blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hoe Afrika haar vryheid vermoor 2007-06-14
William Mervin Gumede

*Skrywer van Thabo Mbeki and the Struggle for the Soul of the ANC, Kaapstad: Zebra Press, 2006. Hierdie artikel het aanvanklik verskyn in The New Statesman op 2 April 2007.

 

Dwarsoor die kontinent het bevrydingsbewegings wat teen koloniale regering geveg het, hul onvermoë ten toon gestel om demokratiese regering vol te hou. Ons kan nie aanhou om die verlede die skuld te gee nie. Zimbabwe se Zanu-PF het die simbool geword van die verval van Afrika- bevrydingsbewegings tot barbaarse diktature.

Die groot Tunisiese skrywer, Albert Memmi, het hierdie verskynsel reeds in 1957 opgemerk. In The Coloniser and the Colonised het hy geskryf oor die neiging van bevrydingsbewegings om – sodra hulle beheer verkry het, die barbaarsheid en wreedheid van voormalige heersers na te boots. Terugvallende bevrydingsbewegings in Algerië, Angola, Ghana, Kenia, Namibië en ander lande het ’n spoor van verydelde verwagtings en verpletterde drome van miljoene agtergelaat.

In die heilige der heilige van Suid-Afrika se regerende African National Congress (ANC) het hulle ’n naam daarvoor geskep: “Zanufication” (Zanufisering). Onderwyl Zimbabwiërs oor die grens vlug om aan polisiebrutaliteit te ontkom of die ontberings van ’n ekonomie in vrye val (inflasie hoër as 1,700% en tekorte aan basiese voedsel), fluister hulle dit in gedempte stemme, ’n waarskuwing.

’n Senior nasionale uitvoerende lid van die ANC, Blade Nzimande, het onlangs gewaarsku: “Ons moet die gebeure in Zimbabwe noukeurig dophou, want as ons dit nie doen nie, kan ons in ons eie situasie eienskappe aantref wat op ’n soortgelyke ontwikkeling dui.”

Vakverbonde, groepe in die burgerlike samelewing en kerkgroepe vaar daagliks uit teen die Suid-Afrikaanse regering se volstruisbeleid jeens Zimbabwe en president Thabo Mbeki se “stille” diplomasie. Die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakverbonde [Congress of South African Trade Unions (Cosatu)] het by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, die openbare uitsaaier, beswaar gemaak oor sy gebrek aan nuusdekking rondom die verval van Zimbabwe. Hoewel die ANC in Suid-Afrika en Zanu-PF ligjare van mekaar verwyder is, dwaal die spook van Zanufikasie in Suid-Afrika en laat die vraag ontstaan: “Is daar iets inherent in die politieke kultuur van vryheidsbewegings wat dit vir hulle moeilik maak om ’n demokratiese platform te handhaaf?”

Die ironie is dat dit die leiers van voormalig heroïese vryheidsbewegings is wat op die Afrika-kontinent die hindernisse geword het in die vestiging van ’n politieke kultuur wat op goeie regering berus. Die voormalige Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela én president Thabo Mbeki het in 1994 geesdriftig verklaar dat die einde van amptelike apartheid die daeraad van ’n nuwe era is. Nogtans blameer die leiers van baie bevrydingsbewegings, waarvan Mugabe ’n goeie voorbeeld is, nog steeds kolonialisme vir die wanbestuur en korrupsie van hul bewakers.

Klaarblyklik is die nalatenskap van slawerny en kolonialisme, en nou ongelyke globalisering, obstruksies vir ontwikkeling. Om egter die Weste vir Zimbabwe se onlangse probleme te blameer, is nie redelik nie. Tog is die diplomasie van Suid-Afrika, waardeur die meeste Afrikalande hulle laat lei, op hierdie aanname gebaseer. Aanvanklik het ANC-leiers dit ook onderskryf, maar gelukkig vir Zimbabwe raak Mbeki al hoe meer geïsoleer.

Getrou aan sy kwasterige en koppige geaardheid, hou hy steeds vol dat Mugabe se regering nie in die openbaar gekritiseer moet word nie, aangesien die land so swaar gely het onder Brittanje. Met betrekking tot grondbesit is swart Zimbabwiërs inderdaad te kort gedoen, maar dis nie die volle verhaal nie. Die Zimbabwiese regering het minstens ’n dekade lank ledig gesit; en toe dit uiteindelik ’n grondhervormingsprogram in werking gestel het, het dié daaruit bestaan om vrugbare grond onder boeties uit te deel wat die grond toe laat verwaarloos het.



 

Elders op die kontinent is dit dieselfde storie. Namate Afrika-bevrydingsbewegings in die kussings gekom het, was hulle ondersteuners gretig om tekortkominge mis te kyk. Die gevoel was dat ’n nuwe, populisties verkose demokratiese regering ’n uitgerekte kans gegun moet word. Bevrydingsbewegings is beskou as die beliggaming van die nasie in sy geheel.

             In Suid-Afrika was kritiek op die ANC deur sy ondersteuners nog altyd gedemp. “Jy kan nie jouself kritiseer nie,” het ’n ANC-veteraan my eenmaal tereggewys. Daar het ook die vrees bestaan dat kritiek op die regering slegs skietgoed aan magtige opponente verskaf. Toe ’n top ANC-leier, Chris Nissen, uit die laer gebreek en in die openbaar ’n partybeampte se dwaling gekritiseer het, is hy gewaarsku: “Moenie die familie se vuilwasgoed in die openbaar was nie.”

As joernalis self aktief in die bevrydingstryd het ek in die driftige dae na Suid-Afrika se eerste nierassige demokratiese verkiesing in 1994 geswig voor die beginsel: “Laat ons nie te veel kritiseer nie, kom ons gee die nuwe regering ’n billike kans.” Maar dit was ’n groot fout. Alle regerings moet op hulle tone gehou word. Die probleem vir die meeste bevrydingsbewegings is hoe om ’n kultuur van demokrasie te vestig.

Tydens ’n bevrydingstryd word besluitneming noodwendig aan die diskresie van ’n paar leiers oorgelaat. Verskille en kritiek word nie toegelaat nie, uit vrees dat dit verdeling binne die beweging blootlê wat deur die koloniale vyand uitgebuit kan word. Maar as gebrek aan kritiek oor die eerste deurslaggewende jare van mag volgehou word, raak dit ingegrawe en verskans en word dit deel van ’n politieke kultuur. In die eerste bevrydingsjare tree regerings dikwels op asof hulle onder beleg is. Kritici word gemarginaliseer, wat kritiek later bykans onmoontlik maak.

Neem byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse regering se aanvanklike reaksie op die Vigs-pandemie. Mbeki het met ’n fatale beleid van ontkenning weggespring. Talle ANC-ondersteuners het geweet dat hy verkeerd was, maar het geswyg vir ingeval hulle dalk verdink kan word van steun aan Westerse regerings of groot farmaseutiese maatskappye wat daarop uit is om Afrika se onderontwikkeling te laat voortduur. Baie aktiviste het verkies om eerder hul bedenkings oor die regeringsbeleid stil te hou as om in die kamp van die “neo-kolonialiste” geskaar te word.

In Zimbabwe het Mugabe opstande in die 1980’s bloeddorstig onderdruk en duisende in die omstreke van Matabeleland vermoor. Geen streeksbevrydingsbeweging het hieroor ’n woord gerep nie. Die stilswye van Zanu-PF kritici het die fondament gelê vir sy bewind van terreur.

In talle Afrikalande, waaronder Suid-Afrika die uitsondering is, is die staat feitlik die enigste werkgewer na bevryding. Begunstiging kan gebruik word om te beloon of om kritici op ’n syspoor te rangeer.

Die Koue Oorlog, waartydens talle Afrika-regerings se lewe begin is, het die oorwinnaarsmentaliteit van “hulle teen ons” onder Afrika- bevrydingsbewegings versterk.

Mugabe blameer steeds imperialisme. Wanneer die VK of Australië Zimbabwe kritiseer, swyg sy Afrika-bure: hulle wil nie as ondersteuners van hul vorige meesters beskou word nie.

Net so is Mbeki se stilswye oor Zimbabwe deels daaraan toe te skryf dat hy nie met die “koloniale” magte vereenselwig wil word nie. Suid-Afrika se eerste sterk politieke stelling oor Zimbabwe tydens die huidige krisis, deur Aziz Pahad, adjunkminister van buitelandse sake en een van Mbeki's se intiemste persoonlike vriende, was om die Suid-Afrikaanse media onder skoot te kry oor die oordadige aandag wat hulle aan die Westerse perspektief op Zimbabwe skenk. Dit was nadat Tony Blair ’n oproep om sanksies teen Zimbabwe gemaak, en Australiese leiers Suid-Afrika se stilswye betreur het.

Blair se kritiek het die Zanu-PF opponente in die land gemuilband. Hoewel hulle op die punt was om ’n finale aanslag teen Mugabe te loods, moes hulle ’n demper opsit sodat die President hulle nie as lakeie van die weste kan bestempel nie. Een van die belangrikste probleme van die opposisie se Movement for Democratic Change (MDC) was om propaganda van Mugabe én die media, as sou hulle fronte vir die weste wees, af te weer.



Dit is waarom dit vir Mbeki so belangrik is om op te staan en Zanu-PF in die openbaar te veroordeel. Dit sou dit veel moeiliker maak om die konflik in Zimbabwe deur die verwringende prisma van “Afrika teen die Weste” in fokus te kry. Mbeki behoort die leiding van Aartsbiskop Desmond Tutu te volg en onomwonde te verklaar dat Zimbabwe onder Robert Mugabe die heel ergste verval van alle Afrika-bevrydingsbewegings verteenwoordig.

Daar is ook ’n probleem met die leierskultus. Lede van bevrydingsbewegings swig te maklik voor leiers, en talle Afrika-lande is daarvoor berug dat hulle “insult laws” (beledigingswette) uit die koloniale era behou waarvolgens kritici van die President (wat in Zimbabwe se geval ook bespotting insluit) die oortreder langdurige tronkstraf op die hals kan haal. Hierdeur kan leiers dekades in die kussings bly en in die amp sterf as hulle nie met geweld daar afgegooi word nie. Dit is waarom Mandela dit belangrik geag het om na slegs een termyn uit te tree. Dit is ook waarom die voetsool- demokratiese bewegings wat soos paddastoele oor die Afrika-kontinent opslaan, sonder uitsondering eis dat presidente hul ampstermyne moet beperk.

Die anti-koloniale stryd was dikwels gewelddadig, en min bevrydingsbewegings het probeer om ’n kultuur van niegewelddadigheid te herstel. Dit is dus geen verrassing dat Mugabe dit maklik vind om geweld teen sy mense te gebruik nie: die kolonialestaatswapen was vir hierdie doel ingestem. As geweld eers eenmaal gebruik is, word dit weer aangewend. Die blote gedagte aan ’n opposisie intern of ekstern is vir talle ’n moeilike konsep. Mugabe se Zanu het die Patriotic Front (PF), die ander groot bevrydingsbeweging in Zimbabwe, gedwing om in die 1980’s met hom saam te smelt; vandaar die naam Zanu-PF. Dit het die moontlikheid van ’n opposisiemag uitgeskakel.

Die herlewing van ’n opposisie is deels aan ’n generasieverandering in die land se politiek te danke. Baie van die MDC se ondersteuners is jonk en het Zanu-PF hoofsaaklik ervaar as ’n regerende party wat sy mense uitbuit. Hulle word glad nie deur voormalige bevrydingsgetuigskrifte beïndruk nie.

Die welsprekende MDC-spreekbuis, Nelson Chamisa, is nog nie dertig jaar oud nie. In Suid-Afrika is dit jong aktiviste in die Treatment Action Campaign en hul leier, Zackie Achmat, wat die regering verplig het om na verantwoordeliker Vigs-beleide oor te slaan. Zwelinzima Vavi, leier van Cosatu, sê: “Ons is nie bereid om blote leiersjabroers (‘yes-leader’ workers’ desks) te wees nie.”

Die ongelukkige waarheid is egter dat dit op die duur selfs dodelik vir gewone Afrikane, veel meer nog Zimbabwiërs, kan wees om vir nòg ’n generasie te wag voordat daar ’n werklike verandering kan kom.

 


Zimbabwe: Die nasie volgens syfers - Navorsing deur Sarah O'Connor

100 000 mense het saamgetrek om Bob Marley op Onafhanklikheidsdag, 18 April 1980, te sien optree

20 % reële ekonomiese groei in eerste jaar van onafhanklikheid

20 000 gedood tydens Mugabe se gewelddadige onderdrukking in Matabeleland in die 1980’s

70 % landbougrond steeds die eiendom van wit boere in 2000, 20 jaar na onafhanklikheid

1 miljoen afgestorwenes op die Zimbabwiese kiesersrol in 2002

18 % van die bevolking dakloos gelaat deur “Operation Murambatsvina” opruiming van slumgebiede, begin 2005

56 % van bevolking verdien minder as $1 per dag

52 jaar sedert die gemiddelde inkomste so laag was as tans

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=871
Artikel nagegaan:
    -