blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Derde Mag oral aan die werk; Sameswerings vermoed 2007-06-14
Kleinjan Schietekat

Die volgende beweerde Brief van die President is per e-pos aan ons gestuur. In openbare belang maak ons dit hier bekend en laat dit aan ons lesers oor om die egtheid daarvan te beoordeel:

“Vir die een wat die moed het om sy oë oop te maak, om die waarheid vreesloos in die gesig te staar, is die tekens reeds geruime tyd daar. Munisipale betogings, die kies van sportspanne, vals e-posse in die ANC, die ineenstorting van e-Natis, die toekenning van Aristide se doktorsgraad én die kritiek daarop: hierdie is maar enkele voorbeelde van wat almal in Suid-Afrika vandag weet, maar te bang is om te sê – die land word op alle vlakke geteister deur ’n Derde Mag.

             Om die waarheid te sê, neem die teistering sulke ernstige afmetings aan dat daar gepraat kan word van ’n Totale Derde Mag-aanslag op die Republiek en sy burgers. Dit is ernstige sake en dit vra om ’n Totale Reaksie waarin elke man, vrou en kind paraat soos nog nooit tevore sal moet wees nie. Hef aan lê voor, landsburgers!

             Dit is al geruime tyd duidelik dat agente van die Weste, multinasionale korporasies, die Mafia, Midde-Oosterse sluikhandelaars, Chinese Triade-bendes en natuurlik ver-regse Afrikaners saamspan om die Republiek en sy burgers te ondermyn. Hierdie ondermyners het almal belang daarby dat ons Nasionale Demokratiese Rewolusie misluk, want dan sal hulle nog meer wins uit ons verval kan maak, soos hulle al lankal met ons dierbare vasteland en haar diaspora maak.

             Die gebeure rondom die historiese swart flank, Luke Watson, het die vingerafdrukke van die Derde Mag oral daarop gehad. Hier was dit vir almal om te sien: hoe niemand sy swartheid wil aanvaar nie, hoe die kort afrigter White sy kortheid as verskoning aanvoer om hom nie te kies nie, hoe hy met moeite in die span kom en dan weer moet huis toe gaan. Is dit nie duidelik dat die duister samesweerders onder die voorwendsel dat die Springbokke moet wen, wil hê die Republiek en die Nasionale Demokratiese Rewolusie moet verloor nie? Ons is nie hulle nie: dit moet ons vir mekaar sê.

             En e-Natis? Ja, medeburgers, reeds die van van die projekleier, Koekemoer, moes reeds van vroeg af duidelik gemaak het dat hy geplant is. Hier was ’n wit man wat in ’n voorste pos aangestel word, ’n roerende bewys van die grootmoedigheid wat heers in die Nasionale Demokratiese Rewolusie. Kloekmoedig is Koekemoer selfs bevorder in die middel van die ineenstorting, want in die Rewolusie is daar plek vir almal. Maar nee, die ineenstorting onder leiding van Koekemoer het voortgeduur. Ons agente is reeds besig om hierdie twyfelagtige figuur te ondersoek, en as ons vasstel dat hy van die rassistiese platteland af kom, sal ons nie huiwer om hom te suiwer nie.

             Inwoners van die Republiek, opgeswieptes in ons historiese Rewolusie, daar is sommige onder ons wat selfs meen dat die Derde Mag met die hulp van ’n geheimsinnige Vyfde Kolonne selfs tot in die hoogste strukture van die Party en die Kabinet binnegedring het. Ons agente is besig om al ons leiers se agtergrond, rekords en gesprekke vanaf die rekords te ondersoek. Ons kan nie rus nie, want die Derde Mag lê op wag, dag na dag.

             Om die werkinge en die rasionaal van die Derde Mag te verstaan, is dit nodig om onderlê te wees in arkane velde soos die alchemie, die teenrewolusionêre teorie en praktyk, ubuntu en helpmekaar, maar ook die gebrek daaraan en natuurlik die rassisme en geldgierigheid wat in soveel harte van sommige onder ons leef. Ons kan ons waaksaamheid nie ’n oomblik verslap nie!

             Ons moet ook weet dat hierdie Derde Mag en al sy falankse gereed is om uit sowel ons suksesse as ons mislukkings munt te slaan. As ons sukses behaal, skep hulle die room van ons aandelemarkte af vanuit die finansiële sentrums van die wêreld. As ons misluk, staan hulle reeds gereed om ’n volgende party te stig wat hulle sal finansier en beheer. Hulle moet weet dat ons weet waarvoor die DA eintlik staan. Ons weet ook wat die betekenis van die + van die VF+ is. Ons weet dat elke plus nie noodwendig teenoor ’n minus staan nie.

             Landsburgers, meelopers en stryders van die Nasionale Demokratiese Rewolusie, laat ons die vyand onder ons met al ons kragte beveg. As ons onsself in die proses vernietig, sal ons wel deur die geskiedenis onthou word.”

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=861
Artikel nagegaan:
    -