|
||||
Desmond Painter
*Lektor in sosiale sielkunde, Universiteit van Stellenbosch
As ’n musikale ikoon soos Johnny Clegg ’n nuwe album uitreik, en dan boonop sy eerste in meer as ’n dekade, moet ’n mens jou ore spits en luister. Clegg het oor die laaste dertig jaar ’n soort klankbaan vir die Suid-Afrikaanse ervaring geskep. Liedjies soos Impi, Scatterlings of Africa en Great Heart, is alombekend: hulle verwoord die ervarings van veral swart Suid-Afrikaners, spesifiek Zoeloes, maar word ook opgeëis deur jong, wit Suid-Afrikaners in Londen en Perth; die hedendaagse ‘scatterlings of Africa’. Soos die blues in die VSA is dit juis die besondersheid wat hy aan die uitbeelding van lyding, daaglikse stryd en hoop gee wat aan sy beste werk so ’n wye weerklank verleen. Klassieke albums soos Universal Men, African Litany en Work for All maak ’n leuen van die ou Suid-Afrikaanse siening dat taal en kultuur absolute grense tussen ons oprig – eerder as dat dit juis in terme van taal en kultuur is dat mense sinvol, en oor gedwonge grense heen, met mekaar in gesprek kan tree. Ongelukkig, en seker onvermydelik, word Clegg se musiek ook opgeëis deur die populêre “kultuurindustrie” in Suid-Afrika. Hy verleen ’n soort inheemse kleur en outentisiteit aan kommersiële televisieadvertensies (bv. Great Heart) en aan die leë paradering van die nasionale identiteit by groot sportbyeenkomste (bv. Impi). Clegg is ongetwyfeld ’n gunsteling wanneer dit kom by die kommersiële romantisering van kultuur en identiteite in post-apartheid Suid-Afrika, gewoonlik op maniere wat hulle van enige politieke dimensie stroop, of wat kultuur as produk sien eerder as die medium waardeur spesifieke lewens gestalte kry. ’n Mens sou kon redeneer oor die mate waarin Clegg opgaan in hierdie rol of hom daarteen verset; daar is geen maklike antwoord hierop nie. Wat Johnny Clegg amper dertig jaar gelede so ’n kragtige stem gemaak het, was juis sy vermoë om identiteite en ervarings wat van die hoofstroom uitgesluit was, te artikuleer. Soos David Kramer het Clegg dit reggekry om gemarginaliseerde dimensies van die Suid-Afrikaanse realiteit raak te vat in ’n idioom wat die rasse-logika en kulturele essensialismes van apartheid uitgedaag het, maar sonder om die kulturele verbuigings wat Suid-Afrikaanse ervarings ook kenmerk, te neutraliseer of in suiwer kommersiële terme te herverpak. Beide hierdie kunstenaars het myns insiens uitgeblink in die praktiese volvoering van betekenisvolle kulturele kruisbestuiwing en dialoog. Clegg (soos Kramer) verdien dus die ikoniese status wat hy vandag het. Die vraag is: kan ’n kunstenaar wat in so ’n mate gekoöpteer word by die verbeelding van ’n amptelike, ideologiese storie oor “kulturele diversiteit” en “nasionale identiteit”, hoe onskuldig en banaal dit nou ook al by tye mag wees, sy kreatiewe vermoë behou om juis ook die keersy van daardie storie te verken en krities daarmee om te gaan? En kry Clegg dit reg? In tye wat gekenmerk word deur die hernude opwelling van politieke energie in die sogenaamde Nuwe Maatskaplike Bewegings, verwoord Clegg steeds die ervarings en begeertes van die menigtes, of is hy nou reddeloos deel van die masjien wat daardie kreatiwiteite ideologies inperk, koloniseer en ontmagtig? Clegg se beste album is dalk nog steeds sy eerste saam met Sipho Mchunu en Juluka: Universal Men. Grootliks gekonseptualiseer rondom die ervarings van Zoeloe-mans wat tussen landelike gebiede en die stad migreer vir werk en dié wat agterbly en wag, demonstreer Clegg hier beter as op enige ander van sy albums die gevoeligheid van beide die digter en die antropoloog. In hierdie album, en in die meeste daaropvolgende Juluka-albums, is dit ook opmerklik hoe ongeforseerd en energiek Clegg en Mchunu verskillende musiektradisies kon kombineer. Met die aanvang en kommersialisering van World Music wêreldwyd in die laat 1980’s was Juluka al iets van die verlede. Clegg het sy groot internasionale deurbrake, veral in Frankryk, met die meer pop-georiënteerde groep Savuka gemaak. Saam met hulle het hy ook uitstekende werk gedoen, maar myns insiens is iets van die energie, die politieke en emosionele fokus en die musikale varsheid van Juluka in die proses ingeboet. Dit is oorwegend ook waar van sy jongste album, One Life. Terwyl die meeste liedjies oor maatskaplik relevante kwessies in veral Afrika handel (kindersoldate, diktature, armoede) ontbreek dieselfde gefokuste, amper “organiese” hantering van ’n ervaringswêreld wat sy vroeëre werk gekenmerk het. Die lirieke is oor die algemeen nie so poëties soos vroeër nie, terwyl die narratiewe nie so sterk en ryk aan antropologiese detail is as sy beste werk nie. Wat die musiek betref, klink dit soms of Clegg homself herhaal; ’n mens weet al wanneer die volgende Zoeloe-refrein gaan kom, en hoe dit gaan klink. Afgesien daarvan dat dit die musiek ietwat formulisties laat klink, ontbreek die stowwerige, sweterige kwaliteit van albums soos Universal Men en African Litany ook. Hier is alles blink gepoleer in ’n moderne ateljee; stylvolle, herverpakte Juluka ... En tog is dit na ’n paar luisters ’n mooi en plek-plek selfs aangrypende album. ’n Mens vind dat jy daarna luister op pad werk toe; dit speel wanneer vriende kom kuier. Clegg is doodgewoon te hartstogtelik en energiek om ’n mens heeltemal koud te laat. Die gebruik van Frans en Afrikaans, en ’n paar liedjies wat musikaal wel ’n bietjie buite die nou reeds voorspelbare Juluka/Savuka idioom gaan leen, laat ’n mens ook besef dat Johnny Clegg nog nie afgeskryf mag word nie. Die wêreld en die vasteland waarin ons leef, het intelligente, menslike en hartstogtelike stemme soos dié van Clegg nodig. Dit is dus inderdaad welkom om hom terug te hê. |