blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Stryd om die ANC se ideologiese siel 2007-06-14
Aubrey Matshiqi

*Senior Assosiaat- Politieke Analis, Sentrum vir Beleidstudies, Johannesburg

 

Vandat die vure van die opvolgstryd in die African National Congress (ANC) sowat twee jaar gelede begin knetter het – sommiges sou sê, hand-uit geruk het – was daar geen tekort aan spekulatiewe ontleding oor die oorsake van spannings en verdeeldhede wat sy ontwikkeling gekenmerk het nie. Ons het almal ons troetelteorieë, en in ’n mate het dit gelei tot blinde kolle in party pogings om die broedertwis binne die regerende party te verklaar.

In sommige gevalle is die ontleding van die opvolgstryd gekleur deur subjektiewe wense en voorkeure wat, in sekere mate, die openbare diskoers met die oog op die bereiking van konsensus – hetsy vals of eg – wat op die openbare mening en die politieke keuses van die gewone ANC-lede afgedwing kan word, uit fokus getrek het.

Die waarheid is egter dat redes vir die binnegeveg in die ANC nie tot ’n enkele en rafelvrye verduideliking afgeskaal kan word nie. Dat daar veelvuldige verklarings vir die opvolgstryd in die regerende party en die impak daarvan op verhoudings tussen die verskillende komponente van die Drieparty-alliansie is, behoort nie bevraagteken te word nie.

Waaroor wel gedebatteer behoort te word, is in hoeverre elke verklaring of faktor geldig is en dus daartoe kan bydra om groter duidelikheid te gee oor die drywers van die opvolgingswarboel. In die proses van debatvoering moet ons probeer om nie bepaalde verklarings te oordryf of ander te maklik af te maak nie.

Myns insiens kan ’n oorkoepelende verklaring die volgende sake nie buite rekening laat nie:

·           Hierdie geveg gaan om die siel van die ANC. Die siel van die ANC was altyd ’n versluierde konsep wat hom nie sonder meer laat omskryf nie. Dit word gesien as ’n objektiewe realiteit wat los staan van die subjektiewe politieke gedrag van ANC-lede en hul leiers. Dit is onveranderlik en transendeer tyd, geskiedenis en leierskapstyle. Dit is saamgestel uit waardes soos belangeloosheid (onbaatsugtigheid), opoffering, kollektiewe leierskap en die bereidheid om eiebelang ondergeskik te stel aan die wil van die party en die belange van die nasie. Dit verteenwoordig en is gebore uit al wat edel is omtrent die onderdruktes en hul worsteling.

Dit is beliggaam in die voorbeeldige lewens van ANC-leiers soos Albert Luthuli, Oliver Tambo en Nelson Mandela. Maar die siel van die ANC van die “struggle”-era het verskraal geraak onder die aanslag van kleinsielige politieke oogmerke en verdraaiing van die waarheid in die huidige omstandighede, noudat politiek nie meer ’n doel op sigself is nie, maar ’n middel geword het tot selfgesentreerde ekonomiese gewin. Die geveg gaan derhalwe deels oor watter faksiebelange die tradisies en waardes van die ANC verteenwoordig en beliggaam wat die wese van sy siel blootlê.

·           Daar moet ook begryp word dat hierdie geveg oor sowel opvolging as kontinuïteit gaan. Met ander woorde, die opvolgstryd gaan daaroor om ’n opvolger vir Mbeki te vind op die vlak van die persoonlikheid wat hom gaan vervang. Maar opvolging beteken ook dat die politieke en beleidsprojek wat Mbeki begin verteenwoordig het, deur ’n ander projek vervang moet word, en dit kan óf deur aanpassings van die huidige beleidsraamwerk binne die huidige paradigma geskied, óf deur die ANC van die middelpunt van die politieke spektrum af weg te skuif. Kontinuïteit, aan die ander kant, kan daarom gaan dat Mbeki ’n derde ampstermyn wen, of om te verseker dat die belange wat hy verteenwoordig nà sy presidensiële termyn sal voortleef.

·           Die opvolgstryd gaan nie net oor persoonlikhede nie. Ofskoon dit waar is, is dit onwaar dat die geveg hoegenaamd nie oor persoonlikhede gaan nie. Ons moet onthou dat persepsies omtrent die ANC-president, Thabo Mbeki, een van die sleuteldrywers is van die opvolgstryd. In die geveg oor gedeelde gesindheid en geestelike waardes was daar pogings deur sowel diegene wat Zuma en Mbeki ondersteun en opponeer om persepsies te skep wat óf vir hul eie faksiebelange voordelig, óf vir die belange van hul opponente skadelik is.

Diegene wat Mbeki steun, het probeer om die ANC se adjunkpresident Jacob Zuma – soms aangehelp deur sy eie oordeelsfoute – as ’n bedreiging vir die ekonomiese en politieke stabiliteit, goeie bestuur en die sedes van die Suid-Afrikaanse samelewing te skilder. Mbeki se opponente – wat bedrywig was in ’n mediaklimaat wat Mbeki oorwegend gunstig gesind is – het ’n prentjie probeer skilder van ’n ANC-president wat afsydig en terughoudend is en wie se leierskapstyl daartoe gelei het dat die voetvolk van die ANC van die presidensie, van die ANC self én van die beleidsvormingsproses vervreem geraak het.

Betreffende die beweerde sameswering teen Zuma word Mbeki daarvan beskuldig dat hy staatsinstansies gemanipuleer het in die oënskynlike sameswering teen Zuma. Klaarblyklik probeer albei kampe om “iemand anders” te skep, wat deur ondersteuners van hul verkose kandidaat beskou sal word as die teenpool van hul opponent, en in opsigte wat potensieel bevooroordeel is jeens sy beeld sowel binne as buite die ANC.

Gelukkig is nie alle debatvoering tot die Zuma-Mbeki-dinamiek van die opvolgstryd beperk nie. Met die publikasie van besprekingsdokumente deur die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) en die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakverbonde (COSATU) is gepoog om die opvolgdebat met beleids- en ideologiese inhoud te laai. Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat beleid en ideologie vir die meeste afgevaardigdes na die ANC se nasionale konferensie in Desember die belangrikste oorwegings gaan wees wanneer dit by stemming vir hul voorkeurkandidaat kom, sal die ‘Linkses’ (SAKP en Cosatu) probeer om die uitslag van beleidsdebatte tydens die komende nasionale beleidskonferensie van die ANC te swaai.

Omdat die nasionale beleidskonferensie nie ’n konstitusionele struktuur van die regerende ANC is nie, moet ons daarteen waak om die belangrikheid daarvan te oordryf. Desondanks sal die uitslag van beleidsdebatte op hierdie konferensie ’n aanduiding gee van die magsbalans en steun binne die ANC en die alliansie, en dus ’n teken van die aard en karakter van die gevegte wat in Desember geveg gaan word.



 

Die beleids- en ideologiese debat het tot dusver breedweg gesentreer om die oriëntasie van die postapartheidstaat, en of sy oriëntasie die belange van die ANC se historiese kiesafdelings bevorder of ondermyn het, veral die werkersklas. Die beleidsdebat en spannings tussen die ANC en sy bondgenote kan gedeeltelik verduidelik word in terme van ’n konseptuele of ideologiese “breuk” wat tussen die ANC en sy bondgenote ontstaan het. Hierdie breuk bestaan deels uit onenigheid oor die rol en aard van die post-apartheidstaat. Volgens besprekingsdokumente wat in 2006 deur Cosatu en die SAKP gepubliseer is, hel die postapartheids- “ontwikkelingstaat” oor na kapitaal ten koste van die belange van die werkersklas. Die SAKP voer aan dat die huidige leierskap van die ANC, as dit voor die keuse te staan kom tussen “’n herstel van die toestande vir kapitalisteprofyt op ’n nuwe en gewaande meer volhoubare basis” en “’n rewolusionêr/sistemiese transformasie van die samelewing wat die inherente teenstrydigheid begin oplos … tot voordeel van die werkersklas en sy gewilde bondgenote”, gekies het om eersgenoemde aan te hang.

Cosatu, aan die ander kant, en in dieselfde trant, redeneer dat die “staat ’n teenstrydige agenda dryf wat aan die een kant beoog om in die behoeftes van die ANC se historiese kieserspubliek te voldoen, maar terselfdertyd die winsgewendheid van Suid-Afrikaanse kapitaal te herstel en selektiewe swart ekonomiese bemagting te bevorder”. Joel Netshitenzhe, een van die sleuteldenkers en –strateë in die regerende party sien weer die rol van die ANC as een wat “teenstrydighede bestuur wat hulleself noodwendig tussen die twee strydende klasse, die werkers en die burgery” sal uitdruk, en redeneer verder dat die NDR nie beoog om sy kernantagonisme van ’n klassesamelewing uit te skakel nie”.

Dat hierdie debat die tendens gehad het om rondom ekonomiese beleid en die klasseoriëntasie van die staat en die ANC self te sentreer, behoort ’n mens nie te verbaas nie, in die lig daarvan dat die voordele van die ekonomiese groei wat onder Mbeki se leierskap oor die afgelope aantal jare bereik is, nie ver genoeg by kapitaal en die middelklas verby gestrek het nie. Die oormatig bloedige aanslag van die prestasie van ons ekonomie neig om die feit te verontagsaam dat die gepraat oor ‘twee ekonomieë” die realiteit verduister dat dieselfde ekonomie sommige bevoordeel en talle onder die tradisionele kieserspubliek van die ANC in die steek laat.

Tot die mate waarin die eerste ekonomie-tweede ekonomie dinamika nuttig is, behoort dit ons by die slotsom te bring dat die prestasie van ons ekonomie op grond van ’n prestasie-wanprestasie-dinamiek aangeslaan kan word, omdat ons internasionaal gevierde ekonomiese groei saamval met toestande van onderontwikkeling vir talle Suid-Afrikaners. Die waarheid omtrent ons ekonomie is dus veel komplekser as die ontleding van sy belangrikste begunstigdes en die oordrewe Nazi-vergelyking van Cosatu se Zwelinzima Vavi.

Boonop help dit niks om die binnegeveg in die ANC en die alliansie te bestempel as ’n geveg tussen die Linkses (SAKP en Cosatu) en die Regses (Mbeki en sy kliek tegnokrate) nie. Vir my gaan hierdie geveg oor twee sake – die omskrywing van die praktyk van die teorie van Nasionale Demokratiese Rewolusie in die huidige konteks van globalisering en aggressiewe neoliberalisme, en om die verkryging van ’n gemeenskaplike platform tussen twee Linkse projekte te vind sonder om die delikate balans of wanbalans te versteur wat tussen die verskillende klassebelange is en deel uitmaak van die ANC se aard en karakter. Dit beteken dat die ANC vanweë sy aard sporadies ideologiese spannings sal ervaar, en dat hierdie spannings óf ’n skaakmat-, onvolkome konsensus, óf die triomf van ’n spesifieke ideologiese projek sal oplewer.

Vir Mbeki en diegene om hom beteken dit verdere konsolidering en modifikasie van die na- Koue Oorlogse sosiaal-demokratiese projek. Dit beteken om ’n agenda te dryf om ideologie te omskryf as ’n veranderingsproses, in plaas van as ’n stel einddoelwitte met die bedoelde uitkoms dat die ANC en die alliansie skik vir ’n benadering wat die noodsaak vir radikalisme balanseer met ’n pragmatiese beleidsagenda wat poog om meer effektief om te gaan met die impak van die globale konfigurasie van politieke en ekonomiese mag op die binnelandse politieke en ekonomiese terreine.

Vir Cosatu en die SAKP is die onmiddellike uitdaging om binne die regerende party voldoende steun vir sy klasseprojek te wen. Dit kan hulle nie regkry nie, tensy hulle ’n punt bereik waar hulle beide ’n kwalitatiewe en kwantitatiewe aanwesigheid in ANC-takke het. Dit is uiters onwaarskynlik dat hierdie kwalitatiewe en kwantitatiewe aanwesigheid voor die nasionale beleidskonferensie vandeesmaand en die nasionale konferensie in Desember sal materialiseer.

As ek reg het, sal die ANC teen die einde van sy Desemberkonferensie min of meer wees waar dit nou is in die sentrum van die beleids- en ideologiese spektrum. Dit beteken dat ons al hoe nader beweeg aan die dag wanneer die Linkses met groter erns die moontlikheid moet ondersoek om sy eie kiesersmandaat vir sy klasseprojek te kry. Dit, vermoed ek, sal eerder later as vroeër gebeur.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=857
Artikel nagegaan:
    -