|
||||
Pieter Duvenage
*Filosoof en lid van die FAK-direksie
Die geskiedenis is nooit afgehandel nie. Elke hede-generasie staan in ’n sekere verhouding tot die verlede en toekoms. ’n Mens sou hierdie verhouding in statiese terme kon uitdruk, maar ook in dinamiese terme. Dit is laasgenoemde interpretasie wat hier gevolg sal word met die oog daarop om ’n greep op die lewe van N. J. van der Merwe (1888-1940) te kry. Hoe kan ’n mens die lewe van hierdie studente-aktivis, teoloog, politikus, kultuurleier en eerste voorsitter van die FAK meer as 100 jaar na sy geboorte ontsyfer en interpreteer?
I
Daar is veral twee bronne wat ’n mens help om die lewe van Van der Merwe te ontsluit (1). Hierdie bydraes gee ’n mens, op ’n eerste interpretatiewe vlak, die nodige feitelike en biografiese leidrade (met enkele vertolkende kantaantekeninge). Nicolaas Johannes van der Merwe is op 17 Februarie 1888 op ’n plaas in die distrik Senekal in die Republikeinse Vrystaat gebore. Soos Hannah Arendt dit aangrypend stel, is geboortelikheid – die geboorte van enige kind – ’n politieke daad, omdat die onverwagte en handelende inisiatief daaruit vloei. Van der Merwe was die enigste seun te midde van ’n aantal susters uit die huwelik van die boer, Francois van der Merwe en sy vrou, Anna Elizabeth du Toit. Hy het sy eerste skoolopleiding op Senekal en Fauresmith ontvang – laasgenoemde in die Suid-Vrystaat wat Karel Schoeman so aangrypend in verskeie romans oproep. Van der Merwe se skoollewe is egter wreed deur die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) onderbreek. In die chaotiese en traumatise vaarwater van die oorlog het die jong Van der Merwe saam met sy ma en susters in die Norvalspont-konsentrasiekamp beland. Hoe word die maatskaplike en politieke bewussyn van ’n tienerseun deur so ’n onmeetlike trauma gevorm? Watter kans het ’n kind op ’n ongeskonde lewe as sy jong gemoed in ’n konsentrasiekamp gevorm word? Van der Merwe het wonderbaarlik oorleef, en as leier onder die seuns het hy reeds tydens sy kamptyd ’n onderwysbeurs ontvang om na Grey Kollege te gaan – ’n beurs wat hy na die oorlog opgeneem het. Na sy matrikulering op die ouderdom van 16 het Van der Merwe in 1907 die graad BA in moderne tale aan die Grey Universiteitskollege verwerf. In dieselfde jaar is sy ma oorlede (2). Nadat hy twee jaar lank onderwyser op Fauresmith was, het N.J. van der Merwe in 1910 met sy teologiese opleiding op Stellenbosch begin. Hier het hy op akademiese en kultureel-aktivistiese gebied uitgeblink. Hy was byvoorbeeld voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging (na die vertrek van die briljante jong teoloog, Tobie Muller), debatsvereniging, Werda-komitee (voorloper van die Afrikaanse Studentebond), Christen-studentevereniging (CSV) en Polumnia. Verder het hy as voormalige Vrystaatse provinsiale speler ook vir die Maties se eerste span rugby gespeel. Hy het egter sy rugbyloopbaan op Stellenbosch gestaak met die volgende interessante dagboekinskrywing in 1911: “Voetbal speel het my liggaam baie goed gedoen in die verlede… Dit het my ook meer mensekennis laat opdoen as wat andersins die geval sou gewees het … kennis van die ‘sportgemeenskap’ en wat daarmee saamgaan. Dié is nie sielsverheffend nie. Oor die algemeen word dit deur ’n ligsinnige wêreldgees oorheers, en een wat nie daarop bedag is nie, word spoedig die prooi van ’n sport wat sy oorspronklike ideaal verloor het. Min neem daaraan deel om ander dryfvere as ’n sug na applous. Hiervoor moet alles swig en word selfs lewens ingeboet. Die sportduiwel is aantreklik, maar wreed. Sy belangrikste wapen is die openbare mening (3).” (uit die Nederlands vertaal) N.J. van der Merwe se eerste tree in die nasionale openbare lewe het op 1 Maart 1913 gevolg toe hy ’n Afrikaanse taalfees in Kaapstad gereël het. Hierdeur het hy hom die gramskap van die Eerste Minister, Louis Botha, op die hals gehaal. Teen hierdie agtergrond het dit nie verras dat hy vir Hertzog gevolg het in die wegbreek van Botha om die Nasionale Party te stig nie. Na sy studies was Van der Merwe rondreisende sekretaris van die CSV en het hy vir ’n Afrikaanssprekende naas ’n Engelssprekende CSV gepleit. Tydens die rebellie het hy heg bevriend geraak met die Vrystaatse oud-president M.T. Steyn, as laasgenoemde se sekretaris. Hy het ook met dié se jongste dogter, Tibbie, getrou. In 1916 het Van der Merwe predikant op Wepener geword en by die Vrystaatse Sinode voorspraak gemaak vir ’n Afrikaanse Bybel. Vanaf 1919 tot 1921 het N.J. van der Merwe aan die Vrye Universiteit van Amsterdam gewerk aan ’n doktorsgraad in die teologie met die titel, Die Sosiale Prediking van Jesus Christus. Na sy terugkeer was hy vir ’n kort rukkie predikant op Theunissen en is toe in 1924 as parlementslid (LV) vir Winburg verkies, waardeur hy deel word van die eerste Nasionale Party-regering van Genl. Hertzog. In die parlement het Van der Merwe op maatskaplike (drank en pensioene), kultuurpolitieke (die gewetensklousule oor religieuse vryheid by Afrikaanse universiteite, die vlag- en volksliedkwessie) en politieke kwessies (die vraagstuk van die republiek) gefokus. Oor laasgenoemde vraagstuk het Van der Merwe so sterk gevoel dat hy selfs met Genl. Hertzog as Eerste Minister gebots het. Hierdie botsing het nie net oor die republikeinse ideaal gegaan nie. Van der Merwe het toenemend ’n Afrikaanse kultuuraktivis en -leier geword. In 1929 is hy tot die eerste voorsitter van onderskeidelik die FAK en die Calvinistiese Bond verkies, en in 1931 het hy hoofleier van die Voortrekkers geword. Hertzog was bang dat hierdie kulturele aktivisme te seksioneel was en het selfs gepoog om Van der Merwe uit die politiek te kry deur hom die pos van administrateur in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) of ambassadeur in Rome aan te bied. Dit het egter nie geslaag nie, en in 1934 het Van der Merwe saam met dr D.F. Malan weggebreek van Hertzog en Smuts se samesmeltings-regering (“smelters”). Van der Merwe was vanaf 1934 tot en met sy dood leier van die Gesuiwerde Nasionale Party in die Vrystaat. In die proses was hy sy party (en die opposisie) se woordvoerder oor finansies. Op kultuurpolitieke gebied was hy verder ’n prominente lid van die Afrikanerbroederbond en nou betrokke by die Volksmonumentekomitee. Die laaste ses jaar van sy lewe het egter afgespeel binne die konteks van ’n massiewe politieke en ideologiese onrus binne die Afrikanerwêreld (4).
II
Wanneer daar van die bloot feitelike aspekte van Van der Merwe se lewe weggebreek word, kom ’n tweede interpretatiewe vlak na vore. Dit is op hierdie punt dat ’n beoordeling van sy lewe vanuit die hede belangrik word, met al die risiko’s daaraan verbonde. ’n Mens sou maklik ’n bloot ortodokse weergawe van sy lewe kon gee. Hierin sou ’n mens kon wys op Van der Merwe as Calvinistiese denker, kultuurleier wat die Afrikaanse kultuurhuishouding gedomineer het en toegewyde nasionalistiese republikein. Kortom, die prototipe van die soort konserwatiewe Afrikanerleier wat in die 1920’s en 1930’s na vore getree het. Minder ortodoks kan daar egter ook op ander invalshoeke gewys word. ’n Eerste moontlike een is die maatskaplike bewussyn van Van der Merwe. Dit is bekend dat hy reeds in die 1920’s ’n lid van die Vrystaatse Helpmekaarbeweging was. In ’n onlangse artikel wys die Nederlandse historikus, Gerrit Schutte, daarop dat Van der Merwe se doktorale proefskrif, Die Sosiale Prediking van Jesus Christus, nie sosialisties van aard is nie, maar tog ’n oproep tot Christelik-maatskaplike handeling bevat. Van der Merwe is hier waarskynlik deur Abraham Kuyper se werk Het Sociale Vraagstuk en de Christelike Religie (1891), beïnvloed (5). Dit is dus duidelik dat Van der Merwe nie ’n liberaal-demokratiese opvatting van die ekonomie gehuldig het nie, maar eerder ’n Christelik-maatskaplike een, waar die regering teen strukturele probleme in die ekonomie moes optree om sodoende die lot van armes – in dié geval armblankes – aan te pak. Van der Merwe se hele lewe kan opgesom word deur sy onvermoeide ywer rondom die geestelike en maatskaplike welstand van sy mense. ’n Verdere invalshoek is dat, hoewel Van der Merwe wel sterk Calvinisties gesind was, hy nie die ideologiese debat in die organisasies waarin hy was, oorheers het nie. ’n Mens hoef net na die eerste hoofbestuur van die FAK te kyk om te sien dat figure soos mev. M.M. Jansen, prof. T.J. Hugo en prof. E.C. Pienaar nie as neo-Calvinisties beskryf kan word nie. Prof. Tommy Hugo, die Pretoriase filosoof, was bekend as ’n redelik vrysinnige denker. Van der Merwe het dus ’n duidelike ideologiese posisie gehad, maar hy was ook terdeë bewus van die diverse aard van die gemeenskap waarbinne hy ’n leiersposisie beklee het. ’n Laaste moontlike invalshoek is dat die FAK vanuit die burgerlike samelewing tot stand gekom het. ’n Mens sou kan aanvoer dat Van der Merwe in 1929 ’n Volksraadslid van die regerende party was, maar enkele jare daarna (1934) was hy in die opposisie en sou die regstreekse staatsinvloed op Afrikaanse kuluurorganisasies tot 1948 uitbly. ’n Mens sou dus kon oordeel dat Van der Merwe, soos baie intellektuele van sy tyd, kultuur eerder vanuit die burgerlike samelewing as vanuit die sentrum van die staat bedink het. _________ (1) G.D. Scholtz, Dr. Nicolaas Johannes van der Merwe, 1888-1940. Johannesburg: Voortrekkerpers, 1944; en M.C.E. Van Schoor, “Nicolaas Johannes van der Merwe” Dictionary of South African Biography, Volume V. Pretoria: HSRC, 1987, pp.802-805. (2) Van Schoor, hierbo, p. 802. (3) Soos aangehaal deur Scholtz, hierbo, p. 21. (4) Van Schoor, hierbo, pp. 803-804. (5) G. J. Schutte. 2006. “Meer dan teologie alleen. Neo-Calvinistische perspektieven op kerk en samenlewing in Zuid-Afrika. Opmerkingen bij de Du Plessis-saak.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 46 (3), p. 361. |