blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Afskeid van ’n liberale imperialis 2007-06-14
Richard Gott

*Joernalis, Londen. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Op 17 Julie 2006, by die G8-spitsberaad wat in Sint-Petersburg gehou is tydens die eerste week van die Israeliese aanvalle in Libanon, het ’n televisiekamera ’n onverwagte geselsie tussen menere Anthony Blair en George W. Bush afgeloer. Ons sien hoe die president van die VSA oor sy skouer klets met sy grootste Europese bondgenoot, en nonchalant vir hom vra: “Hei! Blair, hoe lyk dinge?”

Die kort gesprekkie wat volg is onbelangrik, maar die media merk dadelik Bush se totale gebrek aan belangstelling in wat die Britse premier te sê het: “Blair lyk minder na die hoof van ’n soewereine regering,” is The Guardian se kommentaar, “as na ’n werknemer van Bush wat – vergeefs – wag dat sy baas hom die groen lig gee.” Indien Blair vroeër nog geglo het dat hy ’n bruikbare “spesiale verhouding” met die Amerikaanse president handhaaf – oftewel “Bush se skoothondjie” is, aldus sy teenstanders – wys hulle vinnige gesprek op TV dat Bush nie juis dié eksklusiewe band in so ’n ernstige lig beskou nie. So of hy dus nou maar ter wille van beleefdheid ’n paar gemeenplase kwytraak, soos wat hy met sommer enige politikus sou gedoen het.

Wanneer Blair eerskomende Julie die laaste keer Downingstraat se deur agter hom toetrek, sal dit net meer as tien jaar wees dat hy die Verenigde Koninkryk bestuur het. Sy vertrek volg op die plaaslike verkiesings van 3 Mei, waarin sy party die onderspit gedelf het: ’n verlies van 500 raadslede landswyd, waar die Konserwatiewes 900 bygekry het. Die mees emblematiese aspek van dié neerlaag is die val van die tradisionele Arbeidersbastion, Skotland, in die hande van die onafhanklikheidsgesinde Skotse Nasionale Party (SNP), waarvan die leier, Alex Salmond, voortaan die Edinburgh-streek se uitvoerende raad sal bestuur. Blair se ongewildheid het ’n rampspoedige impak op die Arbeidersparty se wel en weë gehad, en sy rekord as regeringsleier word beskou as die swakste sedert dié van Neville Chamberlain in die 1930's en Anthony Eden in die 1950's: “Irak” pryk nou langs “Suez” op die lys van katastrofes in die Britse buitelandse politiek (1).

Hoe het dit gekom dat Blair in soveel onguns verval het? Hoewel daar talle was wat van meet af aan voorbehoude oor hom gekoester het, kon die omvang van die huidige debakel moeilik tydens sy beginjare te 10 Downingstraat voorsien gewees het. Die nuwe eerste minister was in 1997 haas onbekend by die publiek, maar sy makkers, van laerskool tot op universiteit, onthou sy talent as akteur goed. Sy vermoë om op te tree, toneel te speel, ’n teks so goed te leer dat hy hom daarvan kan losmaak en improviseer wanneer die situasie dit verg, sou die handelsmerke van sy politieke loopbaan word.

Blair staan ook bekend vir sy godsdiensywer, iets ongewoons op die Europese politieke verhoog aan die einde van die 20ste eeu; ’n mens sal moet teruggaan na William Gladstone in die Victoriaanse era om in dié opsig sy gelyke in ’n Britse premier te vind. Die Verenigde Koninkryk is ’n grootliks gesekulariseerde land, en hoewel die Metodiste en ander Hervormingstrominge dikwels ’n sterk invloed binne die Arbeidersparty gehad het, het sy opeenvolgende leiers maar net Church of England-dienste bygewoon wanneer die eise van hulle amp hulle teenwoordigheid onontbeerlik gemaak het.

Blair breek weg uit dié patroon, en staan trouens nader aan Rome as aan Kantelberg (2). Hy raak egter dikwels haaks met die kerklike owerhede, ietwat soos sy vriend Hans Kung, die Switserse teoloog wie se verhouding met die Vatikaan deurgaans netelig is. Hy is deur die hoof- Katolieke aartsbiskop van die Britse koninkryk aangespreek omdat hy die Katolieke nagmaal gebruik het, terwyl hy amptelik Protestants is (sy vrou, Chérie, is wel Katoliek). Die aartsbiskop van Kantelberg het weer gevra dat hy nie sy toenadering tot Rome te ver moet voer nie. Daarenteen het mnr. Blair te gener tyd die geringste ag geslaan op die pous en die grootkoppe in die Anglikaanse kerk se vermanings teen die inval in Irak nie.

Sy buitelandse beleid was die grootste oorsaak van die premier se ondergang. In ses jaar laat hy sy land in vyf konflikte betrokke raak (3), ’n rekord wat laas in die tyd van die Britse Ryk geëwenaar is: Irak met operasie “Desert Fox” in 1998; Kosovo in 1999; Sierra Leone in 2000; Afganistan in 2001; en weer Irak in 2002. Waar die laaste Britse kontingent Bosnië in Maart 2007 verlaat het, is niks in Kosovo nog finaal afgehandel nie; kalmte heers weer in Sierra Leone, maar Irak en Afganistan is steeds rou wonde wat baie kos in terme van geld en gewildheid, en Britse soldate sneuwel nog voortdurend daar.

Dit is nie net binne die Arbeidersparty en, wyer, in die openbare mening, waar Blair sy gewildheid en steun sien taan het nie. Die vertrouenskrisis raak die hele establishment, insluitend diplomate, die hoë amptenary, regsgeledere en, meer onlangs, hoë amptenare in sy eie personeel. Militêre kringe dwing die besluit verlede Februarie af om die troepe te onttrek uit Bassorah, in die suide van Irak, waar ’n neerlaag onvermydelik begin lyk, en om die Britse teenwoordigheid te versterk in Afganistan waar die VSA ’n oorlog teen die Taliban voer onder die wingerdblaarvlag van NAVO.

             Blair is al telkemale beskryf as ’n blote handlanger van president Bush. Die werklikheid is veel ernstiger: uit die diepte van sy onkunde het hy vas, op byna mistieke wyse, geglo in die sending wat hom opgelê is in terme van buitelandse beleid, en dit onafhanklik van die VSA. Hy is ’n liberale imperialis op die ou lees geskoei, soos ’n mens hulle in die anale van die Ryk sien. Het Bush gehuiwer om oorlog teen Irak te verklaar, sou Blair hom aangepor het, en baie Amerikaners meen dat die redenasie wat hy opgebou het om dit te regverdig, bowendien oortuigender was as dié van hulle president.

             Die Irakse onderneming is voorafgegaan deur Bush se “oorlog teen terrorisme”, wat Blair met geesdrif onderskryf het. Vroeër het die Arbeidersparty gewemel van idealistiese jong regsgeleerdes (soos mev. Chérie Blair), vasbeslote om die veld van burgerlike vryhede en menseregte uit te brei. De laaste een is meegevoer deur die eise van hierdie nuwe oorlog, wat hulle daartoe gelei het om hulle stilswyende goedkeuring aan die vergrype van Guantanamo en Aboe Ghraib te gee, en om die onderdrukkende wette wat in hulle eie land afgevaardig is, te steun (4).

Hoewel die Irakse katastrofe die hoofoorsaak van die vyandige gesindheid jeens Blair self en sy regering in die algemeen is, is dit nie die enigste nie. Tien jaar gelede kon ’n mens nog geglo het dat hy moeite sou doen om ’n progressiewe alternatief vir Margaret Thatcher se neoliberale beleid, wat uiters ongewild geblyk het, daar te stel. Vandag is dit ooglopend dat so iets nooit sy bedoeling was nie. Vir hom het dit daaroor gegaan om op die Ystervrou se nalatenskap voort te bou, en glad nie om dit te verwerp nie.

In sy geheel was die binnelandse beleid van Blair se regerings bloot ’n verlenging van dié van die Konserwatiewes wat van 1979 tot 1997 aan bewind was. Wat betref opvoeding en gesondheid, openbare vryhede en veiligheid asook Noord-Ierland, het hy in Thatcher se voetspore getrap. Nie die geringste oorspronklikheid is in sy programme te bespeur nie: die beleid met betrekking tot Noord-Ierland, wat in April 1998 lei tot die driesydige, sogenaamde Goeie Vrydag-ooreenkoms (Ulster-Protestante, IRL en die Dublin-regering), was die groot droom van John Major, sy voorganger in Downingstraat. Die huidige regering het dit suksesvol in werking gestel (5).

Die desentraliseringsproses wat gelei het tot die skepping van politieke rade in Skotland en Wallis is reeds in detail voorberei deur John Smith, by wie Blair na eersgenoemde se voortydige dood die leisels van die Arbeidersparty oorgeneem het. Sogenaamde “gespesialiseerde” skole en “akademies” (wat impliseer dat openbare instellings deur privaat maatskappye beheer en gefinansier word), asook die instandhouding van “grammar schools” (elite-hoërskole wat as bastion van hoër-middelklasvoorregte binne die openbare stelsel dien) en die afskaffing van gratis tersiêre onderrig was ook voorstelle van die Konserwatiewes.

Blair het nou wel in 1999 ’n minimum salaris ingestel (6), terwyl die opheffing van openbare geriewe hom daartoe genoop het om werksgeleenthede in die openbare sektor te skep, maar hy sit die beleid van staatsonttrekking en privatisering voort. Die mees tekenende verlenging van Thatcherisme was die Privaat Finansies- Inisiatief (PFI) wat privaat maatskappye toelaat om gesondheids- en opvoedingsdienste te lewer wat voorheen deur die staatsdiens voorsien is. Die PFI was een van John Major se planne wat in 1992 deur die destydse minister van finansies, Norman Lamont, voorgelê is. Dit was daarop gemik om privaat maatskappye te mobiliseer om hospitale en skole te bou en te bestuur. Die betrokke firmas sou ’n konsessie van tot 50 jaar ontvang en sou hulle fondse herwin uit jaarlikse bydraes van belastingbetalers.

Loodsprojekte is deur die Konserwatiewes daargestel, maar die PFI kom eers volstoom op dreef toe dit in 1997 geesdriftig aanvaar is deur Gordon Brown, Blair se minister van finansies (en opvolger). Brown neem hom voor om beleggings in die openbare sektor te vermeerder, sonder om die eng perke te oorskry van die staat se leenfasiliteite, ’n erflating van die Konserwatiewes. Die probleem het onoorkomelik gelyk, maar die PFI het die antwoord voorsien. Die regering kon onmiddellik die nodige fondse bekom vir beleggings en dit eers later terugbetaal.

             Die keersy van die munt was dat die bedrae wat so voorgeskiet is, teen ’n veel hoër koste terugbetaal moes word as ’n tradisionele belegging. So is daar aan die einde van 2005 kontrakte ten bedrae van byna 50 miljard pond onderteken, wat die belastingbetaler verbind tot die betaling van 20 annuïteite teen 7,5 miljard pond, oftewel ’n totaal van 150 miljard pond. Die PFI is sedertdien uitgebrei na die bou van paaie en tronke, en na inligtingstegnologie, terwyl plaaslike owerhede dit aanwend vir behuising, biblioteke en openbare beligting. Die ministerie van verdediging is egter die grootste verbruiker van PFI. In so ’n mate dat die Konserwatiewes nie meer wil pa staan vir dié maatreël nie. Norman Lamont verklaar in 2002: “Die PFI was nooit bedoel as ’n manier om alternatiewe finansiering te bekom nie. Ek beskou dit as gevaarlik, want privaat finansies is die duurste.”

             Onder die begunstigdes van PFI-kontrakte tel die tallose konsultante van vier groot maatskappye: Price Waterhouse Coopers, KPMG (voorheen Peat Marwick), Deloitte Touche en Ernst & Young (waarvan die Franse Capgemini nou ’n deel besit). Konsultante van Accenture (vroeër Arthur Andersen), Booz Allen Hamilton en McKinsey het ook nie vergete gebly nie. Uit die 50 miljard pond wat in 2005 beloof is, is 5 miljard bestee aan konsultantefooie.

             Een van Blair se ambisies was om die administrasie se werking te “moderniseer”, en hy het gepraat van ’n “hervorming van die openbare diens wat op doelwitte gemik is”. Die magdom kontrakte wat met privaat konsultante gesluit is vir aktiwiteite wat tot op daardie tydstip deur staatsamptenare verrig is, het inderdaad ’n ingrypende herstrukturering van die staatsdiens tot gevolg gehad. Die staatsamptenare van naoorlogse, komiese rolprente met hulle swart bolhoedjies en sambrele is lank reeds iets van die verlede. Hulle was opgelei om politieke besluitnemers van advies te bedien, nie om projekte te bestuur nie. Vandag is dié take in die hande van jong privaat konsultante.

             Die PFI, wat een van Blair se geliefkoosde projekte was, blyk hoogs ongewild te wees en is toenemend ontoereikend om sy oogmerke te bereik. Mikpunte wat vir skole en hospitale gestel is, is nie behaal nie. Hervormings in terme van inligtingstegnologie blyk duur en onvoldoende. Verpleegsters en onderwysers het die strate afgemarsjeer om hulle misnoeë te kenne te gee. ’n Voormalige ministeriële konsultant verwys na die “mislukking van die McKinsey-staat”. Ander praat van die “draaideur”-meganisme: privaat konsultante word gewerf om openbare projekte te bestuur, terwyl hoë amptenare vroegtydig aftree om in diens geneem te word deur konsultantfirmas. Politiek word nie meer met idees vereenselwig nie, maar met die doeltreffendheid van die staatsmasjinerie. Die enigste keuse wat vir kiesers oorbly, is om die personeel aan te wys wat hulle meen die bevoegste is om die administratiewe hervorming te bestuur.

             Die term “Blairisme” verwys vandag na ’n politieke projek wat gefaal het, maar aanvanklik is Blair se droom bestempel as die “derde weg”. Met ’n sterk dosis optimisme het hy voorgegee om ’n (ongedefinieerde) pad te baan tussen sosialisme en kapitalisme aan die einde van die Koue Oorlog. Maar eintlik was dit hoofsaaklik ’n projek afkomstig uit die VSA. Laasgenoemde had sy ontstaan by die Demokratiese party van Bill Clinton, met die oog daarop om regerings wat kliënte van die Amerikaanse ryk is, met ’n internasionalistiese denkwyse te bedeel.

Op sy beste kon dit gesien word as ’n rasionele antwoord op die nuwe maatskaplike en ekonomiese omgewing wat geassosieer word met globalisering, ’n verskynsel wat as ’n onwrikbare, permanente gegewe beskou word. Aangesien regerings op hulle eie moeilik invloed op die bewegings van finansiële markte in ’n geglobaliseerde kapitalisme sou kon uitoefen, moes hulle – of so is aan hulle meegedeel – konsentreer op wat wel binne hulle bereik was: werkers oplei sodat hulle meer mededingend kon word en hulle eie infrastrukture – skole, hospitale, kommunikasiestelsels – wat daarvoor nodig was, kon skep.

             In die praktyk is regerings se vermoë om hierdie padkaart ten uitvoer te bring, klaarblyklik oorskat, en was die “derde weg” nie veel meer as ’n oefening in retoriek nie. In sy Britse vorm (voor die skepping van “Blairisme”) staan dit bekend as “New Labour”. Hierdie benaming word in die 1990's bedink om ’n afstand te plaas tussen Blair aan die een kant, en aan die ander kant, voorstanders van “Old Labour”, wat bestempel is as militante ringkoppe, gestigmatiseer as vakbondstryders van ’n vervloë era, uitgediende bewakers van die klassestryd.

             Vir die Blairiste was hierdie mengelmoes linksgesindes van gister en vandag totaal uit pas met die werklikheid van die oomblik, en sou hulle die opkomende geslag van middelstand individualiste met kwistige beursies, dit wil sê die erfgename van die Thatcher-era, die skrik op die lyf jaag.

             Iets nuuts moes bedink word, en Blair het vir ’n groot deel van sy politieke loopbaan gestry teen sy eie opleiding, wanneer hy dit nie sommer uit en uit gekortsluit het nie. So verwyder hy byvoorbeeld enige vorm van debat uit die ministersraad en kastreer hy die jaarlikse vergadering van die party waar sy beleid volgens tradisie bespreek word. Dit is waarom die “New Labour”-ideologie nooit byval by die militantes gevind het nie, en dit is onwaarskynlik dat dit Blair se uittrede sal oorleef. Die Arbeiderspartyleiers in die voorste geledere, bewus daarvan dat die wind gedraai het, doen nou moeite om interne debat aan te moedig, waar dit vir ’n dekade lank opvallend afwesig was.

             Die uitdrukking “New Labour” word nou maar selde gebruik, en in die media is dit vervang deur “Blairisme”. Wat vroeër voorgehou is as ’n middeweg tussen sosialisme en kapitalisme word nou deur sy voorstanders beskryf as die samekoms van die markekonomie en maatskaplike geregtigheid. Die eerste minister verkies om te praat van “ekonomiese doeltreffendheid”, maar hy hou ook van die klank van “maatskaplike geregtigheid”, ’n uitdrukking wat hy altyd byderhand hou.

Tydens die Arbeidersparty se kongres in Oktober 2006 verduidelik hy dat “ekonomiese doeltreffendheid en maatskaplike geregtigheid” die twee “vennote van vooruitgang” geword het. Hierdie mees onlangse definisie van Blairisme, wat deur die Britse openbare mening verwerp is, is vandag die doktrinêre ondertoon van al wat links- en regsgesinde regering in Europa is. Dit is met ewe veel geesdrif aangegryp deur sowel Ségolène Royal as Nicolas Sarkozy, deur Blair en deur David Cameron, die nuwe leier van die Konserwatiewe Party. Laasgenoemde het ’n werkgroep vir “maatskaplike geregtigheid” op die been gebring om aan sy party ’n meer “medelyende” beeld te gee.

             Die uitdrukking “maatskaplike geregtigheid” word hoofsaaklik gebruik as ’n retoriese versiersel, ontbloot van enige betekenis of konkrete toepassing. Enige voorstel dat dit mag verwys na ’n herverdeling van rykdom (wat lank die oogmerk van die “ou” Arbeiders was), ontlok heftige teenstand van mnr. Blair. Die neiging is eerder in die teenoorgestelde rigting: niks mag in die pad van die “skepping van rykdom” staan nie, wat neerkom op die aanvaarding van enorme ongelykhede in inkomste, ewe kenmerkend van Blair se Groot Brittanje as van Thatcher s’n.

             Die winste van die 100 grootste maatskappye in die indeks van die Financial Times Stock Exchange, die FTSE100, het die hoogte ingeskiet: dit is vandag sewe maal hoër as in 2002. Die rykes het ryker geword en die armes armer. Die boonste 1 % van die bevolking besit 25 % van die land se rykdom, en die onderste 50 % skaars 6 %. Uit ’n bevolking van 60 miljoen, leef 11 miljoen in armoede. Volgens ’n verslag van die VN se kinderfonds (Unicef) oor die welstand van kinders, staan die Verenigde Koninkryk laaste op die ranglys van 21 lidlande van die OESO (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling) (6). “Maatskaplike geregtigheid” vir die vergete inwoners van die agterbuurtes is ’n onbereikbare droom wat al verder wegglip.

             Blair se tien jaar aan bewind is ’n lang tydperk in die politiek. Nogtans is talle van die beduidende veranderings wat tydens hierdie dekade in die Britse samelewing plaasgevind het – die massiewe afname in industriële werksgeleenthede, die toename in dienste, die feitlike verdwyning van boere – eerder die gevolg van grootskaalse tendense as van regeringsbeleid. Hierdie veranderings het ’n impak gehad op politieke en vakbonddeelname: in 1950 het die Arbeidersparty ’n miljoen lede gehad; vandag is daar net 200 000 oor. Die getal vakbondlede het met die helfte verminder sedert 1970, met tans 8 miljoen, hoofsaaklik in die openbare sektor.

             Die verbrokkeling van die tradisionele werkersklas, waar daar vroeër talle werksaamhede was, het ander resultate tot gevolg, soos die geleidelike verdwyning van die eertydse “pub”, daardie oorwegend manlike bastion van “Britsheid”. Min mense drink nog groot hoeveelhede bier, en die “pubs” is nou omskep in modieuse wynkroeë vir mans en vroue. Jonger klante oorstroom die sypaadjieterrasse in wind en weer, kompleet nes in ’n Mediterreense land, maar net met mobiele gasverwarmers.

             Soos in baie ander Europese lande merk ’n mens die alomteenwoordigheid van selfone, die alledaagse gebruik van hoëspoed Internet, sommige jeugdiges se lus na drinkpartye en kuiery tot die vroeë oggendure in nagklubs, die toenemende gebruik van crack, die media se beheptheid met mode en sport, die opbloei in goedkoop vliegkaartjies wat gesinne uit lae inkomstegroepe in staat stel om na eksotiese bestemmings te reis. Dit alles is diepgaande veranderings in lewenstyl waaroor politici geen beheer het nie en waaroor hulle nie weet wat om te sê nie.

             Blair het homself gesien as ’n heroïese nasionale leier en nou hou hy hom besig met sy “erflating” aan die geskiedenis. Wat buitelandse beleid betref, is dit hoofsaaklik sy geesdrif vir oorlog wat ’n mens sal onthou, asook sy begeerte om die Anglo-Amerikaanse bondgenootskap te versterk, en die heroplewing van ’n imperiale ambisie onder die dekmantel van “humanitêre ingryping”. Een van die vernuwings van sy dekade aan bewind het egter ’n goeie kans om te bly voortleef: die regering se vermoë om die media te manipuleer. Die aantal pers-attachés en openbare betrekkingsbeamptes het van 300 in 1997 toegeneem tot 1 815 vandag.

             Toekomstige geskiedkundiges mag dalk Blair se langdurige bewind en klaarblyklike suksesse toeskryf aan ’n ongewoon powere Konserwatiewe opposisie eerder as die meriete en gewildheid van sy “New Labour”. In die nadraai van die Thatcher-rewolusie het die Konserwatiewes sonder idees bly sit, en het hulle vier leiers in ’n enkele dekade opgebruik voor hulle uiteindelik uitgekom het by David Cameron, ’n twaalf jaar jonger kloon van Tony Blair. Van Cameron kry ’n mens ’n onduidelike boodskap van gematigdheid en ’n “groen” politiek so in die gees van die tyd, om te spreek tot die middelklasse wat teleurgesteld is met Blairisme. Al kans wat vir Blair nog oorbly dat sy bewind in ’n minder negatiewe lig gesien sal word, is dat Gordon Brown, sy (waarskynlik kortstondige) opvolger, ’n beleid voer wat selfs verder regs as syne is.

_________

(1)        Die mislukte poging tot ’n inval in Egipte, georganiseer deur Anthony Eden en die voorsitter van die destydse Franse raad, Guy Mollet, kort ná Nasser die Suezkanaal in 1956 genasionaliseer het, was die aanvangsinjaal vir die ineenstorting van die Britse ryk.

(2)        Die aartsbiskop van Kantelberg is die hoof van die Anglikaanse kerk.

(3)        Lees die werk van die hoofredakteur van die New Statesman, John Kampfner: Blair’s Wars, Londen: Free Press, 2004.

(4)        Lees Tariq Ali, Quelque chose de pourri au Royaume-Uni. Libéralisme et terrorisme, Parys: Raisons d’Agir Editions, 2006.

(5)        Ná die verkiesing in Noord-Ierland op 7 Maart, gaan geswore vyande soos die Protestant Ian Paisley en die Katolieke Martin McGuinness, hoofonderhandelaar van Sinn Fein (wettige front van die IRL), voortaan gesamentlik ’n koalisieregering in Belfast bestuur.

(6)        Unicef, The state of the world’s children 2007, Unicef, Genève.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=858
Artikel nagegaan:
    -