blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hoofartikel: In die skadu van ons elites 2007-06-14

In hierdie uitgawe van Die Vrye Afrikaan gee ons aansienlike dekking aan die pasafgelope Franse presidentsverkiesing en mnr. Tony Blair se uittrede as Britse premier. Buiten die ooglopende belangrikheid van hierdie gebeure vir die hedendaagse geo-politiek, staan ons ook by hierdie sake stil omdat wat in hierdie lande aan die gebeur is, ook lig op die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie werp op die vooraand van die ANC se Nasionale Beleidskonferensie aanstaande naweek.

             In sy ontleding van mnr. Nicolas Sarkozy se oorwinning in die Franse presidentsverkiesing skryf Alain de Benoist elders in hierdie uitgawe: “Aan die begin was Sarkozy allereers die kandidaat van die base, die hoë burgerlike stand, die Franse militêr-industriële kompleks (wat nou die die essensiële deel van die Franse mediastelsel beheer) en van die Amerikaanse neo-konserwatiewes.”

             Ook elders in hierdie uitgawe skryf Ignacio Ramonet in sy kommentaar oor dieselfde gebeurtenis: “Want die nuwe hiërargie van magte soos vasgelê deur neoliberale globalisering plaas ooglopend as eerste mag op die kruin ekonomiese en finansiële mag, gevolg deur die mediamag, wat die huursoldaat van eersgenoemde is. Hierdie dominante duo oorheers die politieke mag – wat in die demokrasieë van opinie in die era van globalisering slegs met die stilswyende instemming van die eerste twee magte verower word.”

             Dit is tekenend van die meeste Suid-Afrikaanse politieke kommentaar dat die oorgang na ’n grondwetlike demokrasie (onder eenpartydominansie) met die min of meer versweë aanvaarding van die neoliberale ekonomiese benadering die groot verwysingspunte bly.

Hierdie klompie vertrekpunte is natuurlik nie onbelangrik nie, maar dit hou geensins rekening met die mate waartoe Suid-Afrika self danksy haar inbinding in neoliberale globalisering die afgelope jare bogenoemde magskonstellasie begin weerspieël het. Dit is hierdie magskonstellasie wat as vertrekpunt geneem moet word om sin te maak van wat in die ANC se komende beleidsindaba in die spel is.

Om egter te sê dat Suid-Afrika nou ook die heersende patroon van dominante ekonomiese mag, gevolg deur mediamag en eers daarna politieke mag weerspieël, is egter nog nie genoeg nie, want nadere ontleding van die plaaslike toneel bring belangrike bykomende verfyning. Ons verduidelik:

Die vernaamste deurlopende patroon in die Suid-Afrikaanse politiek, is hoe die land al vir meer as 130 jaar vanaf die ontdekking van goud en diamante, toenemend gedomineer word deur ’n klein minderheid ten koste van die meerderheid. Hierdie minderheid was aanvanklik Brits-koloniaal, is na 1910 vergroot deur ’n bondgenootskap met Afrikaners, en na 1994 nogmaals vergroot deur ’n bondgenootskap met Afrikane.

Die strukturele basis van hierdie elite se volhoubaarheid is die Suid-Afrikaanse korporatiewe sektor, die staat en die media. Die probleem is nie die staat en die korporasie as sodanig nie, maar die elitistiese praktyke wat rondom hulle tot stand gebring is.

Die korporatiewe sektor se lang geskiedenis van buitensporige winste en werkersuitbuiting was ongetwyfeld ’n bydraende faktor in sowel Afrikaner- as Afro-nasionalisme. Laasgenoemde twee bewegings het elkeen sy beurt in onderskeidelik 1948 en 1994 met staatsmag gekry, maar nogtans is die afstand tussen korporatiewe en staatsbelange dekade na dekade verklein, en die elitepraktyke nie verander nie.

Onder Afrikaner-nasionalisme was mnr. PW Botha se Carlton-beraad in 1979, toe die staat en die korporatiewe sektor ’n era van groter samewerking as ooit betree het, so ’n oomblik van die verkleining van die gaping. Die ANC se aanvaarding van GEAR in 1996, met Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) as komponent, is ook so ’n oomblik, en nogal ’n lang oomblik daarby.

Soos Moeletsi Mbeki per geleentheid in Die Vrye Afrikaan uitgewys het, het sowel die staat as die korporatiewe sektor die vermoë om mekaar se belange te ondermyn, maar bloot ten koste van mekaar. Op die koop toe het die korporatiewe sektor met sy wêreldwye finansiële netwerk die ANC-regering al meer as een keer in die bek geruk. Aan die anderkant is dit ewe waar dat Suid-Afrika ’n eiesoortige mengsel van neoliberale beleidsrigtings en ’n ontwikkelingstaat is, wat weerspieël hoe die staat en die korporatiewe sektor se belange nie volledig saamvloei nie.

Waar pas die Suid-Afrikaanse media in hierdie prentjie in? Die media onder beheer van die privaat sektor het natuurlik ’n baie langer geskiedenis as die staatsmedia: eersgenoemde dagteken terug na die eerste Engelse, Hollandse en selfs Xhosa-koerante in die vroeë 19de eeu in die Kaapkolonie.

Die privaat media in Suid-Afrika, wat tot in die 1980’s hoofsaaklik tot die pers beperk was en dus minder as 5% Suid-Afrikaners regstreeks bereik, het ’n lang tradisie van diverse standpunte, maar in die hedendaagse Suid-Afrika, waar die privaat media deur drie groot groepe beheer word, is daar nie ’n greintjie se kritiese besinning oor die neoliberale elemente van die ekonomiese beleid van die ANC nie.

Natuurlik sal daar nie wees nie, aangesien die privaat media volledig onder die beheer van korporasies is wat die ekonomiese ortodoksie van ons era onderskryf – en netjies daaruit wins maak.

Die staatsmedia, wat in die 1920’s tot stand gebring en hoofsaaklik elektronies is, het ’n lang rekord van onderhorigheid aan die regerende party. Daarbenewens is daar ewe min kritiek op die neoliberale benadering vanuit die staatsmedia vandag. Dit hoef niemand te verbaas nie, aangesien die staatsmedia vir sy inkomste afhanklik is van (hoofsaaklik korporatiewe) advertensies, en vir die res van staatsinkomste, met TV-lisensies wat nog altyd maar ’n druppel aan die emmer is.

Bowendien is die publiek wat deur die media bedien word, ook eiesoortig. Diegene wat tot groter mediadiversiteit toegang het, en dus meer standpunte as dié van staat en korporasie, is, ironies genoeg, grootliks werksaam in die staats- en korporatiewe sektore. Die res moet maar vir lief neem met die dieet van propaganda uit staatsoorde.

Kortom, as nomineel grondwetlike demokrasie onder eenpartydominansie, is die ANC se vernaamste funksie vandag tweërlei. In die eerste plek het dit die allerbelangrike taak om legitimiteit aan die huidige elitekonstellasie in Suid-Afrika te gee – vanwaar onder meer die historiese wanvoorstelling dat die ANC nie net die bevryder van Suid-Afrika is nie, maar ook besig is om die “Nasionale Demokratiese Rewolusie” ten behoewe van “die massas van ons mense” te ontplooi. Sulke verleentheidswekkende retoriek kan nie in intelligente geselskap ernstig geneem word nie – en nog minder in ’n samelewing met ons ekonomiese ongelykheid, ineenstorting van dienslewering en magsmisbruik nie.

In die tweede plek moet dit die voortgaande elite-oppotting van die land se rykdom stabiliseer deur die skepping van ’n groot genoeg swart middelklas wat regstreekse belang by hierdie oppotting verkry. Die siniese manier waarop SEB geesdriftig deur staat en korporasie toegepas word, moet in hierdie lig verstaan word.

Aanstaande week sal Suid-Afrikaners ongetwyfeld getrakteer word op ’n mengsel van “prestasies” deur die regering ten behoewe van sy ondersteuners. Ons sal ook die gebruiklike dosis vurige retoriek uit die geledere van die SAKP en Cosatu hoor. Goed en wel, maar wat is die alternatief?

Suid-Afrika se grootste bate is haar lewenskragtige gemeenskappe, en ook haar sin vir gemeenskap. Wat die land vandag nodig het, is nie ’n “sosialisme van die 21ste eeu”, soos Ignacio Ramonet elders in dié uitgawe vir Frankryk verlang nie, maar ’n demokrasie en ’n ekonomie van gemeenskap.

So ’n politieke ekonomie van gemeenskap, moet rondom kerke, vakbonde, ideëforums en ander burgerlike organisasies bande begin bou met daardie progressiewe sakelui met ’n sin vir gemeenskap en geregtigheid – en daar ís baie in die land.

Afrikaners wat nie deel van die staatskorporatiewe elite vorm nie, of wat daarbinne wyer probeer dink, moet hulle as die kundigste gemeenskap in die land toelê op, enersyds, sake doen met mekaar, en, andersyds, sake doen met ander gemeenskappe. So kan selfstandigheid en interafhanklikheid vir almal in die land bevorder word.

Die ontwikkeling van ons inheemse tale as meganisme vir groter deelname aan die politiek en die ekonomie bly hier van wesenlike belang, en Afrikaners kan hierdie saak maak of breek afhangende van hoe ons met ons moedertaal omgaan. Daarom ook Die Vrye Afrikaan se dossier in hierdie uitgawe, wat vra na ’n nuwe Afrikaanse “ons” – herverbeelding bly wesenlik vir ’n ander land en ’n ander wêreld, wat moontlik ís. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=864
Artikel nagegaan:
    -