blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Waar woon my Sarie Marais? 2007-06-14
Theo Brinkel

*Nederlandse akademikus. Hierdie artikel is as RA Swanepoel-gedenklesing gehou op Potchefstroom, 20 Maart 2007.

 

In Nederland, en veral in Den Haag, vind daar gereeld besprekings plaas oor die naamgewing van die strate, soos in die woonbuurt wat die naam “Transvaal” het. Ook in Den Haag is daar ’n De La Rey Weg. Die debat gaan dan oor die vraag of De La Rey nie plek moet maak vir ’n held uit ’n meer onlangse geskiedenis nie. Ons is hier in Potchefstroom baie naby aan die Mooirivier. Die naam van Transvaal het uit die atlasse verdwyn. Hoe moet ons nou weet waar ons Sarie Marais woon?

Met ander woorde: Wat maak van ons die mense wat ons is? Hoe belangrik is identiteit? Hoe moet dit gerespekteer word? Wat beteken dit vir die nasionale samehang? Dit is die vrae wat ek vandag met u wil behandel. Ek doen dit na aanleiding van my dissertasie wat verlede jaar in Nederland verskyn het. Die titel lui: “Nation-building and pluralism; experiences and perspectives in state and society in South Africa”. Dit was vir my ’n eer dat Prof. Francois Venter van Potchefstroom een van die promotors by my #promosie was. Die dissertasie is tans vir belangstellendes beskikbaar. Dit is finansieel moontlik gemaak deur die Nederlandse Stigting Dr. Abraham Kuyperfonds.

In die konteks is die temas wat ek met u wil bespreek die volgende:

 

Die tradisie waarbinne ek die vrae wil sien

Dit is ’n Christelike – in Europa noem ons dit ’n Christen-demokratiese – tradisie. Sentraal daarin staan die unieke waardigheid van die menslike persoon. ’n Unieke waardigheid ongeag ras, geslag, maatskaplike posisie, wat erkenning verdien.

 

Die kyk na en leer van Suid-Afrika

Ek het grootgeword in ’n tydperk waarin daar net kritiek was op die destydse regering van Suid-Afrika. Die wêreld, en by name ook Nederland, het aan Suid-Afrika voorgesê wat hy moes doen. Nou beleef ons ’n interessante tyd waarin Suid-Afrika met al sy probleme en geleenthede ’n voorbeeld kan wees vir ander lande in die wêreld.

 

Die belangrikheid van die civil society (burgerlike samelewing)

Julle noem dit burgerlike samelewing. Dis my oortuiging dat identiteit primêr in gemeenskappe van mense tot sy reg kan kom.

 

Verspreide (diverse) lojaliteite en die rol van die staat

As mense deel uitmaak van gemeenskappe waarin hulle identiteite tot hul reg kan kom, beteken dit dat daar by mense verskillende lojaliteite jeens verskillende gemeenskappe sal wees. Ek sal dit nader toelig.

Dit sal dus die temas wees wat ek gaan bespreek: die Christelike tradisie, kyk na en leer van Suid-Afrika, die belangrikheid van die burgerlike samelewing en diverse lojaliteite.

Ek dink dis goed om in hierdie stadium te sê waaroor my lesing vandag nie gaan, of altans nie ten diepste gaan nie. Ek besef dat daar baie bespreking en kommer bestaan oor die erns van Suid-Afrika se misdaad. Maar ek sien nie ’n direkte band tussen die omgang met identiteit en die misdaadsyfers nie. Dieselfde opmerking geld vir korrupsie. Die opkoms van misdaad en korrupsie is in baie lande in oorgang trouens ’n bekende verskynsel. Daar moet origens gesê word dat misdaad en korrupsie die ontwikkeling van ’n sterk burgerlike samelewing belemmer. Die armoede is in Suid-Afrika ook ’n enorme probleem. En daar is natuurlik ’n verband tussen armoede, benadeling (agterstelling) en identiteit. En eintlik geld dit ook vir MIV/VIGS, wat die lewenskragtigheid van gemeenskappe ondermyn, aangesien juis dié mense in die bloei van hulle lewens uitgeskakel word.

Ons uitgangspunt moet hier egter primêr die kulturele, religieuse (godsdienstige) en taalidentiteit van mense wees. Vanweë die tyd moet ons ons daartoe beperk.

 

Die tradisie waarbinne ek my studie sien

 

Soos ek gesê het, sal ek begin met die beskrywing van die uitgangspunt waarbinne ek my studie sien. Ek het my studie geplaas in ’n Christelike tradisie wat die mens sien as ’n persoon met ’n unieke waardigheid. ’n Waardigheid wat tot sy reg kom in verhouding tot ander mense en in verhouding tot sinvolle bronne. Die mens soek waarheid en singewing en die mens soek gemeenskap met ander mense. Daarin lê die grondslag vir die identiteit van mense. En dan by name die kulturele, religieuse (godsdienstige) en taalidentiteit. Die universele basis vir erkenning van identiteit en pluraliteit moet gevind word in die moontlikheid vir die menslike persoon om sy identiteit te belewe. Die moontlikheid moet vir elkeen in gelyke mate oop wees.

Waar mense verskil van kultuur, religie en taal ontstaan daar verskeidenheid in die samelewing. Op baie plekke onstaan dan spanning tussen die behoefte van mense aan die uitlewing van hul identiteit en die noodsaak tot vreedsame saamlewe. Dit is die taak van die owerheid om die vreedsame saamlewe moontlik te maak. Ek noem dit die openbare erkenning van verskeidenheid. Die openbare erkenning van verskeidenheid ontspring uit die oortuiging dat kulturele, religieuse en talige identiteit relevant is vir die realisering van menswaardigheid. Ontkenning en onderdrukking van die identiteite is skadelik vir die waardigheid van die menslike persoon. Daarom is dit die taak van die staat om vir sy burgers en hul gemeenskappe die belewing van identiteit moontlik te maak binne die algemene raamwerk van die wet. Daartoe moet die staat die openbare orde handhaaf en mense ook op ander maniere in staat stel om deel te neem aan die samelewing in ’n geheel van gemeenskappe en organisasies.

Dit is interessant dat die waardigheid van die mens universeel is. Dit is ’n universele en algemeen geldende waarde. Tegelyk kan die waarde net uitgedruk word in die besondere: in ’n bepaalde taal, ’n spesifieke kultuur, ’n religie, ’n bepaalde onderneming in die samelewing. Indien die besondere die mond gesnoer word, word ook die moontlikheid afgesluit om die universele te ervaar. Dit moet moontlik wees om ’n openbare orde tot stand te bring waarin enersyds reg geskied aan verskeidenheid in kulturele, religieuse en talige opsig, terwyl daar andersyds sprake is van verbondenheid te midde van die staatsgemeenskap. Die waarde van menswaardigheid is enersyds die basis van verskeidenheid en andersyds die basis van nasiebou.

 

Kyk na en leer van Suid-Afrika

 

My tweede tema is om te sien waar Suid-Afrika met al sy probleme en geleenthede ’n voorbeeld kan wees vir ander lande in die wêreld. As ek as Europeër na Suid-Afrika kyk, sien ek ’n land met probleme, maar wat groot vooruitgang gemaak het. Die dilemma tussen nasiebou en verskeidenheid is baie skerp. Ek sien die belangrikheid van die erkenning van andersheid, maar ek sien ook hoe lande elders in Afrika en in Europa deur burgeroorloë verskeur word. En ek het dit ook onlangs in my eie land ervaar. Die immigrasie van duisende mense uit Marokko, Turkye, Suriname en ander lande het gewys dat nasiebou ook by ons ’n wesenlike politieke en maatskaplike opdrag is.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet bied in beginsel die moontlikhede om as burger jou identiteit te beleef. Die Grondwet erken die basiese menseregte en formuleer gemeenskaplike waardes. Die kern daarvan is menswaardigheid. Die verkillende soorte identiteite word erken. Hulle word nie meer van bo af aan mense opgelê nie, maar vryheid van keuse en gelyke burgerskap staan voorop. Ingevolge die bepalings van die Grondwet ken Suid-Afrika nou ’n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en ’n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Regte van Kulturele, Religieuse en Taalgemeenskappe. Die Kommissie werk op die basis van aanvaarding van die diversiteit, maar moet terselfdertyd ’n bydrae lewer tot heling van die verdeeldheid van die verlede, aan ’n nierassige en nieseksistiese samelewing op grond van demokratiese waardes en eenheid-in- verskeidenheid. Ook moet die Kommissie ’n bydrae lewer tot die opbou van ’n “waarlik verenigde Suid- Afrikaanse nasie met gemeenskaplike trou aan land en volk”.

Daarmee is dit duidelik dat nasiebou in die huidige politieke klimaat belangriker geag word as beskerming van die verskeidenheid. Die regering toon voorkeur vir die gebruik van Engels as dominante taal. Name van dorpe, stede en universiteite verander. Die Grondwet vra om ’n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Taalgemeenskappe, maar dit lyk nie na ’n instrument wat kragdadige veranderinge teweeg sal bring nie. Kortom: die staat onderdruk nie identiteit nie, maar beskerm dit ook nie aktief nie. Daarmee val die klem op ander moontlikhede binne die raamwerk van die wet. En dit is die burgerlike samelewing.

 

Die rol van die burgerlike samelewing

 

Dit is die derde tema wat ek aan die orde wou stel. Dit is belangrik om te besef dat ’n Grondwet miskien ’n perfekte waarborg van die regte van identiteite kan gee, maar die regte bly dood as daar in die samelewing geen vraag is om van die regte gebruik te maak nie. Papier is geduldig, soos ons in Nederland sê. Kulturele, godsdienstige en taalidentiteite van minderhede sal nie op grond van slegs konstitusionele maatreëls opbloei nie. Daar moet in die samelewing self ’n behoefte daaraan wees. Daarom is sterk organisasies in die burgerlike samelewing nodig. Die bestaan van organisasies en gemeenskappe in die burgerlike samelewing is ’n voorwaarde vir ’n politieke klimaat van erkenning van verskeidenheid. Sterk organisasies en gemeenskappe in die burgerlike samelewing is tegelyk ook belangrik vir die strewe na sosiale samehang. Vir nasiebou. ’n Sterk burgerlike samelewing beteken dat mense opgeneem is in ’n breë spektrum van gedifferensieerde lojaliteite.

Die ware sterkte van Suid-Afrika is die aanwesigheid en lewendigheid van ’n burgerlike samelewing met ’n lang tradisie, versprei oor alle sektore van die bevolking: organisasies van werkgewers, werknemers, self-help- organisasies in plakkersdorpies en drukgroepe vir goedkoop huisvesting, kerke en andere godsdienstige instellings wat sosiale samehang in stedelike gebiede beskerm. Daar is vroueorganisasies, jeugorganisasies en burgerlike verenigings. Die mate van vertroue in organisasies in die burgerlike samelewing is oor die algemeen hoog.

Daar is in Suid-Afrika ook ’n groot verskeidenheid organisasies wat die belange van kulturele, godsdienstige of taalgemeenskappe behartig. Dink aan organisasies ter verdediging van die erkenning van Hindi of Goedjarati. Daar is aktiwiteite van verteenwoordigers van die Griekwa-gemeenskap, wat die regering om erkenning van hul tradisionele leiers en erkenning van hul kultuur vra. Daar is ’n Komitee van Gemarginaliseerde Afrikaanse Tale (Tsonga, Venda, Ndebele en SiSwati) wat vra om ’n groter aandeel van die tale op die openbare televisie en om steun aan moedertaalonderwys in die tale. Daar is ’n veelheid van organisasies en gemeenskappe ter verdediging van die Afrikaanse taal en kultuur.

Daar is soveel groepe en minderhede in Suid-Afrika dat dit onwaarskynlik is dat een groep die ander sal oorheers. Ewemin kan een van die groepe of gemeenskappe ’n kragtige politieke hefboom ontwikkel. Die Afrikaanse taalbeweging is verdeeld. Ander Afrika-taalgemeenskappe het nog maar begin om hulleself te organiseer. Maar indien daar iewers plek is vir die ontwikkeling van identiteite kan ’n mens dit in die burgerlike samelewing vind. Die bepalings in die Grondwet kan slegs werklik leef as daar in die burgerlike samelewing energie en lewenskrag ontwikkel word.

 

Gedifferensieerde lojaliteite en die funksie van die staat

 

Ons het nou gekyk na die tradisie waarop ek my studie gegrond het, na die voorbeeld wat Suid-Afrika vir my is en na die belangrikheid van die burgerlike samelewing. Nou gaan kyk ons na die belangrikheid daarvan dat mense in verskillende gemeenskappe opgeneem is en na die differensiasie van hul lojaliteite oor onderskeie gemeenskappe en kringe.

Soos ons vroeër vasgestel het, is dit belangrik om te erken dat die identiteite van mense belangrik is vanweë hul menswaardigheid. Dit is nie aanvaarbaar om identiteite te ontken of te onderdruk nie. Maar daar is meerdere soorte identiteite. Daar is religieuse identiteit. Binne watter religieuse tradisie het die Almagtige jou geroep? Daar is die identiteit van die gesin en die familie waarvan jy deel is. Daar is die identiteit van taal. Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie. Om tot ’n bepaalde taalgemeenskap te behoort, vorm jou ook. Daar is die identiteit wat jy ontleen aan die plek waar jy woon. Daar is ook ’n identiteit in die werkgemeenskap waarvan jy deel uitmaak. Daar is die identiteit van die staatsgemeenskap waarvan jy deel is. Die totale pakket van onderskeie identiteite – van onderskeie lojaliteite – is wat jou vorm en wat van jou ’n unieke persoonlikheid maak.

Die verkleinering of onderdrukking van aspekte van identiteit is die verkleinering of onderdrukking van menswaardigheid. Daar is geen groep, netwerk, gemeenskap of organisasie wat die volledige lojaliteit van sy lede mag opeis nie. ’n Mens is nie slegs lid van ’n gesin nie. ’n Mens is nie slegs burger van die staat nie. ’n Mens is nie net lid van ’n taalgemeenskap nie. Die lojaliteite van mense moet gesien word as gedifferensieer en gelaag (layered). Geen instelling, of dit nou die staat, die kerk, die etniese gemeenskap, die taalgemeenskap, die party of die besigheid is, mag die totale onderwerping van sy lede eis nie. Elke gemeenskap of organisasie op die gebied van identiteit is ’n instrument in diens van menswaardigheid.

Dit maak dit ook veilig om te erken dat ’n taalgemeenskap belangrik, en nie gevaarlik is vir nasiebou nie. Die taalgemeenskap is belangrik. Solank dit duidelik is dat dit nie die enigste gemeenskap in die land is nie. Die nasionale gemeenskap is belangrik. Solank dit duidelik is dat dit nie die enigste gemeenskap in die land is nie. Die ekonomie en die werkgemeenskap is belangrik. Solank dit duidelik is dat dit nie die enigste gemeenskap in die land is nie. Dit is – so lyk dit my die manier om die vraagstuk van die spanning tussen nasiebou en verskeidenheid te benader.

 

Slotsom

 

Hoe om om te gaan met die spanning tussen identiteit en nasiebou? Dit begin met die erkenning van die menswaardigheid van individue; ook van die belangrikheid van identiteite op die gebied van taal, kultuur en religie as onderdeel van menswaardigheid. Dit is wel van wesensbelang vir ’n land en sy mense om ’n demokratiese Grondwet te hê. Maar die Grondwet gee net ’n algemene raamwerk. Die raamwerk moet gevul word met konkrete beleide en konkrete maatreëls. Maar die bepalings in die Grondwet sal eers lewend word as daar in die samelewing ’n geartikuleerde (uitgesproke) vraag daarna is. As daar organisasies en gemeenskappe bestaan in die burgerlike samelewing. En as daar die besef is dat identiteite belangrik is, maar elkeen met sy spesifieke reikwydte.

Suid-Afrika het sy besondere geskiedenis van verdeeldheid. By die eerste aanblik lyk dit asof die verskeidenheid van kulture, godsdienste en tale in die pad staan van die land se groei tot ’n hegte staatsgemeenskap. En tog is julle land vandag ’n demokratiese regstaat met ’n moderne Grondwet wat in baie opsigte moderner is as dié van Nederland. Die bou van ’n hegte staatsgemeenskap en om reg te laat geskied aan verskeidenheid is ’n moeilike opdrag. Maar die lesse en ervaringe van Suid-Afrika is ook vir die res van die wêreld belangrik. Namate Suid- Afrika daarin slaag om oplossings te vind, kan hy vir die res van die wêreld ’n voorbeeld wees.

Ondanks moeilikhede en spanninge is ek optimisties oor Suid-Afrika waar dit gaan om die ewewig tussen nasiebou en verskeidenheid. Ek sien dat daar ’n sterk bevoordeling is van Engels. Ek hoor van die gesprekke oor die verandering van plekname. Ek sien nouliks ’n ontwikkeling na veelpartydemokrasie. Maar Suid-Afrika is ’n baie diverse land met soveel verskillende godsdienste, tale en kulture dat dit vir my onwaarskynlik lyk dat een daarvan in staat sal wees om die ander te oorheers. Buitendien is daar soveel ander lojaliteite en lidmaatskappe wat oorvleuel en meeding.

En, om terug te keer na die begin van my lesing; die vraag wat oplaas nog ’n antwoord verdien: Wie weet waar woon ons Sarie Marais? Sy woon in die taal, wat mense veral self in stand sal moet hou; in gesinne waar die ma die kinders die liedjie leer, op die KKNK, in die literatuur, in die eie media. Sy woon in die mielies, by die groen doringboom: by ’n manier van lewe. Meer as by ’n plek met ’n bepaalde naam. Sy woon in die verhale van die geskiedenis, wat deels geskiedenis is van ’n kultuurgemeenskap, deels ook geskiedenis van ’n hele land. Deels, trouens, ook van die Nederlandse geskiedenis.

Origens: die De La Rey Weg in Den Haag het nog steeds sy ou naam. In Nederland woon ’n meerderheid Hollanders. Dit is vir hulle nou eenmaal te duur om veranderinge deur te voer.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=870
Artikel nagegaan:
    -