|
||||
Jaap Steyn
*Navorser wat NALN dikwels gebruik
Die Afrikaanse letterkundige wêreld is sedert April vanjaar vol ongelukkigheid ná ontstellende berigte en artikels oor die toekoms van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, beter bekend onder sy akroniem NALN, in Bloemfontein. Daar is goeie rede vir die kommer wat spreek uit koerantbriewe en LitNet-bydraes wat tot uit die buiteland ontvang is. Die Vrystaatse Departement van Kuns, Kultuur en Sport het nege personeellede van NALN na ander afdelings van die Departement oorgeplaas sonder om nuwe mense in hul plek aan te stel. Volgens die Departement gaan dit om die herstrukturering van administratiewe prosesse en meganismes in belang van dienslewering. Maar in werklikheid verloor NALN soveel van sy gespesialiseerde museumkundiges dat hy voortaan onmoontlik sy interne funksies sal kan verrig en sy diens aan die gemeenskap op dieselfde peil as voorheen sal kan lewer. In werklikheid is NALN selfs nie meer NALN nie. Die Departement het die naam verander tot Afrikaanse Letterkundige Museum, so asof dit nie ’n nasionale bate is nie, maar ’n provinsiale instelling. Dié naamsverandering is eensydig deurgevoer – sonder om enige belanghebbende te raadpleeg of om dit na buite te kommunikeer. Dit is tipies van die wyse waarop die jongste transformasie- en herstruktureringsproses by NALN gehanteer is. Die Departement het dit duidelik laat verstaan dat die veranderings sy eie saak is en dat hy geen rekenskap aan die media hoef te gee nie. Dit is moeilik om besonderhede oor die transformasie van NALN te kry, want die personeel is verbied om met die media te praat. Ook mnr. Otto Liebenberg, kurator van NALN, verwys alle navrae na die Departementshoof, me. Rachel Sempe. Hy was egter bereid om inligting oor die NALN-versameling te verstrek. Daaruit blyk dit dat NALN ’n museum is wat meer as ’n halfmiljoen individuele items huisves. Daaronder is die volgende:
· die omvattendste versameling Afrikaanse boeke (sowat 84 000 titels; ’n geskatte ± 100 000 eksemplare) en publikasies in die land – onder meer eksemplare met unieke inskripsies, getekende eksemplare, voorbeelde van elke uitgawe en druk; · die omvattendste versameling Afrikaanse manuskripte van sowat ’n halfkilometer raklengte – buiten manuskripte ook briewe, kontrakte en ander gedrukte materiaal wat met die druk, uitgee en verspreiding van boeke verband hou; · versamelings bladmusiek, toneeltekste, plakkate en programme; · versamelings kunswerke soos borsbeelde, ander beeldhouwerk, skilderye en sketse (meer as 800, uitgesluit buitebladontwerpe en boekillustrasies deur kunstenaars soos Pierneef, ’n vroeë Battiss en tientalle ander wat deel van uitgewers- en skrywersversamelings vorm); · sowat 200 000 koerant- en tydskrifknipsels met biografiese gegewens oor ’n beraamde 8 000 Afrikaanse skrywers wat iets gepubliseer het, asook besprekings van en artikels oor hul boeke; · tydskrifte en vakblaaie wat ’n tydperk van 125 jaar dek; · oudiovisuele materiaal, soos foto’s, negatiewe, films, video’s, klankbandjies, grammofoonplate en CD’s; · tekstielware, soos toneelkostuums en skrywers en akademici se tiperende klere, outentieke gordyne en matte uit hul studeerkamers; · skrywers se lessenaars, stoele, rakke, skryfgereedskap en dergelike voorwerpe en · ’n verskeidenheid ander voorwerpe soos diervelle, historiese huishoudelike apparate wat in die besit van skrywers was, asook glasware, erdewerk, munte en medaljes, personalia. Dit alles volgens mnr. Liebenberg.
Aangesien NALN ook ’n navorsingsentrum is, is dit moontlik om boeke, manuskripte en ander dokumente vir wetenskaplike ondersoek te raadpleeg. In dié opsig stem NALN ooreen met die staatsargief en ’n aantal biblioteke, veral by universiteite, wat ook belangrike dokumentversamelings herberg. Eintlik het NALN nog nooit genoeg personeel gehad vir sy reusagtige versameling nie, maar in een stadium kon minstens twee beamptes spesialiseer in die katalogisering en versorging van die boekversameling, minstens twee het met die manuskripte gewerk, twee met die indeksering van die knipselversameling en twee met die hantering van biblioteeknavrae. Oor die afgelope vyftien jaar het verskeie poste vakant geraak, maar is nie weer gevul nie. Die afgelope tien jaar het NALN met die minimum personeel klaargekom. Een persoon het gewerk met die boeke, een met die knipseldiens, een met die foto’s en die opdatering van die skrywergegewens, een met die meubels en verwante voorwerpe, en so meer. As gevolg van die pas afgelope herstrukturering verloor NALN die diens van die personeel wat gespesialiseer het in die manuskripversameling, die knipselversameling, met die versameling meubels en ander voorwerpe, die persoon wat die foto-versameling en die skrywersdata gehanteer het én die persoon wat die musiek- en toneelversameling moes hanteer. Die eerste drie is verskuif na die Sesotho Letterkundige Museum (SLM), hoewel nie een van hulle Sesotho kan lees, skryf of verstaan nie. Daarbenewens is ’n museumkunstenaar en drie administratiewe beamptes verplaas. Onder dié wat oorgeplaas is, was twee persone wat NALN se IT-netwerk in stand moes hou. Dié netwerk bevat die gegewens wat ingesamel is, met meer as dertig jaar se katalogisering en dokumentering van die Afrikaanse letterkunde. Die bestuur beweer dat die verskuiwings gedoen is ter wille van beter dienslewering en in belang van die Departement, dat dit uitgevoer is in ooreenstemming met die vaardighede en kwalifikasies van die personeel, en na ’n behoorlike ondersoek. Die bestuur beweer ook dat die verskuiwings nie NALN se werksaamhede gaan raak nie, omdat die Departement sal sorg dat die verplaaste beamptes nog sekere take by NALN sal kan verrig. Billikheidshalwe moet ’n mens beklemtoon dat die bestuur nog nooit gesuggereer het dat NALN gesluit sal word nie. Dit kan ’n mens ook aflei uit die restourasie en opgradering van die NALN-gebou. Dié werk sal in die volgende geldjaar sowat R6 miljoen bedra. Daar is reeds R6 miljoen aan die projek bestee, maar dit het heeltemal skeefgeloop omdat die oorspronklike kontrakteur nie in staat was om die werk te doen nie of om dit in die jargon van ons tyd te stel: nie die kapasiteit gehad het nie. Die transformasieproses het uiters onbevredigend verloop. Die bestuur het die proses uitgevoer sonder om die belanghebbendes en gebruikers enigsins te ken. Die bestuur het daarmee sy eie missie verontagsaam wat só begin: “Effektiewe dienslewering aan die mense van die Vrystaat deur samewerking met alle relevante belanghebbendes…” Die belanghebbendes is in dié geval individue, groepe, instellings en organisasies wat bydra tot, meewerk aan of voordeel trek uit die funksies, dienste en aktiwiteite van NALN. Hulle het ’n belang by die wyse waarop NALN funksioneer, asook by die professionele uitoefening van sy museumkundige en bewaringsfunksies, sy literêre en breë kulturele lewering en die vlak en omvang van sy dienste. As sodanig sluit die belanghebbendes dus die volgende in: donateurs, Afrikaanse skrywers en hul erfgename, skrywersverenigings, Afrikaanse letterkundiges, kultuurorganisasies, ander literêre museums, vriende van die museum, uitgewers en verbruikersgroepe soos leeskringe. Die Departement het geen poging aangewend om hierdie mense en instellings in te lig, te raadpleeg of te betrek nie. Vakbonde is oënskynlik nie geraadpleeg nie. Van vakbondkant is glo kommer uitgespreek oor die gebrek aan konsultasie oor die herstruktureringsproses. Ook die personeel is nie geraadpleeg nie. Die bestuur maak wel melding van sekere vergaderings, maar in werklikheid het die bestuur by dié geleenthede slegs die boodskap oorgedra dat daar ’n herstruktureringsproses aan die kom is, en dat die komende verskuiwings aanvaar sal moet word. Die implikasies en resultate daarvan is nooit vooraf aangeraak nie. Op die laaste twee werkdae van Maart, Donderdag en Vrydag, 29 en 30 Maart, is gereël dat die personeellede ’n departementele bestuurspaneel ontmoet. By dié geleentheid is hulle bloot meegedeel wat hul posisie met ingang 2 April sou wees. Die opset kon intimiderend ervaar word: elke personeellid is bloot in kennis gestel van die Departement se finale besluit, en ’n brief is oorhandig waarin dit bevestig word. Die personeellede is meegedeel dat hulle die reg het om binne vyf werkdae appél aan te teken. Die Departement beweer dat die herstrukturering op grond van ’n funksionele ondersoek gedoen is. Dokumente moes ingedien word wat alle funksies wat verrig word, toelig. Vroeg in Februarie 2007 het alle werknemers ’n omsendbrief van die uitvoerende bestuurder ontvang. Daarin het sy hulle meegedeel dat ’n beampte van die premierskantoor onderhoude met hulle sou voer as deel van die ondersoek. Maar die enigste onderhoud was ’n gekombineerde onderhoud van korter as ’n uur deur die beampte van die premierskantoor met die kuratore van NALN en die SLM. Dit lyk onwaarskynlik dat die ingediende dokumente geraadpleeg is – te oordeel aan die kernpersoneel wat aan NALN onttrek is. Die
Departementshoof het baie min begrip vir die noodsaak van spesialisering, en
net so min gevoel vir die personeellede se aanleg, belangstellings en
werksbevrediging. Mense met ’n passie vir Afrikaans en die Afrikaanse
letterkunde word nou gedwing om die werk wat hulle met liefde verrig het, los
te laat en te gaan werk ten behoewe van ’n taal wat hulle nie ken nie. Ook die
SLM kan nie uit so ’n proses enige voordeel trek nie. Sommige belanghebbendes meen dat dit goed sal wees as NALN en die SLM liewer onder die nasionale Departement Kuns en Kultuur funksioneer, waar die Nasionale Engelse Letterkundige Museum en die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl nog al die jare ressorteer. Dis uit die gebeure van die afgelope stuk of tien jaar duidelik dat NALN se personeel en belangepubliek nie teen betekenisvolle en ware transformasie is nie. Daarvan getuig NALN se uitgesproke fokus sedert 1996 op die sogenaamde swart Afrikaanse skrywers – oor wie NALN vandag ’n magdom inligting en beduidende versamelings bewaar. Daarvan getuig verder die “saamdink-beraad” wat NALN in 1998 georganiseer het waaraan ook mense uit die nie-Afrikaanssprekende gemeenskap deelgeneem het om oor NALN se toekoms te besin. En daarvan getuig ook die bestaan van die Sesotho Letterkundige Museum – die enigste in sy soort wat tot dusver vir een van die amptelike Afrikatale gevestig is. NALN het in 1994 daarvoor begin ywer, goed ’n dekade voordat die huidige departementele bestuur aan bewind gekom het, Die bestaan van die SLM is die sigbare bewys van NALN se transformasiefokus. Maar om die SLM te laat slaag, is dit noodsaaklik dat NALN sy gespesialiseerde kundigheid en “kapasiteit” moet behou en uitbou: om sodoende in staat te wees om die nodige kundigheid na Sesotho-sprekende personeel by die SLM te kan oordra. As die SLM slaag, kan soortgelyke eweknieë vir die ander amptelike tale ook vanuit NALN ondersteun kon word. Die Afrikaanstaliges het in die afgelope paar jaar toenemend bewus geraak van die marginalisering van hul taal en pogings om die Afrikaner se kultuurerfenis tot niet te maak. Dit toon koerantpolemieke oor, en die deelname van die publiek aan, die stryd oor die behoud van historiese plekname en die taalbeleid van die histories Afrikaanse universiteite. As die regering die NALN-kwessie nie bevredigender hanteer nie, sou NALN net so ’n brandpunt kon word – nog ’n voorbeeld van die ANC se vyandigheid teen Afrikaanse instellings en die kultuurerfenis van Afrikaanstaliges. |