewe, Republikeinse model, mnr. Silvio Berlusconi in Italië en mnr. José María Aznar en Spanje. Drie benaderings wat, laat dit gesê word, onlangs deur die kiesers van dié drie lande afgewys is.

             Die nuwe mislukking van die linkses is in die eerste plek ’n intellektuele nederlaag. Deurdat dit as gevolg van sy onbeweeglikheid, sy breuk met die lae klasse of sy onvermoë nie ’n nuwe politieke teorie vir die oprigting van ’n meer regverdige Frankryk voortgebring het nie, terwyl al die strukture van die samelewing nou al vir meer as vyftien jaar lank geruïneer is deur die brutale ineenstorting van die Sowjet-Unie en die vernietigende opkoms van neoliberale globalisering, het oplaas selfmoord geblyk.

             Die linkses het die ideëgeveg verloor. En dit sedert sy regeringservaring hom daartoe gelei het om salarisse te bevries, fabrieke te sluit, poste af te skaf, nywerheidsvalleie te likwideer en ’n deel van die openbare sektor te privatiseer. Kortom, sedert hy aanvaar het dat sy historiese sending – in teenstelling met sy aard – is om Frankryk “aan te pas” by globalisering en haar te “moderniseer” ten koste van salaristrekkers en ten gunste van kapitaal. Híér ontspring die huidige nederlaag.

             En om die hoofstroommedia, wat nou die vernaamste ideologiese instrument van die stelsel vorm, te blameer vir die ontsporing gee blyke van kinderagtige gekla of onmag. Want die nuwe hiërargie van magte soos vasgelê deur neoliberale globalisering, plaas ooglopend as eerste mag op die kruin ekonomiese en finansiële mag, gevolg deur die mediamag, wat die huursoldaat van eersgenoemde is. Hierdie dominante duo oorheers die politieke mag – wat in die demokrasieë van opinie in die era van globalisering slegs met die stilswyende instemming van die eerste twee magte verower word.

             Hiervan het die “linkses van die linkses” in weerwil van die rykdom van hulle voorstelle eweneens nie rekenskap gegee nie en eerder dikwels ’n ontstigtende spektakel van verdeeldheid en egoïsme gegee.

             Vir die geheel van die linkses is hierdie nederlaag beslissend. Dit merk die einde van ’n era. En dwing die linkses tot ’n onontbeerlike herstigting. Om oplaas, soos dit deesdae in Latyns-Amerika genoem word, ’n “sosialisme van die 21ste eeu” te bou.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=872
Artikel nagegaan:
    -