blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Musiekrubriek 2007-04-18
Herman van Niekerk


Wêreld-Jeugkoor besoek Suid-Afrika


Vir die tweede keer in die kort bestaan van die Wêreld-Jeugkoor, besoek dié koor Suid-Afrika vanaf 7 tot 30 Julie 2007. Die vorige besoek was in Januarie 2001.

Die Wêreld-Jeugkoor (WJ) het in 1989 tot stand gekom en word beskou as een van die mees kreatief-musikale, opvoedkundige en interkulturele ervarings vir jong koorsangers. Jaarliks word die koor saamgestel uit 50 % nuwe lede en 50 % genooide oud-lede, wat dan vir 2 weke êrens in die wêreld vir ’n repetisietydperk bymekaarkom, en daarna in daardie deel van die wêreld uitvoerings gee.

Die program bestaan hoofsaaklik uit musiek van die 20ste eeu asook eietydse a cappella-werke. Substansiële ligter musiek word ook aangedurf, en soms ’n oratorium. Om hierdie uitvoerings verder wêreldgehalte te gee, word van die voorste dirigente genooi om die koor af te rig en te lei. Die WJ wat Suid-Afrika vanjaar besoek, sal gedirigeer word deur Peter Dijkstra van Nederland (wenner van die 2003 Eric Ericson-Kompetisie in Stockholm), en van Suid-Afrika, Sidumo Jacobs (dirigent van Afrika-musiek vir die Kingsway-koor van die Universiteit van Johannesburg, en musiekonderwyser aan die St. Johns-kollege in Johannesburg).

Vir die koor se besoek aan Suid-Afrika lyk die toerskedule voorlopig soos volg: Die koor repeteer van 8 tot 18 Julie op Stellenbosch en hul eerste konsertuitvoering is op 19 Julie in Kaapstad (St. George-katedraal). Ander konsertuitvoerings vind onder meer plaas op 20 Julie (Stellenbosch), 22 Julie (George), 23 Julie (Port Elizabeth), 25 Julie (Bloemfontein), 26 Julie (Potchefstroom), 27 Julie (Rustenburg), 28 Julie (by die Universiteit van Johannesburg) en 29 Julie (Pretoria).

Navrae: Peet Ryke by die Noordwes-Universiteit se Departement Kultuur op die Potchefstroomkampus. Telefoon: 018-2992849 en [email protected].

 

Die 33ste Nasionale Kunsfees in Grahamstad

 

Die Nasionale Kunsfees in Grahamstad vind vanjaar vanaf 29 Junie tot 8 Julie plaas onder die feestitel: “United Voices of Art! Pleasure with a healing purpose”. Die gedagte van innerlike genesing vorm ’n deurlopende tema in vanjaar se programkeuse.

Bronwen Forbay is vanjaar die wenner van Standard Bank se Jongkunstenaartoekenning vir musiek, en tree op as solis saam met die Johannesburgse Feesorkes onder leiding van Richard Cock in ’n program van werke deur Glinka, Elgar, Grieg en Sibelius. Die orkes sal ook gehoor word saam met die 150 lede van die Yale Alumni-koor in ’n uitvoering van Haydn se oratorium, Die Skepping, asook in ’n opvoering van Die Neutekraker saam met die Kaapse Balletgeselskap. Die soliste tydens die Haydn-uitvoering is Bronwen Forbay (sopraan), Simon Estes (bas-bariton) en Randall Umstead (tenoor).

’n Besoekende koor van die VSA – die Bryn Mawr Presbiteriaanse-koor gee ’n program van Bach tot Brubeck.

Op die kabaretfront is daar onder meer ’n aanbieding deur Pieter-Dirk Uys en Geoffrey Johnson met die titel Bambi:Vile and Vunderful. In dié produksie kan musiek van Stephan Sondheim en Kurt Weill gehoor word met gepaste kommentaar deur Pieter-Dirk Uys se alter-ego, Bambi Kellerman.

Zanta Hofmeyr (viool) en Malcolm Nay (klavier) gee ’n uitvoering van Grieg se drie liriese vioolsonates. Daar is ook ’n uitvoering deur Peter Martens (tjello) en Leon Bosch (kontra-bas), asook ’n tweeklaviere-uitvoering deur Pierre van der Westhuizen en Sophia Grobler.

En op die jazzfront is daar onder meer ’n improvisasie-uitvoering met Paul Hanmer (klavier) en Francois le Roux (tjello) asook die gereelde Standard Bank Nasionale Jazzfees wat gesteun word deur jazzkunstenaars van oorsee waaronder die Nederlandse pianis, Jaroen van Vliet, asook ander jazzmusici van Switzerland, Swede, Frankryk, Duitsland, Noorweë, die Verenigde Koninkryk en die VSA.

Meer inligting oor die Nasionale Kunsfees in Grahamstad is beskikbaar by www.nafest.co.za en by Tel.: 046-6031103, Faks: 046-6223082. [email protected]

 

Die Johannesburgse Filharmoniese Orkes – Tweede Seisoen 2007

 

Die Tweede Seisoen van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes begin op Woensdag 16 Mei met ’n herhaling van die uitvoering die volgende dag – dus Donderdag 17 Mei. Die uitvoerings begin om 20:00 en vind plaas in die Linder-ouditorium op die Opvoedkundekampus van die Universiteit van die Witwatersrand (vantevore die Johannesburgse Onderwyserskollege - JCE) in St Andrewsweg, Parktown, Johannesburg. Seisoenkaartjies is ook beskikbaar. Inligting: Tel.: 011-7892733 en www.jpo.co.za

Die volledige program:

·     Woensdag 16 en Donderdag 17 Mei: Arvo Pärt (Fratres), Prokofiev (Klavierkonsert nr. 2, Op. 16 in G-mineur en Dvorak (7de Simfonie Op. 70 in D-mineur). Die dirigent is Bernhard Gueller en die solis Droro Biran (klavier).

·     Woensdag 23 en Donderdag 24 Mei: Wagner (Die Reis van Siegfried Rhine en die Sterwens- en Begrafnismusiek uit Götterdämmerung), Glazunov (Vioolkonsert Op. 82 in A-mineur) en Resphighi (Fontane di Roma en Pini di Roma). Die dirigent is Bernhard Gueller en die solis, Sergey Ostrovsky(viool).

·     Woensdag 30 en Donderdag 31 Mei: FJ Haydn (Simfonie nr. 49 in F-mineur) en Bruckner (Simfonie nr. 4 in E-mol majeur). Die dirigent: Bernhard Gueller.

·     Woensdag 6 en Donderdag 7 Junie: Malcolm Forsyth (Vallei van ’n Duisend Heuwels), Grieg (klavierkonsert) en Grieg (Peer Gynt se Suite nr. 1 en nr. 2). Die dirigent is Conrad van Alphen en die solis, Ingrid Jacoby (klavier).

·     Woensdag 13 en Donderdag 14 Junie: ’n Volledige Beethoven-program: Leonore Overture nr.3, die 1ste Simfonie Op. 21 in C-majeur en die Vioolkonsert Op. 61 in D-majeur. Die dirigent is Conrad van Alphen en die solis is Min-Jin Kym (viool).

 

Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se Winterseisoen 2007

 

Hierdie seisoen se uitvoerings vind in die Stadsaal van Kaapstad plaas en begin om 20:00. Inligting: Telefoon: 021-4109809 en www.cpo.org.za.

Die volledige program is:

·     Donderdag 7 Junie: Purcell-Britten (Chaconne in G vir Strykers Z.730), Beethoven (Vioolkonsert in A-mineur Op.61), Tsjaikowski (Simfonie nr. 2 in C-mineur, Op. 17). Die dirigent is Victor Yampolsky en die solis is Min-Jin Kym (viool).

·     Donderdag 14 Junie: Brahms (Variasies op ’n Tema van Joseph Haydn, Op. 56a), Mozart (Klavierkonsert nr. 14 in E-Mol majeur, K449), Beethoven (Simfonie Nr. 7 in A-majeur, Op. 92). Die dirigent is Leon Botstein en die solis, Ingrid Jacoby (klavier).

·     Donderdag 21 Junie: JS Bach (Brandenburgkonsert Nr. 5 in D-majeur BWV 1050), Poulenc (Concerto Champetre), Dvorak (Simfonie nr. 8 in G-mineur Op. 88). Die dirigent is Victor Yampolsky en die solis is Yory Vinikour (klavesimbel).

·     Donderdag 28 Junie: Elgar (‘Sospiri’), Schumann (‘Konzertstück’ Op. 92) en Mahler (Simfonie nr. 5 in C-kruis mineur). Die dirigent is Victor Yampolsky en die solis, Tessa Uys (klavier).

 

 
Nóg dagboeknotas…

·     Die Derde Unisa Nasionale Klavierkompetisie vind vanjaar plaas vanaf 23 tot 29 Junie in Pretoria. Meer inligting is beskikbaar by 012-4293336 en www.unisa.ac.za/musicfoundation. Die hoofborg is Vodacom en die eerste prys beloop R40 000. Die publiek is welkom by alle rondtes van die kompetisie.

·     Die Elfde Unisa Internasionale Klavierkompetisie vind plaas vanaf 24 Januarie tot 9 Februarie 2008 op die Unisa-hoofkampus in die ZK Matthews-saal. Die hoofborg is weereens Vodacom en die eerste prys beloop dié keer R200 000! Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Augustus 2007, en meer inligting is beskikbaar by 012-4293336 en www.unisa.ac.za/musicfoundation. Alle kompetisiesrondtes is oop vir die publiek.



·     Die herdenkingsvierings rondom die dood van Edvard Grieg 100 jaar gelede gaan voort met die opening van ’n nuwe uitstalling in die Edvard Grieg-museum op 1 Mei. Vanaf 25 Mei tot 5 Junie vind ’n internasionale fees in Bergen plaas met die titel ‘In Grieg se voetspore’, en op 15 Junie word Grieg se 164ste verjaardagherdenking in Oslo gevier waartydens die Noorweegse Kamerorkes en –Solistekoor optree in die ouditorium van die stad se universiteit.

·     ’n Nasionale Kunstebestuursimposium word op Dinsdag 5 Junie en Woensdag 6 Junie 2007 by die Noordwes-universiteit se Potchefstroomkampus aangebied. Van die onderwerpe is Kunsnetwerk (Mike van Graan), SAMRO/ DALRO/ NORM/ SARRAL – waarheen gaan my geld? (Gérard Robinson), Die praktyk van risikobestuur vir groot produksies of feeste (Deon Opperman), Suksesvolle Teaterbestuur (Bernard Jay), Fondswerwing en die Privaatsektor se befondsing van die kunste (Nicola Danby). Inligting: Chris de Bruyn: Tel.: 018-2992850 en [email protected],

 

 

 

Inligting vir hierdie rubriek word voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk – [email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006, Suid-Afrika.

Die hoofdoel van die rubriek is om musiekinligting te kommunikeer waaraan ’n mens nie aldag blootgestel word nie. Die doel van die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en partykeer vertolkend. Alle datums en tye was korrek by ter perse gaan.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=855
Artikel nagegaan:
    -