blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die medium is die boodskap! 2007-04-18
Martiens van Bart

*Kultuurredakteur, Die Burger. Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in By-Burger van 24 Februarie 2007.

 

Die debat rondom die gewilde popliedjie “De la Rey” wat die sanger Bok van Blerk (Louis Pepler) en sy orkes verlede jaar op CD saam met ’n kort Anglo-Boereoorlog-video uitgereik het, is in volle gang. Is Van Blerk besig met ’n politieke opruiery, of is die liedjie maar net lekker om te neurie?

Die musiekvideo van Bok van Blerk en sy medewerkers, “De la Rey”, is onlangs aangewys as die beste video in ’n kompetisie deur MK89 (kanaal 89 op DStv). Sowat 10 000 kykers het aan die stemmery deelgeneem. Ook is aangekondig dat die CD reeds platina-status bereik het en dat sy verkope al die 100 000-kerf verby gesteek het.

Begryplik is dit hoofsaaklik jong mense wat daaroor gaande is, en nie soseer die ouer garde wat maar ’n paar jaar gelede nog die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) van ’n eeu gelede herdenk het nie. Indertyd is letterlik honderde boeke oor die onderwerp gepubliseer en verskeie DVD’s en videos uitgereik.

Media 24, onder leiding van sy besturende direkteur, mnr. Koos Bekker, het die rolprentmaker Herman Binge opdrag gegee om ’n merkwaardige dokumentêr, “Verskroeide Aarde” in twee aflewerings (in Afrikaans én Engels) vir MNet en kykNet te vervaardig. Dit is met groot sukses wêreldwyd as teater- en TV-rolprent, asook op DVD en video, bemark.

“Verskroeide Aarde” het al die potensiaal gehad om vir politieke opruiery misbruik te word.

En in teenstelling met die gerugmakende voorspellings in dier voege deur talle doemprofete, het absoluut niks ondermynends gebeur nie. Dat talle verbaas was oor die volgehoue belangstelling in die onderwerp, is gewis. Soos nou weer met “De la Rey”.

Nou duik die vraag op waarom die jeug tans so gaande oor Bok van Blerk en sy “De la Rey” is. Waar was hulle van 1999 tot 2002 toe hul pa’s, ma’s, oupa’s en ouma’s met trane in die oë weer en weer na “Verskroeie aarde” gekyk het, en die ABO druk bespreek het? Die jeug se betrokkenheid by die honderdjarige herdenking was vir alle praktiese oorwegings niebestaande.

Een rede daarvoor kan wees dat die rolprent/DVD/video-vervaardigers en boekskrywers eerder die ouer garde as teikenmark in die visier gehad het. Onder die min jeugpublikasies wat uitgereik is, was ’n prettige, baie gewilde inkleurboekie vir kinders in die ouderdomsgroep 3 tot 5 jaar wat deur die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein uitgereik is. Maar die herdenkingsgebeure het die jeug wesenlik verbygegaan.

Nou, skielik, verskyn ’n musiekvideo oor maar een figuur uit die ABO, genl. Koos de la Rey. Boonop is die tema bra mosterd na die maal. Die een groot verskil is dat die musiekvideo gerig is op die jeugmark, en dit is vervaardig/uitgevoer deur ’n jong popster, een van daardie immerteenwoordige helde van elke tienergenerasie.

Andersins pas dit tematies eenhonderd persent in dieselfde kader as “Verskroeie Aarde” en die talle ander ABO-mediaprodukte.

As ’n mens dus nugtere antwoorde wil vind op die vraag waarom dan die groot ophef onder die jeug, is dit insiggewend om vanuit ’n tegnologies-sielkundige perspektief na die verkynsel te kyk:

Dit was die Kanadese filosoof, media- en kultuurkundige Marshall McLuhan wat in die 1960’s die nou welbekende uitspraak “Die medium is die boodskap” (“The medium is the message”) gemaak en ook na die wêreldgemeenskap as die “global village” (“wêrelddorp”) verwys het.

En met Bok van Blerk se “De la Rey”-musiekvideo het ons ’n treffende voorbeeld van die medium (van die jeug) wat die boodskap (vir die jeug) is. Die inherente boodskap word gevolglik suksesvol na die teikenmark oorgedra.

Die jeug van vandag is totaal tegnologie-gedrewe. Haas elkeen is bewapen met ’n selfoon met hoëtegnologie-funksies en ’n iPod-musiekspeler met die mikro-oorfoontjies byna permanent in die ore geprop. Waarskynlik is daar tuis ook ’n eie rekenaar waarmee via die internet op die tienerkanale van die wêreld ingeskakel word, ’n eie TV en ook ’n DVD-speler. Bok se musiekvideo pas dus volkome in hierdie tegnologiese werklikheid van die jong mens.

Om hierdie eiesoortige kulturele leefwêreld van die jeug te kan verstaan, vra ’n sorgvuldig ontleding waarvoor hier nie die ruimte is nie. Kortom: In haas elke sosiaal-sielkundige studie oor die aard van die adolessent word die jong mens beskryf as ’n rebel teen die bestaande orde, ’n mens-in-wording op soek na ’n eie identiteit, ’n intense skepper wat vrylik sy eie leefwêreld wil verken, bevraagteken en uitbou - die “storm-en-drang-tydperk” in elke mens se lewe. En hierin speel die media deesdae ’n belangrike rol.

Onder die Afrikaanse jeug verskaf Bok van Blerk met sy held De la Rey, ’n prikkel tot identiteit-verkenning. En, handskoenpas, is dít boonop politiek inkorrek in sekere geledere om hoegenaamd na Boere-helde te verwys as sou dit dan op ’n terughunkering na ’n “mitiese” verlede dui – wat dit dan ookal mag beteken. Die jeugdiges is altyd geïnteresseerd in mense, veral jong mense van hul eie generasie, wat teen die bestaande orde in opstand kom.

’n Politieke leier is die laaste ding op aarde wat hulle wil hê. Wat hulle wel interesseer, is ’n alternatiewe siening van die wêreld waarin hulle hulle bevind. En, of jy daarvan hou óf daardeur bedreig voel, dít is wat Bok se liedjie bied.

Bowenal het die jeug ’n idealistiese siening van menswees: Vir die jeugdige is integriteit in handel en wandel van opperste belang. En saam met integriteit hang ’n skerp sin vir die regverdige, ’n leef en laat leef houding wat altyd moed en die vermoë om dit waarin jy glo te deursien, verg. En hiermee het jy dan ’n woordeboek-definisie van wat ’n held is: Die onverskrokke vegter vir reg en geregtigheid, bewonder vir sy onbaatsugtige prestasies en edel kwaliteite.

Dit verbaas dus nie dat Van Blerk se “De la Rey” die Afrikaanse jeug so aangryp nie: Skielik het hulle bewus geword daarvan dat hul eie geskiedenis ook helde opgelewer het wat geen tree hoef terug te staan vir, byvoorbeeld, die Engelse jeug se ridders van die Ronde Tafel en Middel-Aarde se Aragon, wat deur die geskiedenis in verskillende gedaantes herleef het, nie.

Daarom pas die heldefiguur van De la Rey so perfek in die leefwêreld van die Afrikaanse jeugdige: Die werklike, geskiedkundige figuur Koos de la Rey was ’n mens met daardie ideale karaktereienskappe. Hy was ’n beginselvaste leier, eerlik, opreg, doelgerig, ’n stryder vir vryheid en reg, ’n dapper vegter, ’n vryheidsvegter in elke sin van die woord, met empatie vir sy eie mense wat noodwendig die erkenning van die regte van ander insluit, maar nooit ten koste van die eie nie.

Die Afrikaanse jeugdige identifiseer dus met die mitologies-simboliese karakter wat (toevallig) deur De la Rey verteenwoordig word, en gee só uiting aan hul innerlike gevoelens wat normaalweg vir die soekende jong mens so moeilik is om te verwoord. In die De la Rey-lied van Bok van Blerk vind hulle woorde wat hulle help om ’n eie identiteit uit te druk. De la Rey word ’n mentor op weg na kulturele selfontdekking.

Bogaande is uiteraard maar een moontlike verklaring vir die gewildheid van Van Blerk se liedjie. Wat egter nie te betwyfel is nie, is dat by ’n aansienlike persentasie van die Afrikaanse jeug – in die media is berig dat nie net die wit Afrikaner-jeug, maar ook bruin Afrikaanssprekende jeugdiges, gaande is oor die liedjie – ontdek het dat “ons”, met “ons” gebreke en al, ook “helde” uit ons gedeelde geskiedenis het wat vir niemand uit enige volksgeskiedenis terug hoef te staan nie. In wese gaan dit om selfrespek, om trots op die eie. As die slag van ’n bees in ’n agterplaas die legitieme uitdrukking van ’n eie kulturele identiteit is, waarom kan die sing van ’n popliedjie oor ’n Boere-generaal dit nie óók wees nie? In plaas van ’n bedreiging van die goeie orde?

Moontlik is die tyd nou ryp dat Media24 se dokumentêre reeks, “Verskroeide Aarde”, weer vertoon word; nou dat dit wil voorkom dat minstens ’n deel van die jeug bewus geword het van ’n geskiedenis waarin sy kulturele identiteit wortel. En moontlik sal daar uit dié groter kennis beter popliedere spruit as Bok en vriende se dapper, maar nie juis treffende komposisie met die grootliks ondeurdagte lirieke nie: Die historiese De la Rey sou byvoorbeeld verkies het dat “ons” rondom hom “staan” – op ons eie voete.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=856
Artikel nagegaan:
    -