|
||||
Christelle Terreblanche
*Assistant-redakteur: Politiek by die Independent-persgroep
’n Mens kon aanvoel dat “Nairobi” anders gaan wees toe Kenneth Kaunda sy wit sakdoekie uit sy safaripak pluk en rondwuif om die verrigtinge geopen te verklaar. ’n Optog van die wêreld se “linkses” en verteenwoordigers van die armste gemeenskappe ter wêreld het uit Kibera - Oos-Afrika se grootste krotbuurt - na Nairobi-sentraal begin beweeg. Die doel van die simboliese optog na Nairobi se Uhurupark was om ter aanvang van die 7de Maatskaplike Wêreldforum (MWF) se eerste volledige ontmoeting op die armste vasteland die aandag te vestig op die lot van die heel armstes. ’n Voormalige diktator met ’n rekord van korrupsie se progressiewe “ikoon-status” het baie aktiviste net so verward gelaat as inwoners aan die kant van die pad. Juis die gemeenskappe wat die debat oor die daarstel van ‘‘n ander wêreld” in die Keniaanse hoofstad moes ontsluit – soos Kibera se maatskaplike bewegings – was nie behoorlik ingelig of uitgenooi nie. Nairobi se plakkers was bloot “simbool”. Dít was die eerste aanduiding dat die interne teenstellings van sowel Afrika as die wêreld se grootste protesnetwerk op ’n botsing afstuur. Maatskaplike bewegings is die grondslag van die MWF – aktivistegroepe wat dikwels spontaan ontstaan het in gemeenskappe wat sedert die 1990’s verder gemarginaliseer word deur neoliberale privatiseringsbeleide. Die Forum is ’n jaarlikse “ruimte” waar ’n “karnaval” van uiteenlopende veldtogte en idees informeel op mekaar kan inwerk en solidariteit tussen geïsoleerde grondvlak- struggles gesmee kan word. Dit probeer so inklusief moontlik wees. Voor die 2007 MWF is intense debat gevoer oor hoe om die wêreldbeweging van maatskaplike beweginge te versterk te midde van dikwels uiteenlopende ideologiese strominge. ’n Soeke na ’n groter sameloop van idees en uiteindelik meer doelgerigte verset het ontstaan, ook vanweë ’n verwarrende vermenigvuldiging van agendas en kwessies. Suid-Afrikaanse “intellektuele aktiviste” soos Patrick Bond en Trevor Ngwane, stigter van die Anti-privatiseringsforum, het voorlopig tot die slotsom gekom dat “praxis”, oftewel nuwe maniere van betrokke optrede, die uitweg is. Sommer met die intrapslag by die hoofterrein vir die sesdaagse Forum - vir meer as ’n duisend seminare, werkwinkels, debatte, en protesoptogte – het dinge begin uitrafel. Kenia se armstes – dié wat hulself oplaas genooi het - kon nie die hekgeld bekostig nie. Vir mense wat ver onder die broodlyn leef was die registrasiefooi van sowat R55 minstens ’n kwart van hulle maandelikse inkomste. Nagenoeg 80 % van Kenia se rykdom en grond is in die hande van net 10 % en 60 % leef op minder as $1 (R7) per dag. Sowel die MWF-raad, oorheers deur Latyns-Amerikaaanse stigtingsveterane, as die plaaslike loodskomitee het voet by stuk gehou dat die fooie op almal van toepassing is – van die welaf viertrekvoertuig skenker-nie-regeringsorganisasie (NRO) brigades tot by die armstes. Intussen het Kenia se sake-elite hulle tande behoorlik ingeslaan vir kitswins uit ’n verwagte 150 000 verteenwoordigers van die wêreld se armstes met pryse wat die hoogte ingeskiet het. Sowat 50 000 het opgedaag. Kommersialisering van die teen-kommersialiseringsforum het die slagordes opgestel. Hoogs ontevrede het lede van Suid-Afrika se 200-sterk afvaardiging van maatskaplike bewegings soos die Soweto Elektrisiteitskrisiskomitee, die Grondlosemensebeweging, Durban se Abahlali baseMjondolo-plakkers en die Anti-privatiseringsforum die voortou geneem. Op dag drie tuimel die skans – met ’n stormloop op die hek. Dit was net ’n voorsmakie van die Nairobi-stryd om kos en water. Twee restaurante het tenders gekry om etes te voorsien – albei met regstreekse Britsehotelbande en aandeelhouding van ’n Keniaanse minister. Die goedkoopste dis was R40. Honger aktiviste sak op dag drie toe met ’n boodskap vir die meer welaf eters: “Is julle deur die ryk lande gestuur? Ons is hier om teen armoede te veg, maar multi-nasionale maatskappye het die Forum gekaap.” Die volgende dag bestorm hulle onder aanvoering van Ngwane die restaurant en verdeel die kos onder die dosyne honger straatkinders wat uiteindelik toegelaat is. Ngwane vra later in ’n werkwinkel of die beweging van gewone, arm mense se struggles werklik ’n plek het en wie uiteindelik vorm daaraan sal gee. “Gaan dit ’n beweging van NRO’s en individuele belanghebbendes word wat vir hulself ‘ruimte’ maak om oor hulle besorgheid oor die armes te praat? Sal dit ondermyn word deur samewerking met kapitalistiese magte?” ’n Hoofrede vir die stigting van die MWF in 2001 in Puerto Alegre, Brasilië was om ’n teenvoeter daar te stel vir die eksklusiewe neoliberale globaliseringsklub wat elke Januarie in Switserland se elite ski-oord, Davos, die Ekonomiese Wêreldforum bywoon. Aktiviste het dit teen die ryk Noorde se neoliberale markfundamentalisme en die gepaardgaande Amerikaanse imperialisme; asook die versaking van beloftes oor hulpverlening, die gevare van nuwe bilaterale handelsooreenkomste te midde van ongelyke marktoegang en die ontsporing van die Wêreldhandelsorganisasie se Doha-rondte vanwee veral die VSA se onredelike eise. Debat is vanjaar toegespits op eise dat die arm Suide se skuld aan ryk lande en Bretton Woods-instellings soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds 100 % afgeskryf moet word. Aardverwarming en die groter nadele wat dit vir Afrika en randgemeenskappe wêreldwyd inhou, was ook ’n brandpunt. Water vloei sterk deur die are van die MWF. In wese is die beweging se credo -“Ons wêreld is nie te koop nie” en “´n Ander Wêreld is Moontlik” - onversoenbaar met geprivatiseerde, gekommodifiseerde en onbekostigbare water. In Nairobi se verswelgende hitte was water slegs teen ’n prys beskikbaar! ’n Sleutelwoord was vanjaar Die Globale Meent (The Global Commons) en wie die reg het om bronne soos water, energie en grond te beheer – transnasionale maatskappye of openbare administrasies?
Op ’n Rosa Luxemburg-stigting seminaar oor waterprivatisering het Suid-Afrikaanse en Mexikaanse aktiviste soortgelyke smarte gedeel oor die uitbuiting van nasionale waterbronne vir winsbejag. In Mexiko moet kleinboere nou hulle eie waterputte registreer en vir gebruik betaal, terwyl buitelandse waterkonsessiehouers nasionale waterbronne besoedel en verkwansel. Jennifer Makosana van die Johannesburgse Koalisie teen Waterprivatisering sê dit is onverklaarbaar dat mense vir onbekostigbare vooraf-betaalbare watermeters moet opdok terwyl die regering preek dat arm mense hulself aan hulle skoenveters moet optrek deur projekte wat water verg – soos haarkapperye en motorwasserye. Uli Brandt, Rosa Luxemburg-navorser, het aangevoer dat die neoliberale politiek ’n tweede fase betree het waarin regerings erken dat privatisering nie doeltreffend – ’n wagwoord van kapitalisme – is nie. “Die tweede fase legitimeer privatisering egter deur te sê dat die staat die mark mag reguleer”, verklaar Brandt. “Hierdie ‘sosiaal-liberale’ visie is tegnokraties en ignoreer teenstellings in die gemeenskap, soos die Johannesburgse waterondervinding wys.” Nairobi is ook op ander vlakke as kos en water “gekaap”. Gematigde hoofstroom internasionale skenkers en NRO’s het dikwels die program oorheers en die Forum was soos ’n Suid-Afrikaner skryf, “net ligweg gepeper met ware aktiviste”. Vir elke voetsoolvlakgeleentheidwas daar minstens twee soortgelykes onder globale NRO-vaandel, dikwels gelyktydig. “Ruimte” was te koop: Ter nabetragting skryf die Abahlali-aktivis David Ntseng die Forum het hom tot die besef gebring dat telkens wanneer die georganiseerde armes vir hulself probeer praat, ’n krisis ontketen word. “NRO’s het sowel openlik as agteraf probeer om die bewegings van die armes te ondermyn”, sê hy. “Sommige Suid-Afrikaanse NRO’s het letterlik om spasie en aktiwiteite met die arm bewegings meegeding.” Die Forum word wyd beskou as ’n strydterrein vir een en almal, maar Nairobi het vrae laat ontstaan: Wie besluit wie mag daar wees en wie stel die agenda op? En hoe word verantwoordbaarheid gevestig sonder om ’n hiërargie te skep? Is dit nog ’n “krag van die rebelse burgery”? MP Giyose, voorsitter van Jubilee-SA, ’n wêrelddrukgroep teen historiese, maatskaplike en ekologiese skuld sê: “Die eintlike probleem is dat die teikengroep uit Kenia, vir wie die wêreld se armes kom ondersteun het - nie hier was nie. Hulle moes die dryfkrag wees.” Giyose tel onder diegene wat ’n herskikking van die Forum se raad voorstaan. Nairobi het die Forum se eie tekortkominge ontbloot, wat gevaarlike ooreenkomste met die WEF se eksklusiwiteit, hiërargieë en propaganda begin toon het. Die groot ligpunt was die onlangse welslae van die voetsoolvlak in Latyns-Amerikaaanse lande. In teenstelling met vorige Forums was stewiger kontingente van geloofsorganisasies en veral vakverbonde in Nairobi teenwoordig. Die gevolg was betekenisvol – doelbewuste samewerkingsooreenkomste is deur die MWF se kern-maatskaplike bewegings met werkers en kerke gesmee. Internasionale “pakte” bestaan nou op ’n verskeidenheid van platforms, onder meer grondhervorming en voedselsoewereiniteit (die nuwe naam vir die selfstandige beheer van alle hulpbronne en produksiemetodes deur gemeenskappe), boomaanplanting ter bestryding van aardverwarming, verset teen die Amerikaanse besetting van Irak, asook eise vir die daarstelling van ordentlike, vaste werkgeleenthede. Dit is nie toeval nie. Die veteraanaktivis Samir Amin beskou sodanige ooreenkomste op nasionale vlak as een van die vernaamste redes vir die onlangse linkse mag- en denkskuiwe in nege Latyns-Amerikaanse lande - danksy die “kritiese massa” wat dit meegebring het. Amin sê die fenomeen het ’n broeiproses op nasionale of streekvlak nodig om beslag te kry, maar dit het nog nie op ander vastelande behoorlik posgevat nie. Hy glo dat meer sulke verbonde parallel met die Forum se versetoptredes sal help om debat te verdiep. Is ’n front van “Mense van die Suide” wat klasseverskille kan oorkom, amper soos die 1955 anti-koloniale Bandung-verklaring, moontlik?”, vra hy. Patrick Bond, hoof van die Universiteit van Kwazulu-Natal se Sentrum vir Burgerlike Samelewing, (her-)beskryf nà Nairobi vier hoofstrominge binne die Forum. Amin se saamvoeging van sosialistiese, anti-koloniale en nasionale ontwikkelingstradisies is een daarvan. Kritiek daarop kom van ’n tweede groep wat meen die Forum is hoofsaaklik ’n ontmoetingsarena. Vir voetsoolvlakaktiviste is die georganiseerde chaos en vloeibaarheid van die Forumgesprek in sigself belangrik - ’n bevestiging van hul stryd om den brode. Hulle vrees dat formele ooreenkomste dit in ’n georganiseerde netwerk van kenners, akademici en NRO’s kan laat ontaard. Die derde neiging – waarvan Ngwane ’n voorstander is - wil militante optrede uitbou tot ’n meer formele sosialistiese beweging met ’n politieke agenda. Bond ondersteun ’n vierde moontlikheid: ’n 21ste eeuse anti-kapitalistiese manifes in die bestaande maatskaplike-, werkers- en omgewingsbewegings ter wille van ’n sterker oproep vir trans-nasionale maatskaplike geregtigheid. Nog ’n tendens is merkbaar en baie progressiewe linkses wil daarvan niks weet nie – Afrika-nasionalisme en ’n soort herlewing daarvan onder die sosialiste wat oenskynlik saamval met die 50ste herdenking van die eerste Afrika-land wat die koloniale juk afgegooi het, Ghana. Kaunda as ikoon was nie heeltemal toevallig nie, hoewel die ander linkse “ikone” nie opgedaag het nie. Afrika-bewegings onder leiding van Angola, het in Nairobi “konsepwetgewing” vir ’n “Verenigde State van Afrika” voorgelê vir goedkeuring in ’n elektroniese “verkiesing” en ’n referendum regoor die vasteland. Die konsep rus sterk op kultuur en taal en word glo ondersteun deur die Afrika Unie-Kommissie se voorsitter, Alpha Omar Konaré, en Libië se Moeammar Ghaddafi. Die MWF was dus self ver van ’n “kritiese massa”. ’n Maatskaplikebewegings-vergadering het aan die einde ’n sterk bewoorde resolusie teen die “kommodifisering” en “kommersialisering” van die Nairobi-forum aangeneem. Met Ngwane as voorsitter het die paar duisend aktiviste ook onderneem om in die twee jaar tot by die volgende Forum meer militant te organiseer romdom strategiese kwessies en geleenthede soos G8-berade. Groot wêreldwye protesoptrede word vir volgende jaar se Davos beplan. Kort voor die vergadering praat Ngwane in ’n onderhoud oor die lesse van Nairobi: “Ons moet fokus ... en meer aandag gee aan die stryd van gewone mense op grondvlak eerder as op die MWF as ’n geleentheid. Meer politieke, maatskaplike en ekonomiese programme is nodig. Wat nog belangriker is, is groter samehang. Op die oomblik word gepraat van afsluiting, konvergering, maar om dinge saam te knoop is daar nou 21 temas. Dít is nie sameloop nie. Dit los alles hangende. “Ons moet onsself bewustelik organiseer en die taak van die MWF-ruimte is om dinge so saam te voeg dat dit ’n koers inslaan. Dit mag nie aan die toeval oorgelaat word nie.” Was Afrika nie reg vir die Forum nie of was die Forum nie reg vir Afrika nie? Miskien het Afrika baie te leer, maar die Forum het beslis heelwat te leer van Afrika, haar chaos, wanhoop en wroegings. Albei sal hand in eie boesem moet steek. |